Author Topic: VANAAND SAL ONS MEKAAR IN DIE HEMEL SIEN  (Read 1620 times)

0 Members and 1 Guest are viewing this topic.

Offline adele

  • Hardebaard
  • Posts: 1932
  • Gender: Female
  • gryp na môre in klein-klein stukkies
VANAAND SAL ONS MEKAAR IN DIE HEMEL SIEN
« on: June 29, 2019, 08:34:09 PM »
Ek lê wakker en gesels met ons Vader. My gedagtes dwaal deur paadjies na gebeurtenisse waaraan mens nie regtig wil dink nie, maar hoe kan ons dit ignoreer en nie vir vriende, bekend of onbekend, bid nie? Ek stap na die hartsdeure van hulle waarvan ek gelees het; ook die kinders van goeie vriende wat agtergebly het en na baie jare nog worstel met hoekoms en waaroms van hul ouers se wrede moorde.

Dan haak my gedagtes vas by die vertelling van iemand in die afgelope weke. Ek gaan soek na die plasing, maar kry dit nie. Dit maak nie saak nie, want die kernpunt is in my gedagtes ingegrafeer.

Die mense is aangeval en die marteling, dreigemente en angs het begin. Dan lees die berig hoe die man aan sy vrou gesê het (as my feite naastenby reg is)
VANAAND SAL ONS MEKAAR IN DIE HEMEL SIEN … en dat die aanvallers se houding daarna verander het en hulle die mense nie verder seergemaak het nie. Almal is dankbaar en bly daaroor.

Maar hoeveel van ons het die ware wonderwerk in die woorde raakgelees? Daardie woorde van hulle, dat hul mekaar in die Hemel sal sien! Vriende, wat ‘n getuienis; wat ‘n uitroep uit Christus se Evangelie vir almal om raak te lees! Ek hoor hoe engele daaroor juig, want hulle weet dat ons Christus volg en aan God vashou. Ons wat uitsien na die lewe ná hierdie tydelike, om saam met Hom te wees. Vir altyd en ewig. Om wat te doen?

Om God te loof en te prys. Om heeldag tot sy eer halleluja uit te roep. Dit is wat die mense gedoen het, om in die angsuur van moontlike marteling en die dood, te getuig dat hulle voor die poorte van die Hemel staan en mekaar daarbinne gaan kry. Ek voel hoe ek saam met hulle daar staan en hande vashou. In gees hulle woorde ook myne maak.

Here ons Here, hoe kosbaar is u trou en genade oor ons! Dinge gebeur sodat U Naam geëer word en U Heerlikheid oraloor versprei. Dankie dat U ons dra en langs groen weivelde neerlê. Amen amen Here.

adéle theron
adéle  :grommit:

Offline Meraai vannie Baai

  • Wysgeer
  • Posts: 3662
  • Elke dag aan ons Geskenk, is 'n kosbare voorreg.
Re: VANAAND SAL ONS MEKAAR IN DIE HEMEL SIEN
« Reply #1 on: June 30, 2019, 11:09:49 PM »
Sinnelose wreedheid wat ons nooit sal verstaan nie en soms, net soms is daar 'n wonderwerk en word lewens gespaar soos wat jy hier beskryf mater.