Author Topic: Dawid is melaats (2600 woorde)  (Read 1797 times)

0 Members and 1 Guest are viewing this topic.

Offline adele

  • Hardebaard
  • Posts: 1932
  • Gender: Female
  • gryp na môre in klein-klein stukkies
Dawid is melaats (2600 woorde)
« on: August 18, 2018, 09:48:53 PM »
Dawid is melaats ... (2600 woorde)

Dawid gaan lê op die vodde lappe wat sy bed vorm. Hy huil lankal nie meer nie. ‘n Paar trane loop wel oor sy wang, maar hy vee dit nie af met ‘n gevoellose stompievinger nie. Hy druk net sy wang teen die lappe onder hom. Daar is nie meer veel van sy neus oor nie, en sy wange se vel skeur ook al plek-plek.

‘Dawid, Dawid, Dawid! Hoe lagwekkend’, koggel sy gedagtes hom. ‘Baie jare gelede was hul koning se naam ook Dawid. Hoe ironies. Met ‘n moord op sy kerfstok, het Dawid nog die belangrikste koning in hulle geskiedenis gebly.’ Hy staan weer op en sukkelstap met ‘n dik kierie as stut na buite, uit die grotte uit waar hulle klompie melaatses probeer lewe. Maar meeste van hulle haal net nog asem. Die sterre is blinkend helder en die luggie is koel.

‘Ek het nie eers iemand doodgemaak nie, Here,’ sirkel sy gedagtes weer om en om. ‘Maar ek is onrein. Ek is melaats. Ek is verwerp en verlore, vergete deur my familie en deur U. Ek stink soos vrot afval-vuilgoed met my vel wat skeur en bloei wanneer ek net omdraai in my slaap. Hoe lank nog, Here, voor ek sterf?’

Later die oggend kom ‘n slaaf sy kos op die afgesproke plek naby die grotte neersit. Toe hy wegstap, gaan Dawid om dit te gaan haal. Elias sluit by hom aan.

“Môre Dawid.” Elias se stem is sag, want trane maak sy keel dik.

“Elias, hoe voel jy vanoggend?” Dawid loop stadiger met sy stukkende voete waarvan meeste tone al af is en Elias moet sy treë inkort. Dawid kry sy jeugvriend bitter jammer. Hy wou dit nie glo toe Elias gister daar aangestap gekom het nie, maar die werklikheid laat hom nie keer nie.

“Ek weet nie. Ek weet nie hoe ek moet voel nie.”

“Dis dalk beter so. Om nie te voel nie, is hier die beste, my maat. Jou hande is reeds doods en binnekort sal jou arms en voete, jou ore en jou gesig feitlik heel gevoelloos wees.”

Elias antwoord nie. Hy sukkel nog om die skok van sy melaatsheid te verwerk. Toe sy twee vingers gisteroggend in flenters begin bloei het, toe hy ‘n swaar klip opgetel het, het hy eers besef iets is baie verkeerd. Hy wou nie, die Here weet, hy wou nie na die priester toe gaan nie. Maar hy moes. Hy het sy hande vir sy vrou gaan wys; gehoop sy gaan sê dis sy verbeelding. Hulle is drie maande gelede getroud en sy is nou swanger. Maar herkenning het in haar oë gekom en sy het met ‘n uitroep van afgryse omgedraai en weggehardloop. Hy het stadig omgedraai en tempel toe geloop.

“Dawid, hoe lank gaan dit vat … ek bedoel …” Elias sukkel om die vraag te vorm. “Ek wil eintlik weet … Dawid, hoe lank is jy al hier?”

Hulle stap ‘n paar tree in stilte tot by die kos. Daar is genoeg vir hulle, maar Elias wil nie Dawid se kos eet nie. Tog is daar nog niemand wat vir hom iets gebring het nie. Hulle gaan sit eenkant op ‘n groot klip.

