Author Topic: Vanmelewe se woorde  (Read 11407 times)

0 Members and 1 Guest are viewing this topic.

Meraai vannie Baai

  • Guest
Vanmelewe se woorde
« on: July 07, 2011, 02:24:03 AM »
Griffel en 'n lei
Prille jeug
Dag der dae
Skuinslê
Grêmmefone
Vandeesweek/vandeesmaand en vandeesjaar.
Sawens
Tiekie/penning/sjielings/halfkroon en 'n pond
Gatjieponners/hervormers en doppers
Hokaai!
O Koot!
Hiert jou slang!
Draadloos
Kooi of katel
Kleinhuisie
Dinky-toy
Hardegat-klapperdop
Streepsuiker
Sekelstert (duiwel)
Oulap se mooi
Mudsak
Kardoes
Kjenners
Prosedeer
Kêns oumens (Verwarde)
Flênnie hempie
Geborstrok (warm kledingstuk)
Gowerment
« Last Edit: July 08, 2011, 12:46:10 PM by Meraai vannie Baai »

Meraai vannie Baai

  • Guest
Re: Vanmelewe se woorde
« Reply #1 on: July 07, 2011, 02:28:51 AM »
Goue-ou-gesegdes:

Over geset synde, kry jou gaai in rat en doet so voort!  :book1:

So lendelam met pote so krom soos ‘n Egiptiese donkie.

Net 'n tiekie en 'n baksteen hoog.

Baie myle lê tussen doen en sê.

Dis nou 'n bielie van 'n ding!

Dit is nou hoe dit lyk as krummeltjie brood geword het.

My magie ben vol en my pensie ben dik.

Die myn en die dyn – Myne en joune.

Iemand met ʼn groot wafel – Iemand met ʼn groot mond.

Dit was so nerf-nerf of ons was laat - Ons was amper laat.

Daar is skaars 'n haarbreedte verskil - amper geen verskil.

Hy is 'n bok vir sports - maak of hy mal is en doen alles.

As ek jou gryp bly daar niks van jou oor nie!

Krakende waens loop die langste – Sieklike mense is baie taai.

Hy is moerland toe.

Moenie my kom 'hanna-hanna' as jy self agter die deur wegkruip nie!

Dit sal die dag wees as jy dink ek gaan dit doen!

Poer des nerdes geval.

Dit hou darem siel en liggaam aanmekaar.

Van wyntjie en Tryntjie hou – Lief vir drank en vroue wees.

My kop draai soos 'n afkophoender vandag.

Ek seg dankie en jy poep oppe plankie (stank vir dank)

Jy kom hier aan soos ingelegde perskes na die maal (altyd laaste)

Hy het as op sy tone - Gapende gulpie.

Sy bek hang - Iemand wat kwaad of ongelukkig is.

Wie se brood mens eet, dié se woord spreek mens - afhanklik van 'n ander persoon te wees.

Nie `n naald hê om sy gat mee te krap nie - om brandarm te wees.

Jan Sparriewarrie - Om te lieg.

Orige jukskei - Om in die pad te wees/ nutteloos .

Soos `n ketter vloek - Persoon wat baie erg swets.

Kontant met die mond - Maklik kommunikeer/vrypostig wees.

Spaar vir jou mond, is goed vir die kat en die hond - die oorskiet gaan tog maar net na die diere.

Plas en plooi - fyn beplan en spaarsaam met jou geld werk.

Vir wind en weer rondloop - Kinders wat onversorgd/liefdeloos deur die lewe gaan.

Ek sal jou klap dat jy soos 'n boesmantekening teen die muur sit!

Hy sit met sy bek vol tande.

Hou die gatsak styf toe.

Klou aan die rokspante van sy ma vas.

Hy is nog nie gespeen nie.

Kom ek om dan kom ek om ...

Sit gaai - rus bene!

Hy dink die son skyn uit sy dinges uit.

Sy dink sy piepie laventel.

Kom soos 'n skoothondjie aangedraf.

Om stert tussen die bene die hasepad te kies.

Uitgerys soos 'n boerbrood van al die eet.

Jy is nou sommer vol strooi!

As ek nou moet bieg sal ek moet lieg.

Jy is nou meer lawaai as wol!

Hy lyk soos 'n vlieg wat in karringmelk geval het.

Jy vaar onder valse vlag my maat!

Dit is vis nog vlees en gaan jou suur bekom.

Ek is nou oor die muur - gedaan gewerk.

Hy is 'n man van twaalf ambagte en dertien ongelukke.

Adam sê dis Eva en Eva sê dis die slang!

Gou by die bak, lui by die vak.

Hy laat hom nie met 'n blaas ertjies op loop jaag nie.

Die saak is blou-blou gelaat (nie by die punt uitkom nie)

Daardie hakskene is so skurf mens kan kool daarop rasper!

Ek het hom nou so sleg gesê met woorde jik sal hom nie eers kan skoon kry nie!

Moenie laat ons nou dooie koeie met ou plooie opgrawe nie.

 "As dit sop reënt, da' staa' ons mos met 'n vurk" ... oor ons so swaar kry.

Ek klap gou 'n toon winkel toe.

Storm in 'n koppie (Antjie se met haar verbeelding sien sy maklik die Titanic ook)

Die wêreld is ʼn pypkaneel, elk suig daaraan en kry sy deel – Elkeen speel sy rol op aarde.

Wêreldsgoed is soos ʼn handvol vlieë – Tydelike dinge is nie blywend nie.

Wêreldsgoed is eb en vloed – Daar is niks bestendig in aardse besittings nie.

ʼn Ydeltuit – ʼn Hoogmoedige meisie.

Skuins voor agtermiddag - So by drie uur se koers verby.

Die Fordjie opgewen - met die motor in dorp toe gaan.

Soos Bella se skaap met die klokkie om die nek - Maak geraas sodat die mense kennis neem van jou bestaan

Heigende hertes in die vertes (waar val jy uit?)

Sy's opgedollie! (Mooi aangetrek)

Môggen trôffen Stoffel (hoop dit werk ou maat!)

Nôtte tiekie! (Weier)

Ek skedêl nou ( Ek gaan ry/loop)

Sien jou alie sonder 'n spieël (Uitgevang)

Kaalgat anderkant uitgekom - (Bankkrotskap in die gesig staar)

Grote otterma-tôtter! (Swets)

Dit is nou 'n propperliese bôggerop (Deurmekaar spulletjie)

Hoe sê? (Herhaal asseblief)

Sy's 'n omge-êlliede Nellie (Moerige vrou)

Nou's ek moerig/hoogs bemoerd wees (baie kwaad)

Skoon bedons opgestaan (Met verkeerde voet uit die bed geklim)

Neuk maar Noord swaer! (Links van die regering)

Hier kom dinges! (Moeilikheid op die hals gehaal)

Die lewe is bietjie te suur om in ons kieste te hou (lag 'n slag!)

Toe soos klei os se gat (dom)

Hy weet die diksnaar kom bo (ken van, lank in die tand)

Soos ‘n luis op ‘n hond se rug

 

« Last Edit: July 08, 2011, 12:47:07 PM by Meraai vannie Baai »

Meraai vannie Baai

  • Guest
Re: Vanmelewe se woorde
« Reply #2 on: July 07, 2011, 02:36:11 AM »
NOG OU GESEGDES EN DIE BETEKENISSE DAARVAN:

*Dit sit my in die bed.
- Dit begryp ek nie.

*Hy het die saak ter berde gebring
- Hy het die saak opgehaal


*Bloed kruip waar dit nie kan loop nie.
- Jy doen vir jou familie die meeste.

*Die boog kan nie altyd gespan bly nie.
- 'n Mens kan nie net werk nie; hy moet rus ook.

*Die bordjies is verhang.
- Die toestand is verander.

*In die land van die blindes is eenoog koning
- onder 'n groep mense wat niks van iets weet nie, blink die een mens uit wat wel so 'n bietjie kennis daarvan het.

 *Hy is in die bol gepik / met die maan gepla / van lotjie getik / het 'n klap van die windmeul weg / het nie al sy varkies op hok nie - hy is nie by sy volle verstand nie

*Buig die boompie solank hy jonk is
- vorm die kind se karakter solank hy nog klein is

*Iemand om die bos lei
- iemand uitoorlê / bedrieg

*Hy het in die botter geval
- hy het dit baie gelukkig getref

*Hulle het dit nie breed nie
- hulle het nie baie geld nie

*Anderman se boeke (briewe) is duister om te lees
- 'n mens verstaan moeilik 'n ander se sake

*Moenie nou probeer mooi broodjies bak nie
- moenie nou op vleierige manier guns probeer win nie

*Op sy baadjie kry / streepsuiker kry / riemspring
- die onderspit delf / 'n pak slae kry

*'n Baan of bohaai opskop
- 'n lawaai maak

*Iemand van bakboord na stuurboord stuur / van Pontius na Pilatus stuur / van die kassie na die muur stuur
- iemand rond en bont stuur sonder dat hy werklik geholpe kom of iets kan uitrig.

*Jy slaan die bal ver mis
- jy vergis jou heeltemal

*Julle moet hom bandvat
- julle moet streng optree

*Beenaf wees (op 'n meisie)
- verlief op iemand

*Jy lyk baie bek-af / jou ore hang
- jy lyk baie moedeloos, min lus vir die lewe

*Dit spreek boekdele
- dis 'n sprekende bewys.

*Ek laat my nie met 'n blaas ertjies op loop ja nie / ek skrik nie vir 'n koue pampoen nie
- ek word nie so maklik bang nie

*Hy steek vir almal blad
- hy groet almal met die hand

*'n Saak blou-blou laat (laat links lê)
- 'n saak (wat eintlik moet aangeroer word) nie bespreek nie (of dit nie afhandel nie)

*Dit is botter by die vis
- kontant betaal
 
*Balsem in die wonde giet
- troos bring

*Sy boeke is deurmekaar
- Hy is in die moeilikheid

*Sy is 'n bloukous
- Sy is 'n geleerde vrou

*Dis botter aan die galg smeer
- Dis vergeefse moeite

*Hy het my 'n bril op die neus gesit
- Hy het my bedrieg

*Hy pak die bul by die horings
- Hy tree moedig op / Hy gebruik die geleentheid

*Hy merk nie die balk in sy eie oog nie
- Hy sien nie sy eie foute raak nie

*Belofte maak skuld
- As jy iets beloof, moet jy jou belofte hou

*Nuwe besems vee skoon
- As jy 'n nuwe betrekking aanvaar, werk jy baie fluks.

*Voor Baäl die knie buig
- afvallig word; die ware leer versaak.

*Baantjies vir boeties
- betrekkings vir vriende en bloedverwante.

*Eers baas, dan Klaas
- eers die meerdere, dan die mindere.

*Vir elke bagatel (aan die huil gaan)
- vir elke kleinigheid

*Bak en brou
- knoei.

*Gou by die bak, lui by die vak
- gou om te eet, maar stadig om te werk.

*Iemand 'n poets bak
- iets grappigs doen ten koste van iemand.

*Balke saag
- snork.

*Wie sal die kat die bel aanbind?
- wie sal hierdie gevaarlike werk durf doen?

*'n Goeie begrip het 'n halwe woord nodig
- as iemand gou verstaan wat jy wil sê, hoef jy nie so volledig te verduidelik nie.

*Die beste beentjie voorsit
- jou bes doen sodat jy 'n goeie indruk kan maak.

*Ou bene maak
- oud word.

*'n Berg van 'n molshoop maak / van 'n muggie 'n olifant maak
- iets groots maak van 'n nietigheid.

*Die berg het 'n muis gebaar
- dit waarna iemand so gretig uitgesien het, het toe op niks uitgeloop nie.

*Iemand goue berge beloof
- mooi beloftes maak.

*'n Saak bewimpel
- nie met die volle waarheid voor die dag kom nie, onaangenaamhede in verband met 'n saak probeer toesmeer.

*'n Nuwe blaadjie omslaan
- opnuut begin met die voorneme om beter te doen.

*Sonder om te blik of te bloos
- onbeskaamd.


*Dis laaste sien van die blikkantien
- jy sal hom nooit weer sien nie.

*Blind vir iemand se foute wees
- onwillig wees om iemand se tekortkominge raak te sien.

*Sy bloed kook
- hy is baie kwaad.

*Bloed uit 'n klip tap
- iets onmoontliks probeer doen.

*'n Bloutjie loop
- teleurgestel word in jou verwagtings.

*My blus is uit
- ek is baie moeg, uitgeput.

*Dis 'n geslote boek
- dis 'n geheim.

*Moenie die boer die kuns afvra nie
- moenie te veel uitvra omtrent iets as iemand nie die geheim wil verklap nie.

*'n Ou bok hou van jong blare
- ou mans hou van jong meisies.

*Bokveld toe gaan / lepel in die dak steek
- Sterf

*Dit gaan so tussen die boom en die bas
- dit gaan so-so.

*Hoë bome vang die meeste wind
- mense in belangrike posisies word die meeste gekritiseer.

*Boontjie kry sy loontjie
- 'n skelm spring sy straf nie vry nie.

*Iemand 'n brander stuur
- iemand 'n kwaai brief stuur.

*'n Broertjie dood aan iets hê
- iets haat.

*Dit gaan maar broekskeur
- dit gaan maar swaar.

*Jy sal dit nie kan bybring nie.
- jy sal dit nie kan bekostig nie.

*Bitter in die mond maak die hart gesond
- onaangename dinge is dikwels goed vir die ontwikkeling van die karakter

*Die elmboog gelig / deur die wingerd geloop / tiermelk gedrink / soen die mannetjie met die kurkhoed / kromhoutsap
- te veel gedrink

*Sy turf sit
- sy plan het misluk; hy kry dit nie reg nie.

*Jou twak is nat
- jy sal dit nie regkry nie, dit sal misluk

*Jy speel met die lepel wat Jan in die dak gesteek het
- jy speel met die dood.

Verlief wees
Hy loer daar ...

Hy gooi skaapogies ...

Hy soek perde of osse ...

Hy trap 'n voetpad ...

Hy wil pa sê ...

Hy hou hom wolhaar ...

Gaan ystervark slaan – Gaan vry.
 
Joe se gesegdes:(met toestemming lankal verleen dat 007 sy woorde mag 'leen' en uitstal)  :book1:

*Is daar nog so plekkie in die pot? - Ek wil ook iets passeer!

*Loop rank suintoe en dra jou bitter tjamas op jou eige ranke - bedoelende wyk van my af en loop braak jou gal daar eenkant!
 
*Hulle staan op die dak toe ek daar kom - In Namakwaland waar die wêreld plat is, was die dak die hoogste uitkyk plek vir baie. As jy dan lank gedraai het, het mense op die dak gaat staan om te kyk of jy nie al aankom nie. Kom jy dan was dit 'n geskel or jy so lank gedraai het. Vandaar as iemand kwaad is vir jou staan hy op die dak vir jou!)

*Klim van my tong af en praat jou eie prate! - Moenie op my tong kom staat en praat nie, bedoelende praat vir jouself! Moet nie my by jou skinnerstories betrek nie!

  :book1:  :notworthy:

 
« Last Edit: July 07, 2011, 02:44:22 AM by Meraai vannie Baai »

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 8604
  • Gender: Female
Re: Vanmelewe se woorde
« Reply #3 on: July 07, 2011, 02:03:48 PM »
Baie dankie vir die aandra Raaitjie.  Dit kan net 'n uitdaging wees om 'n storie of 'n gedig te skryf waarin ons al hierdie gesegdes gebruik.  Dit is mos groot pret.  :icon_biggrin:

Om te weet is om te verstaan.

Meraai vannie Baai

  • Guest
Re: Vanmelewe se woorde
« Reply #4 on: July 08, 2011, 12:25:40 PM »
Sjoe mater wat 'n gesukkel om by die forum vandag in te kom! Ek het nou net vir jou 'n paar lyntjies aangestuur met die poskoetsie :) Na ek jou kommentaar gelees het, het ek besluit om 'n gediggie te skryf met van die ou spreektaal maar wou dit graag in 'n nuwe struktuur doen wat ons nog nie hier na geloer het nie. Omdat die struktuur baie sterk staatmaak op wit spasie (ruimte) in 'n vers wys dit nie op al die programme nie. Ek gaan probeer om die gedig en riglyne te plaas. Of dit die spasies gaan aanwys weet ek nog nie, anders sal ek die gedig (aangepas met leestekens waar wit spasie sou voorkom) hier kom plaas  :icon_biggrin:

Meraai vannie Baai

  • Guest
Re: Vanmelewe se woorde
« Reply #5 on: July 08, 2011, 12:45:35 PM »
Met die skep van hierdie verse het ek gaan grawe in ons digters se gereedskapkis en die "Caesura-tegniek" toegepas op my eie manier, met die gebruik van tipografiese wit, vir daardie tikkie 'ritmiese zing' tussen die lyne met vergange se woorde.
 
Soos met gewone spreektaal, laat ons die leser hier rus tussen woorde met die gebruik van 'n dig-element, (in my gedig se struktuur - wit spasies) meestal sonder die gebruik van leestekens.
 
 
  :book1: Hier is my gedig. Lees dit hardop en laat die woorde hang waar spasies voorkom. Waar ek gewone leestekens gebruik het, volg normale rusteken riglyne. Ek het die reëls probeer plaas soos wat 'n musiekstuk in 'n 'bar' sou vertoon. Akute leestekens is spesifiek gebruik om woorde (sonder spasies) uit te rek in normale geselsstrant. Sommige reëls is sonder enige leestekens of spasies so geskep om die situasie van geen rus, werk want die nag kom naby, voor te stel  :bootyshake:

Vanmelewe ...
 
Sawens om die skoongeskropte kombuistafel,
sit die kjenners nes hoenders  op stellasies.
Pagoed het stil verdwyn met die draadloos;
hy gaan 'n wyle skuinslê, magoed sal omsien
na huis en haard     opgetooi      met oulap se rooi.
 
Die gedurige aanmaan en gestaan agter klôgoed
nes 'n grêmmefone wat vashaak in die agtergrond:
"Span daai harregat klapperdoppe ín vir 'n slag!
Tiekies en pennies, sjielings en halfkrone, dié
groei nie aan bome nie. Julle moet geleerd kom!"
 
Ons doet so voort Moeder! Ses griffels krap oor leie.
Streepsuiker is jou voorland sou jy dink aan slaplê!
Vandeesjaar is Ouboet se laaste boeksakdra;
sy skaapogies en gesoek na perde en osse,
die is púre verniet              aanskomende jaar kom hy boer.
 
Die gôwerment het brieke aangedraai met die aalmoese,   
dis glo 'n bielie van 'n saak; hiér te kort en dáár te lank.
Ieder en elk - Gatjieponners, Hervormes en Doppers,
die is nou aan't swoeg en sweet vir elke mudsak koring
soos die Grootboek beveel om jou hand aan die ploeg te slaan.
 
Van gunste en gawes die is daar geen sprake meer van nie!
Vir elke sjieling of pond sal jy kromstaan of sekel swaai,
prosedeer gaan vir jou nie 'n tiekie ekstra in die sak bring nie.
Elke man vir homself. Ou Sekelstert sal sorre vir die res;
dít is die wet van Transvaal my geliefde ou swaer.
 
Voordag met die haan se kraai, trek jy suutjies
die warm flênnie oor jou blaaie en stook die koue vuur.
Skouer aan die wiel; baie myle lê tussen saai en oes.
Dank die Liewe Vader, voor jouse twak staan en nat worre
en jy Bokveld toe verhuis       sesvoet      ônner die grond!

© Meraai vannie baai

« Last Edit: April 09, 2013, 02:20:39 AM by Meraai vannie Baai »

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 8604
  • Gender: Female
Re: Vanmelewe se woorde
« Reply #6 on: July 11, 2011, 08:59:23 AM »
Wow, Raaitjie, dit is 'n meesterstuk en ek besef terdeë hoeveel tyd jy hierin geploeg het.  Ek kan beslis sien dat die spasie in die plek van die komma, beter funksioneer as wat die komma sou doen. 
Dit is ook 'n langer stilte    gee 'n mens kans om dit dink    en dit werk soos 'n bom. 
Dankie matertjie.  Ek hoop die probleme met die forum is nou opgeklaar. 
« Last Edit: July 11, 2011, 09:04:07 AM by PM »
Om te weet is om te verstaan.

Meraai vannie Baai

  • Guest
Re: Vanmelewe se woorde
« Reply #7 on: July 11, 2011, 11:16:14 PM »
Dit was 'n groot plesier matertjie. Ek was besig om 'n digbundel te lees (saamgestel deur 90 vrouedigters) hier aan ons kant van die aardbol en was verstom oor hoeveel verse het gebruik gemaak van witspasies. Van hierdie verse dateer werklik uit die jaar toet  :notworthy: As 'n mens die tegniek minimaal toepas in 'n vers is die eindresultaat natuurlik baie meer indrukwekkend/opsigtelik.

  
« Last Edit: July 12, 2011, 06:33:39 AM by Meraai vannie Baai »

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 8604
  • Gender: Female
Re: Vanmelewe se woorde
« Reply #8 on: July 12, 2011, 09:36:05 AM »
Wow!  90 digters in een bundel!  Dit wil gedoen word.  Dink jy ons kan dit oortref?  Hoef seker nie net vroue te wees nie?

Ek het al getel, as elke skrywer wat hier saam skryf iets in ons bundel sit, dan is ons 20.  Een vyfde as ons wil 100 hê! 
Dink net hoe wonderlik sal dit wees as ons al die strukture wat ons al beoefen het kan toelig met voorbeelde uit ons eie geledere.  Dit is my droom!!!!
Om te weet is om te verstaan.

Meraai vannie Baai

  • Guest
Re: Vanmelewe se woorde
« Reply #9 on: July 13, 2011, 08:18:30 AM »
Ek weet dat jy die strukture se swoeg en sweet met 'n passie aanpak, en voorwaar sal dit 'n droom bewaar vir ons beide, as al die ure se sit en timmer met die woordhammers, in die boek uitgestal kan word met eie voorbeelde!!
« Last Edit: July 13, 2011, 08:24:04 AM by Meraai vannie Baai »

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 8604
  • Gender: Female
Re: Vanmelewe se woorde
« Reply #10 on: July 13, 2011, 09:41:38 AM »
Nou is die droom so ver,  of is dit nou so naby, 'n mens moet net jou hand uitsteek en dan kan jy daaraan vat! 

Ek sien al die "skrywerslys" voor my!   Die inhoudsopgawe!  Elke skrywer moet 'n profielblad hê.  Die ouens beter solank daaraan begin werk.   :hello2:
Om te weet is om te verstaan.

Meraai vannie Baai

  • Guest
Re: Vanmelewe se woorde
« Reply #11 on: July 15, 2011, 05:14:04 AM »
En ons doet voort ...  :icon_salut: :notworthy:

Offline adele

  • Bouspan
  • Melkbaard
  • Posts: 1463
  • Gender: Female
  • gryp na môre in klein-klein stukkies
Re: Vanmelewe se woorde
« Reply #12 on: July 19, 2011, 12:25:24 PM »
Vanmelewe ...

dinges, maar dis 'n praggedig, alles so mooi vertel, ek het gevoel na wakker skrik toe ek uit daardie wêreld moes uitklim.
en toe geniet ek die ou woorde en gesegdes, het nog nie alles gelees nie, maar my gedagtes hol alreeds na griffel en lei....
adéle  :grommit:

Meraai vannie Baai

  • Guest
Re: Vanmelewe se woorde
« Reply #13 on: July 19, 2011, 01:31:02 PM »
 :love7: :notworthy: :icon_biggrin:

Offline Chichi

  • Regular Members
  • Snuiter
  • Posts: 447
  • Gender: Female
Re: Vanmelewe se woorde
« Reply #14 on: September 04, 2011, 09:39:34 AM »
hehe die goedjies is baie oulik!! My ouma hulle (aan moeder se kant) se nie sulke dinge nie, hulle is daai engelse mense, baie liefies vir hulle!! My pa se male (die Afrikaanse mensies), ek mis hulle baie, is al baie lank terug begrawe so ek weet nie of hulle sulke goed gesê het nie.... My ander helfte se oumense se ook nie rêrig sulke dinge nie, hulle praat nie baie nie... of as hulle doen is dit maar oor wat seer is en wat pla.  Die oupa se wel soms sulke goedjies dan lag ek lekker saam vir sy stories, hulle was baie kinders waarvan net een 'n dametjie was so hulle het haar altyd baie moeilikheid gegee en baie gekry daaroor.  Ander helfte se oom se wel sulke goedjies baie, het dit nie altyd lekker verstaan nie, maar sal seker nou!
*The one and only AWESOME-EST


Meraai vannie Baai

  • Guest
Re: Vanmelewe se woorde
« Reply #15 on: September 16, 2011, 03:14:36 AM »
Staat op, mak toe die deur nou | anoniem

(uit de bundel: Sestig uitgesogte Afrikaanse Gedigte (met prentjies) verzameld deur F.W. Reitz, Vroeger Hoofregter en Staats-president van d’Oranje Vrijstaat, 1897, Amsterdam – Pretoria.)
 
Eens was daar een getrouwde paar,
 Wat leef op hulle gemak nou;
 Die vrouwtjie die maak koekies gaar,
 Wat in die pan daar bak nou.
 
Die wint waait koud in die gebouw,
 Dit trek deur elke skeur nou,
 Toen zeg die oubaas ver zijn vrouw
 “Staat op, maak toe die deur nou.”
 
Zij zeg: “Ik maak die koekies klaar,
 Ik heb te veel te doen nou:
 Al wag jij ook een honderd jaar
 Dan maak ik dit nooit toe nou.”
 
Zulle maak toen same ’n akkoord
 Dat zoo dit moes gebeur nou:
 Die een wat eerste praat één woord
 Moes toe gaan maak die deur nou.
 
Toen kom daar net twee mans verbij:
 (Dit’s twaalf uur in die nag nou)
 Dit was zoo donker dat albei
 Verlang maar om die dag nou.
 
O, hulle was honger, kout, en nat,
 Zoo reg uit hulle humeur nou,
 Zulle staat daar op die modder-pat,
 Toen ziet hulle ’n ope deur nou.
 
Zulle vraa of zulle mag binne kom;
 Die paartjie praat gen woord nou,
 Zulle hou ver haarlie heelmal stom—
 Zulle dink aan hulle akkoord nou.
 
Die twee mans eet die koekies op,
 Zulle doet net wat zulle wil nou;
 Die vrouwtjie die swel in haar krop—
 Maar blij mar daarom stil nou.
 
Die een die zeg: “Nou kom, Meneer
 Nou moet ons dit maar doen nou:
 Jij kan die ou zijn baard afskeer,
 En ik die vrouwtjie zoen nou.”
 
“Daar is gên water in die huis,”
 Antwoord die eene man nou,
 Die ander zeg: “In die kombuis
 Is warm pap in die pan nou.”
 
O, kwaad spring op die oubaas toen,
 Hij hou hem reg permant nou,
 “Wat? vlak vóór mij, mijn vrouw kom zoen,
 En mij met pap verbrant nou?”
 
Toen moet jij zien hoe zij opspring,
 En skreeuw nes een kalkoen nou.
 “Die eerste woord het jij gepraat,
 Loop maak die deur mar toe nou.”

« Last Edit: September 16, 2011, 03:20:52 AM by Meraai vannie Baai »

Meraai vannie Baai

  • Guest
Re: Vanmelewe se woorde
« Reply #16 on: September 16, 2011, 03:15:30 AM »
Die prokureur syn hond | anoniem

uit de bundel: Sestig uitgesogte Afrikaanse Gedigte (met prentjies) verzameld deur F.W. Reitz, Vroeger Hoofregter en Staats-president van d’Oranje Vrijstaat, 1897, Amsterdam – Pretoria.)
 
“Goei morre Prokureur—geef my tog bitjie raad?
 Myn is ‘n ding gebeur, hier buite op die straat.
 Daar kom ’n slegte hond, net vlak hier voor jou deur,
 En byt myn in dei been; myn broek is glad verskeur.
 
Dit was ’n nuwe broek, en ek wil jou nou vrâ
 Of dit nie môolik is soo’n kerel an te klâ,
 Wat sulke slegte goed laat los-loop op die straat,
 Om myn somar te byt, as ik hier langes gaat.”
 
“Welseker myn ou vrind— dit staat jou altyd vry
 Om van die hont syn Baas, die skade weer te kry.”
 “Wat denk meneer daarvan—zal dit te baing wees,
 Om 10 sielings te vra, ver skade van die bees?”
 
“Wel al te seker niet—die ei-enaar moet beskou
 Dat 10 sielings is min, als hy so’n hond wil hou.”
 
“Wel, baas, dan raak jy ook nou net 10 sielings kwyt,
 Dit was jou ei’e hond, die het myn so gebyt.”
 
“Myn hond! myn Pollo dan, het hy jou so gekry;
 Mar as jy seker is dan sal ik ook niet stry.
 Dé, vat dan mar jou geld—wat reg is moet bestaan,
 Al sou die wereld ook daaronder moet vergaan.”
 
Die Boer die moet toen skater van die lach;
 Hy vat die geld heel vrolik, wat hy dag
 ’n prokureur mag glad wees met syn bek,
 Tog kyk ’n domme Boer hom in die nek.
 
So stap hy weg, mar kom net by die duer,
 “Stop vrind, wag, stop,” seg toen die Prokureur,
 “Dis alles goed en wel, die skade van mijn hond;
 “Mar ik moet jou vertel, myn raat die kos een pond,
 “Soo geef myn hier mar gauw myn 10 sielings nou weer,
 “Dan skuld jy myn voor raat nog net een halfpond meer,
 “Want dit is tog mar waar—wat reg is moet bestaan,
 “Al sou die wereld ook daaronder moet vergaan.”

« Last Edit: September 16, 2011, 03:21:41 AM by Meraai vannie Baai »

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 8604
  • Gender: Female
Re: Vanmelewe se woorde
« Reply #17 on: September 16, 2011, 05:35:35 AM »
Dankie vir die aandra hiervan Raaitjie,  dit is te kostelik.  Ek het geniet met  hoofletters.  :bootyshake:
Om te weet is om te verstaan.

