Author Topic: Blokkieland en die draak  (Read 1036 times)

0 Members and 1 Guest are viewing this topic.

Offline Anicia

  • Suigeling
  • Posts: 95
Blokkieland en die draak
« on: November 08, 2017, 01:16:39 PM »
Dyllan was lanklaas by blokkieland. Hy het net elke aand vergeefs gewag om te kan gaan. Vir dae was hy so besig, dat hy laat in die bed geklim het. Hy word die een aand so vaak, dat hy dadelik aan die slaap raak. Hy gaan weer deur die groen deur, maar die keer kom niemand om hom te haal nie. Hy besluit om te loop tot by die kasteel. Terwyl hy stap, verskyn 'n donker skaduwee oor hom. Wat hy sien toe hy boontoe kyk, laat sy maag omkeer. Dit is 'n groot geel draak met groen onder sy maag. Die draak lyk gevaarlik en baie kwaad. Hy blaas vuur in alle rigtings. Dyllan hardloop koes-koes tussen die boompies oppad kasteel toe. Hy bereik die kasteel net betyds voor nog 'n vlamgloed skrams verby hom trek. Teen die kasteel muur is bewyse van die draak se vuurspoeg gloede. Party boompies het gesmelt en vlammetjies lek aan 'n hopie blokkies wat eenkant lê.
By die kasteel is dit baie stil, iemand gryp Dyllan aan die arm en trek hom by 'n kamer in. Dis een van die kokke. Hy was oppad kombuis toe met 'n skinkbord vol vleis van die spens af, toe die eeste vlamgloed verby hom blaas. Die tuinier het weggekoes agter een van die pilare. Almal kruip weg vir die kwaai draak. Plek-plek lê gesmelte blokkies.
Uiteindelik raak dit stil en een-een kom die mannetjies uit hul skuilplek. Hulle vertel vir Dyllan dat dit elke dag gebeur, min of meer dieselfde tyd. Die draak vlieg oor Legoland en blaas vuur na al die lego mannetjies. Om een of ander rede wil hy hulle seermaak. Dyllan vra vir hulle of hulle al met hom probeer praat het daaroor. Hulle verseker hom dat hulle wel het, maar amper met hul lewens daarvoor geboet het.
Die prinses kom uit en is bly om vir Dyllan te sien. Sy maak verskoning hoekom niemand hom soos gewoonlik kom haal het nie. Almal is bang vir die draak. Sodra sy skaduwee oor hul koppe swiep, hardloop hulle vir die naaste skuiling.
Dyllan vra vir die prinses of hy vyf mannetjies saam met hom kan neem, hy wil graag die draak gaan verslaan. Sy vra vir hom wat hy nog nodig het en hy verduidelik van 'n spesiale vliegtuig wat gebou is met spesiale blokkies wat hulle sal beskerm teen hitte. Dit word dadelik gebou en Dyllan is baie tevrede met hoe dit lyk. 'n Dag later vertrek hulle. Elkeen is gewapen met 'n pylgeweer wat gebou is om die draak te skiet en slegs aan die slaap te maak, indien dit nodig sou wees. Hulle wil hom nie seermaak nie, net as hulle in gevaar verkeer. Ook het hulle spesiale klere aan wat die hitte van die vulkaniese berg van hulle sal afhou. Die draak woon in die vulkaniese berg. Dis soontoe wat die mannetjies hom gister sien vlieg het. Sy tamaai lyf moet seker in een van die grotte daar 'n holtetjie vind.
Hulle is oppad soontoe.
By die berg is dit stil. Net die geluide van lawa borreltjies wat bars. Dis warm, selfs al het hulle die spesiale klere aan. As dit nie daarvoor was nie, het die mannetjies al gesmelt. Hulle luister en wag en toe hoor hulle dit. 'n Luide gesnork. Dit is die draak! Net hy sal so hard snork. Solank die draak slaap, staan hulle 'n goeie kans om hom te vang. Dyllan weet nog nie hoe hulle dit gaan hanteer as hulle die draak gevang het nie. Daardie bruggie steek hulle oor, sodra hul daarby kom. Toe hulle die draak in sig het, wys Dyllan met sy vinger voor sy lippe dat hulle niks moet sê nie. Geen geluid moet maak nie.
Dyllan haal boeie uit sy sak. Hy hoop die lego boeie is stekr genoeg om die drak vas te hou. Gelukkig is die draak ook van lego gemaak. Hy het net een kans, as die draak wakker word, het hulle groot moeilikheid. Hy spring gou aan die werk, hou die draak fyn dop. Uiteindelik is die draak vas en Dyllan gee 'n sug van verligting. Die draak word wakker en probeer hom uitstrek, maar voel iets aan sy pote rem. Hy is onmiddelik woedend! Hy grom, spoeg vuur en blaas. Almal kruip weg agter die blokkie klippe. Dyllan wag tot die draak effens bedaaar en treek agter die klippe uit waaragter hy weggekruip het. Die draak kyk hom kwaai aan. Die mannetjies suig hulle asems vinnig in. Dyllan hou sy arms voor hom uit in 'n afwerende gebaar en praat rustig met die draak.
Hy vra vir die draak hoekom hy die mannetjies wil seermaak en Legoland wil vernietig. Die draak kyk hom kwaai aan. Dyllan dink later die draak gaan niks doen nie, maar skielik huil die draak. Dyllan en die mannetjies gaap hom verbaas aan. Hulle kan nie glo die draak huil nie. Hulle het eerder nog 'n woedebui verwag, maar beslis nie 'n gehuil nie. Hy vertel vir hulle dat die Lego mannetjies en drake al vir baie jare mekaar se vyande is. Die mannetjies het ook al baie drake verslaan.
Die ridder mannetjie wat saam met Dyllan gekom het, kom staan langs Dyllan en vertel vir die draak dat hulle al vir jare nie meer drake verslaan nie. Nou dat hy daaraan dink, het hy nog nooit 'n draak gesien nie, tot nou toe. Die draak is lank stil nadat hy die woorde gehoor het. Hy kan self nie onthou wanneer laas hy ander drake gesien het nie. Hy vra vir die ridder of hy dink dat daar nog drake kan bestaan. Die ridder trek sy skouers op en sê vir die draak dat hy nie sal weet as hy nie hulle gaan soek nie. Dyllan bied aan om saam met die draak te vlieg en hulle te gaan soek. Hy het al baie boeke gelees oor drake en behoort 'n goeie idee te hê waar om te begin soek. Die mannetjies wil nog keer, want hulle durf nie terugkeer sonder Dyllan nie. Dyllan sê vir hulle dat hul die prinses moet gerusstel dat hy aangebied het om te gaan, hulle kon hom nie keer nie.
Dyllan sien ander dele van Legoland en het nie geweet dis so groot nie. Hulle vlieg oral opsoek na nog drake. Die draak maak grom geluide wat net ander drake kan hoor. Een vir een verskyn hulle en vlieg agter die draak en Dyllan aan. Op een van die ander berge land almal saam. Dyllan klim van die draak se rug af, maar die ander drake sien hom raak en word baie kwaad. Hulle maak gereed om hom met vuur te blaas, maar die geel draak spring voor Dyllan in om hom te beskerm. Hy sprei sy vlerke wyd oop om as buffer te dien tussen Dyllan en die drake. Hy verduidelik aan hulle van Dyllan wat hom kom help soek het en dat hy aan hulle kant is. Bly om mekaar weer te sien, groet hulle mekaar met 'n vlamme gloed wat hulle deur die lug blaas. Dit helder die hele Legoland op. Legomannetjies van heinde en ver, verkyk hulle aan die pragtige ligte gloed wat deur die lug versprei. Dis een groep gelukkige drake wat herenig. 'n Helikopter vlieg nader en land 'n entjie van  hulle af. Die prinses en die ridder wat saam met Dyllan by die grot was, stap nader. Dis nou die tyd om vrede te maak, sodat elkeen in vrede saam in Legoland kan woon. Die prinses praat met al die drake daar teenwoordig. Haar stem is vriendelik en rustig. Dit stem die drake gerus en hulle luister. Sy vra hulle namens die vorige lego koning omverskoning dat daar op hulle jag gemaak is. Dit is in die verlede en sy en Legoland het nie met hulle dieselfde vete soos wat daar in die verlede was nie. Hulle aanvaar die verskoning en besluit om die strydbyl te begrawe. Van nou af sal daar net harmonie en vrede tussen hulle en die res van Legoland se inwoners heers.
Weereens was Dyllan se kuier in Legoland een groot avontuur en is hy terug huistoe met 'n blymoedigheid in sy hart.

Die einde ...
« Last Edit: August 20, 2018, 08:12:26 PM by Anicia »