Woordskuur > Verskombuis

Kom vat 'n happie van die mooie vers van Karen Hougaard

(1/2) > >>

Anastasia:
Ek kom deel so graag hierdie mooi woordvers van Karen Hougaard.  Die besonderhede en omstandighede verskyn onder die vers.  Dit het my hartsnare gepluk.

Los dit

As jy sou weggaan
los vir my ’n briefie
los dit op die yskas of
oppie hangkas
skryf dit op
’n post-it-plak-papiertjie
en los dit, los dit, los dit

Sonder ’n groot gedoe
griffel die hoekoms,
die waaroms en
waarheen en
nommer al my foute
benoem elke liewe een

Los – as jy sou weggaan
’n briefie met die dag
en met die tyd
noteer sekonde vir sekonde
toe jy besef het
dit was uit

As jy sou weggaan
los vir my ’n briefie
los dit op die yskas of
oppie hangkas
skryf dit op
’n post-it-plak-papiertjie
en los dit, los dit, los dit, los dit

Inventeer numeries
of alfabeties
die tye saam verwyl
in hotelkamers, wagkamers, die bad
ons geskiedenis detail vir detail
lys veral ten slotte
ons stiltes en ons storms –
ons blywees en ons seer
lys veral ten slotte
ons mooiste momente weer

En as jy dan sou bly
los vir my ’n briefie
skryf dit op my arm,
skryf dit op my boud
skryf dit op my oordrom
en trek my dan weer toe,
dis koud, dis koud, dis koud

Teks: Karin Hougaard, 2015

Dit is die liedteks wat ’n Suid-Afrikaanse Afrikaanse liedjieskrywer-sangeres op versoek van die Nederlandse vermaak-ikoon Herman van Veen geskryf het ter viering van sy 50 jaar op die verhoog. Hy het die musiek komponeer, het die teks in Nederlands vertaal en sing dit by sy vertonings. Karin het dieselfde liedteks in 2016 op versoek van die Nederlandse sangeres Jannemien Cnossen in Engels vertaal. Dit pryk nou op haar nuwe CD.

Meraai vannie Baai:
Ek het hierdie verse intens geniet. Die krag en ritme en herhaling van woorde my weereens getref. Duisend dankies vir deel met ons ook!

Anastasia:
Dit is wat dit weer so heerlik maak om in die forum se gange te mag dwaal.  Mens het so behoefte daaraan om op woordskatte waarop jy afgekom het met iemand wat dit ook waardeer te kan deel.  :toothy4:

PM:
Baie dankie Lief Anastasia vir die deel hiervan.  Ek het dit werklik baie geniet en soos jy weet, maak ons kort kort 'n draai en geniet dit weer. 
Ek is so bly jy is weer terug hier by ons.  Ek het jou gemis.

Anastasia:
Dankie, PM.  Ek self het ook weer vir 'n wyle in die diep gat van besig wees se bek beland.

Navigation

[0] Message Index

[#] Next page

Go to full version