Author Topic: ROOIBERG SE MAKASA - EN DIE LEERLINGMYNER  (Read 3937 times)

0 Members and 1 Guest are viewing this topic.

Offline Elizabeth Kungl

  • Moderator
  • Suigeling
  • Posts: 9
  • Passievol Afrikaans!
ROOIBERG SE MAKASA - EN DIE LEERLINGMYNER
« on: September 18, 2018, 09:58:25 AM »
Die tydperk waarvan ek vertel is so dertig jaar gelede, toe die rand nog sterker as die dollar was en petrol minder as 10 sent per liter gekos het. Die plekkie van die stories is Rooiberg Tinmyn. Dis 'n klein myntjie, weggesteek tussen die bosse van Noord-wes Transvaal, erens tussen Warmbad, Nylstroom en Thabazimbi. Dit was waar ons land sy tin vandaan gekry het, tot dit in 1994 toegemaak het. Hier het eeue gelede ander beskaafde mense gemyn, wat teen die 15de eeu weer spoorloos verdwyn het. Maar dis 'n ander storie daardie. 
Mense wat Rooiberg ken, sal weet dat dit een van die mooi gholfbane in die land het. So tussen die bosveld-bome weggesteek, met Smelterskop op die agtergrond, is sy pragtige groen setperke en skoonvelde 'n lus vir die oog. 'n Lus vir die oog, ja, maar 'n ramp vir diegene wat nie 'n bal reguit kan slaan nie! Daar is altyd ondeur-dringbare bosveldbome in jou pad en as jy eers in die digte ruveld beland, kan jy maar vergeet van jou duur balletjie. Maar hierdie storie gaan nie oor gholf nie.
Al wat ek eintlik wil sê is dat byna die hele gemeenskap direk of indirek by gholf betrokke was. Myners, amptenare, kantoor-werkers en bestuurders; byna almal probeer op hulle manier om op Woesdagmiddae en naweke van setperk tot setperk te kom - sonder om te veel tussen die lang tamboekiegras en vaalbosbome te beland. As die son sak, kom vrouens en kinders ook gholfbaan toe. Dan word daar vleisgebraai, gesels, gekuier en geskinder.
Oom Theuns van Staden, oftewel Makasa, soos hy alom bekend was, het die middag saam met my gespeel, en hoofsaaklik as gevolg van my vrot houe, het ons nie te goed gevaar nie. As my straf moes ek vir hom EN ons opponente, ‘n rondte bier koop. Een van die opponente was Makasa se skofbaas, Giel Smit.
Giel klop my op die skouer. “Steur jou nie aan Oom Theuns se vuil kyke nie! Hy maak ook soms droog, al is dit nie op die gholfbaan nie! Oom Theuns, vertel bietjie vir Louis van die streep wat klein Gertjie jou ‘n ruk gelede getrek het.”
Makasa glimlag verleë. “Giel, jou duiwel! Ek probeer die ding vergeet, maar elke keer diep dié man dit weer op!” Hy lag verleë, neem ‘n sluk bier en vee sy snor af.                                                                            
 “Ou koeie uit die sloot, dis wat ek sê. Maar nouja, ek het die ding vir myself op die hals gehaal en as jy wil luister, sal ek vertel. Miskien leer jy nog iets daaruit…”
Hy neem weer ‘n sluk. “In elk geval, Personeel stuur ‘n leerlingmyner, Gertjie Marais, na my toe om op te lei. Gertjie se ma is ‘n weduwee en sy bly hier naby by haar oudste dogter. Dis nou Nelia dáár in die rooi rok, vrou van Petrus, die geoloog. Gertjie stap dus sommer soggens myn toe. Spaar darem so ‘n paar rand deur nie in die enkelkwartiere te bly nie. Nou, Gertjie se ma bak die lekkerste lekkernye wat jy nog ooit geproe het. Haar toebroodjies is iets hemels: regte tuisgebakte boerbrood met plaasbotter en tuisgemaakte konfyte. En koffie! Man, sterk koffie wat sy self brand en maal, met heuning daarin om dit soet te maak. En koeksisters en die lekkerste koue vleis snitte… Dit laat my mond sommer weer water.”
Nog ‘n sluk bier. “Wel, om ‘n lang storie kort te maak, Gertjie se ma pak dan van al dié lekker goed in sy kosblik om ondergrond saam te neem. Die Goeie Boek sê mens moet nie begeer nie - en dis net waar ek die fout gemaak het. My begeerte het kort-kort gemaak dat ek Gertjie stuur om dinge te doen wat ver van die boks is, soos dinamiet of lonte gaan haal. Jy weet mos wat ‘n boks is?” Ewe trots knik ek my kop, dis mos die plek waar 'n mynwerker sy noodsaaklikste gereedskap bere, sy papierwerk doen, sy toebroodjies eet en sy koffietjies drink. Van rowwe bloekomplanke maak hulle gewoonlik ook vir hulle 'n lekker gemakstoel en Makasa was geen uitsondering nie.
Oom Theuns gaan voort. “Nouja, sodra Gertjie weg is, sluip ek stilletjies boks toe, gryp Gertjie se kosblik en eet sy lekker kos op en drink van sy koffie - en verdwyn dan weer werkfront toe. As ons dan later teen etenstyd saam by die boks aankom, kom hy agter dat iemand sy kos opgeëet het. Tragies, tragies, soos die skofbaas hier sou sê. Dan sê ek ewe simpatiek dat ek regtig nie honger het nie - en gee vir Gertjie my toebroodjies en van my koue tee.”
Oom Theuns steek sy pyp op, en eers na hy ‘n paar blou dampe gerook het, gaan hy voort. “Poppie, my vrou, maak self ook lekker tee en toebroodjies - en sit dikwels nog ‘n stuk koue vleis of biltong ook in. Maar, in alle eerlikheid, nie naastenby so lekker soos Gertjie se ma s’n nie. Al wat ek eintlik wil sê, is dat Gertjie nooit honger of dors gely het nie, maar dat hy allerhande planne beraam het om die ‘skelm’ te vang wat dan kwansuis sy kos en koffie steel. Ek het hom gehelp planne maak, selfs die boks se slot omgeruil. Maar niks wou natuurlik help nie - sy kos het bly verdwyn!”
Oom Theuns skud sy kop. “Ek behoort te geweet het dat boontjie sy loontjie gaan kry… Een oggend, dit was so in die middel van laasjaar se winter, raak ek dors - en baie lus vir Gertjie se lekker heuningkoffie…
“Ek stuur hom toe om ‘n bobbejaanspanner in ons ondergrond stoortjie te gaan haal. Daar was nie baie tyd nie, dus glip ek vinnig op na die boks toe, gryp sy bottel - en drink!” Hy lag verleë en neem nog ‘n sluk bier.
“Maar Franz, ou seun, waar was jy? Toe ek so die tweede of derde sluk gee, kom ek agter dat dit nie koffie is wat ek drink nie, maar soutwater en kakkerlakke! Liewe heiden mens, kan jy jou voorstel - soutwater en ‘n klomp kakkerlakke daarin? Ek smyt die bottel dat hy dáár, trek, flenters teen die rotswand - en ek buk oor die drein, op my knieë daar in die tonnel - en span jong osse in!” Oom Theuns huiwer ‘n oomblik en suig aan sy pyp.
“Wel, terwyl ek nog so staan en braak, kom Gertjie daar aan. ‘Oom’, vra hy, ‘wat makeer? Is oom siek?’ ‘Jy moenie nog vra nie kêreltjie’ sê ek, ‘Ek weet dit was nie mooi van my om jou kos te eet en koffie te drink nie, maar om my darem met soutwater en kakkerlakke te vang…’ En ek beduie na die stukkende bottel. Maar toe kan ek nie verder praat nie - nog braaksel en nog bitter gal. Dis toe al wat in my maag nog oor is! So tussen my ellende hoor ek Gertjie sê ‘Maar Oom Theuns, dit is nie soutwater en kakkerlakke nie, dis boontjiesop!’”
Oom Theuns glimlag verleë en sluk sy bier weg.
Franz Conradie

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10692
  • Gender: Female
Re: ROOIBERG SE MAKASA - EN DIE LEERLINGMYNER
« Reply #1 on: September 18, 2018, 12:34:52 PM »
Dankie vir die plasing EK.  Dit is lekker leesstof en ek het dit geniet.   :bootyshake:
Om te weet is om te verstaan.

Offline Anton Louw

  • Moderator
  • Snuiter
  • Posts: 295
  • Gender: Male
  • Passievol Afrikaans!
    • Kampforum.co.za
Re: ROOIBERG SE MAKASA - EN DIE LEERLINGMYNER
« Reply #2 on: September 18, 2018, 07:29:04 PM »
Baie dankie Elizabeth.

Hoop nie jy gee om as ek dit op kampforum plaas nie  :toothy4:
Kamp is koning!

Offline Meraai vannie Baai

  • Wysgeer
  • Posts: 3662
  • Elke dag aan ons Geskenk, is 'n kosbare voorreg.
Re: ROOIBERG SE MAKASA - EN DIE LEERLINGMYNER
« Reply #3 on: September 18, 2018, 11:44:33 PM »
Warm welkom in ons midde Elizabeth!  :book1: :notworthy: :icon_salut: Lekker om nuwe bloed te sien. Anton het reeds diep spore getrap.

Offline Elizabeth Kungl

  • Moderator
  • Suigeling
  • Posts: 9
  • Passievol Afrikaans!
Re: ROOIBERG SE MAKASA - EN DIE LEERLINGMYNER
« Reply #4 on: September 20, 2018, 06:50:59 AM »
Dankie julle. Nee Anton ek gee glad nie om nie. Ek is nog nie seker wat ek hier doen nie.  :icon_biggrin:
EK

Offline Anton Louw

  • Moderator
  • Snuiter
  • Posts: 295
  • Gender: Male
  • Passievol Afrikaans!
    • Kampforum.co.za
Re: ROOIBERG SE MAKASA - EN DIE LEERLINGMYNER
« Reply #5 on: September 20, 2018, 07:06:53 AM »
"Ek is nog nie seker wat ek hier doen nie.  :icon_biggrin:"

Is dit nou oppie forum of oppie aarde?  Ek weet ook nie  :toothy4:
Kamp is koning!

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10692
  • Gender: Female
Re: ROOIBERG SE MAKASA - EN DIE LEERLINGMYNER
« Reply #6 on: September 20, 2018, 12:59:38 PM »
Hier op die forum het julle twiekies al reeds goeie bydraes gelewer.  Ek glo en vertrou dat ons nog baie stories en toere en inligting oor die hemelruim en die land sal sien.
Elizabeth het gevra ek moet vir haar 'n afdeling begin oor "bipolar".  Sy het goeie inligting en wil dit graag met ons deel.   :notworthy:
Om te weet is om te verstaan.