Author Topic: So naastenby einde van nog 'n jaar  (Read 2143 times)

0 Members and 1 Guest are viewing this topic.

Offline adele

  • Hardebaard
  • Posts: 1932
  • Gender: Female
  • gryp na môre in klein-klein stukkies
So naastenby einde van nog 'n jaar
« on: December 19, 2015, 02:47:40 PM »
So naastenby einde van nog 'n jaar ... halfpad deur die laaste maand en middel van die week. En dan is daar ure en minute wat die dag om my laat rondomtalie ... soms ongelyk vol rukwinde, soms fluistersaggies soos die tuinwind waartydens ek my Skepper ontmoet.

As ek maar tyd kon vasgryp, sou ek elke breekbare minuut saggies tussen my wys-en voorvinger optel en op ’n koraalrooi fluweeldoek voor my neersit; hulle in skulpie-vorms vou en met ’n dun koppiespeld ’n gaatjie deur elkeen steek. Daardie gaatjies moet baie presies en fyn wees. Daar mag niks dikker as die dunste goue liefdesdraad deurgesteek kan word nie.

Dan sal ek so ’n liefdeskoord vleg … van die fynste goue draad wat ek by Liefde gaan bedel … en dit deur die skulpminute ryg. Sommige met knoppies tussenin in die draad; ander weer ’n klompie skulpie-minute bymekaar. Maar hoe dit ookal sy, dit sal die kosbaarste halssnoer wees wat ek ooit sou kon besit.

Dink net, minute om elke dag te dra en te bewonder, te beleef en ervaar. Minute om tyd te rek tot die langste ure wat enige een voor sou wens. En wanneer ek die tyd gou wil omkry, vat ek weer ’n handvol minute uit die dag en skulpvou hulle om my tyd-snoer langer te maak vir tye soos nou wat ek wil rek en rek en rek...

Maar nou kan ek geen minuut vasgryp nie; soos die helderste fonteinwater oor ’n afgrond stort, vloei tyd vinniger by my verby as wat ek druppels kan tel. En wanneer ek net een wil vasgryp en as ’n enkele skulp in goud wil raam, verdamp dit voordat die goud geset het. Tyd wil nie vasgehou of voorgesê word nie … net soos die liefde. Wie van julle het dit al agtergekom? Wie het probeer om liefde vas te hou wanneer dit onverwags aan jou raak?

O nee, wanneer daardie liefde by jou wil bly, dan kan jy dit koester. Maar wanneer dit besluit om te gaan, kan jy maar vergeet om dit aan jou vas te bind. Geen geloof of oorredingsvermoë gaan jou red nie. Hartseer kan jou breek as jy nie versigtig is nie; net soos die dunste goue draad sal breek as die spanning te styf gevleg word. Daarom, wees versigtig aan wie jy jou liefde beloof, maar nog baie versigtiger van wie jy liefde wil afsmeek. Net ons Vader weet aan wie hy dit toebedeel. En indien jy dit nie insien nie, kan die seer die binnekant van jou hart en niere verfrommel en jou met kraters agterlaat.

Trane word salf en verlange word pleisters wat bo-oor geplak kan word, maar die rou wonde kan dalk nooit genees nie. In elk geval, nie wanneer jy dit sonder Christus se helende woorde probeer behandel nie, maar selfs dan sal die littekens altyd bly. Soms wel amper onsigbaar fyn soos die fynste, goue liefdesdraad, maar soms, wanneer onweerswolke in jou gemoed opsteek, kan die tekens opswel en weer wydsbeen voor jou hart kom staan.

Om alleen lief te kry in hierdie lewe, is om die mooiste roostuin aan te plant, vol geurlose rose. Om met jou hand in God s’n lief te kry, is om die geur intens te ervaar sodat jou hunkering altyd sag om jou sal draal, maar jou nooit alleen sal laat nie.

Mag tyd met julle mooi maak deur hierdie feestyd en julle vol genade vul in die jaar wat kom. Vrede ongekend bid ek vir julle elkeen.

©adéle theron

adéle  :grommit:

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10692
  • Gender: Female
Re: So naastenby einde van nog 'n jaar
« Reply #1 on: December 19, 2015, 03:13:00 PM »
Pragtig geskryf Adele.  Mag jy ook net vrede en vreugde vind in die nuwe jaar. 
Om te weet is om te verstaan.

Offline Meraai vannie Baai

  • Wysgeer
  • Posts: 3662
  • Elke dag aan ons Geskenk, is 'n kosbare voorreg.
Re: So naastenby einde van nog 'n jaar
« Reply #2 on: December 19, 2015, 10:25:19 PM »
 :icon_salut: :notworthy: Mag tyd met jou ook net mooi maak liefste mater. Mag liefde jou toevou vir ewig en 'n biekie.