Meraai vannie Baai

  • Guest
Re: Vanmelewe se woorde
« Reply #18 on: September 16, 2011, 11:39:39 PM »
Plesier mater  :notworthy: Hier is vanmelewe se woorde uit ons eie geledere se gene:

Naas: my oupa se gesegde

Tandpijn is geen pijn.
Maar een geliefde wat ver sijn,
dat ben een verdomde pijn.
« Last Edit: April 17, 2012, 03:04:32 AM by Meraai vannie Baai »

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 8604
  • Gender: Female
Re: Vanmelewe se woorde
« Reply #19 on: September 17, 2011, 04:48:50 AM »
Hier raak my gedagtes toe weg en ek sit en droom oor almal op die forum.  Op die maat van voëlgesang natuurlik.
Ek sal ook gaan soek na 'n bydrae'tjie.
Om te weet is om te verstaan.

Meraai vannie Baai

  • Guest
Re: Vanmelewe se woorde
« Reply #20 on: September 23, 2011, 03:07:43 AM »
Vandag op hierdie skat afgekom:

Ossie se kossies is bossies en polletjies,
Papa eet droo'e brood, mamma krij bolletjies,
Wieletjies woeletjies, tolletjies rolletjies,
Papa kom huistoe sij wa'entjie is volletjies.
Huistoe naar mammetjie,
Huistoe naar lammetjie,
Weg van die vlammetjie,
Weg van die dammetjie,
Papa kom huistoe naar kindjie en mammetjie.

Die versie is voorgelees deur die onderwyser, Jacob Smith, tydens Langenhoven se lesing oor sterrekunde. Daar was twee Belgiese propagandiste in die 'gehoor' en hulle wou graag hoor hoe Afrikaans klink  :icon_biggrin:

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 8604
  • Gender: Female
Re: Vanmelewe se woorde
« Reply #21 on: September 23, 2011, 06:44:58 AM »
Hoe lekker lag ek nou, ek sou graag wou weet wat hulle van hierdie taal dink. 
Dankie Raaitjie. 
Om te weet is om te verstaan.

Meraai vannie Baai

  • Guest
Re: Vanmelewe se woorde
« Reply #22 on: January 20, 2013, 11:48:14 PM »
Fneuker: Nee  :toothy4:  jy dink verkeerd! Dit is nie 007 proeswoord vir verneuker of spelfout nie. 'n Fneuker is  'n minder algemene naam uit die WAT, vir 'n kerssnuiter.

Foedraal’: 'n Sak-, doos- of kokervormige omhulsel wat gebruik word om 'n voorwerp wat presies daarin pas, te bewaar: 'n Foedraal vir 'n vaandel. Tafelsilwer is in dose, kokers, foedrale, ens. bewaar.
 
Foe’jangghaap: (verouderde uitdrukking)
As jy in 'n foejangghaap-staat verkeer beteken dit los my uit, ek is in 'n BAIE nare bui. Ook gebruik om 'n moeilike geaardheid te beskryf/befoeterd/bedonderd - Hy is foejangghaap!

Kwispedoor: Spoegbak vroeër gebruik deur persone wat gepruim het, gewoonlik gemaak van metaal met of sonder 'n voetstuk.
 

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 8604
  • Gender: Female
Re: Vanmelewe se woorde
« Reply #23 on: January 21, 2013, 09:04:20 AM »
Hier kan 'n paar woorde bygevoeg word. 

joggomtieties  -  'n slordige persoon
flenterfloors  -  iemand wat gehawend is

elsneus  -  iemand wat sy neus altyd in ander se sake steek
hempie-geraak  -  iemand wat homself dikwels opruk
jokkebrok  -  iemand wat altyd leuens vertel
Om te weet is om te verstaan.

Meraai vannie Baai

  • Guest
Re: Vanmelewe se woorde
« Reply #24 on: January 21, 2013, 12:29:58 PM »
Ek het nog nooit voorheen hierdie woorde gehoor nie. Watter wonderlike voorreg om dit nou te 'ken'. Jy is 'n doring PM!!

Offline AB

  • Regular Members
  • Hardebaard
  • Posts: 1884
Re: Vanmelewe se woorde
« Reply #25 on: January 22, 2013, 03:39:42 AM »
ook nog nooit daarvan gehoor nie.