Author Topic: Mariya van Magdala  (Read 1591 times)

0 Members and 1 Guest are viewing this topic.

Offline adele

  • Hardebaard
  • Posts: 1932
  • Gender: Female
  • gryp na môre in klein-klein stukkies
Mariya van Magdala
« on: December 06, 2017, 06:01:46 PM »
Mariya van Magdala

Maria Magdalena fassineer my. Lankal al. Ek glo sy was ‘n pragtige meisie, of vrou. En ‘n mens wat met innerlike geluk en vol vrede, in Jesus se tyd op aarde saam met Hom en ander dissipels rondgegaan het.

Hoekom nou juis sy? Sy was die volmaakte voorbeeld van ‘n vrou, verlore in sonde, wat haar op Christus se genade beroep het en genesing en verlossing gevind het en Hom daarna elke dag kon volg. Wat ‘n wonderlike, kosbare genade is dit nie!

Sy was afkomstig van die dorpie, Magdala, aan die See van Galilea se westekant, of soos tans bekend, Migdal aan die Meer van Genesaret.

Reeds van baie vroeg af in Jesus se bedieningstydperk, was sy ‘n toegewyde dissipel, tot ná Sy opstanding toe; dan kan ons ook aanneem tot haar dood toe. Soos wat sy in geloof en onder leiding van Jesus gegroei het, het haar rol in die geloofsgemeenskap ook gegroei. Deesdae is haar nagedagtenis egter toegevou in mites en fabels, sommige afbrekend. Maar Maria van Magdala was nou verbind met Jesus se bediening. Die mites en fabels is dus wilde spekulasie. (Dit word breedvoerig weerlê in Gerhard Potgieter se boek: “Laaste Dae van Jesus, die Messias”)

Ons weet dat Maria van Magdala met die okkulte deurmekaar was, omdat sy deur demone beset was. Dit lees ons in Lukas 8: 2. Sy was een van ‘n klompie vroue wat van bose geeste en siektes genees is en uit wie sewe duiwels uitgegaan het. Sewe! Hoe verskriklik moes haar jongmenslewe nie gewees het nie! Maar, sy is deur Jesus daarvan verlos. Alles wat ons van haar leer, wys haar totale oorgawe aan Christus, as dissipel ná haar genesing en verlossing.

Dit gee ons dalk ook die rede vir haar as alleenloper en welgestelde vrou. Vreemd in daardie tyd, maar as sy ‘n ryk weduwee was, sou ons waarskynlik in die Evangelies iets daarvan gelees het. Tog het sy Jesus oral gevolg en kon sy (heel waarskynlik) bydra tot die onderhoud van Christus en die apostels. Dit lees ons in Lukas 8:1-3.

Sy is die enigste belangrike vrou in die Nuwe Testament, wat in haar eie reg genoem word en nie net as eggenote of moeder van 'n belangrike, manlike figuur nie. En sy het ook sosiale status geniet, want sy is ten volle aanvaar in die binnekring van die dissipels. Ons lees dat verskeie vroue gehelp het om Jesus en sy dissipels te onderhou. Dit het waarskynlik ingesluit om te help kook, was en klere regmaak.

Ons lees volgende dat Maria Magdalena baie vroeg die Sondagoggend by Christus se graf aangekom het. Nadat sy Petrus en Johannes geroep het en hulle weer weg is, het sy daar bly staan en bitterlik gehuil. Maar weer was sy die uitverkore vrou! Jesus het eerste aan haar verskyn en met haar gepraat. Ek kan my skaars in haar vreugde indink!


Bronne: uittreksels uit “Laaste Dae van Jesus, die Messias” deur Gerhard Potgieter,
en wikipedia.org/wiki/Maria_Magdalena

©adéle theron

Foto's: Internet:
Frederick Sandys, Mariya_Magdalena, 1859
Rogier van der Weyden, Lezende Maria Magdalena, 1438
adéle  :grommit: