Author Topic: Denke van 'n skrywer  (Read 2301 times)

0 Members and 1 Guest are viewing this topic.

Offline Assie

  • Regular Members
  • Snuiter
  • Posts: 480
  • Gender: Female
Denke van 'n skrywer
« on: May 09, 2016, 12:41:05 PM »
Ek moes hierdie vraelys invul as onderhoud in 'n publiekasie:Gee dit graag vir julle om te lees.

1. Vertel my n bietjie oor jouself.
Naas Breytenbach, beter bekend as Oom Naas onder my studente en kollegas, is gebore in die Paarl. Ek gaan nie my ouderdom weggee deur syfers te kwoteer nie maar ek kan jou vertel dat die dooie see nog saam met my ma in die hospitaal was. Ek het my vormingsjare daar deurgebring en was van sub A tot en met metriek ‘n galpil. (Paarl Boy’s high 1976 - nou 40 jaar terug). Weermagopleiding in die lugmag en daarna studeer as onderwyser… in die Paarl. (Onderwyserskollege Paarl. 1984)
Ek het wel op skool bietjie gediggies geskryf maar daar het nie veel van gekom, behalwe dat ek my buurvrou se dogter baie kwaad gemaak het nie.
Eers baie jare later, in 2001 het die skryfgogga my weer beetgepak. Ons was op ‘n geestelike uitreik na Malawi. Omdat ek nie geld gehad het vir ‘n kamera nie, het ek dit wat ek gesien en beleef het in woorde prober vasvang in die vorm van “gediggies” Hierdie gediggies was later so gewild onder my reisgenote dat ek gereeld daarvan moes voorlees en my eerste boekie, Malawi 2000, het die lug gesien. Ek het dit self versorg en gebind en gratis uitgedeel aan diegene wat saam met my die ervarings in Malawi gedeel het.
Die volgende vier jaar het Malawi ‘n jaarlikse instelling geword en elke jaar het sy eie bundeltjie gedigte opgelewer.
In 2006 beland ek in die hospital. Hulle kry kolle op my longe en ek kry nog drie of vier ander oumenssiektes waarvoor ek nie aansoek gedoen het nie. Die kolle veroorsaak dat ek vir drie maande in die duiester is oor my toekoms. Ek kry internet en sluit by WOES aan. Om my aandag van die groot K in my lewe weg te kry begin ek skryf. Meestal humoristies. Ek kry erkenning op WOES vir my skryfwerk en begin dit al meer geniet. Die groot K was toe nie maar ek het aanhou skryf.
Dit, in een Merske neutedop is my geskiedenis as skrywer. Maar jou lesers moet asseblief nie dink dat ek myself as ‘n skrywer uitskel nie. Ek maak eerder net stories.
2. Doen jy navorsing oor jou boeke/stories/gedigte wat jy skryf?
Nee. Ek is ‘n impulsiewe skrywer. Ek skryf nie lang novelle nie. Ek raak snags wakker met ‘n storie of ‘n gedig in my kop. As ek wakker genoeg is gryp ek my skoottikker en skryf neer. Partykeer net die geraamte. Die vleis dan die volgende dag. Maar as ek dit nie doen nie is die storie/gediggie saam met die nag se drome weggebere in my grysmassa waar ek dit nooit weer sal opspoor nie. Soms onthou ek ‘n storie wat my oupa of iemand vertel het en dan pen ek maar my eie weergawe.
3. Hoeveel boeke /stories/gedigte het jy altesaam al geskryf?
Behalwe vir die Malawi digbundels, het ek nog net vir “Woeste Willie en ander ware liegstories” onder die gordel. Ek is tans besig met ‘n tweede bundle kortverhale maar dit vorder maar stadig.
Sover dit gedigte aangaan raak raak ek al aan so 2500 waarvan sommige reeds in skoolhandboeke opgeneem is. Ek het egter nog nooit daaraan gedink om ‘n digbundel uit te gee nie omdat dit nie goed verkoop nie.
4. Vir wie of oor wat skryf jy?
Gedigte: Wat ek voel en die natuur. Soos met die Malawi gedigte probeer ek soms ‘n stukkie onthou vasvang in woorde. Soms is die gedigte ook humoristies en/of tong in die kies.
Stories: Hoofsaaklik dryf ek spot met ernstige sake en meeste stories is dan ook humoristies van aard.
Ek skryf vir my plesier en ek skryf oor enige onderwerp wat my op die oomblik tref.
5. Wat is jou raad vir aspirant skrywers?
Wees jouself as jy skryf. Skryf soos jy praat. Daar is genoeg hooggeleerde skrywers wat taalreels bepaal. Maar onthou altyd dat woorde skerper is as enige mes, dieper sny as enige mes en woordwonde heel nie maklik nie. Skryf dus met respek vir jou leser sonder om seer te maak.
6. Dink jy skrywers kry genoeg erkenning vir hul harde werk?
Dit is vir my ‘n snaakse vraag. Ek weet nie hoe om daarop te reageer nie want ek skryf vir my eie plesier. Wanneer ander positief reageer op my skrywes is dit vir my lekker maar ek jag nie erkenning nie.
Ek glo dat daar skrywers is wat ‘n lewe moet maak uit hul griffels en hulle sal altyd se dat daar te min erkenning is want hulle meet erkenning aan geld. Daar is niks daarmee verkeerd nie.
7. Lees jy graag en wat lees jy?
Ek lees wyd maar Jean M Aull se “Earth Children” reeks is my gunsteling. Ek het die volledige reeks seker al vyf keer deurgelees en sommige van die boeke selfs meer. Ek is ook baie lief vir Wetenskapfiksie en hou van Isaac Asimov se boeke. Gelukkig is daar deesdae ‘n wye verskeidenheid van skrywers en onderwerpe en boekwurms soos ek word goed bederf. Vandat ek ‘n Kobo leser by my Selonsrosie gekry het is lees nog meer van ‘n plesier.
8. Waar het jou liefde vir stories/gedigte begin?
