Author Topic: Pantser die renostertjie  (Read 1864 times)

0 Members and 1 Guest are viewing this topic.

Offline Anicia

  • Suigeling
  • Posts: 95
Pantser die renostertjie
« on: December 20, 2013, 10:42:32 AM »
Pantser die renostertjie

Die son begin stadig sy verskyning maak en die voëltjies begin vrolik te sing in die bos. Dit is die dag waarop die baba renostertjie sy verskyning maak. Sy mamma is so opgewonde om haar babatjie te kan aanskou. Sy besluit om hom Pantser te noem. Pantser maak klein piepgeluidjies en spring vrolik rond. Sy mamma waarsku hom om nie te ver van haar te gaan nie, want die bos is vol gevare en hulle is oral blootgestel daaraan. Pantser sukkel om dit te glo, want die rustigheid van die bos en gevaar, pas net nie bymekaar nie. Mamma renoster besef alte goed hoe groot haar verantwoordelikheid is om haar kosbare babatjie te beskerm en te leer.
Verder weg in die bos is Roland, die boswagter, bewus van die renoster se beweging. Hy en sy helper, Jaap, volg die mamma renoster al vir lank. Hulle weet ook van die kleintjie wat sy moet kry. Dis ‘n groot vreugde en Roland het ‘n sendertjie in haar vel gesit om haar te kan opspoor. Hy is versot op die trotse groot diere. Die mensdom met sy onverskilligheid teenoor die diere kan hy net nie verstaan nie. In al die maande wat hy met renosters te doene het, was nog nie een teenoor hom kwaai nie.
Iets kielie Pantser op die oor en sy oor draai soos ‘n klein radertjie heen en weer. Hy word wakker waar hy en sy mamma in die lekker modder lê. Hy is lui en gee ‘n lang gaap. Sy mamma glimlag vir hom en maak haar oë toe. Al is haar oë toe, hoor sy elke geluid. Pantser se ma staan  op vanuit die modder en loop na die naaste graspolletjie en begin vreet. Panster is ook honger en drink ‘n paar slukkies aan sy mamma. Hy skrik toe ‘n wit voël op hom kom sit en agter sy oor pik. Hy begin hardloop om weg te kom van die wit boelie en sy ma roep hom terug. Ewe gedwee kom hy na haar toe aangestap. Sy het self geskrik toe haar kleintjie sommer begin hardloop. Hy leer elke dag so baie en geniet die lewe ten volle.
‘n Paar zebra’s hardloop met ‘n spoed verby Pantser en sy ma. Hulle lyk benoud en so in die hardloop skree hulle dat daar gevaar is en hulle moet maak dat hulle wegkom. Daar is nie tyd om uit te vind wat dit is nie, want drie kameelperde hardloop asof hulle lewens daarvan afhang. Vir Pantser lyk dit so snaaks om die lang diere te sien hardloop, dat hy kliphard lag. Dit lyk dan of hulle nekke wil knak. Hy kyk op na sy ma of sy ook lag, maar sy is baie benoud. Om te oorleef in die bos, moet daar na tekens opgelet word en hierdie is een van daai tekens. Sy roep na Pantser en hulle hardloop soos een renoster agter die ander diere aan, sy aan sy. Na ‘n lang tyd se hardloop, kom hulle uiteindelik tot stilstand. Twee neushoringvoëls kom te lande op die grond nie ver van Mamma en baba renoster nie en vertel hoe leeu ‘n rooibok ram gevang het. Leeus sal renoster baba’s eet as hulle die kans kry en Mamma renoster maak seker dat Pantser dit verstaan.
Op ‘n dag word Mamma renoster siek. Panster sien dat sy Mamma glad nie goed voel nie, want sy wil nie soos gewoonlik dat hulle mekaar jag nie. Roland sien op sy sender dat die renosters glad nie rondbeweeg nie en hy begin bekommerd raak. Hy ry met sy jeep na hulle toe en sien dat die mamma verlep lyk soos ‘n blom wat lanklaas water gekry het. Hy besluit op die daat om haar met ‘n verdowingspyl te skiet om haar te laat slaap. Hy sal moet bloed trek om uit te vind wat fout is en hy sal moet vinnig maak, die weer steek op en binnekort kan ‘n storm losbars. Hy skiet die ma en die pyl tref haar. Die renosters hardloop ‘n ent en die ma renoster sak grond toe.  Arme Pantser skrik groot toe hy sy ma op die grond sien val en skree soos ‘n mens babatjie. Hy vrees dat sy ma dood is en bly om haar rondhardloop en kla. Hy probeer haar kop oplig met sy koppie, maar niks gebeur nie. Roland weet dadelik as hy nie ‘n plan gaan maak nie, hy nie die mamma sal kan help nie. Die baba renoster wil nie sy Mamma los nie. Sy hartjie is so seer oor sy Mamma en hy liefie haar net te veel dat sy iets moet oorkom. Roland besluit om die baba renostertjie ook aan die slaap te maak. Dis al uitweg hoe hy die mamma kan help.
Met altwee renosters aan die slaap, spring Roland en Jaap aan die werk. Hy kry sy gereedskap reg om bloed van die mamma renoster te trek. ‘n Kwêvoël  bly geluide maak en sit in die naaste doringboom en kyk wat die tweebeen dier aanvang. Binne ‘n ommesientjie is alles verby. Roland en Jaap maak dat hulle wegkom voor die renosters wakker word, maar hou tog ‘n wakende ogie deur ‘n verkyker vir ingeval honger roofdiere prooi soek om te eet. Die renosters word stadig wakker en Pantser is verheug om te sien sy Mamma is weer op die been. Hy was baie bekommerd oor haar. Die bloedtoetse het niks ernstig gewys nie en binne ‘n paar dae was Mamma renoster weer renoster fris.
Pantser se radar oortjies tel ‘n snaakse brom geluid op. Hy begin ook al hoe meer bewus word van al die tipes geluide en elke dag vra hy hope vrae. Sy Mamma gee glad nie om vir al die vrae nie en antwoord rustig en geduldig elkeen. So leer Pantser alles en is dit net tot voordeel vir hom. Om terug te kom na die vreemde brom geluid wat Pantser gehoor het. Pantser wil graag weet watter geluid so maak en hy maak sy mond oop om sy Mamma te vra, maar sy Mamma is besig om met ‘n ander renoster te praat en hy weet maar alte goed dat as sy Ma praat, hy haar nie in die rede mag val nie.
Hy loop saggies op sy vet beentjies agter ‘n groot klip verby, opsoek na die bromgeluid. Hy weet nie wat hy verwag het om te sien nie, maar voor hom staan groot swart voëls. Hulle het vreemde rooi belle wat aan hul bekke vas is en sulke snaakse oë met lang ooghare. Hy groet hulle ewe beleefd : “Hallo tannies!” Die kwaai kyke wat hy kry, hou niks goeds vir hom in nie. “Wie dink jy is jou tannies, mmm?”, vra die voël wat die naaste aan hom staan. “Ons is almal manlike bromvoëls  en hier is geen tannies hier rond nie.” “Ag Brommie, die arme renostertjie kon mos nie raai ons is manlik nie, kyk dan jou lang ooghare”, sê ‘n ander bromvoël en lag. Pantser is nie lus vir die gebrommery nie en gaan soek sy Ma wat intussen na hom begin roep het. Hy vertel haar die hele petalje en sy besef hoe baie hy nog het om te leer. Eintlik is sy lekker vies vir hom, want hy het haar laat skrik toe sy hom nie sien nie.
Dit raak vinnig donker en dit is die tyd van die nag wat Pantser weet om veral nou baie naby aan sy Mamma te bly. Roofdiere begin jag en leeus is bekend daarvoor om hierdie tyd van die aand te begin jag. Sy ma het hom vertel van hiënas ook. Hulle klink vir hom gevaarliker as leeus. Sover was hy baie gelukkig om nog nie ‘n hiëna te sien nie en hy wil ook nie. Leeus het hy al gesien toe hulle gelê en slaap het. Hulle het ‘n ent van die leeus verby gesluip een agtermiddag, oppad watergat toe. Dit was so ampertjies of hulle het die leeus se skerp tande ontmoet.
Op kwêvoëls kan hulle reken bedags. Daar is nou groot staatmakers wanneer kwêvoëls kwê roep, weet hulle dat daar gevaar is. Ongelukkig slaap die voëls saans en moet renosters op en wakker wees. Die nag kruip verby en Pantser voel verlig. In die dag voel hulle meer veilig.
By die watergat waar hulle lief is om water te drink, ontmoet hulle ander renosters en word nuus uitgeruil. Hier hoor hulle baie slegte nuus van die mens wat groot skade en gevaar vir renosters inhou. Pantser sien die angs op sy mamma se gesig en weet dit is nie goeie nuus nie. Hy kan nie lekker hoor wat gepraat word nie, want as die volwasse renosters gesels, mag die jongklomp nie naby wees nie. Splinter, sy maatjie renoster, gesels ook so baie dat Pantser nie kan afluister nie. Hy hoop sy Mamma vertel hom later. Splinter kom uit met die nuus. Hy vertel vir Pantser dat die mens renosters begin uitskiet vir hulle horings en dat nie een van hulle meer veilig is nie. Pantser word ook baie bang, want as sy Mamma geskiet word vir haar horing, sal hy dit nie oorleef nie. Hy weet dit net. Hy is daarna ekstra op sy hoede. Hy wink  vir kwêvoël nader en vertel hom om hulle te waarsku as die mens in die omgewing is. Hulle gaan beslis nie deel word van die res van die renosters wat reeds met hulle lewe geboet het nie.
Die dag het aangebreek wat Pantser self groot geword het. Hy moes op sy eie begin loop, want aan sy ma se sy kon hy nie langer bly nie. Die ander renosters sou vir hom lag. Hy het nog boeties en sussies bygekry en elkeen is al groot. Die stropery van renosters het baie van hulle getalle minder gemaak. Dinge verbeter nie, maar vererger elke dag. Die bosduiwe is hulle nuusdraers en dit het tyd geword vir vergadering. Pantser is in beheer van die vergadering en die bosduiwe het hulle werk deeglik gedoen om die nuus van die vergadering te versprei. Oral waar Pantser kyk, is diere oë wat vir hom kyk. Die hiënas kan nie ophou giggel nie, want hier sal hulle nie honger ly nie. Leeus gee ook nou en dan ‘n brul net om te wys dat hulle nog steeds koning is, al is Pantser in beheer van die vergadering. Apies sukkel om stil te sit, want oral op hulle kriewel die vlooie. Bobbejane sit skaamteloos mekaar se vlooie en soek en luiperd lyk baie verveeld. Te veel diere om op te noem.
Pantser maak keel skoon en begin praat. Hy verduidelik aan almal waarvoor om uit te kyk as hulle ‘n stroper sien. Rooibokke het nie verniet horings nie, hulle kan die stampwerk doen. Zebra’s kan die skopwerk doen en die ander roofdiere die bytwerk. Aasvoëls kan die lug dophou. Hulle het skerp en wakker oë, spinnekoppe moet ook byt, kwêvoëls weet om te waarsku. Olifante loop saggies en moet die stropers bekruip en met hul afreken deur hulle slurpe te gebruik. Die diere is almal bereid om te help, want mors met hierdie diere ryk en jy mors met almal. Die diere besef alte goed dat dit nie saak maak hoe groot of klein nie, elkeen speel ‘n belangrike rol vir die omgewing. Dinge sal ten goede uitwerk, veral met Roland en Jaap, die boswagters se getroue hulp. As die mens nie ook sy deel doen deur saam te staan en hulle beskerm nie, sal die renoster bevolking heeltemal uitsterf.
                                                    Die einde
« Last Edit: July 02, 2019, 09:01:16 PM by Anicia »