Author Topic: Die motortjie genoem Windlawaai  (Read 1338 times)

0 Members and 1 Guest are viewing this topic.

Offline Anicia

  • Suigeling
  • Posts: 95
Die motortjie genoem Windlawaai
« on: November 06, 2017, 04:17:27 PM »
Hallo! My naam is Windlawaai en hier is my storie...

Ek is gebou deur 'n span slim mense. Daar is niks aan my waaraan hulle nie gedink het nie. Van my twee ronde ogies (ligte) tot my blink ronde swart bande. My enjin grom soos 'n tevrede katjie. Van die eerste oomblik wat my blink swart bande my op die pad laat ry het, het mense my bewonder en wil heeltyd aan my raak en op my spierwit leersitplekke sit en stuurwiel laat draai. Mamma's moes bontstaan om hul woelige kleuters te keer om nie op my sitplekke te spring en oral knoppies te druk nie.

Aan die begin het al die aandag my laat goed voel. Ek was gereed om 'n vriendelike toeter te laat hoor en 'n tevrede brul van my enjin. Later het die aandag my begin hinder. Nêrens kon ek meer 'n stil plekkie vind om net weer te voel soos al die ander motors nie. Ek het 'n liefde vir die natuur. Mooi sonsondergange betower my, voëltjies wat fluit, kinders wat skaterlag of om net onder 'n koelteboom te staan en dut. Met al die aandag kan ek niks daarvan geniet nie.

Op 'n dag hoor ek oor die radio van 'n spesiale vloeistof wat in die brandstof tank gegooi kan word en motors kamofleer. Spesiaal gemaak vir veral geheime agente wat op geheime opdragte moet gaan. Die vloeistof se naam is KAMO2. Ek luister met aandag en hoor waar dit gekoop kan word. Ek moes tot die volgende dorp ry om daarvan te kry. Gelukkig kon ek dadelik gehelp word en sommer op die terrein oornag terwyl dit deur my sisteem werk. Dit kom met 'n waarskuwing. Werk slegs vir 'n paar keer, dan moet die enjin gediens word, voor dit weer ingegooi kan word.

Die volgende dag toe ek wegry, onthou ek skielik dat niemand my vertel het hoe om te maak as ek myself moet kamofleer nie. Die groot toets van die vloeistof vind sommer gou plaas. Ek stop langs die pad om na die spelery van 'n klomp perde te kyk. Hulle hardloop sonder sorge oor die gras, hap speels na mekaar. 'n Entjie van my af hou 'n bussie vol mense stil. Hulle peul uit die bussie en is oppad om my toe te staan. Van skrik word ek presies dieselfde kleure as my omgewing. Die mense kom tot stilstand en kyk verbaas om hul heen. "Waar is die pragtige motortjie dan?" vra hulle vir mekaar. Ek ry stil-stil weg en sug verlig toe ek hulle nie meer sien nie.

Ek het ook by 'n pragtige waterval stilgehou. My ronde blink ogies kyk niks mis nie en ek geniet elke oomblik. Ek sien selfs die reënboog wat die son optower op die vallende water. Twee fietsryers sien my raak, gooi hul fietse net so neer en stap reguit na my toe. Weer kamofleer ek my, snaakser is hul gesiguitdrukkings toe ek net verdwyn.

'n Paar keer gebeur die kamoflering. Ongelukkig word my KAMO2 ook op. Van vooraf moet ek wegjaag om van mense en hul onwelkome aandag weg te kom. Ek besluit toe op 'n dag. Genoeg is genoeg en ek vat die pad en besluit om te ry totdat ek nie meer kan nie.

