Author Topic: Die lewe vra nie te veel nie (1074 woorde)  (Read 2613 times)

0 Members and 1 Guest are viewing this topic.

Offline adele

  • Hardebaard
  • Posts: 1932
  • Gender: Female
  • gryp na môre in klein-klein stukkies
Die lewe vra nie te veel nie (1074 woorde)
« on: March 18, 2015, 09:13:10 AM »
Die lewe vra nie te veel nie

        ”Ek kan dit nie doen nie, Mariet. Ek kan net nie.”

       “Jy hoef seker nie, maar hoe gaan jy dit keer?”

       “Ek weet nie.”

        Ek vang skaars haar fluistering op hier waar geen moeite ontsien word om dié boetiekrestaurant se atmosfeer sag en rustig te hou nie. Net die mooiste musiek en mees eksotiese plante voel hier tuis. Ook word die beste bestanddele vir koffie en etes verkry, maar die spyskaart bly wissel om in almal se smaak te voorsien. Die dekor wissel ook gereeld, maar bly rustig en smaakvol.

        Ek gee my oor aan die strelende klanke van ’n simfonie en voel my gedagtes wegsweef, maar vang nogeens die angs in die stem agter my vas.

        “Mariet, een gestremde kind in ’n gesin is al te veel. Hoe dink julle moet ek twee hanteer en dit nog alleen?”

        Ek draai effens skuins. Hulle sit twee tafels van my af maar ek kan nie uitmaak wie dit is nie. Tog klink haar stem vaagweg bekend. Sommer my verbeelding, skud ek dadelik die gedagte van my af.

        Mariet se hande vou oor hare.

        “Sus, jy moet nou sterk wees. Haal diep asem. Jou histerie gaan jou baba niks help nie.”

        “Baba? Baba? Jy het gehoor wat sê John van fetusse en twaalf weke en al daai dinge en al sal hy allerhande mooi Bybelversies uithaal, bly dit sy plig as ginekoloog om ’n aborsie ook te verduidelik.”

        “Nee, Sus, asseblief. Jy sou vroeër nie eers naastenby in daardie rigting gedink het nie. Moenie nou téén jou geloof veg nie.”

        Ek word koud. My hande pyn skielik asof ek ’n ysblok vashou. Aborsie! ’n Vloekwoord wat nooit in enige satanskind se gedagte lêplek moes gekry het nie. Sal ek ooit daaroor kom?

        Sy was nie skoonheidskoningin-mooi nie, maar vir my was sy beeldskoon. Sonder gereelde grimering en haar hare vaalblond met net ’n rooi tint wanneer sy in die son gestaan het, het sy ’n labirint deur my hart gestap. Elke dag van ons vier jaar saam, het ek haar dieper bemin.

        “Kobie, kom bly saam met my in my meenthuis, asseblief?”

       Ek moes nog een keer vra nadat sy twee keer geweier het. Sy was nou ’n volwaardige apteker en die pos by die kampus-apteek het dit makliker gemaak om by interessante navorsing oor genetika, haar stokperdjie, betrokke te raak.

       “Liefste, my verloofring het reeds my belofte aan jou bevestig. Kom ons verander ons lentetroue na ’n herfstroue, toe?”

      Haar blink oë het oorgeloop van vertroue toe sy opkyk in myne.

       “Goed, Landman.”
 
       “Goed wat?”

       “Goed op altwee,” het sy gegiggel.

       Ek het haar vasgegryp en  in die rondte geswaai. Daardie aand het ons onder die melkweg gaan stap en die toekoms was droommooi tussen die sterre teen die swart fluweelnag.


       “Mariet, dankie vir die tee en die saamgaan, maar dis ék wat nou alleen is … agtergebly het … die skerwe van my lewe moet optel en aangaan met Drienie. As hierdie toetse nóg ’n positiewe Down’s-uitslag toon, gaan ek nie eers twee keer dink nie. Dink jy hulle pa gaan ooit ’n sent onderhoud bydrae? Hy is landuit saam met daardie … daardie …”

       Sy skuif haar stoel terug en staan op. Ek kyk weer in haar rigting en vang haar oë vas. My hartklop bly in die lug hang. Belinda!

       Ek staan vinnig op en tree vorentoe voor sy kan verbystap.

       “Belinda, Lindie? Is dit jy?”

       Magriet spring ook op.

       “Landman, waar val jy uit?”

       “Die wêreld deurkruis en onlangs nesgeskop hier naby waar ek kan oog hou oor ‘n nuwe meenthuisontwikkeling waarvan hierdie restaurant en koopsentrum deel vorm.”

       Ek soengroet hulle elkeen. Ons het immers as bure opgegroei; eeue gelede.

       “Maar waar was julle al die jare?”

       Mariet vertel van die erfplaas waarheen hulle na hul oupa se dood getrek het. Ons was so tussen twaalf en vyftien jaar oud en het nie kontak gehou nie.

       “Lindie, onthou jy nog hoe hard jy probeer het om my te leer perdry?”

       Haar skewe glimlaggie breek die bekommerde frons tussen haar oë.

       “Ja, maar dit het net nie gewerk nie. Kan jy nou al ry?”

       “Ek het in Amerika gaan leer. Daar waar die wêreld te groot is en die plase anderkant die horison wegraak. Maar kom, drink nog iets saam met my, asseblief.”

       “Ek moet eintlik … “ begin Belinda, maar Mariet val haar in die rede:

       “Jy moet niks. Ek gaan terug kantoor toe maar jy is heeldag af. Landman, sal jy haar later huis toe neem?”

       Ek wil nog groet, maar Mariet is reeds by die deur uit.

       Ek trek ’n stoel uit en gee Belinda ’n drukkie teen haar skouer. Sy gaan sit.

       “Lindie, as jy wil gaan, moet jy net sê. Maar ek kon nie help om te hoor nie en my skouer is breed. Wil jy vertel?”

       Na nog ’n koppie koffie weet ek dat haar man nie vir Drienie kans gesien het nie. Maar die laaste aand voor hy uitgetrek het, het hy dronk tuisgekom en haar hardhandig geneem. Vir oulaas, was sy woorde. Sy wou dit nie glo nie, maar ’n sonar het haar swangerskap vanoggend bevestig. Daar is egter ’n klein probleempie en sy moet nou ’n paar dae wag op die uitslae van toetse.

       “En waar was jy al die jare? Getroud?”

       “Nee.” Ek is nie gereed om daaroor te praat nie.

       “Jy het jou skouer vir my gehou, Landman.”

       Ek kyk na niks tussen die palms naby ons tafeltjie.

       “Ons sou in die herfs trou. Maar sy het in Januarie, kort nadat sy by my ingetrek het, swanger geraak. Haar belangstelling in genetika het haar na iets gelei. Ons baba sou ernstig breingestremd wees. Sy het ’n aborsiekliniek besoek.”

       My stem breek. Ek wag vir die woede om my weer te oorweldig. Maar skielik is dit stil in my. Ek kyk terug na Belinda en haar groot bruin oë nooi my binne.

       “Die skade was onmeetbaar en die infeksie het haar laat verrot. Haar ouers het my ook nog nooit vergewe nie.”

       Ek staan op en vat haar hand vas. “Kom, ek gaan wys jou waar ons bou.”

       Dan klink Hermann Prey se geliefde stem op en voel ek lus om saam met hom in ‘Der Vogelfänger bin ich ja’ uit Mozart se Towerfluit rond te dans. Maar ek hou Belinda styf teen my bors vas. Sy gaan nie so maklik wegkom nie. 

©adéle theron
« Last Edit: March 21, 2015, 11:53:04 AM by adele »
adéle  :grommit:

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10692
  • Gender: Female
Re: Die lewe vra nie te veel nie (1074 woorde)
« Reply #1 on: March 20, 2015, 02:48:18 PM »
Pragtig geskryf Adele.  Ek verlang na die dae toe ons alles vuurwarm gekryf het. 
Om te weet is om te verstaan.

Offline adele

  • Hardebaard
  • Posts: 1932
  • Gender: Female
  • gryp na môre in klein-klein stukkies
Re: Die lewe vra nie te veel nie (1074 woorde)
« Reply #2 on: March 21, 2015, 11:55:09 AM »
ekke ook, PM, al het ek nog dierbare skryfvriende bygekry, mis ek ons eerste klompie se samesyn, daardie omgee en saamleer ...   :love7: 
hierdie verhaaltjie van my het op 'n kortstorie-stoep eerste prys gekry.
adéle  :grommit:

Offline Angelica

  • Regular Members
  • Hardebaard
  • Posts: 1674
  • Gender: Female
Re: Die lewe vra nie te veel nie (1074 woorde)
« Reply #3 on: March 21, 2015, 01:10:27 PM »
 :icon_salut: Saluut!!!
elle

Offline Meraai vannie Baai

  • Wysgeer
  • Posts: 3662
  • Elke dag aan ons Geskenk, is 'n kosbare voorreg.
Re: Die lewe vra nie te veel nie (1074 woorde)
« Reply #4 on: March 23, 2015, 04:01:19 AM »
Daardie eerste prys is welverdiend. Ek wou nog lees! :notworthy: