Author Topic: In ou Booi se pondok Leipolt  (Read 17 times)

0 Members and 1 Guest are viewing this topic.

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 9598
  • Gender: Female
In ou Booi se pondok Leipolt
« on: May 22, 2020, 12:11:13 PM »

Skuus, ek wil nie eentonig wees nie, maar ek lief Leipolt se verhalende gedigte. 

Outa Booi, die wind speel dapper,
en dis bitter, bitter koud;
Kyk, daar buite spoel die bliksem
al die wolke geel met goud;
En jy bibber in jou bene,
want jy is al baie oud.
Is daar plek hier by jou vuurherd
waar 'n Kristenmens kan sit?
Gooi nog hout daar op die kole
want jou as is amper wit,
En die kou die gee jou sinkings,
en dit trek jou been uit lid.


So! Nou is ons lekker warm hier.
Gee 'n kommetjie vir my
Vol met koffie uit die kan daar,
outa, aan jou regtersy:
Ek hou baie van gho-koffie -
as ek dit maar nog kan kry.
Kom, vertel my uit die verte
toe jy nog 'n slafie was,
Toe die oubaas jou verkoop het
vir twee perde en 'n kas -
Net soos jy nou self aan oubaas,
vir sy looi, jou sakkie bas.
Was die mense toe so vroom al
as die mense is vandag?
Het die boere toe die swartvolk
soos 'n boerplaas maar verpag?
Het ons toe, soos nou, oor alles
wat belangrik is, gelag?
Was dit lekker in dié dae?
Was dit beter in dié tyd?
Was die ounooi regtig ounooi
vir haar jong en vir haar meid?
En die oubaas regtig oubaas?
Was die wêreld al so wyd?
In die Kaap, daar lê 'n ketting -
ja, dis oud, maar dis nog heel -
In 'n kamer, swart en donker,
van die aaklige ou Kasteel,
Met 'n ring wat vasgemaak was
eertyds om 'n slaaf se keel.
Daar's 'n kats daar, en die plek nog
waar die galg gestaan het - ja,
Onse ouers het geweet hoe
om te martel en te pla,
Maar miskien ook baie beter
hoe om pyn en smart te dra.
Daar was reuse in dié dae -
ook al was die wêreld vaal,
En al het ook daar die duiwel
in die donker rondgedwaal
En so baie van die harte
met sy nukkies opgesaal.


Daar was liefde toe, en kennis -
skoon ons nou daarmee so spot;
Elke man was groot genoeg toe
vir sy eie siel en lot,
En ek glo nie as 'n nasie
was ons mense toe so vrot!
Ja, ek weet ons het gely toe -
daar is altyd rou en pyn!
Laat jou grootste vat maar ope
met jou beste, soetste wyn:
Proe dit oor 'n maand, en, waarlik,
dit is amper nes asyn!
Kom daar ooit 'n kind ter wêreld,
groei hy op en word hy droog,
Sonder dat hy ooit sy trane
weggevee het uit sy oog?
Ja, jy maak ook nie rosyntjies
wat sal goed bly, sonder loog.
As 'n mens, met vuur en vlamme
tot sy gorrel volgeprop,
Met 'n hoop op seker uitkoms,
waar sy hart van helder klop,
By die vuurherd sit en luister
op wat omgaan in sy kop.
Sonder bang te worde, sonder
op sy hoop te struikel - staan
Pen-orent, kordaat en wakker
as die wêreld ook vergaan,
En die son word donker, duister,
en nog donkerder die maan -
As 'n mens met ideale
elke keer sy ideaal
Sien verbygaan voor sy oë
nes 'n ster wat skiet en straal
Vir 'n oomblik in die hemel
en dan in die see verdwaal,
Sonder vrees vir wat sal worde
as die nag nog langer duur,
As die wind nog kouer warrel
en die naglug trek so guur,
As die lewe skyn so bitter
en die toekoms lyk so suur,


Sien hy nooit daar in die vuurherd
wat is groot en wat is klein -
Nooit tevrede met die toekoms,
nooit versadig met die wyn,
Want die suiker is te suinig,
en die drank smaak soos asyn.
Tog - daar is 'n toekoms altyd:
waar vandag is opgeslaan,
Daar op Golgota, die kruise,
sal die mense môre staan
Rond die heiligdom van helde
wat alléén is voorgegaan.
Waar ons nou net bitter trane,
klagte, sugte, smart gewaar -
Waar die koringvelde kaal staan,
en die droogte druk so swaar,
Wys die toekoms diamante
en die koring in die aar.
Jy was ketter nog eergister,
en vanmôre is jy vroom! -
Laat vanaand se melk maar stil staan:
môre kry jy tog die room!
Slaap gerus maar, slaap gerus maar -
ja, hoe swaar ook is jou droom!
Jy was sondaar in jou sede;
elke woord het jou gekwets;
Vir die een was jy te nuut al,
vir die ander ouderwets!
Op jou siel is al jou smarte
met jou lewenssuur geëts.
Jy was vyand vir jou vrinde;
elke kêrel op die straat
Het 'n broederlike gisping
op jou wandel afgepraat,
En die aakligste van almal,
en die kwaaiste was - jou maat!
Ja, jou vader was 'n Boesman -
en dié volkies is nie mooi,
Met 'n agterste wat uitloop
soos 'n afgesakte kooi;
En jy self is nie te ekstra
as 'n spoghings, outa Booi!


Het hy ook 'n hart besit toe
soos 'n witmens, en 'n stem?
Was dit koddig as hy sanik
soos 'n strandmol in die klem,
Of 'n wawiel op die hoogte
wat geskraap word deur die rem?
Hy was mens - miskien 'n reus ook,
want 'n siel is nie so klein
Soos 'n vlees-en-bene-liggaam,
ook al is dit nog so fyn:
Ag, 'n liggaam dra maar laste,
en 'n siel die dra mos pyn!
Wat is van jou pa geworde?
As hy reus was, is hy nog;
As hy dwergie was - soos ons nou -,
ja, dan was hy maar 'n bog.
Hy was Boesman, skelm en deugniet -
ja, maar mens dit was hy tog!
Maar wat lol ons met die Boesmans,
wat tog almal heidens was?
Hulle moes maar self geweet het
om hul toekoms op te pas.
Is dit ons skuld dat dié volkies
is vergaan soos droë gras?
Vra jouselwe as jy moeg word
en die wêreld is so stil,
Wat jou lot is, wat jou toekoms:
is dit God die Heer se wil
Dat 'n nasie uit sal sterwe,
of maar die Natuur se gril?
Weet jy seker wat beslis is? -
of daar ooit beslissing is?
Wie vertel jou as jy raakskiet?
Wie vermaan jou as jy mis?
Sal jy alles weet, of niks nie,
as jy lyk is in 'n kis?
Arrie, outa, dit word koud hier,
en jou stories maak my vaak.
Jou gho-koffie is verbrand, glo,
want dit het 'n bitter smaak.
Dit word tyd dat ons goeinag sê,
eer jy van jou draad af raak.


Kleiner, kleiner en nog kleiner -
dis verdrietig, maar dis waar -
Word ons as die jare omgaan;
en ons het maar nog een snaar
Om ons deuntjie op te speel, en
ag, dié een is amper klaar!
Maak die deur maar toe, en sê maar,
soos ek sê vir jou, goeinag!
Gaan maar slaap nou, net soos ek ook,
outa, - slaap, en droom, en wag
Tot die skemer in die ooste
sê dis weer 'n nuwe dag.

Om te weet is om te verstaan.