Op 'n grondpad naby 'n plaas kom ek tot stilstand. My brandstof is naby aan klaar en my enjin sommer warm. Eers 'n bietjie rus, het ek gedink. Van ver af het ek 'n klein stippeltjie gesien naderkom oor die bultjie. Die stippeltjie het al hoe grooter geword tot dit 'n perd was met 'n meisie agterop. Sy het van die perd se rug afgespring en voor my kom staan. Sy wou nader loop, maar ek het agteruit begin ry. Sy't in verbasing gaan staan, haar hande voor haar uitgestoot soos iemand wat iets wil optel. Sy kon nie glo 'n motortjie ry sonder iemand agter die stuur nie. Haar stem is rustig toe sy praat. "Hallo mooiste motortjie! My naam is Annabel. Ek dink jy's die mooiste motortjie en ek gaan jou Windlawaai noem. Ek hoop ons sal kan maats wees en weet jy wat? Ek wil so graag agter jou stuurwiel inskuif. Wil voel hoe jy ry." Sy stap weer nader en ek ry agteruit. Asof sy verstaan, laat sak sy haar hande en loop terug na haar perd. Dis 'n pragtige dier en Windlawaai kan sien dat sy mooi na die perd omsien. Sy sit gemaklik op haar perd en kyk na Windlawaai. "Ek gaan met jou 'n ooreenkoms aan. Jy kan in ons skuur slaap. Daar sal jy veilig en snoesig slaap. As jy nie wil nie en wegry, sal ek verstaan. Wanneer jy more oggend nog in ons skuur is, weet ek dat jy by ons sal woon en is ons maats. Ek kan agter jou stuurwiel inskuif en saam ry ons die wêreld plat." Sy hits haar perd aan en hulle verdwyn in 'n stofwolk. Vreemd alleen voel ek skielik nie meer lus om weg te vluf nie. Lank staan ek daar, dink en dink totdat die sterre een vir een begin blink. Asof vanself begin my blink swart wiele rol, al die pad die grondpad uit. Ek ry tussen twee reuse pilare wat bo my uittroon. Ek ry verby 'n huis wat soos 'n kwaai gogga met vier oë vir my staan en kyk. Ek kom tot stilstand voor 'n skuur met twee wydoop deure. Dit lyk of dit my vriendelik wil binnenooi.

Ek los al my twyfel en huiwering buite en ry agteruit tot diep aan die agterkant van die ingewande van die skuur. Dit voel of die hooibale wat tot hoog opgestapel is aan weerskante, my in liefde wil toevou. Hier voel ek tuis en veilig en wil  ek vir altyd net hier woon. Die windjie maak saggies die skuur deure toe en uiteindelik het ek my tuiste en naam gevind.

Annabel is die volgende oggend verheug om die prag motortjie in hul skuur te vind. Sy ogies vlieg oop en die weersiens is opgewek.

Annabel en Windlawaai het die kilometers saam verorber, baie pret saamgehad. Sy sing altyd uit volle bors saam met Windlawaai se radio. Dis vir hulle twee elke dag 'n heerlike avontuur.

Die einde. . . :read2:
« Last Edit: March 15, 2018, 05:10:24 PM by Anicia »

Offline adele

  • Hardebaard
  • Posts: 1932
  • Gender: Female
  • gryp na môre in klein-klein stukkies
Re: Die motortjie genoem Windlawaai
« Reply #1 on: December 06, 2017, 05:15:33 PM »
ek lief jou motortjie!  :love3: 
adéle  :grommit:

Offline Anicia

  • Suigeling
  • Posts: 95
Re: Die motortjie genoem Windlawaai
« Reply #2 on: January 09, 2018, 10:12:54 PM »
Baie dankie Adele vir die terugvoer en belangstelling ☺

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10692
  • Gender: Female
Re: Die motortjie genoem Windlawaai
« Reply #3 on: January 31, 2018, 10:32:02 AM »
Jammer ek het agter geraak met die lees terwyl ons opvangs so swak was.  Dit lyk asof dinge nou verbeter.

Dankie dat jy so getrou al die stories met ons deel.  Dit is elke keer 'n nuwe afontuur. 
Om te weet is om te verstaan.