Author Topic: Soos n vissie in die water  (Read 2427 times)

0 Members and 1 Guest are viewing this topic.

Offline Anicia

  • Suigeling
  • Posts: 95
Soos n vissie in die water
« on: November 25, 2013, 12:21:32 PM »
Soos ‘n vissie in die water

Klein Hanro word met ‘n ruk wakker. Hy hoor hoe die wind die takke teen sy kamervenster kap. Hy draai op sy ander sy en probeer weer aan die slaap raak, maar tevergeefs. Hy verbeel hom hy hoor ‘n klop aan sy kamervenster. Soms wanneer hy sukkel om te slaap, dink hy aan iets lekker. Iets soos ‘n besoek aan die dieretuin, ‘n kamp in die bos of sy ma se heerlike sjokolade poeding wat sy so lief is om te maak.
Hierdie keer help daardie gedagtes niks en hy hoor weer die geklop aan die venster. Hy besluit om op te staan en te kyk watter tak so klop, want dit gaan hom bly hinder. Hy gly van die bed af en loop tot by die venster. Hy trek die gordyn weg en sien ‘n ronde liggie. Hy maak sy ogies toe en weer oop. Daar is die liggie nogsteeds. Die keer ‘n bietjie nader. Hanro maak die venster oop en hy hoor, “Kom saam Hanro.” Hanro steier agtertoe, so skrik hy. Hy is nie oor die algemeen ‘n bang seuntjie nie, maar dit het hy nie verwag nie. Hy besluit om saam te gaan, want vir ‘n avontuur sien hy altyd kans. Hy hou sy oë op die liggie en hy kom nie eers agter hoe ver hy agter die liggie aangeloop het nie, tot hulle by ‘n groot dam kom. Die liggie beweeg oor die damoppervlak en sê vir Hanro om in te spring, maar hier trek Hanro die streep.  Sy pa waarsku hom gereeld om nie sonder grootmens toesig in water te speel nie. Hy skud sy kop en sê vir die liggie dat hy nie mag nie. Die liggie belowe dat niks met hom sal bebeur nie, hy moet net sy asem ophou en spring. Met die troos dat hy enige tyd weer op kan kom om asem te skep, trek Hanro sy longe vol lug, hou asem op en spring in die water. Die liggie is saam met hom onder die water en hy voel sommer veilig. Hy volg die liggie en swem soos ‘n vissie in die water.
Hulle swem in ‘n glastonnel en hier sypel die water by klein gaatjies uit, totdat die tonnel heeltemal droog is. Dit was ook net betyds, want Hanro snak na asem. Nog nooit was asem vir hom so kosbaar nie en hy self het nie geweet hy is daartoe in staat om so lank asem op te hou nie. Voor in die tonnel is ‘n tafeltjie en Hanro stap daarheen. Daarop vind hy ‘n hangertjie met ‘n skulpie aan. Op presies dieselfde oomblik wat hy die hangertjie optel, hoor hy ‘n sagte stem praat. “Hierdie is ‘n towerskulp en jy moet dit  om jou nek hang voor jy die deur oopmaak. Die skulp gaan jou help om onder water te kan oorleef. Sorg dat jy dit nie verloor nie, anders gaan jy verdrink.” Hanro kyk rond, maar sien niemand. Hy wonder ook waarheen die liggie verdwyn het. Hy trek sy skouers op en besluit om die hangertjie om sy nek te hang. Basta daarmee as iemand dink hy is soos ‘n meisie, hier gaan dit om oorlewing.
Hanro maak die tonnel se deur oop en hy bevind hom onder die see. Dis vreemd! Hulle bly so ver van die see af, dat dit hulle amper ‘n dag en ‘n half vat om by die see uit te kom met vakansie en hier is hy sommer in ‘n kort rukkie se tyd. Hy verkyk hom aan al die visse wat verby hom swem. Visse wat hy nooit sien as hulle vakansie hou nie. Party blaas somer op as hulle hom sien. Daar is pragtige bont visse, minder mooi visse en alle groottes wat mens aan kan dink.
Hanro het ‘n spesifieke een wat hy aan dink wat hy graag wil sien en hy weet nie of dit ‘n vis genoem kan word nie. Hy wil graag ‘n meermin sien. Almal by die skool lag vir hom omdat hy een wil sien, want hulle sê meerminne bestaan nie. Sy gedagtes is skaars koud, toe iets hom teen sy boud stamp. Hy kyk agtertoe en sien die vriendelikste gesig. Dit is ‘n dolfyn. Die dolfyn glimlag en sê hy sal Hanro soontoe neem. Hanro is verbaas. Hoe weet dolfyn waarheen? Hy glo nie hy het hardop gepraat nie. Dolfyn lag net en stel homself voor as Kolkie. Die liggie het hom gestuur om na Hanro te soek. Sy moes terugkeer na die meerminne. Hy het geweet wat Hanro se wens is, die oomblik wat Kolkie hom gesien het. Hanro weet teen die tyd dat enigiets moontlik is. Kyk dan net waar is hy dan. Onder die see! “Gryp net aan my stert en hou styf vas”, sê Kolkie. Hanro gryp Kolkie se stert en daar gaan hulle. Met sy tande byt hy die skulp vas, bang hy verloor dit. Kolkie maak ‘n vrolike geluid soos net Dolfyne kan maak. Hanro voel hoe glad die dolfyn is en kan nog steeds nie sy geluk glo om te wees waar hy nou is nie en boonop swem hy saam met ‘n dolfyn! Hy wonder of Kolkie regtig weet waar die meerminne bly en of hy nie net ‘n grappie gemaak het nie.
Voor Hanro se verbaasde ogies, sien hulle ‘n groot donker massa in die verte. Hy kan nie lekker sien wat dit is nie en besluit om geduldig te wag om te sien wat dit kan wees. Hy kan nie vir Kolkie vra wat dit is nie, want hy het nog die skulp tussen sy tande. Hulle nader die donker massa vinnig en dit verander in ‘n kasteel. Die kasteel bestaan uit mure van seesand gebou, groot vensters en hoë torings. By ‘n groot houtdeur klop Kolkie met sy bek en die deur kraak oop. Hanro los Kolkie se stert en hulle swem by die kasteel in. Daar is ‘n trompet geskal en oral borrel meerminne en meermanne deur deure en vensters en swem na die binneplein.  Dit is ‘n bontspulletjie, want almal het verskillende kleure sterte. Hulle kyk nuuskierig na Hanro en wonder wat hy daar maak. Hulle weet sommer hy is nie gevaarlik nie, want hy het die oulikste en vriendelikste gesiggie. Hulle het self nog nooit ‘n mens gesien nie. Almal word stil en kyk afwagtend na die een groot deur. Dit gaan oop en Hanro wonder wat nou gaan gebeur. ‘n Seeperdjie kom uit en hy lyk vreeslik belangrik, het nogal ‘n strikdas om sy nek van seewier gemaak. Hy swem eenkant toe en wag. ‘n Groot meerman en kleiner meermin kom uitgeswem. Altwee het goue krone op hul koppe en die meermin se hare is vreeslik lank en blink soos goud. Aan haar sy is dieselfde liggie wat hom kom roep het by sy huis.
Die meerman stel homself aan Hanro voor as die koning van die meermin koninkryk. Sy vrou is die koningin en hulle voel bevoorreg om Hanro by hulle te hê. Hulle wag al lank vir hom om te kom kuier en ook van sy wens om hulle te sien. Hy noem Hanro hulle eregas en hy straal van genot. Hy verkyk hom aan die belangrike koning en koningin en hulle noem hom so ewe ‘n eregas. Hulle is dan die belangrikes hier rond. Die koning vertel hom dat hy die eerste mens is wat vir hulle kom kuier en watter voorreg dit vir hulle is om hom hier te kan ontvang. Hulle nooi hom om by hulle aan te sluit vir ‘n feesmaal en daar is selfs ‘n orkes. Die orkes bestaan uit visse wat musiek maak op verskillende instrumente wat gemaak is van skulpe. Hy het nooit geweet dat skulpe vir daardie doel gebruik kan word nie. Dit gaan te jolig en almal geniet dit om te dans en kos word aangedra deur dolfyne en pikkewyne.
Skielik is daar ‘n donker skaduwee wat oor die kasteel beweeg en almal vlug uit die binneplein na die kasteel se kamers. Kolkie trek met sy bek vir Hanro ook die kasteel in. “Wat is besig om te gebeur, Kolkie?”, vra Hanro. Kolkie waarsku vir Hanro om nie hard te praat nie. Die moordwalvisse is hier en hulle is die meerminne se grootste vyande. Hulle sal meerminne opeet binne ‘n oogwink. Hanro is baie bang, want hy wil nie walvis kos word nie. Die meerminne is al so op en wakker en met die inkvisse se hulp het hulle hulself verskans teen die walvisse. Net toe hulle die skaduwee gesien het, het al die inkvisse wat inwoon by die kasteel, boontoe geswem en hulle ink vrygelaat. Die walvisse is gefnuik en het weer weggeswem. Hulle het gedink die inkvisse het heeltemal mal geword om so jolig tekere te gaan met hulle ink, maar dit is net die inkvisse se saak wat hulle met hul ink aanvang en weg is die walvisse. Alles was weer veilig en kon die fees weer aangaan. Hanro gee groot gape en die meerman koning besef dat die mens seuntjie moet terugkeer na sy huis toe. Die koning dank Hanro dat hy vir hulle kom kuier het en nooi hom om gou weer te kom. Hanro dank hulle vir hul gasvryheid en belowe om gou weer vir hulle te kom kuier. Weer gryp Hanro Kolkie se stert vas en hulle swem terug na die glastonnel. Hanro plaas die hangertjie terug op die tafeltjie en swem weer saam met die liggie terug dam toe. Die liggie lei hom terug huistoe en by die tyd voel Hanro soos ‘n slaapwandelaar. Hy klim terug in die bed en slaap so vas soos ‘n klip. Sy klere is gelukkig droog en daar is geen sigbare tekens dat hy by die see was nie.
Die volgende oggend sukkel Hanro om op te staan. Eers kon hy nie verstaan hoekom nie en toe onthou hy. Hy is eers nie seker of hy net gedroom het nie, maar toe sien hy sy hele bed is vol sand. Vinnig ruk hy sy laken af en bondel dit onder sy arm. Hy hardloop buitentoe en skud dit uit. Seesand het mos die nare gewoonte om oral in te kom. Sy ma betrap hom onkant terwyl hy dit skud en hy laat val die laken uit sy hande van skrik. Hy begin hakkelend verduidelik oor die sand , maar sy ma glimlag net en vat die laken by hom. “Toemaar Hanro, ek moet dit in elk geval vandag was. Gaan maak jy klaar vir skool, meneertjie.” Hanro haas hom terug na sy kamer. Hy wens hy het iets gehad om sy maats daarvan te oortuig dat meerminne wel bestaan, maar hy besef iets anders. Hulle sal nie weet wat om met daardie waarheid te maak nie. Hanro besef dat die meerminne net vir hom gekies het om hulle aan hom te onthul en hy voel baie trot daarop. Hy het nie nodig om enigiemand anders daarvan te oortuig nie. Solank net hy daarvan weet. Met daardie lekker wete, trek hy sy kamerdeur agter hom toe en gaan skooltoe.
                                                                                                     
                                                                                         :read2: Die einde

Offline Fransi

  • Regular Members
  • Melkbaard
  • Posts: 1274
Re: Soos n vissie in die water
« Reply #1 on: November 25, 2013, 04:00:11 PM »
Nog 'n heerlike avontuur. Mooi geskryf.

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10692
  • Gender: Female
Re: Soos n vissie in die water
« Reply #2 on: November 25, 2013, 10:17:07 PM »
Ek weet sommer as hier 'n nuwe verhaaltjie is gaan ek lekker lees en geniet.  Baie dankie Anicia, baie mooi geskryf. 
Om te weet is om te verstaan.

Offline Anicia

  • Suigeling
  • Posts: 95
Re: Soos n vissie in die water
« Reply #3 on: November 26, 2013, 08:49:49 AM »
Baie dankie Fransi en PM vir julle inloer en belangstelling! Dis baie lekker om van julle te hoor en asb as julle enige foute sien, laat my weet. Dit help baie. :hello2:

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10692
  • Gender: Female
Re: Soos n vissie in die water
« Reply #4 on: November 27, 2013, 02:07:24 AM »
Dis 'n voorreg om jou goed te lees Anicia. 

As jy sou belangstel om deel te wees van boek drie, dan doen ek die proeflees voor die plasings. 
Om te weet is om te verstaan.