Standerd vyf… Mnr. Tebbie Terblanche… Dis die smorende vuur wat swaarkry… en tog nie sy kos kan gaarkry… Dis die vrolike vlam wat klap en kraak…dis hy wat sy taak tot vermaaklikheid maak… en sy swaarkry… met lekkerkry… klaarkry. (Langenhoven)
9. Wat inspireer jou om te skryf, waar kry jy jou idees vanaf?
Nee eerder wie. Wie inspireer my om aan te hou skryf. Baie beslis: Ta Raaitjie van Gatkantland. Ek word egter ook goed gemotifeer deur my Selonsrosie en ons kinders wat my gedwing het om “Woeste Willie en ander ware liegstories” saam te stel. Hulle karring nou hoeka weer aan my om die tweede boekie klaar te maak. Die stories is egter bietjie droog op die oomblik.
10. Is skryf vir jou n soort ontvlugting, ‘n kreatiewe uitlewing?
Baie beslis beide. Ek het maar ‘n kreatiewe streek in my. Het op ‘n stadium meubels ontwerp en gemaak totdat my onderstel ingegee het. Toe het skilder die plek daarvan gevat. Ek bly egter ‘n ongeduldige tipe mens, dis hoekom my stories almal kort is. Wanneer ek iets begin moet en dit in een sitting kan klaarmaak anders vat ek nie weer daaraan nie.
11. Hoe ontstaan jou karakters, is hulle fiktief , hou jy mense dop, of het jou karakters eienskappe uit mense op jou lewenspad? (Vir gedigte: Hoe ontstaan die emosies wat jy in gedigte uitleef, is dit algemen emosies wat mens daaglik beleef, of is dit persoonlik?)
Meestal skryf ek fiktief en ontwikkel die karakter soos ek aangaan. Ek sal baie keer die storie verander om die karakter meer vleis te gee. Daar is egter karakters in sommige van my stories wat hulle wees te danke het aan karakters wat ek in my lewe teegekom het.
My gedigte is partykeer so gevul met emosies dat ek die sleutelbord moet droogmaak as ek klaar is met die gedig. Dit is nou baie ernstig. Emosies dryf gedigte en gedigte omarm emosies. Persoonlike emosies. Daai gevoel as iemand naby aan jou oorlede is. Die sametrekking in jou wese terwyl jy wag op die uitslag van die mediese toetse. Woorde is partykeer die pixels waaruit ‘n siel se prentjies bestaan.
12. Hoeveel boeke het jy al geskryf en hoe het dit gevoel toe jy jou eerste boek in jou hand vashou? Voel jy nog so na elke publikasie? As jy nog geen boeke geskryf het nie, beplan jy in die toekoms om 'n boek te publiseer?
Daai dag toe ek my eerste gedrukte boek in my hand hou. Ek wou huil… nee lag… nee my vrou omhels… nee… nee… nee… Ek wou alles gelyk doen. En toe ek die boek oopmaak… Toe val alles plat. Die drukker het groot fout gemaak en die inhoud stem nie met die bladsye ooreen nie want die fonts is te groot. ‘n Hele druk foutief. Die feit dat die drukker dit verniet en gratis reggemaak het sal nooit die teleurstelling vervang nie. Maar dit bly steeds ‘n wonderlike stukkie ervaring om daai eerste boekie vas te hou.
13. Is daar enige boeke waarna ons kan uitsien en waar kan ons jou boeke kry?
Ek het nog van Woeste Willie se tweede druk beskikbaar teen R60 per boek (posgeld uitgesluit) Ek is die enigste verspreider van die boek en om een in die hand te hou moet jy my kontak. naas.breytenbach@ gmail.com
Die volgende boekie is seker so 30% klaar. “Naas en Assie se ware liegstories” sal ook so hier en daar ‘n gediggie in he. Assie is my alterego wat by haar Oupa in die Lankloof bly en van haar ervarings daar vertel.
14. Hoe wil jy as skrywer onthou word?
‘n Glimlag op elke leser se gesig!
15. Noem 3 skrywers wat jou inspireer.
CJ Langenhoven
Jean M Aull
Isaac Asimov
16. Hoe hanteer jy persoonlike uitdagings en terugslae in jou lewe? Baie mense skryf dit neer, ander begin stories.
Terugslae: Ek raak depressief. Jaag die hond. Raak humuerig. En dan klim ek in en verander dit in iets beter of vergeet daarvan.
Uitdagings is bietjie anders. Ek probeer dit so positief moontlik benader en so vinning moontlik oplos, As dit te lank vat om op te los… sien terugslae hierbo
17. Hoe het jy eerste besef dat jy eendag 'n skrywer wil wees?
Ek het nog nie daai besef besef nie. Ek speel met woorde en as dit werk is ek gelukkig.
18. Het jy enige interessante "writing quirks" wat maak dat jy lekker skryf?
Ek sukkel soms vir maande om te skryf. Maar as ek skryf, skryf ek lekker. Ek het nie ‘n gelukkige pen of so iets nie.
19. Het jy 'n spesifieke tyd skedule vir skryf of gebeur dit sommer net?
As ek wakker word met ‘n storie skryf ek. Soms gebeur dit deur die dag ook maar dan skryf ek nie noodwendig nie.
20. Ondersteun familie en vriende jou in jou skryfwerk?
Baie beslis.
21. Wat geniet jy die meeste van skryf? Wat maak dit lekker.
Wanneer ek begin skryf weet ek nie noodwendig waarheen ek op pad is met die storie nie. As die storie dan sy eie draaie loop en die einde laat my giggle… daai’s lekker.
22. Watter bemarking strategie gebruik jy om jou werk te bemark en met ander te deel? En waar deel jy dit?
Ek gebruik maar die internet om my boek te adverteer en verder deel ek my skrywes as notas op my Facebook.
23. Enige skryf doelwitte vir die jaar 2016?
Ja. Naas en Assie se boek moet die lig sien.

 :icon_bigsmurf:
« Last Edit: May 09, 2016, 01:00:16 PM by Assie »

Offline Meraai vannie Baai

  • Wysgeer
  • Posts: 3662
  • Elke dag aan ons Geskenk, is 'n kosbare voorreg.
Re: Denke van 'n skrywer
« Reply #1 on: May 10, 2016, 11:51:03 PM »
Plek heel voor in die koor geboek vir Naas en Assie se boek  :love7: :hello2: :icon_salut:

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10692
  • Gender: Female
Re: Denke van 'n skrywer
« Reply #2 on: August 06, 2016, 01:16:01 PM »
Tel ek nou hierdie onderwerp op hier tussen die gange. 
Ons wag vir julle twiekies se boek Naas. 
Om te weet is om te verstaan.

Offline Trapsoetjie

  • Regular Members
  • Penkop
  • Posts: 657
  • Taranee, onse Beertjie.
Re: Denke van 'n skrywer
« Reply #3 on: August 06, 2016, 09:54:58 PM »

Ek hou van 5. Wat is jou raad vir aspirant skrywers?
Wees jouself as jy skryf. Skryf soos jy praat. Daar is genoeg hooggeleerde skrywers wat taalreels bepaal. Maar onthou altyd dat woorde skerper is as enige mes, dieper sny as enige mes en woordwonde heel nie maklik nie. Skryf dus met respek vir jou leser sonder om seer te maak.
Dis so waar. Woorde wat gespreek word kan mens nooit terug vat nie, maar met tyd raak die mes stomp, maar as dit neer gepen word is dit veraltyd, elkekeer sny daai woorde soos die eerste sny met 'n splinter nuwe skerp mes.

 :angel12:

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10692
  • Gender: Female
Re: Denke van 'n skrywer
« Reply #4 on: August 07, 2016, 07:47:04 AM »
Dit is so waar.  'n Mens moet 'n wag voor jou mond sit en 'n prediker voor jou pen.

Kyk nou hoe slim is ek vanoggend.  Het weer in die messelaai geslaap.  Ha-ha.
Om te weet is om te verstaan.