“Elias, dê eet, want jy gaan krag nodig kry. Cayla gaan tog later vir jou kos bring, dan nie?”

“Ek weet nie.” Elias snik amper. “Haar afgryse was erg. Maar hoe anders? En ons kind is reeds in haar.”

Dawid eet eers klaar voor hy weer praat.

“Ek weet nie hoe lank die dood talm nie, maar moenie daaraan dink nie, want dit maak hierdie hel nog meer ondraaglik. Hoe lank ek nou al hier is? Ek weet nie, maar dit is al baie lank. Soos jy kan sien, is my liggam gedaan, afgetakel tot geraamte met my vel óf reeds weg óf in repe om my arms en verder baie stukkend.
Maar vertel my liewer wat gaan daar in die dorp aan? Hoe gaan dit met …? Toemaar. Vertel hoe gaan dit met almal wat ons ken.”

“Dawid, dit gaan goed met Hena.” Dawid knik net sy kop.

Hoe verskriklik baie het hy haar gemis, ‘n gemis wat vandag nog net so erg, of erger, is as die eerste dae nadat hy van haar af weg is. Sy wat hom altyd aangeraak het. So maklik kon hulle mekaar ‘n drukkie gee. Sommer net. Sy het hom nie sommer net laat gaan nie, maar haar arms om hom gegooi en hom styf vasgehou. Dis wat hy nou die meeste mis, iemand se aanraking. Hier help dit nie hulle raak aan mekaar nie want hulle kan dit nie voel nie. Nee, daardie aanraking wat tot in jou binneste tintel, jou ure lank bybly, al is dit van ‘n vriend op jou skouer, of jou ma of sus, maar veral van jou geliefde. Ag, Here, enige ander siekwees vat darem nie jou gevoel weg nie. Ag Here!

Dan onthou Elias iets.

“Dawid, onthou jy daardie Kind wat die tempel se Fariseërs so op hol gehad het, baie jare gelede? Hy was omtrent twaalf jaar oud. Jou pa het ons daarvan vertel.”

“Ja, so vaagweg. Hy was buitengewoon slim en het baie dinge uit die Skrifte aan hulle vertel. En so naastenby ons ouderdomme?”

“Einste Hy,” sê Elias. “Hy stap glo deur die land, van dorp na dorp. Hy is blykbaar die Messias, daardie Man van wie Jesaja geskryf het. Hy moet ons kom verlos van hierdie vervloekte Romeinse oorheersing. Maar of Hy dit werklik sal kan doen, bly ‘n ope vraag.”

“Hoekom?” Dawid vra dit maar net omdat hy iets moet sê, al stel hy nie veel belang nie. Wat sal enige verlossing hom nou help. Sy lewe gaan binnekort verby wees.

“Omdat die Skrifgeleerdes en Fariseërs Hom nie kan verdra nie. Tog, Hy maak honderde siekes gesond en dryf duiwels uit, sê party mense.”

“Ag ja, ander mense het ook al deur die jare gesond geword van iets, en dit dan aan iemand se goeie medisyne toegeskryf.” Dawid luister met ‘n halwe oor, want sy gedagtes dwaal nog by herinneringe aan sy en Hena se liefde.

“Hy het glo al melaatses ook gesond gemaak.”

Dawid kyk vinnig na Elias.

“O ja?”

“Maar ek kan dit nie bevestig nie.” Elias sukkel maar om te praat.

Die volgende paar dae oordink Dawid die vertelling van die Man wat glo Jesus, die Messias genoem word. Hy vra Elias gedurig uit, maar Elias weet ook nie veel meer nie. Dan kom daar nog twee nuwe mense aan, vroue wat melaats is. Hulle het meer te vertel van Jesus en al sy wonderwerke. Hulle vertel ook van Johannes wat Hom vooruitgegaan het en oral van Hom vertel. Maar ook hulle vertel van die Fariseërs se minagting vir Hom wat nie wette nakom soos hulle verwag nie.

Dawid probeer sin maak uit hulle vertellings en betrap hom een middag dat hy heeldag net aan daardie Man dink. ‘Wat is dit nou met my?’ probeer hy homself regruk. Maar hy kan nie die gedagte van hom afskud, dat hy Jesus wil gaan sien nie; wil gaan kyk hoe Hy lyk nie.

“Sê nou maar net … ag, dis absurd,” dink hy hardop.

“Wat is so absurd?” Dis Dora, wat dit vra.

“Nee wat, ek dink maar net iets.”

Maar dit vat pos in sy hart. Intussen voel hy hoe hy swakker word. Soms hyg hy na asem. Een oggend kan hy nie opstaan nie. Hy is eenvoudig te moeg en bly lê. Elias bring vir hom bietjie kos, maar hy kan nie eet nie.

Twee dae later staan hy op. Die son sit hoog bo in die lug en skyn lekker warm op die aarde neer. Maar die mense, of wat van hulle oor is, in die grotte, voel dit skaars. Elias gaan haal hulle kos wat iemand weer vir hul gebring het.

“Sara, my suster se slavin, het eenkant bly staan toe ek ons kos kry. Sy vertel dat daardie Man, Jesus, glo in die dorp is en dat hulle almal vanmiddag na Hom gaan luister. Gek vroumens. Sy glo ook nou vas dat Hy die Messias is, maar hy is net ‘n eenvoudige Man, met geen respek vir vasdae en ‘n Sabbat nie. Onthou julle wat Dora vertel het?”

Dawid bly stil, maar ‘n plan broei in sy kop. Hy moet net hier wegkom, ‘n rukkie alleen uitkom. Maar dit gaan baie moeilik wees. ‘Ek gaan hulp nodig hê,’ dink hy by homself.

“Elias, ek wil dié Jesus gaan sien, langs ‘n plek vir Hom wag.”

“Is jy nou mal?” Elias is sommer ergerlik. “Hoe wil jy dit regkry? Jy kan skaars opstaan en buitendien kan jy nie so ver loop nie.”

“Gaan jy my help?”

“Nee! Nee, beslis nie. Jy is mal. Ek gaan nie my kop uitsteek om weer mense se afgryse en bejammerende kyke te sien nie.”

“Dan gaan ek alleen.” Dawid is so beslis dat Elias en Dora nie eers antwoord nie.

“Hy begin yl, Elias. Los hom nou eers alleen. Miskien is die dood al in hom,” sê Dora hartseer.

Maar sowat ‘n uur later is Dawid buite. Hy leun op sy kierie en skuifel treetjie vir treetjie na die kant van die grot-area toe. Dis ver dorp toe, en hy wil kyk of hy dit sal kan regkry om tot daar te kom.

Die volgende oggend voel hy anders. Moeg, maar sy bene voel asof daar bietjie meer krag in is. Hy haal makliker asem. ‘Dan gaan ek nou dorp toe,’ besluit hy. Sonder om iemand te laat agterkom waar hy heengaan, stap hy dieselfde paadjie as gister. En hy stap ‘n ent verder, en nog ‘n ent.

Naby die grootpad raak sy asem min en hy gaan sit onder ‘n wildevy. Sy voete bloei en hy voel pyn in sy heupe. ‘Laat ek net nog bietjie krag kry, Here, ek wil so graag hierdie Man gaan sien.’ Hy kom nie agter dat hy met oop oë bid nie.

‘n Rumoerige gesels dring tot hom deur en hy staan sukkel-sukkel op. Hy druk sy een stompievingers-hand oor sy mond. Hy kan nie glo wat hy sien en hoor nie. ‘n Groot groep mense kom in die pad aangeloop. Dawid besef hy kan nie nou weghardloop nie, want hulle gaan hom raaksien. Benoudheid druk op sy bors. Hy haal skaars asem.

Die groep mense kom nader en Dawid probeer hom klein maak agter die boom. Gelukkig hang die takke laag om hom. Maar dan hoor hy iemand die naam ‘Jesus’ roep. En ‘n Man tussen die voorste mense draai om. Hulle gesels gaan vir Dawid verlore. Hy het nou net een begeerte, en dis om hierdie Man te gaan sien. Hy wil Hom vra of Hy hom sal gesond maak!

‘Is jy nou mal, Dawid?” vra hy saggies aan homself. Maar iets binne-in hom dryf die gedagte net verder. En die groep kom nader. Hy loer versigtig deur die takke. Die Man wat sy aandag gevange hou, is amper heel voor in die groep. Dawid weet hy moet gou besluit. Dis nou of nooit! Maar daardie Man kán hom genees, dit weet hy skielik net.

Vinnig skuifel hy met sy kierie onder die takke uit. Hy loop so vinnig as wat hy kan, nader aan die pad. Dis nie baie ver nie, maar voel vir hom asof dit ‘n myl ver is. Langs die pad gaan staan hy stil, krom, maar tog voel dit vir hom asof iets hom hier vas hou en krag gee. Hy lig sy skouers ‘n klein bietjie hoër en besef nou eers dat hy weke laas regop geloop het en nie agtergekom het hoe sy lyf verswak het nie.

Dan hoor hy iemand vreesbevange roep.

“Onrein! Iemand onrein langs die pad!”

Dawid voel duiselig. Die ent se stap het hom uitgeput. Hy prewel weer “Here, nog net ‘n paar minute, asseblief.’

Die mense spat half uitmekaar en die agterstes word deur die voorstes teruggedruk. Jesus kyk verwonderd om Hom heen en gaan staan stil, ‘n frons tussen sy oë. Dan tree Dawid tot amper voor Jesus. Met sy laaste kragte sak hy op sy knieë voor Hom neer. Jesus kyk af en besef die erns van die situasie. Die man is gehawend, bebloed en sy oë is vol pyn. Die diepste jammerte oorval Jesus, maar Hy sê niks nie.

Dawid praat eerste. “Jesus, as U wil, kan U my reinig.”

Die Man, Jesus, glimlag. Dawid kyk op in sy oë. Dis die sagste kyk wat syne ontmoet. En Dawid weet sommer dat ‘n band tussen hulle twee vorm. Jesus is so bly dat hierdie man juis na Hom toe gekom het. Hy dink aan die opoffering en moeite en pyn wat dit hom gekos het. Daarop steek Hy sy hand uit en raak aan Dawid se wang. Hy vee van die bloed wat deur sy vel syfer, weg.

Dan sê Hy: “Ek wil, word gereinig!” En dadelik het die melaatsheid hom verlaat. Hy staan op en voel hoe hy gesond word. Sy vel raak mooi en sy spiere voel sterk; sy skouers lig. Toe hy regop kom, kyk hy weer op in Jesus se gesig. Hy voel die Man se liefde en fluister ‘dankie, dankie Here.’

Jesus vat weer aan Dawid se skouers, want Hy weet dat hierdie man ‘n aanraking van ‘n geliefde die meeste gemis het. En daarmee beveel Hy hom ook om dit aan niemand te vertel nie, maar sê vir hom:

“Gaan vertoon jou aan die priester en bring die reinigingsoffer, soos deur Moses voorgeskryf, sodat hulle jou getuienis kan sien.”

Dawid wil so baie sê. Hy wil nie nou dadelik loop nie, maar nog met Jesus gesels en sy onmiddelike teenwoordigheid en liefde aanvoel. Maar Jesus stoot hom vorentoe en Dawid weet hy moet na die priesters toe gaan. Opgewonde draai hy om en begin vinnig wegloop in die rigting van die dorp. Hy loop tussen die skare mense agter Jesus deur. Niemand praat nie. Al het hulle nou al heelwat wondergenesings gesien, is hul nog verstom oor hierdie Messias se liefde vir almal wat Hom om genade en genesing kom vra.

Dawid het die hele reinigingsprosedure deurgegaan. Hy het ‘n boodskap na die priester gestuur en dié het buitekant die dorp na hom toe gekom. Daarop het hy hom saamgeneem en bevel gegee dat twee rein voëls, hisop, sederhout en skarlakendraad na hulle gebring moes word. Hy het toe die hele seremonie, soos eeue tevore aan Moses gegee is, gevolg tot agt dae later toe Dawid, nog volgens die voorskrifte, homself gereinig het.

En nou is hy op pad na Hela toe. ‘Ag, Here, mag sy daar wees en my nog mag lief hê’, bid hy weer. Hy wil nie toegee aan die gedagte dat sy dalk getroud kan wees nie. Ag, hoekom het hy nie maar na Elias geluister nie. Hy kom in die deur van haar ouers se huis, en iemand gaan haar roep.

“Dawid! Dawid, waar kom jy vandaan? Dawid?” Sy kyk na hom, vind sy oë en sien ‘n vonkel daarin. Dan gryp sy sy hande, kyk deurdringend daarna en draai hulle om en voel aan sy vingers.

“Dawid? Is jy gesond? Heeltemal? Hoe, waar ….?”

Dawid lag liefdevol en gelukkig. “Hela, ek het Jesus gaan soek en Hy het my aangeraak toe ek vol vodde was, stinkend besig was om te sterf. Hela, Hy is God en Messias. Hy is hier by ons.”

Dan neem hy Hela in sy arms en hou haar ‘n paar sekondes styf vas voor hulle na haar ouers gaan soek.

©adéle theron
Luk 5:12 – 14; Lev 14
adéle  :grommit:

Offline adele

  • Hardebaard
  • Posts: 1932
  • Gender: Female
  • gryp na môre in klein-klein stukkies
Re: Dawid is melaats (2600 woorde)
« Reply #1 on: August 18, 2018, 09:49:32 PM »
As jul regtig kans sien om hierdie lang storie te lees, geniet dit en gee asseblief terugvoer. Ek wil graag weet of dit goed genoeg kan wees as deel van 'n bundel skrywes    :hello: 
adéle  :grommit:

Offline Meraai vannie Baai

  • Wysgeer
  • Posts: 3662
  • Elke dag aan ons Geskenk, is 'n kosbare voorreg.
Re: Dawid is melaats (2600 woorde)
« Reply #2 on: August 19, 2018, 11:57:34 PM »
Die forum neem 'n ewigheid enne biekie om die deur oop te sluit. Pragtig verwoord (soos altyd hoe dan anders) maar ek glo jy sal die beste kan oordeel of jou verhaal by die res van jou bundel sal inskakel. Neem aan dat dit 'n geestelike bundel sal wees?

Offline adele

  • Hardebaard
  • Posts: 1932
  • Gender: Female
  • gryp na môre in klein-klein stukkies
Re: Dawid is melaats (2600 woorde)
« Reply #3 on: August 20, 2018, 08:06:42 PM »
Dankie Raaitjie, ja, 'n vriendin wat my meer as 'n jaar gelede gevra het om elke Sondag 'n plasing op haar fb-blad te sit, por my nou aan om dit als te bundel ... en ek wil graag 'n paar gedigte en storie of drie tussenin inwerk.
adéle  :grommit:

Offline Meraai vannie Baai

  • Wysgeer
  • Posts: 3662
  • Elke dag aan ons Geskenk, is 'n kosbare voorreg.
Re: Dawid is melaats (2600 woorde)
« Reply #4 on: August 20, 2018, 10:52:14 PM »
Ek het nogals gewonder of die bundel net verhale of gedigte ook gaan insluit en of die tema deurgaans 'n geestelike inslag gaan he. Glo die bundel gaan 'n pronkstuk wees mater!