Author Topic: ’n Engel in Jo’ville  (Read 1601 times)

0 Members and 1 Guest are viewing this topic.

Offline adele

  • Hardebaard
  • Posts: 1932
  • Gender: Female
  • gryp na môre in klein-klein stukkies
’n Engel in Jo’ville
« on: April 02, 2018, 05:49:03 PM »
’n Engel in Jo’ville

Dis winter. Ansie Burger se warm stewels knars op die glinsterende sneeuwit ryp terwyl sy deur hulle pragtige tuin na die hek toe stap.

Haar hart krimp ineen toe sy die koerant oopvou:
‘Twee Boemelaars Verkluim’, gil die opskrif tot haar.
‘Nog een in hospitaal’, lees die subtitel.

Later die oggend, oppad stad toe, val ’n ou vrees haar weer aan en die motor se lugreëling help niks om haar warmer te maak nie. Sy probeer van haar herinneringe wegvlug, maar …

Dit was daardie jaar baie koud in die Karoo. Die vorige dag was haar sestiende verjaarsdag. Sestien wrange jare, gevul met dronkpartytjies en mishandeling onder haar stiefpa, het agter haar gelê.

Ansie het die agterdeur toegetrek en skool toe gestap. Haar boeksak het oor haar een skouer gehang en oor die ander het sy haar kleresak geslinger. Gewoonlik het sy net oefendrag daarin gehad, maar daardie oggend het sy soveel van haar klere as wat sy kon, ingeprop. Grimering en die nodigste toiletware was in die boeksak. Die meeste van haar boeke het onder haar bed bly lê.

Halfpad skool toe het sy in ’n systraatjie afgedraai en stasie se kant toe versnel. ’n Rukkie later het sy, met ’n kaartjie na Johannesburg in haar hand, op ’n slaapbank neergeval. Biddend het sy gehoop dat sy dadelik werk sou kry, want sy het net ’n bietjie geld by haar gehad.

’n Paar dae later was Ansie gedaan en moedverlore. Haar seer grieplyf het van kouekoors gebewe. Met trane oor haar wange het sy, koes-koes teen die klam wind in, na skuiling gesoek. Om haar was alles vreemd en sy het nie geweet hoe en waar om nog na werk te soek nie.

Die geboue was grys en vuil. Gebreekte vensters het haar gekoggel. Toe ’n oop deur haar gryp, het sy ingeglip. Oral het mense op karton en koerante ge-sitlê. Sommige het geslaap; ander was besig met iets soos klippies wat hulle rondgooi. Nog een het die laaste sout en asyn van ’n ‘slaptjips’-papier afgelek. Vaagweg het sy gewonder of die persoon ’n man of ’n vrou is.

Langs die naaste muur het sy afgesak en ’n dun kombersie uit haar sak gehaal waarmee sy haarself toegevou het.Ten spyte van haar sweetpak en warmste trui het sy nog gebewe.

Dit was laatmiddag toe iemand haar wakker roep. Sy het gevoel of sy sweef; lig en gemaklik en warm. Al die seer was weg. Die vrou, wat haar wakker gemaak het, was die mooiste mens wat sy nog ooit gesien het.

“Ansie, kom saam met my. Dis netnou donker, dan word dit kouer en dis onveilig hierso.” Sy was soos ’n engel met ’n klokkiestem.

Hoe lank hulle tot voor die helderverligte gebou geloop het, weet sy nie, maar binne het sy die skoon hospitaalreuke ervaar. Sy was so dankbaar vir die vriendelike vrou se arm om haar lyf. ’n Lang man, met ’n wit oorjas aan, was oppad uit.

“Kan ek help?” Dis is al wat sy later kon onthou toe sy vertel is dat hy haar gevang het voor sy net daar inmekaar gesak het. Hy het haar laat opneem, opdrag gegee dat iemand by haar moet bly tot sy wakker word en haar gesond gedokter.
 
’n Paar dae later het sy uitgevra na die engelvrou wat saam met haar by die hospitaal ingestap het. Dokter Dawid Burger het sy kop geskud.
“Ansie, daar was niemand by jou nie. Jy het yskoud en baie siek hier ingestrompel. Ek sidder as ek dink wat sou van jou geword het as jy nie hiernatoe gekom het nie.”
“Dis onmoontlik. Ek weet nou nog nie waar ek is nie. Ek ken Johannesburg glad nie.” Verdwaas het sy haar kop geskud en vertel hoe sy daar gekom het.

’n Maand later het dr. Dawid haar na sy ouerhuis geneem. Sy het haar ma laat weet dat sy veilig is, maar dit was eers baie jare later,
na haar stiefpa se dood, wat hulle mekaar weer gesien het. Dawid se ouers, twee wonderlike mense wat jare lank na ’n dogter verlang het, het haar gelei tot vergifnis en selfrespek. Hulle het haar ook gehelp om haar skoolopleiding te voltooi.

Sy kon nie vir beter skoonouers gevra het nie, dink sy toe sy haar kop terugskud na die hede. Sy stap die koffiekroegie binne en gaan sit in ’n hoekie, half verskuil agter mooi plante. Vandag wil sy alleen wees om nog ’n uitreikprogram te bedink.

Jo’ville se mense noem haar ’n engel. Sy weet egter dat, as dit nie vir ’n ware Engel was nie, syself dalk vandag nog ’n boemelaar sou wees.

©adéle theron
15 Julie 2012
adéle  :grommit: