Author Topic: Ons ryk taal: interessante gesegdes  (Read 10049 times)

0 Members and 1 Guest are viewing this topic.

Offline Meraai vannie Baai

  • Wysgeer
  • Posts: 3662
  • Elke dag aan ons Geskenk, is 'n kosbare voorreg.
Ons ryk taal: interessante gesegdes
« on: September 28, 2015, 11:14:51 PM »
Hy sê nie a nie ( Hy praat glad nie.)
As jy a sê, moet jy ook b sê. (As jy met iets begin het, moet jy dit voltooi.
Hy ken nie a voor b nie, (Hy is heeltemal ongeletterd.)
Hulle aai en paai, maar dit help nie. (Hulle soebat en praat mooi, maar verniet.)
Hy is so glad soos 'n aal. (Hy kom weg voor jy dit besef.)
Hy het weer alwyn getap.(Hy is in 'n slegte bui.)
Hy hamer op dieselfde aambeeld. (Hy praat pal oor dieselfde onderwerp.)
Hy blaas die vuur aan. (Hy vererger die rusie.)
Hy jaag bokke. (Hy is besope.)
Hy maak dit dik aan. (Hy oordryf.)
Ek doen aan die hand. (Ek maak 'n voorstel.)
Hy is hoog aan. (Hy is dronk.)

(2)
Ons moes van meet af aan begin (Ons moes heel voor begin)
Gehalte prys homself aan (Onnodig om reklame te maak vir 'n goeie produk)
Wie sal die kat die bel aanbind? (Wie sal in belang van die groep die gevaarlike werk doen?)
Hy sal die stryd vir haar aanbind (Hy sal haar verdedig.)
Ek wou nog 'n grappie maak maar hy was sommer aangebrand (Hy het hom sommer vererg.)
Die aand lê nog ver (Moenie te gou besluit nie, daar kan nog enigiets gebeur.)
Hy sal die waarheid geweld aandoen (Hy sal leuens vertel.)
Hy ry aandskof by Sarie (Hy kuier saans daar.)
Haar klere is aangegiet (Dit pas so styf!)
Wie kom hier aangehoepel? (Wie kom hier aan met sulke krom bene?)
Hy was erg aangekap oor ek hom nie genooi het nie (Hy het beledig gevoel.)
Sy was erg aangekap na drie drankies (Sy was taamlik dronk.)
Hy was vroeg aangeklam (Hy was vroeg dronk).
Hy is nugter aangelê (Hy is 'n koelkop).
Hy is uit sy pa se aangesig gesny (Hy lyk soos sy pa).
Moenie hom in die gesig krap nie (Moenie hom beledig nie).
Wie sy neus skend, skend sy aangesig (Wie sy gesin beskinder benadeel homself).
Hy slaan die waarheid in die gesig (Hy jok).
Soek die aangesig van God (Bid tot Hom).
Sy het vir hom 'n kop aangesit (Sy't hom vir die gek gehou).

(3)
Hulle was deeglik aangesmeer (Hulle het 'n hegte vriendskap gehad.)
Sy is verlief op een van die aangespoelde manne (Hy het van elders gekom.)
Jy is op jouself aangewese (Jy moet sonder hulp klaarkom.)
Langenhoven het gesê jy moet jou deeglik aangord as jy met 'n vrou wil redeneer. (Vroeër is die swaard om die soldaat se middel vasgebind wanneer hy oorlog toe gegaan het.)
Aanhef lê nog voor! (Die ergste kom nog.)
Laat dit maar aankalk. (Skryf dit maar op my rekening.)
Hy wil by die meisie aanklamp. (Hy wil haar hart wen.)
Die idee wil my nie aanlag nie. (Dit pas my nie.)
Ek laat dit my nie aanleun nie. (Ek laat nie toe dat dit my pla nie.)
By haar is dit meer aanplak as iets anders. (Sy is nie 'n opregte mens nie.)
Sy sal jou met die nek aansien. (Sy sal hoogmoedig op jou neersien.)
Hulle sal vir hom duimskroewe aansit. (Hulle sal hom forseer om dit te doen.)
Hulle gaan vir jou 'n kop aansit. (Hulle gaan jou om die bos lei.)
Ek is nie lus vir jou aansmeerpraatjies nie. (Ek het nie lus vir jou kletspraatjies nie.)
Hy kry 'n aanvoelertjie as hy die lekker kos ruik. (Hy begin lus word vir die kos.)
Rook is 'n slegte aanwensel. (Dis 'n slegte gewoonte – aanwen=iets wat jy aanleer.)
Hier kom die geklede aap aan. (Hier kom die bespotlike vent.)
Kyk, aap het ook 'n stert gekry. (Iemand wat dink hy is belangrik.)
Hy sit daar nes 'n aap op 'n stokkie. (Hy lyk verleë en bedremmeld.)

(4)
Sy rus in die skoot van die aarde (Sy is begrawe.)
Dit was net 'n aardbewing in 'n mishoop ('n Groot bohaai oor 'n kleinigheid.)
Jy kon 'n aartappel in hom gaarmaak (Hy was woedend.)
Hy skil sy aartappels nie twee keer nie (Hy herhaal nie wat hy gesê het nie.)
'n Mens skil nie aartappels in jou voorkamer nie (Wanneer iemand onvanpas in geselskap optree.)
Hy's 'n aartappelkop (Hy het nie baie verstand nie.)
Haar huis is 'n aasvoëlnes (Dit is baie deurmekaar.)
Hy het aasvoëloë (Hy sien iets baie gou raak.)
Abaddon – die hel word soms so genoem (Dis die Hebreeuse naam vir Engel van die Afgrond.)
Hy sit nog op die ABC-bank (Hy begin nou eers kennis versamel.)
Die abjater is so gemaak en laat staan (Hy is 'n onbeduidende persoon en sal nie ver in die lewe kom nie.)
Hy is deel van Abrahamskroos (Hy is 'n Jood.)
Abundantia het hier haar septer geswaai (Alles is hier volop – Abundantia was volgens die mite die Romeinse godin van oorvloed.)
Dit was sy Achilleshiel (Dit was sy swakheid – volgens die mite was die hakskeensening die enigste plek aan die Trojaanse held Achilles, waaraan sy moeder vasgehou het toe sy hom in die water gedoop het sodat hy onaantasbaar kon word.)
Ons moet die ou Adam aflê (Ons moet die sondige mens aflê.)
Hulle is familie van Adam se kant af (Verlangs familie.)
Hy drink Adamsbier (Hy drink water.)
Hy is in sy Adamsgewaad (Hy is kaal.)
Hy eet met sy Adamsvurk (Hy eet met sy hande.)

(5)
Die adderbyt van naberou is verskriklik (Naberou is ontstellend.)
Hy het hom in 'n addergebroedesel begewe (Hy was tussen 'n groep nydige, aanvallende mense.)
Sy het hom adieu toegeroep (Sy het vaarwel gesê.)
'n Adres van adhesie is 'n geskrif waarin instemming betuig word met 'n versoek.
Jy is nou by die verkeerde adres (Jy soek die oorsaak van die kwaad by die verkeerde persoon.)
Dit was advokatery (Dit was regskundige uitoorlêery.)
Hy sal die werk weer afbroddel. (Hy sal knoeiwerk of slordige werk verrig.)
Sy wil elke takie afbrom (Sy kla die hele tyd terwyl sy werk.)
Jy kan nou maar afdans (Jy kan nou maar skoert.)
Moet hom nie op sy verdienste afdwing nie (Moet hom nie verkleineer nie.)
Die ou werkie draf ek gou af (Ek sal dit sommer gou afhandel.)
Hulle wil die rusie afdrink (Hulle wil vrede maak.)
Sy het soms baie affêrinkies (Sy is dikwels vol nukke en nonsens.)
Hy sal wel weer geld van haar affutsel (Hy sal dit op 'n oneerlike manier van haar kry.)
Daar kan niks van afgaan nie (Dit kan nie ontken word nie.)
Hy sal 'n afgehekste loesing kry ('n deeglike pak slae.)
Sy is 'n afgelekte meisie (Sy het al baie kêrels gehad.)
Jy lyk so afgesak (Jy lyk baie moeg.)
Hy het afgetop gelyk (Hy het verleë gelyk.)
As jy iets van hom wil hê sal jy dit moet afgoël (Hy is so suinig!)
So 'n afhaler is onnodig ('n Onnodige belediging.)
As dit afhang moet ons dit maar opbind (Skertsend wanneer iemand gedurig begin met "Dit hang af..."

(6)
Moet tog nie altyd ander afkam nie (Moenie ander verneder nie.)
Moenie die taak weer afkits nie (Gebruik jou tyd).
Oor al die liggame waaroor jy getrap het sal jy weer moet afklim (As jy van mense misbruik gemaak het sal jy eendag daarvoor boet.)
Jy sal daar kaal afkom (Jy sal aan die kortste ent trek.)
Hulle sal hom goed afpoeier (Hulle sal hom 'n deeglike pak slae gee.)
Hy sal sy werk weer afrits (Hy sal dit weer so vinnig as moontlik probeer klaarkry.)
Ons het 'n afsakkertjie gedrink (Ons het 'n likeur na ete geniet.)
Liewer afslyt as afroes (Dis beter om te verouder deur harde werk as van niks doen.)
Hy is 'n Agitofel, moenie sy raad volg nie (Agitofel was 'n listige raadgewer wat rampspoedige gevolge gebring het.)
Toe hy parlement toe is was hy maar net 'n agterbanker (Minder ervare persone sit in die agterbanke.)
Al hardloop 'n leuen ook hoe snel, die waarheid agterhaal hom wel (Die leuen sal ontbloot word.)
Pasop vir daardie agterklapper (Hy is 'n kwaadprater.)
Hy is 'n regte agtervelder (Hy is maar onopgevoed.)
Hy is 'n politieke akrobaat (Hy bly behendig uit die moeilikheid.)
Hy het vir hom 'n alabama homp afgesny ('n Baie dik sny afgesny.)
Hy sit of hy 'n albaster ingesluk het (Hy sit doodstil, praat niks nie.)
Die alfa en die omega van die saak (Dis die begin en die einde daarvan. Alfa + omega is onderskeidelik die eerste en laaste letters van die Griekse alfabet.)
Die werk is vir my algebra (Ek verstaan dit nie)
As hy 'n paar treë agteruit loop, trap hy op ou Alida se kop (Hy is nie van suiwer Blanke afkoms nie.)
Hy is 'n regte ou arrekrekeltjie (Hy is 'n verpotte ou skepseltjie – 'n alikruik is 'n skulpslak wat in vlak water op rotse langs die see voorkom.)

AFRIKAANSE IDIOME EN GESEGDES (7)

(Lees die reeks by Afrikaanse Idiome en Gesegdes)

Die meisie is so suur soos asyn (Sy is onvriendelik).
Hy moes die Augias-stal skoonmaak. (Hy moes 'n geweldige taak baasraak – die mitologiese Griekse koning Augias, het 'n stal gehad waarin 3 000 beeste vir 30 jaar gehou is. Herkules het opdrag gekry om die mis te verwyder en die stal te reinig. Hy het die water van die riviere, Alpheus en Peneus, daardeur laat stroom.)
Hoewel hy eenvoudig geklee was, het 'n aura van verfyndheid hom omsweef. (Daar was 'n subtiele verfyndheid.)
'n Harde duikslag op die rugbyveld het hom aansienlik awery besorg. (Spottend gesê as 'n speler 'n fisiese besering of skade opdoen – awery is die skade wat 'n skip ten tye van 'n seereis opdoen.)
Wie 'a' sê, moet ook 'b' sê. (As jy met iets begin moet jy dit voltooi.)
Sy baadjie is behoorlik afgeborsel. (Hy het 'n goeie loesing gekry.)
Dis bo my baadjie. (Ek sal nie daar kan bykom nie.)
Hy is aan die einde van sy baan. (Dis klaarpraat met hom.)
Dis op die langebaan geskuiwe. (Dit is uitgestel.)
Die berg het 'n muis gebaar. (Daar was 'n groot rumoer maar die uiteinde was 'n nietigheid.)
Moenie dit vir hom in die baard vrywe nie. (Moenie skimpe oor hom maak nie.)
Klein baas is beter as groot kneg. (Liewer selfstandig op klein skaal as om vir 'n gegoede baas te werk.)
Moenie die baba saam met die badwater uitgooi nie. ( Moenie jou so toespits op die afkeur van die slegte dat jy die goeie miskyk nie – in die Middeleeue het gaste eerste geleentheid gekry om te bad; eers die man, dan die vrou en kinders, van oud tot jonk. Daarna het die huisgesin in dieselfde volgorde gebad, almal in dieselfde water. As dit die baba van die huis se beurt was, was die water al so vuil dat hy/sy maklik saam met die vuil badwater uitgegooi kon word!)

AFRIKAANSE IDIOME EN GESEGDES (8)

(Lees die reeks by Afrikaanse Idiome en Gesegdes)

Na elke partytjie is hy babalaas ( dan ly hy aan die gevolge van te veel alkohol).
Daar was 'n Babelse gegons van stemme (Almal het gelyktydig gepraat).
Dit was 'n Babelse verwarring (Dit was baie deurmekaar).
Hy sal weer mooi broodjies kom bak (Hy sal kom vlei en mooipraat om sy doel te bereik),
Hulle eet nie uit een bak nie (Hulle is nie vriende nie).
Sy het hom 'n bak gewys (Sy het hom onvriendelik tereggewys).
Gou by die bak maar lui by die vak (Hy is eerste daar waar iets te ete is maar traag as hy moet werk).
Hy maak sy hande bak (Hy kom bedel iets).
Ons moes bak staan (Ons moes hard werk).
Dit was sommer 'n bakerpraatjie (Dit was 'n skinderstorie).
Jerusalem is die bakermat van die Christelike Kerk ( Dis waar dit begin het. 'n Bakermat was 'n mandjie waarin die baker – die vrou wat 'n pasgebore baba versorg het – die kindjie op haar skoot voor die vuur versorg het).
Hy koop 'n bakkersdosyn (Hy koop dertjien - Vroeër was dit die gewoonte dat 'n bakker 'n ekstra item bysit wanneer iemand 'n dosyn daarvan gekoop het om seker te maak dat hy die klant nie benadeel nie.)
Hy is van bakoortjie na stuuroortjie gestuur (Hy is sinloos rondgestuur).
Hy is in die ban gedoen (Hy is uitgesluit uit die kerklike gemeenskap).
Jy moet die banier hooghou vir ons skool( Jy moet ons skool se naam in ere hou).
Hulle het deur die bank geslaag (Niemand het gedruip nie).
Hy is bankvas gemaak (Hy is in die tronk gesit).
Barabbas is losgelaat (Die skuldige het losgekom).
Hy het sy kinders baster gemaak (Hy het sy kinders onterf).
Dit sit my in die bed (Dit verbaas my).
Vroeg uit die bed maak die beursie vet (As jy vroeg begin werk sal sukses nie uitbly nie).

(9) (Lees die reeks by Afrikaanse Idiome en Gesegdes)
Jy moet bedag wees op sy skelmstreke (Jy moet op jou hoede wees vir hom.)
Dit was 'n bedekte aanval. (Dit was 'n inval wat geheim gehou is).
Dit was 'n bedekte seën (Ons het dit nie op daardie tydstip besef nie maar dit was goed dat dit gebeur het.
Hy is ryklik bedeel met aardse goedere (hy het baie geld of besittings).
Die eerstydse miljoenêr het tot die bedelstaf gedaal (hy besit niks meer nie – bedelstaf kom van 'n boemelaar's kierie).
Die bedolde gepeupel het in opstand gekom. (Die rasende mense het opstandig geraak).
Met al jou gewerskaf het jy my radio bedons (jy het dit nou heeltemal gebreek – kan ook gebruik word in 'jy is bedons' = jy is befoeterd.)
Hy het sy vriende heeltemal bedot (hy het hulle bedrieg).
Hy was bedug vir die dokter se uitslag (hy was bang en benoud dat dit slegte nuus sou wees.)
Ook so gebruik: Vir hom moet jy maar bedug wees (hy is 'n skelm).

