Author Topic: Vicky se verandering  (Read 3198 times)

0 Members and 1 Guest are viewing this topic.

Offline Anicia

  • Suigeling
  • Posts: 95
Vicky se verandering
« on: November 12, 2013, 08:01:23 AM »
Vicky se verandering

Vicky sit in haar kamer op haar heel gunsteling plek, haar vensterbank. Dit is lekker groot en met helderkleurige kussings versier. Sy onthou nog toe hulle na die huis getrek het en sy soos ‘n warrelwind die huis ingestorm het. Sy het van vertrek tot vertrek gehuppel en by die kamer tot stilstand gekom. Sy kon sien hoe sy net hier op hierdie einste vensterbank nog lekker gaan sit en dagdroom. Sy het die kamer as hare gekies en hier het sy al baie tyd spandeer. Vandag voel sy nie lus vir dagdroom nie. Sy is te bekommerd. Die nuus wat sy gekry het vanoggend, het haar die hele dag al aan die dink.
Hulle het soos gewoonlik aangesit vir ontbyt en terwyl sy nog oppad was om haar pap te hap, het haar pa na hulle al drie gekyk en gesê : “Ons gaan trek.” Die drie woordjies het haar hele lewe omgekeer. Die lepel het met ‘n knal teruggeval in die papbakkie. “Ons gaan na ‘n plaas toe trek en net gister het ek en jou ma daarna gaan kyk.” Haar pa verduidelik dat dit net ‘n entjie uit die dorp is. Bella, haar sussie, het hul pa aangekyk met ‘n wye glimlag.
By die skool vertel sy pouse vir haar beste maaitjie, Rieks, van hul planne om plaas toe te trek. Rieks kyk haar geskok aan  en sê: “ Dan gaan jy ook ‘n koshuisbrak word. Dit is wat gebeur as kinders op ‘n plaas woon. Hulle gaan bly in koshuise en gaan net naweke en vakansies huistoe.” Vicky hou niks van daardie gedagte nie en dis hoekom sy so bekommerd is. Sy gaan nou moet koebaai sê vir Snoekie wat verlede jaar in hul tuin begrawe is. Dit was haar hondjie wat katgriep gekry het. Ook haar gunsteling boom met hul boomhuis gaan nie meer deel wees van haar lewe nie en om alles te kroon, gaan hierdie vensterbank iemand anders sin word. Sy begin huil, want niks sal ooit weer dieselfde wees nie. Haar ma kom haar kamer binne en sit langs Vicky op die vensterbank. Sy kan raai hoekom Vicky huil, want nadat hulle die nuus gekry het, het Vicky baie geskok gelyk. Sy hou Vicky styf in haar arms vas en vee dan Vicky se traantjies saggies af. “My kindjie, hou nou op met huil,” sê sy, terwyl sy haar dogtertjie se haartjies streel. “Ek weet dit is vir jou ‘n hartseer gedagte, maar dink net aan die nuwe avontuur wat op ons wag.” Vicky kyk op na haar ma, haar ogies dik en rooi gehuil. “Ek wil nie trek nie, Mammie. Rieks sê ek gaan ‘n koshuisbrak word en ek wil nie koshuis toe gaan nie!” roep Vicky desperaat uit. “My wêreld Vicky! Jy moenie jou ore uitleen aan iemand wat niks weet waarvan sy praat nie.” Haar ma klink sommer vies. “Dit beteken nie as mens op ‘n plaas bly, jy MOET koshuis toe gaan nie. Omdat ek nogsteeds in die dorp moet werk, sal ek of jou pa vir jou en jou suster skool toe vat. Ons bly darem nie so ver uit die dorp nie.” Vicky voel sommer al klaar bietjie beter, want dit is al klaar ‘n groot troos. Haar ma vertel haar ook dat sy wat Vicky is, sommer baie beter sal voel as sy en Bella ook die plaas gesien het.
Die volgende oggend is Saterdag en hulle besluit om uit te ry plaas toe sodat Vicky en Bella ook kan sien hoe dit daar lyk. Hulle glo dit sal vir altwee ‘n yslike verrassing wees. Bella kan nie haar opgewondenheid wegsteek nie. Sy is net mooi die teenoorgestelde van Vicky wat hartseer en onseker voel oor die trekkery. Bella sien verskriklik uit na die plaas. Die storieboekies wat sy het is oor plaasdiere. Sy wil sommer al die diere hê wat op ‘n plaas hoort. Vicky dink aan hoe eensaam sy gaan wees sonder maats. Sy is gewoond om gereeld by Rieks te kuier sodra haar huiswerk klaar is of Rieks by haar. Sy is so diep ingedagte dat sy nie agterkom hulle ry deur ‘n groot plaashek met wit pilaartjies aan albei kante van die hek nie. Sy kyk eers op toe haar pa opgewonde uitroep. “ Hier is ons!” Bella peul by die deur uit en lag vrolik. “Hier is ons plaas, hier is ons plaas,” sing sy. Sy hop op en af van opgewondenheid en klap haar handjies. Blink ogies kan nie genoeg inneem van die wyd uitgestrektheid van die werf nie. Hul ouers lag en klim ook uit, maar Vicky is bang. Sy ken nie plaaslewe nie.
Vicky klim huiwerig uit en sien voor haar ‘n groot huis. Dit is ‘n pragtige plek en die tuin net so mooi, vol blomme. Sy sien baie speelplek vir haar en Bella, ‘n groot grasperk wat die huis omring. Hulle stap die huis binne ‘n groot swart vrou kom na hulle toe aangestap en stel haarself aan hul voor as Lien. Sy werk al jare hier en sal vir hulle ook werk. Die huis is bietjie vol stof, want sy was met verlof. Vinnig sal sy dit vir hulle weer regruk. Haar ma weet sommer sy het ‘n staatmaker gevind in Lien.
Bella trek Vicky aan haar mou om saam met haar buite te kom kyk. By die agterdeur is ‘n tamaai groot boom en as mens mooi kyk, lyk dit of die boom vir hulle glimlag. Vicky knip haar ogies en sien ja, sowaar! Die boom lyk vriendelik. By die boom se stam is ‘n leertjie en dit lei tot bo. Hierdie boom is hoog! Hulle is net oppad om op te klim, toe hul ouers hulle roep. Hulle besluit om later weer te inspekteer en gaan terug in die huis. “Julle moet jul kamers kies,” sê hul ma. “More kom die meubels en wil ons dadelik alles regskuif en moet dit op die regte plekke kom.” Die dogtertjies loop in die lang gang af en Vicky staar met verstomming by die eerste kamer in. Hier is twee vensters elk met groot vensterbanke! In die een muur is ‘n groot inloop kas. Haar hartjie klop vinnig van opgewondenheid soos ‘n perd wat galop. Kadoem, kadoem. Hierdie kamer is goed genoeg  vir ‘n prinses en sy voel sommer soos een. Bella se kamer is oorkant hare en is net so groot. Vicky sin is geel uitgeverf en Bella sin pienk. Vicky weet sommer, hier gaan hulle lekker woon.
Vicky is ‘n ander kind toe hulle later van die plaas af ry. Sy sien vreeslik uit na die avontuur waarvan haar ma gepraat het. Die boom by die agterdeur is ‘n groot deel van haar en Bella se geklets toe hul terugry dorp toe. Hulle ouers glimlag vir mekaar, te bly oor hul kinders se opgewondenheid.
Die trek is uiteindelik agter die rug en amper alles is op hul plek. Hier en daar staan nog houers met goed in wat wag op ‘n plekkie. Die dogtertjies is verantwoordelik vir elkeen se eie kamer om dit uit te sorteer. Daar is nie baie tyd om te ginnegaap nie en Maandag is weer skool. Almal moet vroeër opstaan om klaar te maak vir werk en skool. Hul pa moet doen wat ‘n plaasboer moet. Die week vlieg verby met alles wat te doene is. Huiswerk is baie en tyd vir speel, min.
Vicky kan nie wag om by die huis te kom die Vrydag nie. Terwyl hulle terugry plaas toe, dink sy terug aan die eerste oggend wat hulle wakker geword het van die snaakse geluide. In die dorp is dit net geraas van motors en sirenes. Hier op die plaas is dit die dieregeluide wat baie mooier is. Eeste een natuurlik, die hoenderhaan. Daar is nou ‘n raserige een wat almal wen met sy gekraai. Hy haal daai kraai sommer van diep onder af. Die beeste wat bulk en skape wat blêr. Die voëlgeluide is nog die mooiste.
By die plaas aangekom, word hul skoolklere dadelik verruil vir hul gemaklike klere en die twee dogtertjies kies natuurlik die boom om eerste te verken. Daarvoor wag hulle al lank. Vicky klim eerste teen die leertjie op, want sy is die oudste en braafste. Bella gee glad nie om nie. Hulle klim hoog en Vicky waarsku vir Bella om nie af te kyk nie. Hulle is uiteindelik bo en trap op ‘n platvorm gemaak van stewige planke. Dit lyk skielik skemer toe hulle tussen die digte blarekoepel staan. Nie ‘n stippeltjie son waag dit om mee te ding met die digtheid van die blare nie. Dit is eintlik vreemd om so baie blare op ‘n boom te sien. Daar is ‘n deurtjie op die platvorm. Vicky maak dit versigtig oop. Bella gryp Vicky se hand vas, skielik bang vir wat aan die ander kant wag. Gelukkig het sy, anders het Bella alleen op die platvorm agtergebly. Die oomblik wat die deurtjie oop is, word altwee meisies die boom ingesuig. Hulle gly by ‘n gladde tonnel af met swaaiende arms en styfskoppende bene. Hulle val op ‘n groot, sagte malvalekker. Dit is so sag dat hulle vir ‘n rukkie net doodstil lê. Hulle kyk mekaar met groot oë aan, te bang om ‘n geluid te maak en dan bars hulle uit van die lag. Die malvalekker smelt en hulle kom op die grond te lande, taai van kop tot tone. Nadat hul opgestaan het, soek hulle vir ‘n deurtjie. Nou moet hulle die boom verken.
‘n Geel pyltjie flits aan en af. Dit is ‘n aanduiding waar om deur te stap. Hulle hoor ‘n vreemde geluid en stap in die rigting daarvan. Dit kom uit ‘n kamer waarvan die deur toe is. Bella gryp die deurknop vas, tel tot drie en draai die knop. Die deur maak met ‘n kraak oop en voor hul verbaasde ogies sien hulle net paddastoele oral in die kamer groei. Verskillende groottes en kleure paddastoele staan daar rond. ‘n Spinnekop vol gekleurde kolle en agt harige bene bewaak die paddastoele. “Wat maak julle hier?” vra hy. Die dogtertjies skrik vir die pratende spinnekop en verduidelik al hakkelend van hoe hulle hier gekom het. Die spinnekop stel homself aan hulle voor as Spinnie. Hy woon al jare in die boom. Al wat hy eet is paddastoele en hy hou ‘n wakenede ogie oor sy kossies. Die boom is Spinnie se beste vriend en dit bied hom en nog diertjies skuiling en hulle sal alles doen om die boom te help bewaar. Hulle vertel vir hom dat hulle nou hier gaan woon. Spinnie is baie bly om dit te hoor en vra hulle om nie vir ander te vertel van die boom en wat hulle hier sien nie. Mense sal dit wil vernietig en hulle belowe plegtig om dit vir hulself te hou.
Die dogtertjies groet vir Spinnie en hulle verken die boom verder. Hulle kom by ‘n volgende deurtjie en hier vind hulle ‘n gesinnetjie molle bymekaar. Die kamer is belig met dowwe liggies, want molle het nie lig nodig nie. Hulle maak staat op reuk en gehoor en is vriendelik met die meisies. Vicky vra vir die molle wat hulle daar maak en die pappa mol vertel hulle dat mense hulle gate begin toemaak het en hulle in gevaar verkeer het. Dit het hulle laat vlug en hier in die boom het hulle skuiling kom vind.
Daar is oral kamertjies en klomp diertjies bly hier. Selfs voëltjies het hier ‘n plekkie gevind. Elkeen het ‘n storie en die kinders luister aandagtig en word net meer bewus van hoe baie die boom vir elkeen werd is. Die dogtertjies besluit om ook die boom te beskerm, maak nie saak wat nie. ‘n Groter kamer lewer ‘n groot verrassing op. Dit is propvol boeke, van hoek tot kant. ‘n Groot uil woon hier en hy vertel hulle dat hier nie ‘n boek is wat hy nog nie gelees het nie. Hy is vol kennis en kan enige vraag beantwoord. Hy woon hier vandat hy gebore is. Bella kan haar verkyk aan sy groot geel oë. Sy kan die slimmigheid sommer daarin sien.
Nadat hulle die boom verken het, besluit hulle om die uitgang te soek. ‘n Eekhoring kom hul tegemoet en hulle vra hom waar om die uitgang te vind. Hy bied vriendelik aan om hulle dit te wys. Terwyl hulle saam met hom loop vertel hy hulle dat die mense wat die huis voor hulle gehad het, hom eendag langs die pad gevind het. Iemand het hom raakgery en die mense het hom na hul huis gebring en hom gesond gedokter. Nadat hy gesond was, het hulle hom hier in die boom vrygelaat en hier woon hy van toe af. Die boom voorsien aan hom neute en hy verwyder skadelike goggas wat die boom wil vreet.  “Nou ja, hier is die verskuilde deurtjie waar julle kan uitgaan en ons hoop julle bly baie lekker hier op die plaas,” sê hy en verlaat hulle haastig. Die meisies loop uit die boom en steek verbaas vas toe hulle ‘n diep stem agter hulle hoor wat sê: “Kom kuier gerus gou weer, dogtertjies.” Die boom glimlag vriendelik en lag toe hy hulle stomme verbasing aanskou. Hulle waai vir die boom en kruip deur die struike wat die verskuilde deurtjie versper. Hulle kan nie glo dat die verkenning van die boom hulle ‘n hele middag gevat het nie. Aan tafel die aand babbel die tweetjies die hele tyd. Hulle ouers kan nie regtig uitmaak waaroor dit gaan nie en  moet hulle daaraan  herinner om hul kos te eet. Na ete gaan klim Vicky in haar bedjie en lê nog ‘n rukkie wakker en dink aan alles wat nog vir hulle wag hier op die plaas. Bella is lankal in droomland, te uitgeput na die lekker dag. More is  nog ‘n dag wat wag om die plaas en al sy weggesteekte skatte te ontdek. . .

  :book1:
« Last Edit: June 30, 2015, 07:55:39 PM by Anicia »

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10692
  • Gender: Female
Re: Vicky se verandering
« Reply #1 on: November 12, 2013, 09:19:25 AM »
'n Mooi storie, boeiend geskryf Anicia.  Ek dink net 'n mens skryf "gehuppel".  Goed gedoen. 
Nog drie dae dan luister ons na jou ander storie op die radio!
Om te weet is om te verstaan.

Offline Anicia

  • Suigeling
  • Posts: 95
Re: Vicky se verandering
« Reply #2 on: November 12, 2013, 12:09:53 PM »
Dankie PM vir die belangstelling!  :angel8: Ek waardeer dit baie en weet jy elke storie wat mens plaas is mens nuuskierig oor die reaksie wat dit gaan kry. Dit doen mens goed om goeie kommentaar te kry. Ja, amper sulke tyd vir die storie oor die radio.  :read2:

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10692
  • Gender: Female
Re: Vicky se verandering
« Reply #3 on: November 13, 2013, 04:41:32 PM »
Dit is regtig jammer dat so min lesers kommentaar lewer.  Wees ook maar net geduldig, daar is goed wat ek al 8 jaar gelede op Woes geplaas het en ek kry nou nog kommentaar daarop.   :hello2:
Om te weet is om te verstaan.

Offline Ans Botha

  • Regular Members
  • Snuiter
  • Posts: 362
Re: Vicky se verandering
« Reply #4 on: November 13, 2013, 04:47:42 PM »
Anicia ek sal kom kommentaar lewer vanaand. Wou gou lees maar sien dit is bietjie baie leeswerk en ek moet gou ry. Sien jou vanaand.

Offline adele

  • Hardebaard
  • Posts: 1932
  • Gender: Female
  • gryp na môre in klein-klein stukkies
Re: Vicky se verandering
« Reply #5 on: November 14, 2013, 11:46:32 AM »
watter radio? deel gou inligting?

 :grommit:
adéle  :grommit:

Offline Jeannedarc

  • Regular Members
  • Snuiter
  • Posts: 314
Re: Vicky se verandering
« Reply #6 on: November 14, 2013, 12:42:36 PM »
baie interessant, moet ek se (met 'n kappie op) maar die lapsis plumae is 'n nare ding. ek het ge-wonder oor die weggesteekte skate en onthou ek van ali baba en reken toe dit moet skatte wees  :love7:

Offline Anicia

  • Suigeling
  • Posts: 95
Re: Vicky se verandering
« Reply #7 on: November 14, 2013, 09:22:00 PM »
Adele, die storie "Die boekwurm" word more die 15de om 15:00 op Radio Panorama voorgelees. Frekwensie is 107.6 fm.  :wave:

Offline Anicia

  • Suigeling
  • Posts: 95
Re: Vicky se verandering
« Reply #8 on: November 14, 2013, 09:23:52 PM »
Dankie jeannedarc vir die uitwys van skatte, hulle het beslis nie geskate nie  :sign10:

Offline adele

  • Hardebaard
  • Posts: 1932
  • Gender: Female
  • gryp na môre in klein-klein stukkies
Re: Vicky se verandering
« Reply #9 on: November 15, 2013, 10:14:52 AM »
dankie! ek bly in Panorama-gebied en luister graag as ek by my skoottoppie is want die radioseine verdwaal soms

 :grommit: 
adéle  :grommit:

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10692
  • Gender: Female
Re: Vicky se verandering
« Reply #10 on: November 15, 2013, 01:27:31 PM »
Ek gaan sommer nou kyk of ek dit kan opvang.  Ek hoop tog so!  Hier in Annlin teen die berg is die seine baie swak. 
Om te weet is om te verstaan.