Author Topic: Nag van onheil (kortverhaal)  (Read 1616 times)

0 Members and 1 Guest are viewing this topic.

Offline Ans Botha

  • Regular Members
  • Snuiter
  • Posts: 364
Nag van onheil (kortverhaal)
« on: September 25, 2014, 08:36:12 AM »
Nag van onheil

   In die donkerte van die nag sit ‘n figuur roerloos stil. ‘n Paddakoor in die verte verbreek die nagstilte - ‘n kriek laat sy stem hoor. Geen wind wat roer. ‘n Tamheid van die vorige dag se reën hang benoud in die lug.

   ‘n Spiertjie trek styf in Robert se gesig. Tog skrik hy van ‘n koei se gebulk. Met agterdog verskerp hy sy gehoorsintuie, maar daar is geen geluid buiten die nag se stilte.

   Robert boer al sy lewe lank op die plaas Kranskop. Die plaas  geleë in die bosveld met sy koppies en wilde diere is sy lewe. Sy egte Simmentaler  stoet is sy groot trots. Sy bul het hierdie jaar vir die vierde agtereenvolgende jaar eerste plek op die Landbouskou behaal. Robert is ‘n natuurmens wat lewe vir sy plaas en diere. Sy hande is vereelt van die harde werk - sy gesig is bruin gebrand van die daaglikse son.

   Vanaand wag Robert vir die onverwagte. ‘n Paar boere is die afgelope paar weke van hulle vee gestroop. Hy besef noudat die skou afgehandel is, kom sy beurt stadig maar seker nader. Rus gaan hy nie gou voordat hy die boewe gevang het nie, maar sy duur stoetbul gaan hulle nie van hom af wegvat sonder ‘n groot geveg nie.

   Robert sit effens regop as hy in die verte die galop  van perdepote hoor. Doen hulle dan hulle skelmstreke met perde, wonder hy. Snaaks dat die polisie nog nie spore van perde by veediefstal tonele  opgemerk het nie, dink hy.

   Die perde se galop is nou stil. Hy luister soos ‘n hond met gespitste ore. Geen geluid. Selfs die paddas het met hul koorsang opgehou. Net die geroep van ‘n uil in die verte wat ‘n rilling teen sy ruggraat laat afgly.

   In die donkerte kan niemand vir Robert agter die veldstruik gewaar nie. Hy moet net nie beweeg nie. Niks gebeur nie behalwe dat sy huis se voorlig aangaan. Verder kan hy nie sien wat by die huis aangaan nie. Robert besef dat, vir so lank as wat daardie lig brand, sal niemand op die beeskraal sal toeslaan nie. Hoekom sal Erna nou die lig aansit, wonder hy. Sy weet mos hy is hier buite op nagwag.

   Die gerunnik van ‘n perd ver in die veld maak hom meer paraat . Robert besef dat hulle die perde naby die buurplaas vasgemaak het, en beweeg nou heelwaarskynlik te voet na sy kraal toe. As Erna net die verdomde lig wil afsit sal hy beter kan konsentreer op wat om hom in die donkerte aangaan.

   Robert hoor steeds geen geluide behalwe die van die veld nie. Dit is stil van die huis se kant af, maar die lig bly aan. Robert weet Erna sal nie vir vreemdelinge oopmaak nie - dat sy veilig in die huis is. Niemand kan sonder ‘n groot geraas in sy huis inkom nie.

   “Sit doodstil Ouboet,” kom Robert se jonger boetie, Karel se stem van agteraf.

   Robert word yskoud. Hy voel hoe sy liggaam liggies begin bewe. Waarmee is Karel besig, wonder hy stil.

   “Ek hou ‘n pistool teen Erna se rug vas Robert. As jy roer sal ek nie skroom om die sneller te trek nie,” laat Karel  van hom hoor.

   Erna is Robert se lewe. Hy sal die plaas en die diere opgee vir haar as dit moet, en Karel weet dit.

   Waarom doen Karel dit, wonder Robert. As hy geld nodig gehad het kon hy mos maar net kom vra het - hy sou hom mos gehelp het.

   “Karel . . .” probeer Robert met Karel praat.

   “Stil!” beveel Karel bruusk.

   “Ek het mos gesê, geen geluid of beweging van jou af nie,” kom dit nukkerig van Karel.

   Robert hoor Erna se snikke. Hy weet dat hy iets sal moet doen om haar te help. Karel was van kleins af ‘n wrede kind gewees. Hy kon maklik ‘n dier met geweld doodmaak en agterna daaroor spog. Robert besef dat Erna se lewe in gevaar is.

   Donker figure kom uit die bos te voorskyn. Robert sit op sy hurke en toekyk hoe hulle die kraal se hekke oopgooi en die pragtige stoet beeste uitjaag. Dit is ‘n deurmekaar gemaal met ‘n luide gebulk. Stof besoedel die lug, en hoop vlam in Robert op. Hopelik het Karel vergeet om voorsorgmaatreëls vir sy asma te tref. Hy moet net kalm en rustig bly.

   “Jy wonder seker hoekom dit nou juis ek is wat jou pragtige stoet beeste vir my kom vat, nè?” vra Karel met ‘n bitter ondertoon in sy stem.

   “Hoekom Karel?” vra Robert, maar bly paraat vir die geringste verandering in Karel se asemhaling.

   Stof hang dig oor die area. Karel se stem raak stelselmatig hortend as hy praat.
   “Omdat jy nog altyd ‘n daddy’s boy was Ouboet. Jy en pa het mos altyd alles saam gedoen. Saam beeste gedip, gespuit - saam gaan jag en spog  oor al die trofeë  wat julle huis toe gebring het,” kom dit snedig van Karel af.

   “Asof dit nie genoeg was nie, gaan staan en vat jy die groot liefde van my lewe vir jou en trou met haar. Dit Ouboet, was die laaste strooi,” sê Karel hatig.

   “Karel . . .  ” probeer Erna met Karel praat.

   “Bly stil vroumens,” snou Karel haar toe en stamp haar in die ribbes.

   Erna kreun van pyn. Robert hoor iets agter hom. Hy vermoed dat Erna op haar knieë  geval het. Hy luister aandagtig na Karel se asemhaling. ‘n Hortende geluid kom van sy kant af. ‘n Vinnige beweging en ‘n slag agter Robert laat hom snel opvlieg en gryp na die persoon wat nou op die grond lê. ‘n Gestoei volg maar Robert kry vinnig  die oorhand.  Hy pen vir Karel op die grond vas. Erna reageer oombliklik. Sy hardloop reguit huistoe. Robert vermoed dat sy die polisie gaan skakel.

   Robert draai sy kop kraal se kant toe – dis leeg gestroop. Daar is geen teken van beweging nie. Die nagstilte dra die sagte geluide van  beeste wat deur stemme aangejaag word.

   “Karel ek verstaan nie. Jy het nog nooit in die boerdery belang gestel nie. Hoekom haat jy my so?’ vra Robert terwyl hy Karel regop trek met sy hande agter sy rug in ‘n stewige handgreep.

   “Want Ouboet, jy het die oukêrel se aandag gesteel. Hy het nooit tyd vir my gehad nie. Dit was altyd net jy gewees - ek was maar net altyd daar,” kom dit hygend van Karel af.

   “Karel maar ek onthou hoe pa jou dan altyd gevra het om saam te kom. Jy was die een wat nooit wou saamkom nie,” kom dit verbaas van Robert.

   “Ag Ouboet, wil jy nou vir my kom staan en sê dat jy tot vandag toe nog nie weet dat my sogenaamde pa my nie werklik saam met julle wou gehad het nie?” vra Karel.

   “Nee ek verstaan nie Karel. Wat bedoel jy met sogenaamde pa?” vra Robert om soveel inligting moontlik uit Karel uit te probeer kry voor ‘n asma aanval toeslaan.

   “Ek is nie jou pa se kind nie halfboetie. Jy is sy enigste seun,” gooi Karel die woorde soos ‘n skottel yswater in Robert se gesig.

   “Dit is onmoontlik! Waar kom jy aan hierdie snert!” kom dit geskok van Robert.

   “Ons mammie het oor die draad gekuier en met my terug gekom Ouboet. Ek weet, want ek het eendag ‘n gesprek afgeluister tussen ma en jou pa,” vertel Karel die verhaal minagtend aan Robert.

   “Ek glo dit nie,” kom dit geskok van Robert.

   “Dit is waar. Hoekom dink jy het ons ma en jou pa nie in dieselfde kamer geslaap nie?” vra Karel, sy asemhaling nou hortend.

   As kinders was die twee broers onafskeidbaar. Op hoërskool het alles begin verander. Karel wou nooit meer dinge saam met hulle doen nie. Dit was dan ook in daardie tyd wat Karel sy wrede kant begin wys het. Katte en klein velddiertjies is op wrede maniere dood gemaak, en daaroor gespog.

   “Hoekom dan my beeste en al die ander boere s’n steel? Jy kon mos net kom vra het vir hulp as jy geld nodig gehad het,” vra Robert. Met pyn in sy hart besef hy Karel se storie is waar.

   “Omdat ek aan julle ‘n punt wou bewys Ouboet. Ek wou vir jou en jou pa wys dat ek ook sonder enige hulp, ryk kan word. En weet jy wat Ouboet, ek is ryk. Skatryk,” Karel gee ‘n roggellaggie, wat ‘n naar kol op Robert se maag agterlaat.

   Robert moes met die aanhoor van die sirenes sy greep verslap het. Karel ruk met geweld los en begin hardloop. Robert probeer keer, maar dit is te laat. Die polisievoertuig tref Karel noodlottig.

   Robert sak voor Karel op sy knieë neer. Sy skouers ruk van die harde rou snikke uit sy bors.

   ‘n Sagte armpie gaan vertroostend om sy nek. Met teerheid neem hy vir Erna in sy arms, dankbaar dat sy niks oorgekom het, in hierdie nag van onheil nie.

© ANS BOTHA


Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 9520
  • Gender: Female
Re: Nag van onheil (kortverhaal)
« Reply #1 on: October 02, 2014, 09:47:38 AM »
'n Hartseer verhaal.  Dankie vir die deel Ans.   :hello:
Om te weet is om te verstaan.

Offline Ans Botha

  • Regular Members
  • Snuiter
  • Posts: 364
Re: Nag van onheil (kortverhaal)
« Reply #2 on: October 03, 2014, 08:51:21 AM »
Dankie PM. Amper gedink niemand gaan dit lees nie! Ek waardeer jou saamlees altyd. Goed om jou so af en toe hier te sien