Daardie misdadiger is 'n regte Beëlsebub (hy is 'n opperste duiwel – iemand om voor bang te wees. Die Hebreeuse Ba'al Zebbhub was die koning van die duiwels, die koning van die vlieë).
Hy is been-af op haar (hy is verlief op haar).
Hy neem sy bene onder sy arms (hy neem die loop, vlug van 'n situasie).
Jy sal jou bene moet dra ( jy sal jou moet haas).
Hy het 'n been daar gebreek (hy het daar verlief geraak).
Ek sal vir jou 'n been gooi (ek sal vir jou sê wanneer ek jou mening nodig het).
Hy staan met albei bene op die grond (hy is nugter en beginselvas).
Hy is op sy laaste bene (hy is al stokoud).
'n Leuen het 'n kort been (met 'n leuen kom jy nie ver nie).
Hy kou ou bene (hy kra swaar)
Hy roer aan ou bene (hy haal ou argumente op).
Hy het nie 'n been om op te staan nie (sy argumente is niks werd nie).
Hy is vlug van been (hy kan vinning hardloop).
Moenie die vel verkoop voordat jy die beer geskiet het nie ( moenie belowe voor jy seker van jou saak is nie).
Die beeste het in die brand geloop (dis koffie sonder melk).
Daar is seker 'n bees dood (dis gebruik wanneer die jongmense op 'n streep na 'n geselligheid gaan).
Hoe groter gees, hoe groter bees (hoe hoër jou posisie is,hoe groter jou oortreding – geld blykbaar nie vir swart regerings nie...)
Hy koop 'n bakkersdosyn (Hy koop dertien - Vroeër was dit die gewoonte dat 'n bakker 'n ekstra item bysit wanneer iemand 'n dosyn daarvan gekoop het om seker te maak dat hy die klant nie benadeel nie.)
Hy is van bakoortjie na stuuroortjie gestuur (Hy is sinloos rondgestuur).
Hy is in die ban gedoen (Hy is uitgesluit uit die kerklike gemeenskap).
Jy moet die banier hooghou vir ons skool( Jy moet ons skool se naam in ere hou).
Hulle het deur die bank geslaag (Niemand het gedruip nie).
Hy is bankvas gemaak (Hy is in die tronk gesit).
Barabbas is losgelaat (Die skuldige het losgekom).
Hy het sy kinders baster gemaak (Hy het sy kinders onterf).
Dit sit my in die bed (Dit verbaas my).
Vroeg uit die bed maak die beursie vet (As jy vroeg begin werk sal sukses nie uitbly nie).
Sy rus in die skoot van die aarde (Sy is begrawe.)
Dit was net 'n aardbewing in 'n mishoop ('n Groot bohaai oor 'n kleinigheid.)
Jy kon 'n aartappel in hom gaarmaak (Hy was woedend.)
Hy skil sy aartappels nie twee keer nie (Hy herhaal nie wat hy gesê het nie.)
'n Mens skil nie aartappels in jou voorkamer nie (Wanneer iemand onvanpas in geselskap optree.)
Hy's 'n aartappelkop (Hy het nie baie verstand nie.)
Haar huis is 'n aasvoëlnes (Dit is baie deurmekaar.)
Hy het aasvoëloë (Hy sien iets baie gou raak.)
Abaddon – die hel word soms so genoem (Dis die Hebreeuse naam vir Engel van die Afgrond.)
Hy sit nog op die ABC-bank (Hy begin nou eers kennis versamel.)
Die abjater is so gemaak en laat staan (Hy is 'n onbeduidende persoon en sal nie ver in die lewe kom nie.)
Hy is deel van Abrahamskroos (Hy is 'n Jood.)
Abundantia het hier haar septer geswaai (Alles is hier volop – Abundantia was volgens die mite die Romeinse godin van oorvloed.)

*Bron: http://gelofteland.org/index.php/ons-taal/32-afrikaanse-idiome-en-gesegdes/233-afrikaanse-idiome-en-gesegdes-1.html

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10692
  • Gender: Female
Re: Ons ryk taal: interessante gesegdes
« Reply #1 on: September 30, 2015, 04:21:19 PM »
'n Pragtige versameling Raaitjie.  Hier is 'n paar wat ek nog nooit teen gekom het nie.
Om te weet is om te verstaan.

Offline Meraai vannie Baai

  • Wysgeer
  • Posts: 3662
  • Elke dag aan ons Geskenk, is 'n kosbare voorreg.
Re: Ons ryk taal: interessante gesegdes
« Reply #2 on: September 30, 2015, 11:00:14 PM »
Was self verstom oor hoeveel daar is wat ek nog nooit tussen lyne raakgelees of met die oor gehoor het nie PM  :hello2:

Offline Meraai vannie Baai

  • Wysgeer
  • Posts: 3662
  • Elke dag aan ons Geskenk, is 'n kosbare voorreg.
Re: Ons ryk taal: interessante gesegdes
« Reply #3 on: June 22, 2016, 03:08:16 AM »
 :headbang:  Iemand knolle vir sitroene verkoop - soos wanneer jy vir iemand ore aansit/allerhande dinge wysmaak.

Lees ek vandag die eerste keer hierdie gesegde raak en leer terselfdertyd dat knolle eintlik 'n soort raap is en dus glad nie soos ’n sitroen- wat soos ’n suurlemoen met ’n dun skil lyk nie!

Bron: http://www.mieliestronk.com/aprinsloo.html
« Last Edit: June 22, 2016, 03:10:51 AM by Meraai vannie Baai »

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10692
  • Gender: Female
Re: Ons ryk taal: interessante gesegdes
« Reply #4 on: June 22, 2016, 02:32:47 PM »
Dit is werklik woordgoud.  'n Mens kan dit oor en oor lees en steeds iets nuuts daarin vind.
Om te weet is om te verstaan.

Offline Assie

  • Regular Members
  • Snuiter
  • Posts: 480
  • Gender: Female
Re: Ons ryk taal: interessante gesegdes
« Reply #5 on: July 05, 2016, 03:02:46 PM »
Ek dink daar kruip nog baie sulke afrikaanse wonderwerkies in ons mense se kele weg. Baie gesegtes is streeksgebonde en word bv slegs aan die weskus of in die Noordtransvaal gebruik. (en ek het gesegtes aspris verkeerd gespel)
Ons moet nie die kaypies van Die Plein innie Kaap weggooi nie. Hulle laat blom die taal soos lenteskilfers in hulle eie dialek.


 :mumum:

Offline Meraai vannie Baai

  • Wysgeer
  • Posts: 3662
  • Elke dag aan ons Geskenk, is 'n kosbare voorreg.
Re: Ons ryk taal: interessante gesegdes
« Reply #6 on: July 06, 2016, 11:37:39 PM »
Hahahha. Blom soos lenteskilfers    :hello2: :notworthy:

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10692
  • Gender: Female
Re: Ons ryk taal: interessante gesegdes
« Reply #7 on: July 13, 2016, 09:55:14 AM »
Hoekom nie winterskilfers nie? 
Naas, hoekom kan jy jou ikone gebruik en myne willie werkie. 
Om te weet is om te verstaan.

Offline Naas

  • Hardebaard
  • Posts: 2283
  • Gender: Male
  • K.N.A.P. (Kan Naas Afrikaans Praat of wat?)
Re: Ons ryk taal: interessante gesegdes
« Reply #8 on: July 13, 2016, 10:51:03 AM »
 :icon_scratch: want blomme blom nie in die winter nie?  :pottytrain2:

 :icon_bigsmurf:
Ek is maar net een, maar ek ís een.

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10692
  • Gender: Female
Re: Ons ryk taal: interessante gesegdes
« Reply #9 on: July 13, 2016, 06:22:25 PM »
O Hallie ha, jou ou snaaksie.  (Lag te lekker)
Om te weet is om te verstaan.

Offline Meraai vannie Baai

  • Wysgeer
  • Posts: 3662
  • Elke dag aan ons Geskenk, is 'n kosbare voorreg.
Re: Ons ryk taal: interessante gesegdes
« Reply #10 on: October 18, 2016, 11:36:24 PM »
Lees ek vanoggend hierdie ene raak op 'n nig Ria Maritz Horn se FB blad:
Staatsdiensreëntjie - genoeg om voor dankbaar te wees en asseblief te vra vir nog.

Nog:
Nou water my mond soos 'n goed geleerde boerboel met 'n lekker vleisie op sy neus. My voete papnat!
Jy lei my in die bloekombos in...

 :icon_biggrin: :notworthy:
« Last Edit: October 19, 2016, 06:28:13 AM by Meraai vannie Baai »

Offline Meraai vannie Baai

  • Wysgeer
  • Posts: 3662
  • Elke dag aan ons Geskenk, is 'n kosbare voorreg.
Re: Ons ryk taal: interessante gesegdes
« Reply #11 on: September 21, 2021, 03:33:09 AM »
Ek kom bewaar gou Antjie Patat se bydrae ook hier by ons interessante gesegdes:

Het julle geweet was die Afrikaans is vir "Bless you"? Baie sê "gesondheid", maar dis mos nou nie eintlik die regte ding nie.
Nee, dis eintlik " Dankie my hartjie, 'n soentjie en 'n kwartjie"  Dis volgens Afrikaanse Spreekwoorde, deur Anton F Prinsloo

Ook bv: Die hand wat die wieg skommel, regeer die land. (Die moeder oefen die grootste invloed in die wereld uit.
Engels (The hand that rocks the cradle, rules the world)

Van die hand na die tand, val die pap in die sand... 'n Saak kan nog op die laaste oomblik verkeerd loop.

Die haan kraai baie harder as die hen wat die eier le. (wanneer iemand homself lof toe-eien wat hom nie toekom nie.)

Die gesang insit (begin huil).

En toe vang my oog die komiese gesegde van PM:
Dit is al laataand, kwart over de rand van de piespot en ek sal nou moet gaan slaap.

Assie:
Ou Koos wat hand in die sy onder die katel staan en wag vir sy deel van die rooiwyn deur niere filtreer.

Naas:
'n Mens moet nooit iemand vertrou wat met stokkies eet nie.
Bankrot dagspoke wat snags in die grysmassa hoereer, roof die slaap.
« Last Edit: September 21, 2021, 05:47:41 AM by Meraai vannie Baai »

Offline Antjie Patat

  • Matroos
  • Suigeling
  • Posts: 176
  • Gender: Female
  • Passievol Afrikaans!
Re: Ons ryk taal: interessante gesegdes
« Reply #12 on: September 21, 2021, 07:48:48 AM »
Ongelooflik, stom stom...en dis my taal julle...dis ons taal !!!
Hoekom leer hulle nie die kinders daarvan nie, eerder sal hulle Iemand knolle vir sitroene verkoop, oor onse geskiedenis,
Die nuwe onwaar geskiedenis is (vir my) Bankrot dagspoke wat snags in die grysmassa hoereer, en dit roof my slaap.
As ek die jeug van vandag net kan vertel Dit was net 'n aardbewing in 'n mishoop, toe die 500 miljard tussen neus en ore verdwyn het. Want ons almal het geweet die skuldige sal skotvry wegstap, ja Barabbas is losgelaat
Ek verdrink my sommer aan Adamsbier vandag.

Ek moet nou hol vir die werk, voor hulle weer seg, Sy het weer baie affêrinkies vandag.
Ons hoef gelukkig nie iets hier te kom afgoël nie, almal deel vrygewiglik die mooiste woorde en liefde

lxxx

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10692
  • Gender: Female
Re: Ons ryk taal: interessante gesegdes
« Reply #13 on: September 21, 2021, 08:13:55 AM »
Dit is weer en weer lekker om alles weer te lees. Op my ouderdom vergeet 'n mens maklik.  Dit is goed om weer en weer te lees en weer en weer te geniet.
Om te weet is om te verstaan.

Offline Meraai vannie Baai

  • Wysgeer
  • Posts: 3662
  • Elke dag aan ons Geskenk, is 'n kosbare voorreg.
Re: Ons ryk taal: interessante gesegdes
« Reply #14 on: September 21, 2021, 09:41:41 AM »
En soos Antjie gister geskryf het: Genadige Maandag glimlagte!  Dit tel nou sommer vir al die dae :notworthy: :icon_biggrin: