Author Topic: 2019  (Read 1701 times)

0 Members and 1 Guest are viewing this topic.

Offline adele

  • Hardebaard
  • Posts: 1932
  • Gender: Female
  • gryp na môre in klein-klein stukkies
2019
« on: January 06, 2019, 06:39:52 AM »
Goeie mooiste môre vir elkeen,

Gistermiddag stap ek saam met die beeste deur die kamphek, water toe. Hulle het die krip in die veld leeggedrink, maar die dam se krippe is nog vol. Ek sit op ‘n groot klip en verwonder my aan elkeen. Elk het sy/haar eie manier van loop, eie manier van rondkyk, eie manier van vreet aan die gras en waterdrink.

Die kallers is, soos alle kleingoed, oulik. Stamp hier, stoot daar, soek spene, maar ma wil eers haar eie dors les. Tog staan sy geduldig en gedwee sodat kalf kan suip. En doen hulle dit nie ordentlik nie!

God skape alles; niks kom met halwe liefde uit sy hande nie. Wat het Hy gedink toe Hy die uitspansel beplan het? Die planete in hierdie sonnestelsel en verdere sterre … ewenwel te groots en ver en wyd vir my om te begryp. En toe Hy besluit het om lewe op hierdie derde planeet te vestig, wou Hy dit volmaak doen. En Hy het!

Maar aan die mens het Hy gedagtes gegee, anders as aan die diere. En ‘n eie wil. Ons sou nie soos die beeste eet en drink en net rondloop van hierdie na die volgende graspol nie. Nee, ons moes oor hulle, oor die aarde heers, nie als vernietig nie. Maar Hy het geweet wat gaan kom. Ons noem dit ‘n sondeval. En die mens se volmaaktheid sou verbrokkel, verkrummel en soos kaf in die wind weggewaai word.

Maar Hy het ook reeds die Verlossing beplan. Sy liefde en almag is oneindig.

Vriende, draai terug na God toe! Stap hierdie jaar in met die wete dat alles aan Hom behoort. Alles wat (tydelik) joune is in hierdie tydelike lewe op aarde, kom van Hom af. Sorg in liefde daarvoor; natuur, die veld, die wild, jou familie … leer jou kinders om in Christus se voetspore te stap, soos die vee in die veld wat in mekaar se spore volg, van weiding na water na die volgende graspol. As God vir die mossies sorg en in die droogte die lelies laat blom, hoeveel te meer nie vir ons wat met berou, ons verlorenheid bely en Hom volg nie? Die vreugde wat vir ons wag, is ewig, nie-tydsgebonde, vir altyd … al verstaan ons nie ten volle die begrip van ‘ewig’ nie. Maar glo in Christus se Evangelie!

Maak hierdie eerste Sondag van ons nuwejaar, jou eerste dag om God weer met ywer en vreugde te dien en te loof en te volg! Halleluja!

adéle theron
adéle  :grommit:

Offline Meraai vannie Baai

  • Wysgeer
  • Posts: 3662
  • Elke dag aan ons Geskenk, is 'n kosbare voorreg.
Re: 2019
« Reply #1 on: January 06, 2019, 11:45:37 AM »
Mag jy 'n wonderlike 2019 beleef mater  :love7:

Offline adele

  • Hardebaard
  • Posts: 1932
  • Gender: Female
  • gryp na môre in klein-klein stukkies
Re: 2019
« Reply #2 on: January 06, 2019, 12:01:12 PM »
Julle ook!! Dannnkie liefliewe Vriendin  :love7:  :coffee2:  :love7:
adéle  :grommit: