Author Topic: Daai moer  (Read 1580 times)

0 Members and 1 Guest are viewing this topic.

Offline Naas

  • Hardebaard
  • Posts: 2283
  • Gender: Male
  • K.N.A.P. (Kan Naas Afrikaans Praat of wat?)
Daai moer
« on: March 29, 2018, 11:04:18 AM »
My Oupa sê altyd: “Die belangrikste onderdeel aan ‘n motor is die moer wat die stuurwiel vashou.”
Vandat die Vee-artsie agtergekom het dis makliker om melk by die bottel te koop op die dorp het blommetjie skielik baie gesond geword. Ta mis die Vee-artsie veral baie want daar was altyd ‘n Oom Tas in die Vee-arts se motor vir hom. En ek moet meer gereeld dorp toe want oupa kry nie meer elke dag ‘n sakkie twak nie.
Gister kom hier so ‘n stofstreep op die plaaspad aan met so ‘n blink motor wat vir die vaal hel jaag om onder die stof uit te kom. Maak hier so ‘n windgat draai om die opstal en skuif tot stilstand by die voordeur. (Wat ons nooit gebruik nie)
Toe die stof gaan lê klim die Posmeester se seun daar uit.
Kom dié mannetjie hier aangestap met hare wat soos ‘n haan in paartyd regop gejhel is. Dit lyk kompleet of iemand hom aan sy voete deur die ghries getrek het. In die proses sommer sy broek ook half afgetrek het want die pendulum tussen sy bene asof hy gister se drolle in die kerk wil insmokkel.
Oupa groet hom en ek kan sommer hoor hy is geensins beïndruk met die verskynsel nie.
“Wat kom jy so ‘twee tarrentale’ hier aangejaag?” wil hy sommer in dieselfde asem weet.
Die twee tarrentale storie is sommer ‘n rympie wat oupa altyd opsê as iemand onnodiglik jaag. Dit gaan so:
Twee tarrentale en ‘n afkop haan.
Daar kommie duiwel innie appelboord aan.
Hy jaag sy dissipels dat die stof so staan.
Twee tarrentale en ‘n afkop haan.
Nee, die mannetjie het dan nou kwansuis gesien ons het nog nie pos uitgehaal die week nie en toe besluit hy om maar die pos vir ons te kom aflewer. En hy stop daar ‘n paar Pick ‘n Pay en Clicks advertensies vir oupa in die hand en glimlag vir my met ‘n ry geel tande wat enige Vrystaat mielieboer se bors sou laat swel.
Oupa mompel iets wat soos dankie klink en staan.
Skielik raak die mannetjie daar ongemaklik en hy beginte trippel soos Appelkoos daai keer toe die slang onder haar hoewe ingeseil het.
“Nog iets?” wil Oupa opsluit weet.
Nee maar daar’s vannaand ‘n filmvertoning in die stadsaal en hy wil weet of ek nie sy metgesel sal wees na die heuglike gebeurtenis nie.
Oupa loer vir my en sien die onwilligheid in my gesig. Hy kry so ‘n vonkel in sy oog en onmiddelik beginte ek jammer voel vir die mannetjie.
“Gaan jy hare was voor vanaand?”
Mannetjie se toon boor kratertjies in die sand maar hy antwoord nie.
“Ek sal jou aanraai om daar by Koos Rieme langs te gaan want dit smaak my jy het ‘n nuwe gordel nodig. Daai een is bietjie lank, jy mag dalk net jou broek verloor.”
Die blink skoen se voorpunt is nou al vaal van die stof.
“Wat se werk doen jy? My kleindogter sal waaragtig nooit met ‘n posbode saam uitgaan nie.”
Dit was een te veel vir die mannetjie. Hy vloog daar om. Klap die motor se deur agter hom toe en karring daar ‘n stofwolk op voor die motor nog aan die beweeg is. In sy haas om weg te kom mis hy die hek maar hy vat darem die hekpaal so ‘n paar tree met hom saam voor hy in ‘n stofwolk die tarrentale terugjaag in die appelboord in.

“Aai!” sug Oupa. “As daai motor se onderdele almal reg gewerk het het ons nog ‘n hekpaal gehad.


 :mumum:
Ek is maar net een, maar ek ís een.

Offline adele

  • Hardebaard
  • Posts: 1932
  • Gender: Female
  • gryp na môre in klein-klein stukkies
Re: Daai moer
« Reply #1 on: April 02, 2018, 08:53:01 AM »
  :toothy4:  :toothy4:  :toothy4:  :toothy4:  giggel wat ek nou nodig gehad het.
adéle  :grommit:

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10692
  • Gender: Female
Re: Daai moer
« Reply #2 on: July 23, 2018, 11:01:10 AM »
Ja-nee, ek stem.  Jou skryfgoed is altyd goed vir die siel.  Ek het net gister nog aan erge depressie gely!   :hello2:


Dankie Aspoestertjie.  Ek weet darem ek kan rustig wees as Oupa daar is om na jou om te sien.   :love7:
Om te weet is om te verstaan.

Offline Meraai vannie Baai

  • Wysgeer
  • Posts: 3662
  • Elke dag aan ons Geskenk, is 'n kosbare voorreg.
Re: Daai moer
« Reply #3 on: July 23, 2018, 11:08:03 AM »
Ek gaan slaap met 'n giggel en 'n huppel in my omdraai  :icon_biggrin:

Offline Meraai vannie Baai

  • Wysgeer
  • Posts: 3662
  • Elke dag aan ons Geskenk, is 'n kosbare voorreg.
Re: Daai moer
« Reply #4 on: January 18, 2019, 04:32:04 AM »
Ek kom die versie van oupa steel:

Twee tarrentale en ‘n afkop haan.
Daar kommie duiwel innie appelboord aan.
Hy jaag sy dissipels dat die stof so staan.
Twee tarrentale en ‘n afkop haan.
« Last Edit: January 22, 2019, 10:20:14 PM by Meraai vannie Baai »

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10692
  • Gender: Female
Re: Daai moer
« Reply #5 on: January 22, 2019, 01:41:11 PM »
Ek lees toe vir Hannes die storie en ons geniet dit weer saam.  Die Langkloof is nie 'n plek vir teertange nie. 
Om te weet is om te verstaan.