Author Topic: Dorothy se wonderwerk vir kersfees  (Read 2653 times)

0 Members and 1 Guest are viewing this topic.

Offline adele

  • Hardebaard
  • Posts: 1932
  • Gender: Female
  • gryp na môre in klein-klein stukkies
Dorothy se wonderwerk vir kersfees
« on: December 25, 2018, 05:26:13 PM »
“Pappa?”

“Mmmmm …” Dorothy besef sommer haar pa hoor haar skaars.

“Pappa, ek is alleen genoeg, sonder dat Pappa ook nooit luister nie.”

Donnie kyk op na waar sy op die kinderstoeltjie sit en haar beentjies swaai. Hy voel skuldig, het skaars agtergekom sy is terug. Hy wonder skielik waar sy was en sit dan regop. ‘Magtig, Donnie’, val hy homself in die gedagte, ‘sê nou net sy het weggeraak.’

“Dorothy, waar was jy?”

Sy antwoord nie. Uiteindelik het sy sy aandag. Maar nou soek sy na woorde. Skielik is haar sorgvuldig-voorbereide toesprakie verlore. ‘Maar dan moet sy dit maar sê soos dit is,’ dink sy vinnig.

“Voor Pappa weer begin dink, hoor bietjie hier. Wat gaan ons vandag doen? Dis mos nie asof ons niks hoef te doen net omdat ons alleen is en nie geld het nie?”

Donnie sluk-sluk aan die knop in sy keel. Wat moet hy antwoord? Ongeveer ses maande gelede het hy, wat hy kon, in sy karavaan gepak en het hulle pad gevat. Dit wat hy nie verloor het om skuld te betaal nie, het hy met toestemming van die huis se nuwe eienaar, in die een buitekamer gepak. Nou staan hulle hier in die stil karavaanpark by die plat Vrystaatse dorpie; stil, pla niemand nie. Af en toe kom groet iemand so in die verbystap, maar sy los-ons –uit-houding sit elkeen gou af. Soms wonder iemand oor die dogtertjie, maar nie vir lank nie, want meeste mense is so in hulleself gekeer, dat niemand regtig omgee nie.

Donnie hou sy hand uit en Dorothy wip met een sprong tot in sy arms.

“Pappa, ag Pappa …” Dan loop die trane. “Pappa het anderdag gesê as dit kersfees raak, sal ‘n wonderwerk ons kom haal. Maar wanneer raak dit dan kersfees?”

Donnie raak yskoud. Hoe kan ‘n sesjarige kind so goed onthou? Hy het nie gedink sy sou dit langer as ‘n paar dae onthou nie. Volgende jaar moet sy skool toe gaan, en waar … hoe … wat gaan hy maak as sy weggevat word?

“Pappa?” Sy het haar wange met haar stofhandjies afgevee en kyk vraend na hom.

“Dorothy, ek weet nie. Ek het bietjie vergeet van die tyd.”

Maar hy weet hy lieg. Hy is terdeë bewus van elke dag wat verbytik. En dat daar net genoeg kos en voorraad vir omtrent twee weke in die kassies is. En dat dit vandag Kersdag is!

“Here, ag Here, wat dan?” Hy besef nie hy sê dit hardop nie.

“Pappa.” Sy stamp aan sy skouer. “Hoekom bid jy nou?” Hy kyk weg.

Dan klim sy van sy skoot af. Agter haar stoeltjie staan ‘n blikkie-emmertjie. Hy het met ‘n opteldraadjie om die blikkie gevou, netjies en presies, die emmertjie gemaak. Sy tel dit op en bring dit vir hom.

“Ek het hierdie vir Pappa gebring. Miskien is dit al amper kersfees. En dan is hierdie ‘n persent vir jou.”

Hy vat die emmertjie by haar, gedagtig aan die miskruier wat sy tevore vir hom gebring het. Maar hierdie keer is daar drie klippies in. Die mooiste platrond klippies wat sy opgetel het. In haar ander hand hou sy ‘n stukkie hout vas. ‘n Stukkie stomp met ‘n besondere vorm, en daarby ‘n paar veldblommetjies.

“Help my. Ek wil dit mooi neersit hier op die tafeltjie, seblief Pappa.”

Donnie staan op en help haar. Sy klim in die karavaan in en kom uit met ‘n plat bakkie. Daarin sit sy die blommetjies. Hy gooi bietjie water daarin. So staan hulle terug en bekyk die rangskikking.

“Hoekom drie klippies, my kind?” Hy vra dit sommer om iets te sê.

“Omdat drie herders vir Jesus elkeen iets gegee het. So het Pappa my mos gesê.”

Weer ruk dit aan Donnie se hart. Hy gee haar ‘n drukkie teen sy hart. Hy het Dorothy alleen grootgemaak. Sy vrou se dood toe sy maar ‘n paar maande oud was, het hom amper van balans af gegooi; net die wete dat hy Dorothy sou kon behou as hy vir haar kan sorg, het hom laat vasbyt. En so het hy die bestuur van die koffiewinkel, so goed hy kon volgehou, maar toe, eendag, het die eienaar die plek gesluit. En daarvanaf het hy tevergeefs na ander werk gesoek. Later als verloor en net die ou bakkie en karavaan uitgehou en begin rondry. En hier het hulle ‘n maand gelede aangekom. Hy het besef sy laaste spaargeld is boomskraap.

Hy het sy vrou amper aanbid. Hy was ‘n enigste kind en sy uit ‘n kinderhuis, maar hulle was hemelsgelukkig. En uit die aard van sy werk het hulle omtrent geen vriende gehad nie. En ook selde in ‘n kerk gekom. Maar die afgelope paar maande het hom op sy knieë gebring. Tog, wonder hy nou, wat bring dit hom in die sak?

Die ure draal verder verby. Soos elke ander dag hierdie laaste weke. Hulle speel elke oggend ‘n uur of wat “skool” en verder stap hul entjies en hou hul besig met dit en dat. Dorothy is egter vanoggend ietwat stiller as gewoonlik. Donnie begin wonder of sy dalk siekerig voel, maar sy verseker hom sy makeer niks.

Dis baie warm en donker wolke het saamgepak, maar dit reën nog nie. Die veld kry swaar in die droogte. Dit is laatmiddag toe Dorothy kort-kort buite gaan rondkyk. ‘n Motor kom stadig aangery, hou langs hulle stil en ‘n vrou klim uit. Dorothy is dadelik by en gee die vrou ‘n drukkie. Dan roep sy na haar pa.

“Pappa, kom kyk hier is tannie Hannah.”

Donnie kyk vraend op vanwaar hy binne die karavaantent sit en skryf.

“Wie is tannie Hannah?”

“Ek is,” kom ‘n mooi stem van die tentopening af.

Donnie is heel uit die veld geslaan, maar staan vinnig op.

“Jammer Mevrou … Hannah …ek is Donnie.” Hy groet haar met die hand, en sy voel sy stewige, maar sagte greep.

“Meneer … Donnie … ee …” Skielik weet sy nie wat om te sê nie. Sy het iemand verwaarloos verwag, maar hierdie man se ruwe aantreklikheid, tog netjiese voorkoms, vang haar onkant. Dan kom haar ingebore eerlikheid tot haar redding.

“Donnie, ek het nou al vir Dorothy leer ken. Ons het eendag aan die gesels geraak toe ek hier by iemand anders kom inloer het. So, ek ken so bietjie van jul lewe.” Hannah sien die effense donker gloed wat oor Donnie se gesig skuif toe hy hom vererg.

“Mevrou, ons lewe het nie regtig iets met jou te doen nie.” Hy stel dit net as ‘n feit, sonder enige verdedigende toon.

“Donnie, jy mag dalk so dink. Dorothy is egter ‘n ander saak. Sy het my vertel dat sy nie kan wag om grootskool toe te gaan nie. En dít maak dit my saak. Toevallig is ek van volgende jaar af prinsipaal van die privaatskool hier naby. En my naam is Hannah,” sê sy met nadruk.

