Author Topic: Waterput  (Read 1763 times)

0 Members and 1 Guest are viewing this topic.

Offline Anicia

  • Suigeling
  • Posts: 95
Waterput
« on: October 18, 2013, 04:31:11 PM »
Waterput

“Villa! Wat maak jy daar?!” roep Villa se ma. Villa staan by die waterput in hulle erf. Dit is al baie jare daar en vadat Villa kan onthou, is dit asof die put haar nader lok. Sy is nog jonk en haar ma is so bang sy val daarin af. Die put is glo baie diep, maar word nie meer gebruik nie. Dit is net daar as ‘n versiering in die tuin. Lieflike klein blommetjies is om dit geplant. Voëltjies pik saadjies op wat haar ma gereeld op die rand van die put neergooi. Villa mag net soontoe gaan as iemand by haar is en dan kry sy nie eers die kans om in te kyk nie. Sy het vanoggend dit reggekry om haar ma te ontglip en vinnig na die put gehardloop. Sjoe! Sy voel sommer trots op haarself. Sukkel-sukkel klim sy op die muurtjie om te kan inloer. As sy op die grond staan, kom sy nie by nie en sy wil net vinnig inkyk en dan is sy tevrede. Sy voel skuldig om so ongehoorsaam te wees, maar haar nuuskierigheid het gewen en hier staan sy nou. Met die wat haar ma na haar roep, skrik Villa en val in die put.

So ver as wat Villa val, so bly sy gil. Sy val en val. Haar ogies is wydgerek en haar arms wapper deur die lug soos ‘n baba voëltjie wat vir die eerste keer leer om te vlieg. Skielik dink sy aan wat haar pa altyd sê as iemand hom vra of hy nie bang is om te val met ‘n vliegtuig nie en dan antwoord hy: “ Nee ek is glad nie bang vir die val nie, dis wanneer ek die grond tref wat my bangmaak.” Dieselfde gedagte gaan ook nou deur haar koppie en sy knyp haar ogies styf toe. Sy wil beslis nie sien wanneer die grond naderkom nie. In haar agterkop hoop sy daar is nog water in die put. Om die een of ander rede dink sy water is sagter om in te val. Villa is so bekommerd oor die vallery, dat sy glad nie agterkom dat sy ophou val het nie. Eers toe sy die stilte om haar hoor, maak sy haar ogies weer oop. Sy lê op ‘n blaremat en voel die sagtheid daarvan met haar hande. Dit is nie eers meer donker om haar soos oomblikke gelede nie. Sy staan stadig op en skud die blare van haar klere en hare af. Sy was nou behoorlik deur die blare, dink sy en lag te lekker.
 
Sy weet glad nie wat haar nou te doen staan nie. Sy sien ‘n waterstroompie ‘n entjie verder en stap daarheen. Die water lyk so lekker koel en sy is vreeslik dors. Sy gaan lê op haar magie en wil net van die water drink, toe sy hoor, “Moenie van my drink nie!” Verbaas kom sy vinnig op haar voete. Wat gaan hier aan?! Sy het seker nie reg gehoor nie. As sy hard geval het, sou sy verstaan het hoekom sy stemme hoor. Sy het nie en nou dink sy dit is haar verbeelding. Die water vra vir Villa hoekom sy van die stroompie wou drink en Villa antwoord dat sy dors is. “Nee, nee. Uit my kan jy nie drink nie, my water gee jou lang ore,” waarsku die stroompie. Villa glo glad nie wat sy hoor nie en drink handevol van die heerlike water.
Villa voel ‘n tinteling in haar ore en in die water se weerkaatsing sien Villa hoe lank haar ore is. Sy lyk soos ‘n hasie en is vreeslik geskok. Sy vra vir die stroompie hoe sy dan weer kan terugkeer na normaal. Die stroompie wil eers nie antwoord nie, want die dogtertjie wou mos nie luister na die waarskuwing nie. Haar gesiggie lyk so hartseer dat die stroompie haar tog antwoord. “Jy moet verder by hierdie paadjie afstap tot jy by ‘n bruggie kom. Daar moet jy oorgaan tot jy ‘n reuse paddastoel sien. In die paddastoel woon ‘n blou voëltjie. Sy naam is Wippertjie en hy kan jou help. Neem een van die blaartjies langs jou en gooi bietjie van my watertjies binne-in. Hy raak vinnig dors en sonder dit kan hy nie vir jou die oplossing vir jou probleem gee nie.” Villa volg die paadjie, versigtig om nie van die watertjies te mors nie. ‘n Geel wurm kom aangekruip en bied Villa ‘n koekie aan om te eet. Sy is so honger dat sy die koekie amper heel insluk. “O toggie!” skree sy. Wat gaan nou aan? Haar neus begin dan groei. Die wurm lag diep uit sy maag uit. Hy hou van poetse bak en hierdie dogtertjie het myle ver vir hom gelyk soos die perfekte enetjie vir sy poets. Villa is dadelik kwaad vir die ongepoetste wurm. Sy dink glad nie dit was snaaks nie. Sy sien sommer met haar eie ogies hoe lank haar neus word.
 
Terug by die huis sien haar ma Villa by die put inval. Sy is so geskok dat sy nie dadelik weet wat om te doen nie. Sy hardloop by die huis uit, reguit na die put. Sy roep vir Villa, maar kry geen antwoord nie. Sy gaan terug huistoe en bel die reddingspan om haar dogtertjie te kom uithaal. Kort voor lank, wemel hul erf van die mense. Nuuskieriges, die nuusmense, almal wil meer weet van die dogtertjie wat in die put geval het. Haar ma bars in trane uit, want sy weet nie in watter toestand haar kindjie gaan wees nie.  Die reddingspan het manne in die put laat afsak om Villa te gaan uithaal en almal hou hul asems op.
Villa voel moedeloos. Haar ore en neus is lank en sy weet nie wat nog op haar wag nie. Al wat sy weet, is dat sy nie weer ongehoorsaam gaan wees nie. Nooit ooit weer nie! Uiteindelik kom sy by die reuse paddastoel en klop aan die deur soos haar ma haar geleer het. Die deur kraak oop en ‘n windjie druk haar by die huisie in. Voor haar fladder ‘n blou spikkeltjie heen en weer verby haar. Dit is Wippertjie, die voëltjie. Hy kom te lande op ‘n stokkie sommer naby Villa. Hy bly wip-wip en sy weet dadelik hoekom hy so genoem word. Wippertjie kyk die dogtertjie aan met klein geel ogies. Sy stem klink soos ‘n piep toe hy vir Villa vra waarmee hy haar kan help.
Sy verduidelik wat met haar gebeur het en Wippertjie weet dadelik wat sy moet kry. Eers soek hy die watertjies en Villa gee dit alte gretig vir hom om te drink. Nada thy klaar gedrink het, verduidelik hy. “Jy moet gaan na die Wonderwurm se grot. Dit is die wurm wat vir jou die koekie gegee het. Hy is nie gevaarlik nie, maar hou van poetse bak. Jou neus sal weer normaal word met sy hulp. Wanneer jy daar klaar is, volg die paadjie verby die grot. Jy sal ‘n huisie sien wat gebou is op ‘n groot ronde eier. Daar moet jy drie kort fluite gee en ‘n oranje pampoen sal afsak na onder om jou weer boontoe te vat na die huisie.” Hy vra vir Villa: “Sal jy dit onthou?” Sy knik haar kop en hy vertel voort. “Wanneer jy in die huisie is, moet jy ‘n vergrootglas van die mikkie afhaal wat langs die deur hang. Daardeur moet jy die klein miertjie soek. Sy bly in die huisie en sal jou twee pienk eiertjies gee om te eet. Dit sal jou ore weer normaal maak. Ek gee vir jou ‘n veertjie van my om vir hom te gee. Sy sal net vir jou die eiertjies gee as jy vir haar die veertjie gee. Sorg dat jy baie stadig beweeg, sodat jy nie die miertjie uit die oog verloor nie. Gebeur dit, sal die huisie met jou daarin vir altyd verdwyn.” Villa gril vir die gedagte om pienk eiertjies te eet. Sy hou nie eers daarvan wanneer haar ma dit vir haar gaarmaak nie. Sy sal dit doen as dit beteken dat dit sal werk om haar ore weer terug te kry na normaal.
Villa verlaat die huisie en doen alles net soos Wippertjie vir haar gesê het. Die Wonderwurm se grot is vreeslik lig en sy sien dadelik hoekom. Hy skitter soos die son. Hy lyk vir haar vreeslik moeg en ongelukkig. “Hoekom lyk jy so ongelukkig?” vra Villa. “Ek kan nie slaap nie” sê hy. “My lyf skitter te veel en ek het donkerte nodig. As jy my help om donkerte te kry, gee ek vir jou ‘n ander koekie om jou neus kleiner te maak.” Villa dra altyd haar jammerlappie saam met haar vandat sy kan onthou en nou het dit tyd geword om dit af te staan. Sy gee die lappie vir die Wonderwurm en verduidelik wat hy daarmee moet doen. Eers soek sy daardie koekie. Terwyl sy die koekie eet, sit die wurm die lappie oor sy oë en Tjoeps! daar is dit stikdonker in die grot. Villa sukkel om aan die donker gewoond te raak en loop voel-voel die grot uit. Soos sy loop agtervolg ‘n vreeslike dreuning haar van agter af. Eers skrik sy haar boeglam en dan besef sy dit is die wurm wat snork, so heerlik slaap hy. Sy kom buite en is te bly om weer die helder sonskyn op haar vel te voel. Sy sien ook met verligting dat haar neus weer teruggekeer het na normaal.

Sy stap vinnig na die huisie wat op die eier gebou is en fluit drie keer. Die pampoen sak neer en sy klim versigtig in. Woeps! Die pampoen skiet boontoe met ‘n vinnige spoed. Dit het die voëltjie haar nie vertel nie en sy klou vir al wat sy kan aan die pampoen se venstertjie vas. Net so skielik kom dit tot stilstand en sy klim met bewerige beentjies uit. Dit was soo opwindend! Binne die huisie, vind sy dadelik die vergrootglas en soek na die miertjie. Sy voer Wippertjie se raad baie goed uit. Eers gee sy die veertjie vir die miertjie en in ruil daarvoor gee sy vir Villa die eiertjies om te eet. Dadelik krimp haar oortjies en is dit terug na normaal. Die miertjie kyk vir Villa en weet daar is iets verkeerd. Sy behoort  bly te wees om weer normale oortjies te kan hê, maar lyk nog bekommerd. “Wat is fout, dogtertjie?” vra sy. Villa vertel dat sy graag wil teruggaan huistoe, maar nie weet hoe nie. Die miertjie gee vir haar ‘n klein waaiertjie. “Hierdie gaan ‘n baie moeilike en uitputtende takie wees” sê sy. “Jy gaan moet blaas en blaas, anders gaan jy net hier moet bly.” Villa sien kans vir die uitdaging, want niks sal haar keer om terug te kom by die huis nie. Sy hou die waaiertjie voor haar mond en begin blaas. Sy styg op en op en vlieg weg van die huisie op die eier.

Sy blaas en blaas tot sy voel sy nie meer kan nie en begin val. Sy beland in dieselfde stroompie waaruit sy gedrink het. Dit voer haar mee, verby die reuse paddastoel, onderdeur die bruggie en by ‘n waterval af. Die stroompie spoeg haar uit in ‘n opening agter die waterval en sy kom met ‘n hik te lande, waar sy aan die slaap raak.
Die reddingspan vind Villa onder in die put met haar lyfie op ‘n hoop blare, sag onder hul voete. ‘n Harnas word om haar lyfie vasgemaak en sy word stadig en versigtig na boontoe gehys. Vir almal wat hierdie redding meegemaak het, is dit ‘n wonderwerk dat sy veilig daar uitgekom het, want onthou, dit was ‘n baie diep put. Villa het haar avontuur beslis onthou as iets wat baie besonders was. Sy het dit vir haar ma vertel en haar ma was vreeslik verlig om haar kosbare kleine dogtertjie net styf teen haar te kon vashou. Die put is toegegooi en Villa het glad nie meer daarin belanggestel om daar te gaan speel nie. Die put het haar net nie meer soontoe gelok nie. . .
« Last Edit: November 11, 2013, 11:26:18 AM by Anicia »

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10692
  • Gender: Female
Re: Waterput
« Reply #1 on: October 21, 2013, 10:50:34 AM »
Jou verhaaltjie het my weggevoer en ek het dit geniet.  Pragtig geskryf Anicia.   :icon_salut:
Om te weet is om te verstaan.

Offline Anicia

  • Suigeling
  • Posts: 95
Re: Waterput
« Reply #2 on: October 23, 2013, 12:50:09 PM »
Hallo PM! Lekker om terugvoer te kry, dankie  :toothy4: