Author Topic: 26.2.2018  (Read 1469 times)

0 Members and 1 Guest are viewing this topic.

Offline adele

  • Hardebaard
  • Posts: 1932
  • Gender: Female
  • gryp na môre in klein-klein stukkies
26.2.2018
« on: February 26, 2018, 11:57:33 AM »
Goeiemôre Vriende,

Johannes 13:12 Toe Hy dan hulle voete gewas en sy bo-klere geneem het, gaan Hy weer aan tafel en sê vir hulle: Verstaan julle wat Ek aan julle gedoen het?

Christus was sy dissipels se voete en vertel aan hulle dat hulle ook aan mekaar en aan ander so moet doen. Hy sê ook dat niemand mag dink hy is beter as ‘n ander nie; op ‘n ander neersien nie. Onlangs het ek ook die gesegde wat oraloor aangestuur is, gelees dat die enigste keer wat jy afkyk na ‘n ander, moet wees as jy afbuk om hom op te help. Altyd moet ons die minste wees.

Ek wonder of ons verstaan wat Jesus werklik gedoen het. Hy het Homself verneder, nie soos in skaamkry nie, maar in gees en waarheid, die minste geword. En Hy was dit nie net in daardie rukkie toe Hy hul voete gewas het nie, nee! Hy was dit sy hele lewe lank op hierdie aarde. Daarvoor het Hy gekom, om die minste te word en vir ons te sterf, maar meer nog, om die dood vir ons te oorwin. Hy sou nie die dood kon oorwin, ons sondes kon laat verdwyn, as Hy hooghartig in sy Godheid onder ons kom woon het nie.

Ek kyk gistermiddag oor die veld vol veldblommetjies, (vir my) klein en onbenullig in taak en doel. Ek weet nie eers of dit voedsaam is vir die diere nie. Maar in kleur en vrolikheid dans hulle in die wind. Tog is almal eenders. Hulle kan nie dink een is belangriker nie, want God het elke kleur en vorm gemaak. En soos Hy die lelies van die veld inkleur en klee, sonder dat hulle saai of oes, so moet ons ook wees. So sonder pretensies, sonder hoogmoed, sonder eiewaan. Leef in die Lig soos wat die veldblomme ook doen. Van die kleinste vaal enetjie tot die helderste lelies.

Johannes 13:17 Julle weet dit nou; gelukkig is julle as julle dit ook doen."

Gelukkig! Vrede vir julle! Gaan heen, jou sondes is vergewe … so het Jesus ons geroep, vergifnis gegee, ons sonde vergewe, en Hy sê ook wat Hy doen, keur sy Vader goed. En ons moet dit weet.

Lewe soos kinders van Lig, van God, ons Verlosser, ons Saligmaker, ons Redder. Straal jul vrolikheid en vrede en vreugde uit soos wat veldleies hulle kleure uitgooi. Laat ander van ver af al sien hoe jul geloof in sondevergifnis, jul laat straal. ‘Vertel’ dit aan almal in nederigheid … en gebruik woorde net wanneer dit nodig raak.

Selfs al is jy ‘n skaars orgideë, moet jy nederig bly, want ‘n orgideë is so sensitief en kan net so maklik doodgaan. Om nederig te wees beteken ook nie ons moet gebuk gaan onder krom skouers en wegkruip vir die lewe nie. Dan kan ons nie ander se voete was nie.
Ons moet ook nie ‘n vloerlap wees nie, maar wel ‘n voete-lap vol kosbare nardusolie. In nederigheid moet ons Christus se voorbeeld nastreef deur rein te lewe en sy Woord heilig te ag.

Dan sal ons van geluk straal. Dan kan ons onder alle omstandighede geluk vind, nie omdat ons dit verdien of omdat iemand se liefde dit vir ons gee nie. Nee, wees eers gelukkig in jou geloof in God, dan sal geen ongeluk jou onderkry nie.

Mag jy ‘n wonderlike dag beleef en as jou trane oorloop van hartseer, of pyn, of enige verlies, weet en onthou Christus se Liefde dra ons elke minuut.

Groete en vrede
adéle theron
adéle  :grommit: