Author Topic: Peter Pandabeer  (Read 2669 times)

0 Members and 1 Guest are viewing this topic.

Offline Anicia

  • Suigeling
  • Posts: 95
Peter Pandabeer
« on: November 04, 2013, 12:19:26 PM »
 Peter Pandabeer

Peter Pandabeer is ‘n baie vriendelike beer wat woon in ‘n dieretuin in die grootte stad. Hy is baie lief vir die aandag wat die besoekers elke dag vir hom gee. Sy donker ogies kyk nuuskierig na elke mens en kind wat verby sy hok loop en wys. Hy is baie lief vir eet en sy pote gaan kort kort na sy mondjie om dit vol kos te prop. Peter Pandabeer is nie ‘n gewone pandabeer nie. Ja, hy hou nie van blare soos ander pandabere nie. Die kos wat hom gevoer word is, groente, neute, bessies en vir nagereg lekker koek. Wanneer hy nie koek kry nie, verander hy in die kwaaiste pandabeer wat niemand mee kan hok hou nie. Hy geniet ook ‘n borrelbad vreeslik. Die borrels gaan lê soms op sy snoet en hy kyk skoon skeel om in verwondering daarna te staar. Die borrels is vir hom al te lekker en hy voel soos ‘n splinternuwe panda na so ‘n bad. Hy sal daarna sommer net heerlik in die sonnetjie lê en droogbak.

Peter is weggevat van sy ma toe hy jonger was.  As dit nie vir Tommy, sy versorger, was nie, sou hy heeltemal ontaard het. Dit is een van die oggende wat hy onmoontlik is. Hy voel sommer vroeg uit sy plek uit. Hy kruip uit sy grot en gaan sit in die verste hoek van die hok. Peter hoor hoe die mense om hom praat en hoe die kinders van genot gil. Hulle wil net vir Peter Pandabeer sien. Tommy, sien Peter is in ‘n ongesellige bui en vermaan die ouers om hul kinders nie te naby toe te laat nie. Dit kan hom dalk net ontstel. Dit pas Peter Pandabeer uitstekend, want vir mense is hy min lus vandag. As hy net kon weg wees op ‘n plek wat ver ver weg is van mense af. Nou en dan gee hy ‘n grom. Skielik hoor hy ‘n stem naby hom. “Hey ou vettie! Hoekom kyk jy nie vir my nie. . mm?” Dit is Tommy en hy het bloedrooi hare wat penorent staan. Sy ma het altyd tevergeefs probeer om sy hare soggens plat te kam. Sodra sy klaar was, het dit net weer regop gespring. By die skool het die kinders hom nie Tommy nie, maar net ‘Spring’ soos in engelse rat, genoem. Dit het hom woedend gemaak en hom gereeld vuiste laat uitdeel. Hy is nou ouer en moet self sy hare versorg, maar dit help nie vir die gespot nie. Sy hare is sy grootste kopseer. Die skoolhoof is al raadop met Tommy, maar hy verstaan ook die arme kind se penarie. Hy het Tommy in ‘n spesiale program laat inskryf by die dieretuin sodat hy as straf na skool die diere moet help versorg. Vir Tommy is dit geen straf nie, hy geniet dit vreeslik en die opsigter van die dieretuin het hom aangestel om juis na Peter Pandabeer om te sien.
 
Tommy kyk na Peter Pandabeer en wonder hoe dit moet voel om so in ‘n hok opgesluit te wees. Siestog, arme beer. Mense bekyk elke dag die stomme dier en hy kan nie eers wegkruip nie. Tommy loop nader aan die hok en wil net aan die houtreëling vat, toe hy in ‘n klaar gekoude kougom trap. Hy lig sy voet op en die taai sondebok trek ‘n lang draad onder sy skoen. “Ag nee! Dis mos nou wraggies grillerig man!” roep Tommy uit.  Peter Pandabeer kyk na Tommy wat in hierdie snaakse posisie verkeer en begin lag. Hy lag en rol later op die gras in die hok rond soos hy lag. Dit veroorsaak dat al die besoekers op ‘n streep nader na die hok hardloop om na die snaakse spektakel te kyk. Nog nooit het Tommy of enigiemand anders so ‘n geluid uit Peter hoor kom nie. Tommy laat sy voet sak in verbasing. Hy kan nie glo wat hy beleef nie. Peter sit weer regop en knip sy ogies. Almal kyk vir hom. Hy self weet nie wat nou net gebeur het nie. Hy wil net weer teruggaan hoekie toe, toe Tommy weer sy voet oplig en Peter bars kliphard uit van die lag. Tommy besluit later om sy voet maar agter hom aan te sleep, want so iets kan nie gesond wees vir arme Peter nie. Die toeskouers begin beslangstelling verloor, maar loer kort kort nog om of hulle nie weer iets snaaks sal sien nie, maar dinge is weer rustig in die hok.
 
Tommy kan nie help om aan die diere in die dieretuin te dink nie. Daar het al ‘n band tussen hom en Peter Pandabeer ontstaan en soms kry hy die gevoel dat die beer net van hom hou. Die ander werkers by die dieretuin het al vir hom vertel hoe ongelukkig die beer lyk as hy wat Tommy is nie kom inloer nie. Hy wonder wat gaan gebeur wanneer hy nie meer daar gaan werk nie. Peter Pandabeer, jy moet ander belange kry, dis verseker, dink hy. Op ‘n stadium gaan Tommy Universiteit toe moet  gaan en sal hy nie elke keer kan teruggaan na sy diere vriend toe nie. Dit laat Tommy aan ‘n plan dink. Hy sal met die opsigter gaan praat sodat hulle vir Peter ‘n maatjie moet kry.
Sy gepraat lewer niks op nie en Tommy se dae by die dieretuin word min. Hy geniet sy werkies daar vreeslik en wanneer Peter Pandabeer in een van sy buie is, is dit weereens Tommy wat dit beter maak.
 
Wat Tommy nie weet nie, is dat die opsigter al in die geheim besig is om reëlings te tref vir ‘n maat om by Peter Pandabeer aan te sluit. Hy wil dit as ‘n verrassing hou vir Tommy se verjaarsdag. Dit is een van die dae die seun se verjaarsdag en hy wil saam met die res van die personeel ‘n spesiale geleentheid daarvan maak. Almal het al so geheg geraak aan Tommy wat so pligsgetrou sy werkies doen en altyd vriendelik is en nou wil hulle vir hom ook ietsie reel om sy dag op te kikker. Die opsigter hoop alles val betyds in plek, want daar is soveel wat verkeerd kan loop. Hy boer op die telefoon om seker te maak dat Debbie, die wyfie panda, betyds gaan opdaag. Dit het baie navrae gevat om haar op te spoor en einde ten laaste het hulle haar gekry. Nou moet alles net reg uitwerk.
Tommy kom soos gewoonlik direk na skool by die dieretuin aan en parkeer sy fiets in die kantoortjie. Dit is snaaks om niemand te sien nie, want die opsigter is die tyd van die dag  besig met papierwerk. Nou is die kantoortjie leeg. Hy trek sy skouers op en besluit om na Peter Pandabeer se hok te stap. Dit is buitengewoon stil  terwyl hy oppad is hok toe en skielik steek hy vas. Die paadjie na die hok is versper met ‘n klomp mense. Daar is ook ‘n groot bondel ballonne wat vasgemaak is aan ‘n roomys karretjie. Hy kan wraggies nie dink wat aan die gang is nie. “Tommy!” roep die opsigter oor die mikrofoon na hom. “Kom nader ou seun dat ons jou kan geluk wens met jou verjaarsdag en ons het ‘n verrassing vir jou en Peter Pandabeer.” Die mense draai om en kyk met afwagting na Tommy. Hy voel so skaam en begin bloos. Hy tree agteruit,  sommer heeltemal lomp en stamp teen die roomyskarretjie. Die karretjie val om en op ‘n manier raak die klomp ballonne gekoek om Tommy se bene en daar gaan hy ballonne en al. Hy voel hoe verlaat sy voete die grond en begin hy opstyg. Hy hyg na asem en kan nie ‘n geluid uitkry nie. Hy weet dat as daar ‘n geluid sou uitkom, hy sou gil soos ‘n meisie. Hy waai met sy arms en voel hoe die bloed na sy kop loop. Onder is die mense besig om oral te skarrel en begin hom volg. ‘n Dogtertjie gaan sommer aan die huil. Tommy voel ook lus om te huil en is doodbenoud, want hoe gaan hy weer afkom aarde toe?! Dit sal baie snaaks wees as iemand hom sou sien huil, want daarvoor is hy mos al te groot. Die mense word al kleiner en kleiner, selfs Peter Pandabeer is nou net ‘n spikkeltjie swart en wit.  Sy verjaarsdag wat so lekker begin het, begin ontaard in ‘n nagmerrie. Hy weet nie wat om te doen nie en besluit om te kyk waarheen die ballonne hom neem.
 
Tommy sweef al lank. Hy weet nie eers wat die tyd is nie. Die son is al laer as wat dit was ‘n ruk terug. ‘n Voëltjie kom sit op ‘n ballon en begin dit pik. Tommy wil nog keer, maar besef dit is verniet. Die voëltjie pik weer en die ballon bars met ‘n knal. Dit was die laaste sien van die voëltjie, want hy het gemaak dat hy wegkom. Die ballonne is heelwat kleiner en hy vlieg laer en by die tyd moet hy al bome vermy. Tommy kon nie keer nie en die volgende oomblik, bots hy teen ‘n boom. Die oomblik wat hy die boom tref, toe is sy wind uit. Hy kom met ‘n hik te lande op die grond en die ballonne suig langs hom neer.  Hy word wakker met iemand wat aan sy mou pluk. Met dowwe oë sien hy ‘n beeld van iemand wat gebukkend oor hom staan. Hy begin helderder sien en ‘n kort ou tannie staan by hom. “Seun?” vra sy. “Wat het gebeur ?!” Tommy kom stadig orent, sy hare meer regop en sy sitvlak seer. Sy help hom om op te staan en neem hom in haar huisie waar sy vir hom ‘n glas melk gee en iets te ete aanbied. Hy stel homself aan haar voor as Tommy en vertel haar alles wat gebeur het. Sy begin lag, want sy het ‘n vreeslike goeie verbeelding en sien sommer hoe die arme seun se gesig uitdrukking moes lyk toe die ballonne hom gryp. Tommy kan nie verstaan hoekom sy lag nie. Dit was vir hom ‘n nare ondervinding wat hy beslis nooit weer wil beleef nie. “Jammer ou seun dat ek so lag. Ek glo dit moes vir jou benoude oomblikke gewees het. Ek sien gewoonlik die snaaks in iets wat gebeur en kan my net indink hoe dit moes gelyk het.” Tommy begin ook die snaaks daarvan insien en lag lekker saam met die ou tannie, veral omdat hy sonder beserings daarvan afgekom het en net ‘n seer sitvlak. Nadat Tommy klaar geëet het, bel die ou tannie Tommy se ouers om hom te kom haal. Tommy bedank haar vir alles en ry saam met sy ouers terug huistoe. Hy droom snaakse drome en word sommer moeg wakker die volgende oggend, sy lyf styf en seer nadat hy met die boom kennis gemaak het.

Almal by die skool wil net alles hoor van Tommy se avontuur. Nuus hardloop vinnig en almal het gehoor van sy manewales. Dit maak Tommy sommer baie gewild by die skool en hy is almal se held. Na skool ry hy terug dieretuin toe en kry die opsigter in die kantoortjie. Hy is baie bly om Tommy te sien. Hulle wou Tommy so graag verras het en toe verras hy hulle met sy manewales.  Hulle was baie bekommerd en het oral gebel om Tommy op te spoor, selfs die hospitale, maar niemand kon hulle iets van Tommy vertel nie. Die opsigter het na Tommy se ouerhuis gebel om uit te vind of hulle nie iets weet nie, hulle het hom belowe dat hulle hom sal inlig sodra hulle ook iets weet.  Dit het hulle dan ook gedoen nadat Tommy weer veilig tuis was. Tommy kry ‘n presentjie wat almal van die dieretuin personeel vir hom gegee het vir sy verjaarsdag. Die opsigter neem Tommy na Peter Pandabeer se hok om hom die ander verrassing te wys. Selfs Peter Pandabeer lyk baie bly om Tommy te sien. Hy hardloop op en af in die hok en lyk sommer ekstra spelerig. Tommy sien vir Debbie, die wyfie pandabeer.  Sy is baie mooi en pas perfek by Peter Pandabeer. Sy kyk na Tommy met haar donker ogies en dan na Peter Pandabeer en weet nie wat om te maak van sy snaakse gedrag nie. Tommy is baie bly vir Peter Pandabeer se part dat hy nou ‘n maatjie het. Nou kan hy met ‘n geruste hart Universiteit toe gaan. Hy sal elke keer kom kuier vir die tweetjies sodra hy ‘n kansie kry. Dit is ‘n belofte. . .

                                                                                                     :icon_study:
« Last Edit: January 03, 2014, 10:31:42 AM by Anicia »

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10692
  • Gender: Female
Re: Peter Pandabeer
« Reply #1 on: November 04, 2013, 05:11:59 PM »
Weereens pragtig geskryf Anicia.   :icon_salut:
Om te weet is om te verstaan.

Offline Fransi

  • Regular Members
  • Melkbaard
  • Posts: 1274
Re: Peter Pandabeer
« Reply #2 on: November 05, 2013, 07:19:31 AM »
Heerlik verbeeldingryk, pragtig geskryf.

Offline Anicia

  • Suigeling
  • Posts: 95
Re: Peter Pandabeer
« Reply #3 on: November 05, 2013, 03:39:41 PM »
Baie dankie!  :icon_cheers:

Offline Meraai vannie Baai

  • Wysgeer
  • Posts: 3662
  • Elke dag aan ons Geskenk, is 'n kosbare voorreg.
Re: Peter Pandabeer
« Reply #4 on: March 09, 2015, 12:30:36 AM »
Sus van ver, soos altyd is jou stories 'n woordfees vir klein en groot. So bly ek kan hulle ook nou weer saam geniet. Ek sien iemand geniet dit saam met ons op die oomblik (die storie word geprint  :notworthy: ) Sou dit nie wonderlik wees as ons gaste soms inloer en 'n woordspoortjie of drie los en saam kom kuier nie!

Guest   12:27:12 AM   Printing the topic "Peter Pandabeer".
« Last Edit: March 09, 2015, 12:32:54 AM by Meraai vannie Baai »

Offline Anicia

  • Suigeling
  • Posts: 95
Re: Peter Pandabeer
« Reply #5 on: March 11, 2015, 02:51:21 PM »
 :love7:Ek is so bly jy geniet dit,sus!Dis ook verblydend dat dit uitgeprint word sodat dit weer gelees kan word.Dit beteken vir my meer as wat ek in woorde kan se.. :love7: Dit inspireer my om nog uit te dink. Dis juis kommentaar wat mens nog meer aanspoor. Dankie vir jou belangstelling xx