Author Topic: Batazeur die Eenhoring  (Read 2468 times)

0 Members and 1 Guest are viewing this topic.

Offline Anicia

  • Suigeling
  • Posts: 95
Batazeur die Eenhoring
« on: April 14, 2015, 02:21:30 PM »
Batazeur die eenhoring
Die maan skyn helder en omtower die nag in 'n heel ander wereld. Batazeur, die eenhoring perd, staan en kyk na die wyd uitgestrekte sterre prag wat bokant hom vonkel. Sy ma het hom al van jongs af die sterre gewys en dit het hom altyd na iets verlang. Vanaand verlang hy sommer na sy ma. Sy het hom alles geleer om te kan oorleef en weg te kruip vir enige gevaar. Eenhorings is baie skaars en nie almal weet van hul bestaan nie, dis ook beter so. Batazeur spits sy ore, want  hy hoor iets. Sy neusgate maak groter oop soos hy ruik en hy kap met sy hoef in die grond. In die maanlig skyn sy wit maanhare helder en sy horing blink soos blinkertjies van die doudruppeltjies.
Dit is na hierdie prentjie wat die kleine Fantalie kyk waar sy tussen die digte blare van die boom sit en kyk. Fantalie is ook anders. Sy is deel van die boom bewonertjies. Hulle is klein, slim en baie rats. Hulle velle is dieselfde kleur as boombas. Daarom kan hulle nie maklik gesien word nie. Met groot ore om hulle beter te laat hoor en ogies wat wakker kyk en ook ekstra vliesies onder hulle armpies om soos vlerkies te werk wanneer hulle van tak tot tak spring of boom tot boom. Fantalie besluit om op die regte oomblik te wag en dan op Batazeur se rug te spring. Hy kom niks vermoedend nader gestap en staan onder die boom. Fantalie maak gereed om te spring en dis ook net wat sy doen, maar op die presiese oomblik besluit Batazeur om te loop en Fantalie val met 'n hik op die gras. Met 'n proes spring Batazeur om en kyk na die snaakse wesentjie wat voor hom, plat op die gras le. Hy dink eers dit is 'n stukkie boombas, maar die boombas het ogies wat knip en 'n mond wat kan praat. Sy raas met Batazeur omdat hy nie kon stilstaan nie. Dis ook meer van skrik, want sy dink nie so mooi nie.Sy lip krul ondertoe. Dis gewoonlik hoe hy maak as hy homself vererg. Asof dit regtig nou sy skuld is dat sy op hom 'n poets wou bak. Hy kyk haar uit die hoogte aan en vertel haar mooi wat hy dink van haar stoutigheid.
Nog nooit het iemand anders so met haar gepraat nie, nie eers haar ma en pa nie. Sy begin sommer huil en Batazeur kry haar jammer. Dalk het sy seer gekry. Hy loop nader en lig haar versigtig met sy tande op sodat sy regop voor hom kan staan. "n Mannetjie met 'n wit baard het gehoor hoe Fantalie huil en het intussen ondertoe geklim van die boom af. Hy skrik hom boeglam toe hy sien hoe die eenhoring vir Fantalie met sy tande beetkry. Hy dink die perd wil haar opvreet en maak 'n groot lawaai. Batazeur en Fantalie skrik op hul beurt weer baie groot en hul begin te hardloop. Die mannetjie gee 'n skerp fluit en die twee kom tot stilstand om te kyk wat aangaan. Fantalie erken dadelik haar oupa en kom na hom toe aangehardloop. Sy begin nog om vir Oups te vertel wat gebeur het, maar hy val haar met 'n kwaai stem in die rede. Hy is sommer vies dat sy hom so laat skrik het deur net weg te raak en toe skrik hy boonop toe hy sien hoe die perd haar wil opvreet. Batazeur val vir Oups in die rede en vertel hom wat gebeur het, maar Oups lyk nie eers of hy luister nie en trek Fantalie aan die arm nader om hom te volg terug bome toe. Fantalie het nie 'n keuse nie en waai vir oulaas vir Batazeur voor sy en haar oupa die donkerte in verdwyn.
Batazeur voel skielik eensaam en wens hy het geselskap. Hy weet presies waarheen om te gaan. Hy vind gou die versteekte paadjie wat hy al baie jare ken, maar so lanklaas gebruik het. Sy maanhare gee 'n helder lig af van die maan wat daarop skyn en dit helder sommer die paadjie voor hom op sodat hy makliker in die donker beweeg. Sy maanhare kielie sy nek en hy ruk sy kop om van die gekielie ontslae te raak en die volgende oomblik, kap hy sy kop teen 'n tak vas. Hy is vir 'n oomblik skoon dronk in sy kop, maar herstel vinnig. Dat hy nou so lomp kan wees! Hy bereik 'n klomp pampoene wat grootter as hy is en uit die pampoene is venstertjies gekerf en ook deure. Die pampoen huisies was nog altyd vir hom die oulikste huisies en die inwoners nog ouliker. Die pampoene is in 'n groot sirkel geplaas en dit maak die hele dorpie uit met die naam Pampoenvallei. Die kaboutertjies wat hier woon het vir Batazeur gevind toe hy as klein eenhoring vulletjie angstig rondgeloop en soek het vir sy moeder wat net verdwyn het. Tot vandag toe weet hy nie wat van haar geword het nie. Hulle het hom versorg en vertroos en hy is so dankbaar teenoor hulle wat hul vir hom gedoen het. Iemand moes iets gehoor het, want hulle borrel amper soos een kaboutertjie deur hul deurtjies en omsingel hom. Almal wil gelyk praat, maar dit gee net 'n groot verwarring af. Die goedige Truitjie kabouter klap haar handjies baie hard en die kaboutertjies bedaar. Daar word lekker gekuier en die dogtertjie kaboutertjies kan nie genoeg borsel en vleg aan Batazeur se stert nie. Hy moet selfs later le, sodat hulle kan bykom by sy maanhare. Hy geniet die aandag vreeslik en gee glad nie om dat hulle selfs strikkies insit nie.
Daar is 'n geraas en gekraak van takke en 'n takbok kom deur gebreek deur die heining wat die dorpie beskerm teen gevaarlike diere soos jakkalse en wolwe. Hy lyk doodbenoud en kry nie sy asem om hulle te vertel wat aangaan nie. Sy oe draai wild in sy kop en sy asem jaag soos hy gehardloop het. Nadat hy bietjie tot bedaring gekom het, vertel hy dat vyf vet trolle besig is om die boombewonertjies se lewens in gevaar te stel. Hulle is besig om vuur te maak by die bome so 'n entjie van daar af. Batazeur weet presies waar dit is en die trolle het natuurlik soontoe gekom 'n hele ruk nadat hy daar weg is.  So vriendelik soos die kaboutertjies kan wees, so vinnig omgekrap kan hulle word. Om met die boombewonertjies te mors en die natuur, gaan hulle nie duld nie en besluit om 'n plan van aksie te maak. Hulle gryp elkeen iets om ernstige skade vir die trolle aan te rig en marseer in 'n groepie na die gevaar toe. Batazeur laat nie op hom wag nie en loop saam. Hy loop stadig omdat die kaboutertjies se kort beentjies nie sal kan byhou as hy eers spoed vang nie. Intussen wens hy hy kon meer spoed aansit, want nou is hy gretig om vir Fantalie en haar familie te gaan help. Die kinder kaboutertjies het saam met die ou kaboutertjies by die huisies gebly, want vir hulle gaan dit te gevaarlik wees.
Hulle is nog nie eers daar nie, toe hoor hulle die afskuwelike klanke van hulle gelag. Sal ook net die trolle wees wat so kan lag terwyl hulle sulke slegte dinge aanvang. Hulle swaai groot brandende fakkels deur die lig en maak asof hulle die blare van die bome wil aan die brand steek. Die boombewonertjies is vreeslik bang en klou aan mekaar vas. Teen vuur het hulle geen redding of beskerming nie, maar teen die tyd sien hulle deur die helder lig die kaboutertjies wat nader kom. Die trolle is so besig met hul kattekwaad, dat hulle nie die kaboutertjies en Batazeur sien nie. By van die bome het die vlamtongetjies al begin lek aan die droe grassies wat die bome omring. Die reuk van vuur het baie diere laat verby hardloop en Batazeur word self benoud, maar hy sal nie weghardloop nie.
Dit is tyd om tot aksie oor te gaan, die trolle het genoeg kwaad gedoen en die dwergies werk saam om die trolle 'n les te  leer. Voor die trolle weet wat gebeur, tref 'n geweefde net een trol van alle kante af. Hy stoei om los te kom, maar hoe meer hy stoei, hoe meer word hy verstrengel. Sy roepe om hulp help niks, want elke trol word tegelyk deur die kaboutertjies gestraf. 'n Deurmekaar trol word gepootjie en hy val op die grond neer. Dadelik is die kaboutertjies om en op hom en word hy deur toue vasgemaak wat keer dat hy kan beweeg.
'n Trol probeer weghardloop, maar hy hardloop homself kuduks teen 'n tou vas en slaan agtertoe. Hy word ook dadelik met toue vasgemaak en hy kan nie beweeg nie. Soos die fakkals uit hul hande val, so word die vlamme gesmoor met sand. Die kaboutertjies het in bome geklim en 'n groot sak oor 'n trol gegooi en hy is 'n paar keer in die rondte gedraai en die loop hom vas teen elke boom wat hulle aan die brand probeer steek het. Batazeur skop die ander trol op sy boude en die trol besluit om te maak dat hy wegkom, maar in die donker kan hy nie sien nie en toevallig val al vyf die trolle in die rivier wat naby die bome verbyvloei.  Dit is die grootste straf wat hulle nog kon oorkom, want trolle hou net mooi niks van water nie, dis hoekom hulle so vrot dat hulle heeldag omsingel word deur brommers.
Die vuurtongetjies word doodgeslaan deur natgemaakte lappe en die boombewonertjies sien die gevaar is verby en waag dit vir die eerste keer om ondertoe te klim. Hulle kom staan voor die kaboutertjies en Batazeur. Oups en Fantalie staan voor Batazeur en Oups bedank hom en die kaboutertjies vir hulle hulp met die trolle. Hy vra ook omverskoning dat hy Batazeur onvriendelik behandel het toe hy Fantalie so mooi gehelp het. Batazeur knik net sy kop en aanvaar die verskoning. Almal is moeg na die avontuur en besluit om huiswaarts te keer. Batazeur galop weg in die nag opnuut oortuig om sy maatjie te vind.
'n Paar maande het intussen verby gegaan en Batazeur het 'n maatjie gevind om sy lewe met hom te deel en hulle gaan gereeld na die kaboutertjies om te kuier en ook na die boombewonertjies. Die trolle is skaarser as eenhorings en niemand is hartseer oor dit nie. Vrede in die bos het teruggekeer en daar word gereeld bosfeeste gehou. Batazeur is gelukkiger as ooit saam met sy maatjie en sy weet, sy het ook geluk gevind. . .

Offline Naas

  • Hardebaard
  • Posts: 2283
  • Gender: Male
  • K.N.A.P. (Kan Naas Afrikaans Praat of wat?)
Re: Batazeur die Eenhoring
« Reply #1 on: April 16, 2015, 08:44:17 AM »
Dis 'n pragverbeeldingsvlug. Ek wens ek kon ook soos 'n kinder dink sodat ek vir my kleinkind sulke mooi stories kon skryf. Ek het nogal probeer om vir haar 'n storieboekie te skryf maar die verste wat my verbeelding strek is dat ek my verbeel ek kan kinderstories optoor soos die.
Doen gerus so voort.


 :icon_bigsmurf:
Ek is maar net een, maar ek ís een.

Offline Meraai vannie Baai

  • Wysgeer
  • Posts: 3662
  • Elke dag aan ons Geskenk, is 'n kosbare voorreg.
Re: Batazeur die Eenhoring
« Reply #2 on: April 16, 2015, 09:18:48 AM »
My liefste sus van ver, ek stem saam met Naas! Mens word weggevoer. Jy moet groot asseblief probeer om hierdie verhale van jou in boekvorm te bewaar. Al druk jy dit self en bind dit in 'n legger saam. Dit is 'n kosbare erfenis  :love7: :notworthy:

Offline Anicia

  • Suigeling
  • Posts: 95
Re: Batazeur die Eenhoring
« Reply #3 on: April 16, 2015, 09:41:56 AM »
Baie dankie Naas en Raaitjie dat julle my verhaaltjies lees en geniet.Ek voel geeerd en geeerd dat bekende skrywers soos julle dit lees.Ai Raaitjie dis so n groot droom van my,maar dis soos toe deure wat ek in vasloop.Ek het dit darm op my laptop en sodra ek n printer het,sal ek dit uitprint vir Dyllan sodat hy dit ook kan lees.

Offline Meraai vannie Baai

  • Wysgeer
  • Posts: 3662
  • Elke dag aan ons Geskenk, is 'n kosbare voorreg.
Re: Batazeur die Eenhoring
« Reply #4 on: April 16, 2015, 10:59:05 AM »
'n Mens kan deesdae jou geskriffies so pragtig self bewaar Anicia. Jy moet afneem en wys as jy dit gedoen het hoor  :love7:

Offline Angelica

  • Regular Members
  • Hardebaard
  • Posts: 1674
  • Gender: Female
Re: Batazeur die Eenhoring
« Reply #5 on: April 16, 2015, 07:57:59 PM »
Wens ek was ook 'n Ouma.
Wil stories lees en vertel.
Dalk eendag. :sad5:
elle