Author Topic: Wanneer jy weer lewe kry!  (Read 1804 times)

0 Members and 1 Guest are viewing this topic.

Offline adele

  • Hardebaard
  • Posts: 1932
  • Gender: Female
  • gryp na môre in klein-klein stukkies
Wanneer jy weer lewe kry!
« on: June 11, 2019, 01:43:00 PM »
11 June 2016 · Daardie dag toe my vorige skoottoppie ingegee het ...

Ja, my skoottoppie-rekenaar staak in die internetruimte en laat my half verlore my polse afkou. Hoeveel van julle beleef deesdae dieselfde roetine?

Eers was dit e-posse by die werk. Elke kantoor wat deur rekenaars oorval is, soos die Israeliete deur die Filistyne, het in die kring wat om die aarde gespan is, ingeskakel. Die wedywering het gegaan oor wie eerste die oulikste, mooiste, hartseerste of mees humoristiese e-pos ontvang het en kon aanstuur. Maar na enkele jare het die meeste van daardie skrywes en grappies en foto’s al sewentien keer by jou aangekom en weer vertrek en het werkgewers ’n punt agter die privaatgebruik van hul rekenaars en internet gesit.

So stil-stil het slimfone by die sydeur ingesluip en later die werk van die kantoorrekenaar oorgeneem. Ek het nooit enige e-posfrustrasie in die sms-era agtergekom nie; seker omdat dit te duur sou kos. Die grootste en waarskynlik non-stop-irritasie vir baie, is die afkortingskrif wat nooit weer uit die samelewing verban sal kan word nie. Mense se luiheid by skrif en spelling het mos nou ’n verskoning, al is dit glad nie meer geregverdig met whatsapp nie. Maar ek dwaal af.

Die filistynse inval het tot feitlik totale siels-oorname gelei … ons laat opklim na ’n lewe buite die aardse, plattelandse uitreik-na-mekaar-lewe waarmee ons voorouers geslag na geslag opgegroei het. Ons het uitgestyg bokant die sfeer van kindwees in die veld, oorlog en vrede en ontdekking van nuwe kontinente.

Nou ontdek ons nuwe planete en sterrestelsels milleniums ver weg. En ons groet en kuier met lus en lewe in die kuberruim … soos die tannies dekades gelede op die plaastelefoonlyne geskinder-kuier het. Ons neem foto’s van kleinkindergeboortes sodat oupa en ouma binne drie sekondes deel kan wees van die hele proses. Geliefde troeteldiere word deel van naby- en ver-vriende. Ons griffel op die sypaadjie en deel die boodskappe met enigeen wat dit wil ophemel, maar wee die een wat waag om ’n leesteken te kritiseer. En les bes, ons raak die fotografiekuns baas deur raad en wenke, gratis en verniet, tot die inval van die ondenkbaarste foto’s en virusse jou hele dag lamlê. Of jou rekenaar of ‘laptop’ genaamd jou skoottoppie, pak op, word gehospitaliseer en word leeg aan jou lewe teruggegee.

In daardie tyd het jy dalk weer mens geword, jou man/vrou en kinders in die oë gekyk en saam met jou kollegas gaan koffie drink … dié wat nog nie tablette in hul handsakke ronddra nie. En julle het mekaar belowe om geen selfoon-oproep te antwoord terwyl daar ’n beker voor julle staan nie. Daarvoor word julle beloon deur vir mekaar suurlemoentert of tjoklitmoussekoek te koop. Skielik blom die lewe weer! Elke troeteldier in die omgewing word gegroet al wonder jy so stilweg of hulle ook so oulik is soos daardie video wat jy al male sonder tal voor gelag het.

En dalk, net dalk, ontmoet jy as enkelingtiener of alleenloper in die herfs van jou lewe, weer iemand wie se oë blinker vonkel as die skewe liegende profielfoto’s op facebook. Die lewe kan weer ’n lied word; kan weer saam met die mossies en bokmakieries en spreeus en die paddakoor in die spruit ’n simfonie vir jou speel.

En die kersie op die koek is die oggend wanneer jy in die kerk sit en luister na gospelmusiek of meer klassieke orrelspel, en jy besef hoe waardevol die Bybel in jou hande voel. Dalk het jy jare laas die stof van jou boekevat- of gunseling Bybel afgevee en wonder jy skielik of Daniël in die ou of nuwe testament is. Dan kan jy jou oë sluit en aan God dankie sê dat hy jou gered het van ’n swartgate-afgrond daar tussen dowwe internetsterrestelsels wat niks werd is wanneer jy jou laaste asem op aarde agterlaat nie.

©adéle theron
adéle  :grommit:

Offline Meraai vannie Baai

  • Wysgeer
  • Posts: 3662
  • Elke dag aan ons Geskenk, is 'n kosbare voorreg.
Re: Wanneer jy weer lewe kry!
« Reply #1 on: June 12, 2019, 05:10:21 AM »
Groot waarheid!

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10692
  • Gender: Female
Re: Wanneer jy weer lewe kry!
« Reply #2 on: June 28, 2019, 11:50:45 AM »
Kort en prontuit die waarheid vertel.   :angel4:   
Dit was lekker om te lees en sien uit na nog.   :love7:
Om te weet is om te verstaan.