Author Topic: Opdrag ‘Aan almal wat voorgegaan het’  (Read 2321 times)

0 Members and 1 Guest are viewing this topic.

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10692
  • Gender: Female
Opdrag ‘Aan almal wat voorgegaan het’
« on: May 22, 2020, 11:55:15 AM »

Opdrag
‘Aan almal wat voorgegaan het’
Die son gaan onder in die weste, agter
Die grysvaal koppies van ons ou Karoo;
Die hele lug is rooi, en goud, en silwer,
Met elke wolk half wit soos sneeu daarbo;
En saggies oor die veld hier val die skemer.
Die laaste glans en jongste gloed verdwyn
Van elke berg, waar nog so kort die kranse
Geverf was deur die son met karmosyn.
Oor al ons land daar trek die nag 'n skadu,
Groen soos die blare van 'n sederboom.
Die hamerkop verlaat die vlei; die reier
Stap na sy nes om op een been te droom;
Die naguil vlieg, en vlieënd klap sy vlerke;
In die tabaktuin gons die duiwelby;
En die aandblommetjies is algar ope
Om wierook oor die vlakte te versprei.
Waar in die weste, soos 'n muur van purper,
Die bergrand teen die lug 'n skadu bou,
Daar stadig klim die volmaan na die sterre
En haal die hele wêreld weer uit rou.
Sag is die nag en slaaprig al die wêreld -
Sag soos die wit gesiggie van 'n kind.
Dof in die maanlig skitter net die sterre,
En rustig in 'n klipskeur skuil die wind.
Slaap rustig so, jul almal wat geworstel,
Slaap so, jul algar wat gesneuwel het!
Hoe hard ook was die dag, die nag gee slaaptyd:
Na stryd kom slaap - dis die natuur se wet!
Kan julle op ons neerskou soos die sterre,
Kind, vrou en man, wat in ons tyd van nood
Die bitter kelk gesluk het en gevinde
'n Rus vir ewig in 'n heldedood,
Neem dan wat ek (vir wie dit nooit gegewe was
Die laaste stap te doen uit liefdeplig)
As brokkies vir 'n eerbewys gebou het -
'n Nietigheid van rympies - my gedig.
Ja, nietig, want geen sterretjie kan dowwer,
In vergelyking met jou voorbeeld, blink -
En tog, miskien, dis moontlik dis 'n weerklank
Van wat vir altyd in ons harte klink!
Die maanlig gooi 'n silwer waas oor velde
Waar eens die grys kruitwolke vry mog rol;
En elke plaas wat vroeër van rook geruik het,

Is met die geure van aandklossies vol.
Maar selfs dié silwer lig kan nie verberge
Die tekens van die tyd tien jaar verby:
Maak net jou oë toe, en tussen wierook
Bespeur jy nog die kruitrook op die vlei!
Ja, man wat op die slagveld wreed moes sneuwel,
En in die kinderkampe, kind en vrou,
Slaap rustig stil, julle wat so geworstel
En so gesterwe het - want ons onthou!


Leipolt
« Last Edit: May 22, 2020, 11:57:37 AM by PM »
Om te weet is om te verstaan.

Offline Meraai vannie Baai

  • Wysgeer
  • Posts: 3662
  • Elke dag aan ons Geskenk, is 'n kosbare voorreg.
Re: Opdrag ‘Aan almal wat voorgegaan het’
« Reply #1 on: May 22, 2020, 12:06:14 PM »
'n Ongeleesde skat. Iewers langs die pad gemis. Dankie baie baie vir deel mater.

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10692
  • Gender: Female
Re: Opdrag ‘Aan almal wat voorgegaan het’
« Reply #2 on: May 22, 2020, 12:14:36 PM »
Leipolt se stories kort  net musiek!  Ek lief dit en sal later nog 'n paar kom plaas.  Hoop julle sal dit saam met my geniet.  As ek vergeet moet jy my net wakker klap matertjie.  :icon_biggrin:
Om te weet is om te verstaan.