“Mevrou,” antwoord Donnie, “as jy dan so alles weet, dan sal jy ook weet dat Dorothy nie hier kan skoolgaan nie. Privaatskole val buite ons raamwerk.”

Hannah is net vir ‘n oomblik stil. Dan vra sy sag: “Donnie, kan ons gesels? Kom saam met my. Ons gaan drink koffie en jy vertel my iets van jou lewe, asseblief?”

“Waar kry jy vandag ‘n oop kafee op die plek?”

“Kom ek gaan wys jou.”

Donnie voel hoe hy ingee, al is dit glad nie wat hy beoog nie. ‘n Rukkie later sit hulle in die oulikste koffiekroeg. Hannah het dit self oopgesluit, vir hulle lekker koffie gemaak en kaaskoek in die kombuisie gaan haal. Dorothy smul aan ‘n bakkie roomys met aarbeisous.

Sy lei die gesprek na wat sy wil weet, maar in haar binneste groei iets anders; ‘n opgewondenheid wat sy nie kan verklaar nie en dalk ook nie wil nie. Dis haar derde alleen-kersdag nadat Heinrich hul verlowing verbreek het. Later, toe sy ook een en ander oor haar self vertel het, besluit sy om die bul by die horings te pak.

“Donnie, soos jy seker kan agterkom, is hierdie my plekkie. Ek bly in die agterste deel van die huis, maar kan nie die koffiekroeg en skoolhou gelyk behartig nie. Nou, sal jy asseblief die plek vir my bestuur?”

Dorothy wil iets sê, maar toe sy na haar pa kyk, hou iets haar terug. Sy verstaan dit nie, maar die sonstrale wat skielik in die vertek inskyn, beklemtoon die heiligheid wat sy daar aanvoel. Donnie vergeet amper van haar, toe hy Hannah se hande in syne vas vat en knik. Tyd vir valse hoogmoed is daar nie meer nie, maar vir Hannah sal hy hierdie plekkie opbou tot die gewildste koffiekroeg in die geweste. Dit beloof hy homself. Dan hou hy sy een arm na sy dogter toe uit.

“Pappa, is dit nou kersfees se wonderwerk?”

Maar Donnie hoor haar skaars. Hy kyk diep in Hannah se oë en glimlag ‘n belofte na haar toe.

©adéle theron
« Last Edit: August 01, 2019, 12:06:35 PM by adele »
adéle  :grommit:

Offline adele

  • Hardebaard
  • Posts: 1932
  • Gender: Female
  • gryp na môre in klein-klein stukkies
Re: Dorothy se wonderwerk vir kersfees
« Reply #1 on: July 30, 2019, 11:54:08 AM »
Hoofstuk twee ... 

Donnie trek die middeldeur, wat die koffiekroeg van die woongedeelte van die huis skei, agter hom toe en gaan sluit die voordeur oop. Dis ‘n heerlike oggend en hy geniet die reuk van nat grond en reën. Die tuin is sopnat.

Dit is al middel-Maart en die dorpie is stil; net toeriste wat iewers heen op pad is, loer af en toe in. Hy dink aan die een en ander wat Hannah hom tydens hul geselsie op Kersdag vertel het, wat aanleiding gegee het tot die ontstaan van die koffie-cum-kuierhoekie.

Hannah se grootouers het baie dekades lank in hierdie eeu-oue huis gebly. Haar oupa het na amper al wat boer en besigheidsman in die omgewing is, se finansiële sake omgesien. Sy het by hulle grootgeword, nadat haar ouers vroeg in haar lewe verongeluk het. Sy het ‘n onderwyspos meer as ‘n uur se ry daarvanaf gekry, maar skaars ‘n jaar skool gehou, toe hulle kort na mekaar oorlede is. Die ou huis het toe hare geword en Hannah het begin droom van ‘n sprokiestroue in die pragtige tuin. Sy en Heinrich was al verloof, maar hy het nog ‘n laaste studiejaar gehad om te voltooi en hulle sou in die volgende herfs trou. Kort na sy eindeksamen het Heinrich hulle verlowing verbreek en sy het met ‘n ompad verneem dat hy kort daarna met ‘n eerstejaartjie uit sy tuisdorp getroud is. Dit het die mat onder haar voete uitgeruk.

Sy het aan die einde van daardie kwartaal bedank en in die groot erfhuis ingetrek. Om kop bo water te hou, het sy namiddagklas aan skoliere begin gee. Dan het sy en die kinders in die groot eetkamer gesit en werk en Milo gedrink. So het die idee vir iets anders in haar posgevat.

Die afgelope drie maande het vinnig verby gegaan. Hannah het hom touwys gemaak in haar administrasie, en van Nuwejaarsdag af het hy as bestuurder begin werk. Dit het haar kans gegee om haar beplanning vir die skool wat sy wil uitbou, in plek te kry.

Hy het gou sy voete gevind en vergeet geensins om nog elke aand aan God dankie te sê vir hierdie kans nie. Soms is hy so bewoë daaroor, dat sy woorde opraak en hy net met sy oë toe sit, voor hy later ‘amen’ sê.

Donnie maak seker daar is genoeg water in die ketel en skakel dit aan. Nadat hy by die koffiekroeg begin het, het hy en Dorothy, teen die wil en wense van Hannah in, in sy karavaan aangebly. Daardie oomblikke van amperse intimiteit tussen hulle, nadat sy hom gevra het om die koffiekroeg vir haar te bestuur, het hy gou diep weggebêre. Dit sou nie deug om dieper by haar lewe betrokke te raak nie.

Dorothy kon egter nie vir altyd in ‘n karavaan bly nie. Hy wou ‘n ander huis huur, maar wat gemaak sonder meubels? So het hulle toe, op aandrang van Hannah, in die een deel van haar huis ingetrek. Dit lyk of dié drie kamers later aan die oorspronklike ou huis aangebou is, en is dus gerieflik as woongedeelte met ‘n eie badkamer. Daar is egter net een kombuis, behalwe die voorste kombuis-koffiekroeg wat Hannah laat inrig het. En hy wou nie die huis-kombuis gebruik en in Hannah se persoonlike ruimte indring nie.

Dit is makliker om hulle kruideniers in ‘n eenkantkassie te pak, en vanuit die groot kombuis vir hom en sy meisiekind te sorg. Hy het Dorothy ook so ver moontlik by hom en aan hulle kant van die huis gehou. Daarom drink hulle soggens hier koffie. Sy ry wel die meeste oggende saam met ‘Tannie-juffrou Hannah’ skool toe.

Dorothy kom by hom staan en vee vaak-vaak oor haar ogies. Hy druk haar teen hom vas.

“Goeie môre my kind, het jy lekker geslaap?”

“Ja, dankie en Pappa?”

“Mmmm, ja dankie.” Hy gee haar bekertjie koffie vir haar. “Wat gaan julle vandag in die klas maak?”

“Pappa, jy vra dit elke oggend,” sê sy met ‘n giggellaggie. “Maar vandag weet ek wat gaan ons doen.”

“O ja? En wat is dit?” Hy geniet hierdie terg-oomblikke met haar.

“Partytjie hou! Het my koek al kersies op?”

“O maggies, ek het vergeet om koek te bak.”

Vir ‘n paar oomblikke val haar gesiggie se vrolikheid, maar dan sien sy die vonkel in sy oë en lag weer.

“Waar is dit? Mag ek dit sien?”

“O nee, jy gaan mos eers by die skool partytjie hou,” sê Donnie.

“Maar ek verjaar mos nou al,” antwoord sy saggies.

“Ja, my kind, kom eers hier dat ek jou behoorlik kan geluk wens. Baie geluk met jou sewende verjaaarsdag, lief meisiekind van my. Ek hoop jy geniet vandag sommer baie.” Hy druk haar nog ‘n oomblikkie langer teen hom vas.

“Pappa?”

“Ja, my kind?”

“Kan ek nie maar ‘n mamma vir my verjaarsdag kry nie?”

Momenteel is Donnie uit die veld geslaan. Hy kyk by die venster uit na waar ‘n mamma-eend met drie kleintjies in die dammetjie aan die kant van die tuin, die water inklim. Sy hart roep tot sy hemelse Vader.

“Here, help my met ‘n antwoord.”

Maar voordat hy iets kan sê, sit sy haar handjie op sy skouer.

“Toemaar, Pappa, die tyd is seker nog nie reg nie, né? Dis mos so, né Pappa?”

Verlig knik hy net sy kop.

“Dis nog nie reg nie, ja. Maar hardloop jy nou en gaan trek aan. Kyk hoe laat is dit al.”

Sy drafstap kamer toe en hy gaan haal die eetgoedjies uit die koelkamer. Hulle het gistermiddag vir haar klasmaats elkeen ‘n pakkie met eetgoedjies, ‘n piesang en ‘n boksie sap reggekry. Hy het bruin papiersakkies gekry, haar naam en vandag se datum daarop geskryf en vir haar oulike syblommetjies gegee om daarteen vas te plak. Dit laat die herfs sommer vrolik voel.

Haar verjaarsdagkoek is ‘n baksel kolwyntjies met verskillende blomkleure versiersuiker waarop hy ook van die blommetjies ingedruk het. Dié het hy in ‘n bierboks gepak en dit ook vol blommetjies geplak. Elke maatjie kan dan ‘n kolwyntjie uit die boks pluk.

Teen tienuur die oggend het die afgelope paar dae se reënwolke weggetrek en skyn die son heerlik. Die winter gaan seker nou gou kom, dink Donnie. Hy is so ingedagte, dat hy nie die voertuig in die straat hoor nie. Dis eers toe die man oor die stoep stap, dat die klokkie lui en hy bewus word van iemand daar. Hy stap vinnig na die deur toe.

“Môre, kom binne.”

“Môre meneer ... ?” Die man se stem is net ‘n rapsie te hoog vir ‘n mán, dink Donnie vinnig.

“Donnie,” sê hy en steek sy hand uit. Hulle groet. “Waarmee kan ek help?”

Die man kyk rond, asof hy iemand soek. Dan vra hy: “Hannah? Is Hannah dalk hier?”

Donnie voel ‘n krieweling langs sy rug afgaan.

“Nee, sy is by die skool. Sal eers later vanmiddag tuis kom.”

Die man se oë vernou effens. “Tuis kom? Soos in hier na jou toe?”

Donnie vererg hom vir die insinuasie.

:Meneer ... ee ... kyk ek weet nog nie wie jy is nie, maar ja. Hannah bly hier, dis haar huis.”

“Heinrich,” sê hy. “En jy? Bly jy ook hier?”

“Meneer, ek kan nie sien wat dit met jou te doen het nie, maar ja, ek bly toevallig ook hier. Nou, wil jy iets drink, kan ek vir jou die spyskaart bring?”

“Nee dankie. Nie nou nie. Ek sal terugkom wanneer Hannah hier is. Sê vir haar sy moet nie vanmiddag rondloop nie. Ek kom haar sien.”

Daarmee draai hy om en voor Donnie van sy verbasing kan herstel, is Heinrich die trappies af en in sy duur motor straat af.

Terwyl hulle koffie drink en Dorothy ‘n glasie vrugtesap, vertel sy opgewonde oor hoe die dag verloop het. Donnie luister met ‘n halwe oor. Toe Dorothy uitdraf na die eende toe, gee hy vir Hannah die besoeker se boodskap.

“Hannah, iemand het jou vanoggend kom soek.” Sy kom dadelik agter hy is vies.

“Iemand?”

“Ene Heinrich, arrogante vent. Hy kom net nou weer om met jou te praat.”

Hannah verbleek.

“Donnie, as Heinrich weer hier aankom, ek is nie hier nie. Sê vir hom ek moes skielik weggaan ... Timboektoe toe. Enigiets, maar ek het niks vir hom te sê nie.”

Daarmee hardloop sy uit die sitkamer uit.

©adéle theron

adéle  :grommit:

Offline adele

  • Hardebaard
  • Posts: 1932
  • Gender: Female
  • gryp na môre in klein-klein stukkies
Re: Dorothy se wonderwerk vir kersfees
« Reply #2 on: August 01, 2019, 03:06:21 PM »
‘n Kersfees se Wonderwerk ... vervolg hfst 3

Hy staan nog en wonder hieroor, toe Heinrich in die straat stilhou. Donnie stap stoep toe.

“Middag Meneer,” sê hy sommer dadelik. “Hannah is nie nou beskikbaar nie, ook nie vir die volgende paar dae nie. So jy kan maar jou ry kry.”

“Kyk hier,” antwoord Heinrich hom, “ek gaan nêrens nie. Ek het ver gery om by haar uit te kom, so ek wag net hier.” Hy is dan so seker sy gaan jubel van blydskap om hom te sien.

Hy stap by Donnie verby en gaan sit by een van die tafeltjies. Toe half onseker, minder arrogant, vra hy of hy mag koffie bestel. Donnie knik net en wag vir sy bestelling. Hulle praat nie weer terwyl Heinrich sy koffie drink nie. Nog besoekers kom in en Donnie bedien hulle met middagkoffie en iets soets te ete.

Dan neem hy ‘n drastiese besluit en stap die gang af na Hannah se kamer toe. Hy was nog net enkele kere tevore hier, maar vandag regverdig dit hom om sy eie reëls te verbreek.

“Hannah?”

“Ek’s hier, in my sitkamer.” Sy staan by die venster en kyk buitentoe, maar sien niks raak nie.

“Hannah, wat gaan aan? Hoekom ontstel die vent jou nog?”

“Hy is getroud en het ‘n kind. Wat kom maak hy nou hier? Na meer as drie jaar.”

Sy vee nog ‘n traan oor haar wang weg en snuif. Donnie trek ‘n sneesdoekie uit die boks wat op die tafeltjie staan; deel van ‘n mooi hoekie soos wat Hannah oral ingerig het. Op die ingewing van die oomblik, besluit hy om self haar trane af te vee. Dan sit hy die sakdoekie in haar hand.

“Blaas,” sê hy sag, maar streng. “Blaas jou neus en gaan sit nuwe poeier op. Kleur jou lippies in en kom vorentoe. Die man wag vir jou, en om dit uit te stel, sal jou nooit vrede en aanvaarding gee nie.”

Hannah kyk op en hulle oë ontmoet. Sy hart mis ‘n slag en hy besef dat hy haar wil beskerm teen enige verdere seer. Maar dadelik onderdruk hy daardie gevoel. Hy soen haar sag op haar lippe, so vinnig, dat sy kon dink dis ‘n vlinder. Dan stap hy vinnig terug na waar hy hoort.

Heinrich het intussen ‘n koerant opgetel en op die rusbank in die sithoekie gaan sit. Donnie ignoreer hom en begin met dinge in die kombuis. Dan kom Hannah by die middeldeur in. Sy is vir hom so mooi, dink Donnie, en nou is sy broos. Hy sal daardie vent iets aandoen as hy haar nou seermaak.

“Heinrich?” Sy praat sag.

Heinrich kyk op na haar. “Hannah, liefling!”

Hy staan vinnig op en wil haar omhels, maar sy tree terug en haar kyk laat hom vassteek. Soveel minagting het hy nie verwag nie.

“Kom, kom ons gaan tuin toe. Dis mooi daar. Ek wil met jou praat.”

Hannah kyk ‘n oomblik na Donnie, maar stap dan uit, haar skouers regop en haar kop opgelig. Naby die eendedam gaan sy staan.

“Ek luister?” Sy is nou in beheer van haar emosies, en wonder wat het sy ooit in hierdie man met die breë skouers, maar te fyn gesig, gesien. Het sy hom liefgehad? Skielik kry sy hom jammer. Rykmanseun, hoofseun gewees, in die eerste rugbyspan gespeel, en op universiteit was hy die gewildste en bemindste vriend van almal. Sy het so gevlei gevoel toe hy haar uitkies.

“Hannah, ek is jammer ek het jou seergemaak. Ek het jou nog altyd lief.” Dis nie wat hy wou sê nie. Hy wou haar kom haal, sou haar met geweld ontvoer, maar iets in haar volwassenheid en vrouwees keer hom. Vir die eerste keer in sy lewe wil hy vir iets, wat vir hom meer waarde het as enigiets anders, pleit.

“Heinrich, waar is jou vrou? Waar is jou kind?”

Hy kyk in haar oë wat hom nou met empatie bekyk. Hy het nie geweet dat sy van sy kind weet nie.

“Ja, ek het jou liefgehad, Heinrich. Lief met my hele wese. Ek het kontak behou met Josh-hulle, jou kamermaat, en gereeld gehoor hoe dit gaan. Ek weet jou dogtertjie is doof en dat haar ma ook by die skool vir dowes skool hou. Dat jy iewers van haar wou skei. Daarom, Heinrich, wonder ek wat soek jy hier?”

“EK wou skei, ja, want sy het geweet van jou en my lewe hel gemaak deur gedurige beskuldigings. Sy wou nie glo dat ek geen kontak met jou het nie. Ons het vir berading gegaan en dit gaan nou beter. Maar, my liefling, ek mis jou en wil nie meer aangaan sonder jou nie ...”

“Weet jy, dis nie waar nie. Ek is net in jou gedagtes wanneer jy ongelukkig voel, wanneer jy doelbewus terugdink aan jou sorgelose jonkmanslewe, jou pierewaaiertyd waar jy nie nodig gehad het om verantwoordelikhede te dra nie. Gaan nou terug, Heinrich, gaan en wees vir jou kind die pa wat jy wou gehad het jou pa moes wees. Leer haar om verantwoordelikhede te kan dra, om eendag die lewe met vertroue aan te pak en nie op jou terug te val, soos wat jou pa jou gedra het, en net sy ideale in jou wou voltooi nie. Gaan wees lief vir Ansie, gee vir haar wat jy vir my wou gee, bou jul verhouding. Gaan en gee jou huwelik oor aan God, laat Hy julle huis en lewe vul.”

Heinrich is stom en verbaas. Hoe goed ken sy hom nie, dink hy by homself. Maar hy sien ook iets anders raak, iets wat hom wil breek, en dis dat daar nie meer helde-vereringsliefde vir hom in haar oë is nie. Trane wel in sy oë op.

“Ek sal gaan, lief Hannah, maar net omdat jy so vra. Ek sal altyd onthou hoe jy my kon laat voel, maar ek weet nou daardie tyd is verby. Ek sal dit nooit weer kan terugkry nie.”

Hannah tree nader en gee hom ‘n drukkie, laat toe dat hy haar omhels. Maar toe hy ry, voel sy iets doods in haar; iets wat omsit in verligting. Sy lag en huil deurmekaar as sy die groot sitkamer binnestap.

“My seer is verby, vir die eerste keer voel ek werklik lus vir my werk, my koffiekroeg, my huis en my toekoms,” praat sy saggies met haarself.

Dan gaan sit sy by die tafeltjie naaste aan die stoepdeur. Dorothy kom staan langs haar.

“Tannie Hannah, gaan jy nou beter voel?” Hannah sit haar arm om die dogtertjie met die groot, wyse oë se skouers.

“Ek gaan, Dorothy, ek gaan weer beter voel. Vra vir pappa om vir ons lekker koue melkskommels in te gooi, vir ons al drie, en hier te kom sit en gesels. Ons moet hierdie plek nog bietjie opdollie.”

Donnie luister na haar planne, maar intussen wens hy, hy kon oor amder dinge gesels. Maar die tyd is nog nie reg nie, dink hy. Sy moet nou eers leef. En as sy iemand anders kry, dan sal hy dit moet aanvaar. Maar nou, nou is die lewe ‘n lied.

©adéle theron

« Last Edit: August 01, 2019, 03:10:22 PM by adele »
adéle  :grommit:

Offline Meraai vannie Baai

  • Wysgeer
  • Posts: 3662
  • Elke dag aan ons Geskenk, is 'n kosbare voorreg.
Re: Dorothy se wonderwerk vir kersfees
« Reply #3 on: August 01, 2019, 11:15:16 PM »
Dankie vir die deel liefste mater van ons. So wag ons ook op 'n wonderwerk en ek besef vandag weer - die tyd is nog nie reg nie. Net aan hou glo.

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10692
  • Gender: Female
Re: Dorothy se wonderwerk vir kersfees
« Reply #4 on: August 05, 2019, 01:56:01 PM »
Dankie vir 'n mooi storie matertjie.  Kom daar nog?
Om te weet is om te verstaan.

Offline adele

  • Hardebaard
  • Posts: 1932
  • Gender: Female
  • gryp na môre in klein-klein stukkies
Re: Dorothy se wonderwerk vir kersfees
« Reply #5 on: August 05, 2019, 02:20:00 PM »
Een ja, ek sukkel met tyd, nes ek konsentreer, onderbreek iets my. Werk ... kombuis ...  :toothy4: maar dit sal kom. Dankie vir jou saamkuier  :hello:
adéle  :grommit:

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10692
  • Gender: Female
Re: Dorothy se wonderwerk vir kersfees
« Reply #6 on: August 05, 2019, 02:21:46 PM »
Ek het nou weer data en ons toring is herstel.  Hou tog duime was dat dit verder net klopdisselboom sal gaan.   :notworthy:
Om te weet is om te verstaan.

Offline adele

  • Hardebaard
  • Posts: 1932
  • Gender: Female
  • gryp na môre in klein-klein stukkies
Re: Dorothy se wonderwerk vir kersfees
« Reply #7 on: August 05, 2019, 02:26:10 PM »
Hoooopglo so hoor
adéle  :grommit:

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10692
  • Gender: Female
Re: Dorothy se wonderwerk vir kersfees
« Reply #8 on: August 05, 2019, 02:27:01 PM »
 :love7:
Om te weet is om te verstaan.

Offline adele

  • Hardebaard
  • Posts: 1932
  • Gender: Female
  • gryp na môre in klein-klein stukkies
Re: Dorothy se wonderwerk vir kersfees
« Reply #9 on: August 17, 2019, 10:15:23 PM »
‘n Kersfees se Wonderwerk ... vervolg hfst 4

Die dae het besiger geraak. Na die Maart-vakansie het Hannah-hulle hul idees omskep in arbeid en haar koffie-kroegie opgedollie, soos sy gesê het. Die oorspronklike grys-wit-kleurskema met spatsels turkoois, is vervang met warm kleure. Die winter lê voor, het sy besluit, en die nuwe voorkoms moes die herfstuin na binne weerkaats. Donnie het dit so beplan, dat die plek met enkele veranderings, in die somer weer die koeler voorkoms van die tuin sal uitstraal. Bolle is ook aangeplant, sodat lenteblomme ekstra kleur in die tuin sal inverf.

Meer toeriste het moeite gedoen om af te draai soontoe en mense het keer op keer teruggekom. Donnie het woord gehou: hy het die plek die gewildste in die geweste gemaak. Hannah het met ‘n geruste hart haar aandag op die privaat-plaasskool toegespits. Vandat die tuin vol blomme is, kom sy elke middag daar

“Juffrou, tannie Hannah? Hoekom is juffrou so besig?” vra Dorothy een middag.

Hulle sit in die tuin. Dorothy help haar om papierblommetjies teen geskenkboksies te plak. Hulle hou nou gereeld funksies in die tuin vir jaareinde en selfs klein onthale. Donnie wil haar wegstuur, maar Hannah keer hom.

“Sy pla nie, Donnie. Eintlik het ek nou haar hulp baie nodig, anders gaan ek nie alles klaar kry voor volgende week se afskeidsfunksie vir die graad sewes nie.” Dan kyk sy na Dorothy.

“Weet jy, wanneer mens iets vir iemand wil doen omdat jy baie lief is vir daardie een, of groepie mense, dan wil jy alles insit om dit ‘n sukses te maak. Jy wil dit doen omdat jy wil hê die ander moet gelukkig wees en dit geniet. Hulle moet nooit voel asof jy iets net doen om iets terug te kry nie.”

“Is dit hoekom ons alles so goed moet doen en net die beste voetjie vorentoe moet sit?” Dorothy vra dit met soveel erns, dat Donnie net begin lag.

“Nee, my kind, iewers val jou woorde nou verkeerd. Om jou beste voetjie voor te sit, beteken dat jy ‘n goeie indruk wil maak, maar dat dit dalk nie so sal bly nie.”

“Bedoel Pappa dan nou dat ek nie altyd nodig het om my beste voetjie eerste vorentoe te sit nie?”

Hannah glimlag ook, maar probeer haar verder reghelp.

“Dorothy, ons sê beste voetjie voorsit. Dit beteken nie jou beste voetjie moet die eerste tree gee nie. Dis sommer net ‘n manier om iets te sê. Ons noem dit ‘n spreekwoord.”

“Ag watookal.” Dorothy het nie lus om haar nou te bekommer oor woorde en sinne wat nie sin maak nie. Haar gedagtes is alweer by iets anders.

Hannah worstel met ‘n probleem. Sy wil vir Donnie en Dorothy een aand stad toe neem. Op so ‘n manier dankie sê vir hierdie jaar se hulp en raad en harde werk wat meer was as waarvoor sy Donnie kan betaal, dink sy. Maar hoe? Hy is so trots, en dan afsydig ... daardie enkele oopmaak-oomblikke koester sy, want elke keer het hy weer toegeslaan en weggeskram.

Die Saterdagoggend daarna begroet hulle met heerlike dik wolke en sagte reën. Donnie wag al vir Dorothy in die kombuis, maar sy daag nie op nie. Later stap hy vinnig na hulle kamers toe om haar te gaan soek. Hy kry haar in haar bed, waar sy kermend rondrol. Vinnig sak hy langs haar op die bed neer en vat haar aan haar arms.

“Dorothy, meisiekind, komaan word wakker.” Hy dink nog sy droom, toe besef hy sy is vuurwarm van koors en deurmekaar.

Donnie skrik hom yskoud. Wat gaan aan ... wat staan hom te doen ... waarheen ... ? Dan ken sy voete net een pad, na Hannah toe. Dis nog vroeg en sy kom hom in haar nagklere teë.

“Donnie?”

“Dorothy is siek, daar’s groot fout. Kom kyk asseblief,” sê hy half uitasem.

“Sy moet onmiddelik hospitaal toe, ek gaan aantrek. Bring my kar vorentoe,” sê sy toe sy voel hoe warm die kind is. Terwyl sy aantrek, bel sy haar dokter ook en dié stem in om hulle daar te kry.

Later die oggend, nadat Dorothy opgeneem is en reeds binneaars behandeling kry, sit Donnie langs haar bed. Hy bid in stilte tot God en smeek Hom om sy kind te bewaar.

“Here, sy is dan al wat ek het.”

Hannah het net gaan kyk of alles by die skool aan die gang is en toe teruggegaan hospitaal toe. Later het sy ook gereël dat ‘n vriendin by die koffiekroeg gaan help. Rita help gereeld vir Donnie wanneer dit baie besig raak.

Teen laatmiddag is Dorothy se koors nog nie regtig gebreek nie en Donnie weier om huis toe te gaan. Hy het nog niks geëet nie en net ‘n koeldrank of twee gedrink. Hannah praat weer met hom.

“Donnie, jy kan niks hier doen nie. Sy is nou in goeie sorg. Kom saam, dan eet jy net iets. Ons kom dadelik weer terug.” Maar hy weier.

“Ek kan haar nie los nie, Hannah. Sê nou net ... sê nou ... wat as sy iets oorkom en ek is nie hier nie?” Dan kom dr Sarel weer daar aan.

“Donnie, Hannah, sy het longontsteking. Al die toetse wys daarop en dis erg, die dat haar koors so hoog is. As dit nie binne ‘n uur breek nie, gaan ek haar oorplaas Bloemfontein toe”

“Maar waar kom dit vandaan, Dokter?” vra Donnie verward. “Sy het nie verkoue gehad nie.”

“Nee, dis nie van verkoue nie. Dis nou maar net iets wat gebeur het. Mens weet nooit waar kom enige so iets vandaan nie. Maar omdat julle haar dadelik gebring het, kon ons gou met behandeling begin. Ek glo ons gaan haar koors binnekort afkry sodat sy kan beter word.” Hy verduidelik die behandeling en werking van die medisyne aan hulle en gee ekstra opdragte aan die saalsuster.

Hannah besluit om eers vir Donnie iets te ete te gaan haal. Sy moet ook alles toesluit sodat Rita his toe kan gaan. Donnie weet nie wat om te doen nie. Hy gaan sit weer langs Dorothy se bed en sluit sy oë. Sy gebed is innig en smekend.

“Vader, net U weet hoe om haar te help. Gee dat elke druppel medisyne net tot haar voordeel sal wees. Hou haar hier vas, en laat U wil geskied.”

Donnie weet dat om haar na Bloemfontein toe te laat gaan, onmoontlik is, want hy het nie spaargeld daarvoor nie. En om haar in daar in een van die staatshospitale te laat opneem, is ondenkbaar. Dan kan sy liewer hier onder Sarel se sorg bly.

Hannah kom later terug en met moeite oorreed sy Donnie om iets te eet. “Komaan, dit help nie as jy uitgeput raak as sy jou nodig gaan hê nie.”

“En dan gaan jy huis toe en gaan rus, asseblief Hannah,” sê hy. “As sy dan môre beter is, dan sal ek gaan, maar nou bly ek hier.” Hannah weet nou al dat teëpraat nie gaan help nie.

“Belowe net jy gaan bel sodra daar enige verandering is, goed of sleg,” sê sy. Hy knik. Hannah wens sy kan hom styf vashou, hom net laat insien hoeveel hulle vir haar beteken; dat sy net so bekommerd is oor Dorothy. Maar Donnie het klaar weer gaan sit. Sy draai om en stap uit, haar oë vol trane.

“My Vader, wat is U wil, wat wil U hê moet met ons gebeur? Ek het die man nou lief gekry, gaan dit verniet wees?”

Die nagverpleegster het aan Dorothy al die aandag gegee wat sy kon. Dokter Sarel het laataand weer kom inloer. Dorothy se koors het wipplank gery, maar na drie uur stadig begin daal en teen dagbreek het sy haar oë oopgemaak. Moeg het sy gewonder waar sy is en wat aangaan. Trane het oor Donnie se wange begin loop toe hy haar versigtig vasdruk. Daarna het hy Hannah laat weet.

©adéle theron
adéle  :grommit:

Offline adele

  • Hardebaard
  • Posts: 1932
  • Gender: Female
  • gryp na môre in klein-klein stukkies
Re: Dorothy se wonderwerk vir kersfees
« Reply #10 on: August 19, 2019, 03:14:11 PM »
‘n Kersfees se Wonderwerk ... vervolg hfst 5

Amper twee weke later het Donnie vir Dorothy toegedraai in ‘n groot, sagte kombers, huis toe geneem en haar ‘n rukkie in die tuin laat sit.

“Pappa, asseblief, ek is nou so moeg vir mure om my.” Sy was ook moeg gelê, maar dokter Sarel het haar gemaan om nog baie te rus. Sy het na daardie eerste aand nog baie gesukkel met koors wat gekom en gegaan het en haar herstel vertraag het. Nou moet haar longe eers kans kry om ordentlik te herstel. Sy sal seker nie teruggaan skool toe nie, maar haar werk tuis inhaal en vir haar graad een-toetse sal hulle nog ‘n plan beraam.

Donnie het net die eerste drie dae omtrent heeltyd by die hospitaal gebly, daarna het hy weer begin werk, maar Rita was heeltyd daar. Hy het die saak met Hannah bespreek en hulle het besluit om Rita soggens aan te stel. Donnie kan doen met hulp, want met al die funksies en naderende vakansietyd, is hulle baie besiger as wat hul die hele jaar was. Dit het Donnie ook tyd gegee om sy kind met haar skoolwerk te help. Sy wou net heeltyd teruggaan skool toe, maar was tevrede toe sy hoor sy gaan in elk geval ‘n rapport vol goeie punte kry. En die vakansie sou vir haar heeltemal te lank voel, maar Donnie was net te dankbaar sy is beter.

Die Saterdag na die skool gesluit het, het ‘n verrassing op Dorothy gewag. In die stilligheid het Hannah ‘n klaspartytjie vir die graad een’tjies gereël en toe Dorothy haar oë uitvee, daag amper al haar maats daar op. Dis ‘n gekuier en gespeel en ‘n heerlike etery. Hannah laat hulle ‘n paar speletjies speel. Donnie kyk na haar en wonder hoe dit sal voel om haar te soen, haar regtig vas te hou. Hy skud sy kop, maar hou haar dan weer dop. Hoe gaan ek vir haar dankie sê vir alles wat sy hierdie jaar vir ons gedoen het, dink hy.

Sondae-oggende was hulle gewoonlik saam met Hannah in die kerk. Geen etes is in die middae bedien nie, maar tussen twee-uur en sesuur was hulle oop vir koffie en soetgoed. Vandag is hulle ekstra besig en Rita en haar man, Thys, kom loer in. Donnie is maar te dankbaar toe sy inspring en ‘n uur of wat help.  Toe hulle sesuur sluit, nooi hy hulle om saam te eet. Hy en Thys gesels altyd lekker.

Dis al laat toe hy eindelik in die bed klim, maar hy is nugter wakker. Hy wonder oor Hannah, oor die toekoms en oor die middag wat sy so mooi gelyk het. Stadigaan besef hy dat daar nie meer vir hom ‘n toekoms kan wees sonder haar nie. Hy wil nie sonder haar lewe nie. Hy wil haar lief hê!

Grote griet, Donnie, jy moet jou kop laat lees, dink hy. Vinnig staan hy op en gaan haal vir hom ‘n glas yskoue sap in die kombuis. Hy gaan sit op die stoep. Dis amper volmaan en die sagte silwer strale speel in die tuin. Hy dink aan die jaar wat verby is en aan alles wat hy vermag het. Kan hy nog ‘n jaar aanbly? Moet hy nie op ander plek gaan werk soek nie?

Maar dan, hy sien nie kans om weg te gaan nie. Buitendien, waarheen? Hy kon nie vroeër werk kry nie en niks in die land het verander nie; inteendeel. En waar sal hy weer ‘n skool kry wat soveel vir kinders beteken as hier, dink hy verder. Hy gaan klim weer in sy bed, maar dis baie laat toe hy aan die slaap raak.

‘n Paar aande later is hy besig om die buitedeure te sluit, toe Hannah inkom. Hy wou haar eerder vermy, maar dis vakansie, dus is sy buitendien heeldag tuis en help kort-kort vir hom en Rita wanneer die plek vol besoekers is. Dorothy slaap al teen hierdie tyd.

“Donnie, kan ek ‘n beker milo kry? Asseblief?” Donnie knik net en haal melk uit die koelkamer. Wanneer hy teenoor haar sit, elkeen met ‘n beker milo, weet sy nie hoe om te sê wat sy op die hart het nie. Dan maar sommer reguit praat, dink sy.

“Sal julle Woensdagaand saam met my stad toe gaan? Ons vra Rita en Thys om hiernatoe te kom. Hy kan haar help en ons gaan teater toe.”

Donnie is stomverbaas. “Hannah?  Hoekom ons? Jy het al ‘n keer of drie hierdie jaar ‘n opvoering gaan bywoon, maar saam met ‘n vriendin of twee. En buitendien, ek skuld jou soveel vir alles wat jy vir ons gedoen het, nou wil jy ons saam nooi?”

“Donnie, wanneer sal jy besef dis jy wat soveel vir my gedoen het? Sonder jou sou ek hierdie plek moes sluit, weet jy? Niemand anders sou so alles ingesit het en my droomplek so gewild gemaak het nie.”

Maar Donnie is nie tevrede nie. Hy wil nog ‘n verskoning bedink, maar kry niks nie. Hy weet dis omdat hy nie kans sien vir die intimiteit in ‘n motor en langs haar in die teater nie, al sou Dorothy ook tussen hulle sit. Hannah sit hom net en aankyk en wag vir ‘n antwoord, maar toe hy niks sê nie, sê sy:

“Dan is dit reg en afgespreek.” Sy is al in haar kamer, toe Donnie eers opstaan.

Hy stap kamer toe. Die nag strek lank voor hom uit en hy rol net rond. Met dagbreek se eerste skynsel staan hy op. Hy het sy en Dorothy se posisie van alle kante af beskou, beplan, geskuif en tot net een gevolgtrekking gekom.

Woensdag kom Rita eers na die middag in, soos sy met Hannah afgespreek het, en sy jaag Donnie omtrent uit die koffie-kombuis uit om homself in teater-‘mood’ te kry, soos sy dit noem.

“Toe nou, niks se geskerm meer nie, Donnie. Wat pla jou in elke geval?”

“Niks,” sê Donnie sag, maar Rita is ouer as tien. Sy skink vir hulle koffie in stap na die sithoekie toe.

“Donnie, kom drink koffie. Ek het ‘n lepeltjie heuning bygevoeg om jou te kalmeer.”

Donnie gaan sit oorkant haar en blaas oor die koffie in sy hande.

“Wat pla jou? Vandat Hannah vanaand se uitgaan gereël het, is jy gespanne. Is jy bang vir die donker?” skerts Rita, maar dan voel sy die erns in Donnie aan. “Donnie?”

“Rita, sal jy volgende jaar hier kan oorneem? Ja, ek glo jy sal kan,” sê Donnie skielik saggies maar ernstig.

“Wat? Is jy nou simpel?”

“Nee, ek ... ons ... Rita, ons gaan weg. Ek het reeds plek in die stad gekry en moet teen middel Januarie daar wees. Sal dit reg wees met jou?”

Rita kyk hom stil aan terwyl iets in haar binneste kriewel.

“Nee, ek is jammer, maar daar is geen kans dat ek Januarie hier kan oorneem nie. Jy weet, ek en Thys gaan na Nuwejaar na ons kinders toe en in die Suid-Kaap toer. Ons beplan om eers einde Februarie terug te kom. Dalk nog later.”

“O, ek het nie geweet nie. Dan sal ek maar net iemand anders moet soek, tydelik, as jy later wil oorneem, want ek weet nie van iemand anders wat dit beter as jy sal kan doen nie.”

“Nee, daar is nie sprake van so iets nie. Vir wat wil jy nou gee pad? Niemand sal ooit hier kan doen wat jy kan nie.” Rita pleit amper.

“Sommer, daar is nie ander keuse nie,” sê hy nog sagter. Hy staan op en stap uit.


©adéle theron
adéle  :grommit:

Offline adele

  • Hardebaard
  • Posts: 1932
  • Gender: Female
  • gryp na môre in klein-klein stukkies
Re: Dorothy se wonderwerk vir kersfees
« Reply #11 on: August 19, 2019, 05:29:33 PM »
‘n Kersfees se Wonderwerk ... vervolg hfst 6

Op pad stad toe is Dorothy heeltyd aan’t gesels en uitvra oor wat voorlê. Na sy so siek was, is hierdie avontuur vir haar nog lekkerder. Donnie is afgetrokke en Hannah hou die geselskap met haar aan die gang. Teen die tyd dat hulle in die stad aankom, weet Hannah verseker dat iets fout is; iets pla Donnie, maar sy kan nie haar vinger daarop lê nie. Sy raak stiller en Dorothy verkyk haar aan als rondom haar.

In die teater-atmosfeer ontspan Donnie en glimlag hy wees saam met Hannah vir Dorothy se opgewondenheid. Die sang is uitstekend, die operette vol humor en toe hulle uitstap, gesels Donnie gemakliker oor musiek en ditjies en datjies. Hulle is nog skaars uit die stad uit, toe is Dorothy vas aan die slaap.

Hannah raak ook stiller en later ry hul sonder gesels. Tog voel dit nie vir een van hulle ongemaklik nie. Donnie kyk af en toe skuins na haar, maar sy tuur net oor die maanverligte vlaktes. Tuis help sy Dorothy in haar bed sit en los die bedlampie aan. Die sagte lig gee ‘n pragtige effek in die kinderkamer. Sy en Donnie kyk na mekaar, nie een wil die goeie stilte verbreek nie.

Hannah verbreek hul oogkontak eerste en stap tot in die gang. Donnie kom agterna, maar by die middeldeur wil hy haar nie laat gaan nie. Voor hy egter iets sê, praat Hannah sag met hom.

“Donnie, wat is fout? Wat het ek verkeerd gedoen?”

“Hannah, nee,” sê hy amper ontsteld. “Jy doen niks verkeerd nie. Maar ek en my kind moet aangaan met die lewe. Ons moet weer rigting kry sodat ek vir haar ‘n vaste toekoms kan opbou.”

Geskok kyk sy na hom. Verstaan sy nou reg, wonder sy. Wat bedoel hy anders as om weg te gaan?

“Donnie, kom ons gaan drink koffie. Hier is iets wat ek nie verstaan nie en ek kan nie so onseker gaan slaap nie.”

In haar kombuisie skakel sy die ketel aan en haal twee bekers uit die kas uit. Die kombuis het ‘n oop ingang en Donnie leun teen die muur.

“Koffie?” vra sy.

“Liewer milo, dankie.”

Sy laat melk kook en gooi dit in die bekers. Met die bekers in haar hande, wil sy uitstap. Maar Donnie bly in die opening staan. Vraend kyk sy na hom. Donnie se voete wil nie beweeg nie. Hy dink aan hoe mooi sy vanaand lyk. Hoe sy kinderlik saam met Dorothy gesels het. Aan die sagte glimlag op haar gesig tydens die humor in die teater. Hy drink dit in om altyd te onthou. Dan draai hy om en laat haar verbystap. Sy sit die bekers op die tafeltjie neer en wil op ‘n stoel gaan sit, maar hy vat haar aan haar arm en laat haar op die sitkamerbank sit. Dan gaan sit hy langs haar.

Hy gee haar milo aan, neem syne ook en in stilte drink hulle die eerste slukkies. Onwillig om die afwagtende atmosfeer te verbreek, drink hy eers sy beker leeg. Hy kyk nie weer na haar as hy begin praat nie.

“Hannah ... Hannah, ek wil nie hê jy moet dink ek is ondankbaar nie. Maar ek en Dorothy gaan in Januarie weg.”

Hannah trek haar asem skerp in. Voor sy nog kan keer, skiet haar oë vol trane.

“Maar hoekom?”

“Ek weet nie, of ja, eintlik weet ek, maar dis nie nou van belang nie. Aanvaar asseblief net dat ek vir Dorothy liewer nou skuif, as later in ‘n hoër graad. Sy moet iewers skool gaan waar sy nou al standvastigheid kan kry.”

“Maar wat is dan fout met ons skool? Is jy nie ook tevrede met haar punte en geluk hier nie?”

“Ek is heeltemal tevrede, en Hannah, ek weet sy is baie gelukkig hier. Maar iewers sal ek moet trek, en liewer nou as later.”

“Maar hoekom?” vra sy weer.

Donnie staan op. Hoe kan hy haar nou antwoord. Hy moet liewer loop, want hulle is nou te emosioneel en naby mekaar. Hy trek haar op en hou haar hande vas.

“Meisie, glo my, al voorsien jy dit nie nou nie, daar gaan ‘n tyd kom wat ek in die pad gaan wees en dan gaan dit erger as nou wees om te trek.”

Daarmee soen hy haar sag op haar bewende mond, so sag soos die vorige keer, en stap vinnig uit. Verslae en in trane klim sy later in die bed. Lees sy hom dan so verkeerd, wonder sy heeltyd. Dan kniel sy langs haar bed en stort haar hart voor die Here uit. Vra Hom om sy wil te laat gebeur, maar om haar die krag te gee om te laat gaan, as haar liefde nie sy wil is nie.

©adéle theron

« Last Edit: August 19, 2019, 05:36:35 PM by adele »
adéle  :grommit:

Offline adele

  • Hardebaard
  • Posts: 1932
  • Gender: Female
  • gryp na môre in klein-klein stukkies
Re: Dorothy se wonderwerk vir kersfees
« Reply #12 on: August 19, 2019, 05:31:35 PM »
‘n Kersfees se Wonderwerk ... vervolg hfst 7

Die dae gaan verby en die atmosfeer raak al hoe strammer. Dorothy is onkeerbaar toe Donnie haar vertel dat hulle gaan trek.

“Maar ek wil nie trek nie, Pappa. Hoekom, wat moet ons in die groot stad gaan maak. Hoe kan ons vir juffrou tannie Hannah alleen los? En wat van my maatjies?”

Donnie antwoord met geduld en kalmte, maar later vervies hy hom vir haar en stuur haar met ‘n skerp teregwysing kamer toe. Die atmosfeer bly stram. Op kersoggend ruil hulle geskenke uit, want die vorige aand was daar ‘n familie wat tot laat in die koffiekroeg gekuier het. Hannah het vooraf besluit om die koffiekroeg vir Kersdag en die volgende dag gesluit te hou.

Dorothy se opgewondenheid het die dag met meer vrolikheid laat begin. Sy en Hannah besluit om saam ontbyt te maak sodat hulle drie in die tuin kan gaan eet en Donnie speel saam, asof hul ‘n familie is. So kuier-kuier gaan die dag verby. Die skielike stil ure voel vir hom vreemd en Donnie sluimer in waar hy op die bank gaan lê het.

Hannah besluit om die kans te gebruik om Dorothy se klerekas deur te gaan. Oor twee weke moet hulle trek, en sy weet nie wanneer ‘n vrouehand weer die meisie se klere kan opvolg nie. Saam met haar kyk sy na alles en geniet elke oomblik van besluit wat kan saamgaan, en wat is al te klein. Sy vra wat Dorothy met haar klere wil maak wat nou al te klein is.

“Weet tannie Hannah, ek wil dit vir iemand gee,” sê sy, skielik teruggetrokke.

“En wie is die iemand?”

“Ek weet nie of Pappa sal dink dis reg nie ...”

“Wie is dit? As jou pa nie dink dis goed nie, sal ons hom wel oortuig.”

Dorothy vertel vir Hannah dat haar beste maatjie, Vera, vir haar vertel het van ‘n plaaskind, Ivory, wat baie arm is. Haar ma het weggeloop, haar pa kom net af en toe huis toe en haar ouma werk by drie huise om hulle vier kinders se magies kos te gee. Dorothy se oë raak vol trane.

“Dink tannie ek kan maar van my klere vir Ivory en haar sussie gee?”

“Ek dink beslis so. Ek sal hierdie stukke eenkant hou, en met Vera se ma gaan praat en hoor waar bly Ivory-hulle. Dan sal ek haar gaan opsoek en besluit wat sal solank pas. Is dit goed so?”

Dorothy sit haar arms om Hannah se nek en gee haar ‘n stywe drukkie. Sy is so bly, alle onsekerheid nou vergete.

“Hoekom wil Pappa nie dat tannie my ma word nie, hê Tannie?” Met groot oë kyk sy haar aan.

“Ummm, laat ons maar eers kyk waar julle gaan bly, dan hoor ons wat jou pa sê. Kyk, pak jy nou eers hierdie skoene terug in jou kas en speel met jou nuwe pop.” So verander Hannah die gesprek vinnig en stap uit. Dorothy raak besig en vergeet van tyd.

Hannah gaan lê in haar kamer en blaai deur ‘n tydskrif, maar sien niks raak nie. Dan sluimer sy ook in. Toe Donnie wakker word, is die huis doodstil. Hy gaan loer by Dorothy is, maar sy lê en slaap met haar nuwe pop in haar arms. Dan gaan soek hy na Hannah. Hy wil graag ‘n rukkie alleen by haar wees en hoop sy sal weer vir hulle milo maak. Saggies stap hy tot hy by haar kamerdeur kom. Hy sien haar skuins oor haar bed lê.

‘Hoe lief het ek haar nie, daarom moet ek weggaan. Ek kan haar mos nie met my verlede en kind opsaal nie.’ So dink hy by homself. Maar dan vra hy, soos die afgelope paar dae, sommer oop oë dat God hom krag moet gee. ‘Nie soos ek wil nie, Here, maar u wil geskied.’

Hy stap na haar kombuisie toe en begin vir hulle milo maak. Voor die melk kook, kom sy binne.

“Ek het wakker geword toe jy so na my kyk. Wat was in jou gedagtes, Donnie?”

Donnie draai om. Die mikrogolfoond se klokkie lui, maar hy hoor dit nie. Hierdie vrou met haar blosende wange en deurmekaar hare laat hom alle selfbeheersing oorboord gooi. Hy trek haar teen hom vas en voel hoe sy teen hom ontspan. Dan vleg sy vingers deur haar hare. Hy trek haar kop effens terug en laat sak sy kop tot sy lippe hare raak. Sag streel hy haar skouers en rug met sy ander hand. Dan soen hy haar meer intens. Hy weet nie hoeveel sekondes, of is dit minute lank, sy hom terugsoen nie, maar dan kyk hy op.

“Hannah, liewe Hannah, weet jy nou hoekom ek moet weggaan?”
 
Sy hou hom vas toe hy haar wil laat gaan.

“Nee, hoe sal ek weet? Donnie, hoekom mag ons mekaar nie lief hê nie? Waarvoor is jy bang?”

“Hannatjie, juis omdat ek jou so lief het, moet ek jou kans gee om ander te leer ken. Hoe kan ek jou nou aan my bind voordat jy die lewe, sonder sy seer, leer ken het?”

Verligting spoel deur haar. Sy het nooit besef dat Donnie soveel omgee en net haar belange eerste stel nie.

“Donnie, jou liefste lawwe mansmens, ek was op universiteit ook, onthou. Daar het ek baie mense, en mans, leer ken. As ek wou, sou ek lankal weer uitnodigings aangeneem het, maar het jy nie agtergekom ek bly liewer tuis, hier by julle nie?”

Donnie kyk haar verleë aan. Hoeveel keer het hy gewonder oor haar roetine, hoekom sy nooit saam met ander, behalwe in ‘n groep, uitgegaan het nie.

“Hannah, bedoel jy wat jy sê? Sien jy kans vir my? Vir my en Dorothy?”

Sy bloos. Dan sit sy haar hande om sy wange en soen hom sag. Sy wil nog vir hom sê dat dit al is wat sy in die lewe verlang, maar dan hou hy haar so styf vas en soen haar, dat sy skaars asem kry. Dis eers ‘n hele ruk later wanneer hulle van die milo onthou.

“Nou moet die melk weer kook,” sê Donnie. Onwillig laat hy haar gaan. Dan sien hy vir Dorothy in die gang. Sy vee nog die vaak uit haar ogies, maar vra of sy ook gaan milo kry.

“Natuurlik, my skat.”

“Maar hoekom is Pappa dan hier? Ons kom dan nooit hier nie en ek het oral gesoek.”

“Ek het agtergekom tannie Hannah se milo is baie lekkerder as myne daar voor,” sê haar pa.

Dorothy staan langs hom en leun met haar koppie teen sy bene. Nie een praat tot Hannah hul milo klaargemaak het nie. Sy gee Donnie s’n aan. Dan tel sy die ander twee bekers op.

“Kom ons gaan sit weer buite. Dis die enigste plek waar die hitte nou bietjie afkoel.”

Dorothy gaan sit by hulle en drink haar milo vinnig op. Die groot mense drink hulle s’n stadig. Sy kyk van haar pa na Hannah. Met die onskuld van ‘n kind voel sy aan dat iets anders is, maar sy kan nie besluit wat nie. Sy besef nie dat die stramheid van die afgelope week of twee, uit haar pa se skouers verdwyn het nie. Maar sy onthou wel iets anders.

“Kan Pappa verlede jaar se kersfees onthou?” vra sy dan. “Toe ons nog in die karavaan gebly het.”

“Ja, ek kan, wat laat jou nou daaraan dink?”

“Toe het Pappa mos gesê dat kersfees se wonderwerk ons gaan kom haal en toe het tannie Hannah ons kom haal. Nou is dit alweer kersfees en niemand het ons kom haal nie. Maar Pappa wil sommer vanself weggaan.”

Dorothy se hartseer laat haar skouertjies sak. Donnie hou sy hande na haar toe uit en terwyl sy op sy skoot klim, kyk hy na Hannah. Hy wou hulle geluk eers tussen hulle gehou het, eers weer met haar gepraat het, maar besef nou hy sal Dorothy moet vertel. Hy is nie seker hoe Hannah daaroor voel nie. Maar sy glimlag en knik haar kop.

“Dorothy, “ sê Donnie dan, “miskien gaan ons nie meer weg nie. Dalk gaan kersfees se wonderwerk ons hier vasmaak, dan hoef ons nie te trek nie.”

“Regtig, regtig Pappa?” Sy is so opgewonde, dat sy regop spring en na Hannah kyk. “Regtig, tannie Hannah?”

Hannah knik net. Haar oë blink en Donnie weet nie of dit van trane of geluk is nie.

“Gaan vertel jou pop dat ons nie meer gaan trek nie.” Donnie lag toe sy met ‘n gejil huis toe hardloop.

Hy staan op, trek Hannah op en stap met haar aan die hand na die eendedam. Daar draai hy na haar toe en sy oë verdonker van erns.

“My Liefste Hannah, ek het nog nie kans gehad om jou te vra nie. Maar nou het ek nie ‘n keuse nie.”

“Wat bedoel jy? Wat se keuse wil jy hê?” Haar oë glinster van pret.

“Juffrou Hannah, sal jy asseblief met my trou? Nog voor Nuwe Jaar?”

Hannah wou al antwoord, maar die ‘nog voor Nuwe Jaar’ laat haar verstom. Tog, hoekom nie, dink sy dan.

“Donnie, liefste Donnie, ek wag al so lank hiervoor. En ja, ek sal, maar is ses dae nie te gou ...?”

Sy praat nog, toe soen Donnie haar weer terwyl hy haar styf teenaan hom trek. Sy hart klop doef-doef teen haar vas. Haar arms gaan vanself om sy nek en sy soen hom terug tot haar asem weg is.

Dorothy kom by die stoep af en soek na hulle. Net toe sy wil roep, sien sy hulle langs die eendedam. Instink laat haar doodstil staan, maar ‘n gelukkige laggie borrel oor haar lippe.

“Kersfees, jy hoef nooit weer iemand te stuur om ons te kom haal nie,” roep sy uit.

©adéle theron
« Last Edit: August 19, 2019, 05:33:59 PM by adele »
adéle  :grommit: