Author Topic: Die boekwurm  (Read 3364 times)

0 Members and 1 Guest are viewing this topic.

Offline Anicia

  • Suigeling
  • Posts: 95
Die boekwurm
« on: October 08, 2013, 03:55:00 PM »
Kara wil nie lees nie. Dit is vir haar baie lekkerder om eerder televisie te kyk, want die prentjies en karakters is lewendig en so ontspan sy alte graag. Boeke is net te vervelig en kleurloos. Sy kan gewoonlik nie wag om die boek net neer te sit nie. Haar ma wil nie eers meer vir haar lees nie, want Kara is groot genoeg om self te lees. Haar ma glo ook dat sy te lui word vir lees en om vir Kara voor te lees versterk haar net daarin om nie te lees nie.

Op 'n dag besluit Kara om na die biblioteek te gaan. Haar ma se geneul om te lees en die skool wat aanhou karring, het haar amper mal gemaak. Sy loop lusteloos tussen die rakke deur en vat hier en daar aan 'n boek. Die voorblaaie is klaar so vervelig dat sy nie eers belangstel om die boeke te lees nie. Hoe kan hulle van haar verwag om dit te lees. Geen boek wat haar roep nie. Kara se oë dwaal oor die boeke. Sy is nie eers meer lus om aan dit te raak nie. Haar oog val op 'n spesifieke boek. 'Mmm, hier is nou ietsie heeltemal anders'. Blinkers glinster op die keersy van die boek. Sy haal die boek versigtig uit die rak en sowaar! Die hele boek se buiteblad glinster van die blinkers. Sy is sommer dadelik nuuskierig wat die binnekant van die boek gaan bied. Sy wil-wil die boek oopmaak, maar besluit om haar nuuskierigheid in te hou tot sy by die huis is. Sy loop oorhaastig na die toonbank en stamp in die proses 'n stoel om. Sy skrik en tel dit op. Sy kan nie wag vir die tannie met die streng gesig om die datum te stempel waarop sy die boek moet terugneem nie.

Terug by die huis, is haar ma en boet, Tom, verbaas om haar met 'n boek onder die arm te sien inkom. 'Wat maak jy met 'n boek?!', vra Tom. 'Ek gaan dit lees, wat anders', sê Kara. Haar ma wil nog weet of sy nie iets wil eet nie, maar Kara is nie honger nie, verskoon haarself en stap reguit kamer toe.

Daar maak sy die deur toe en word gemaklik in 'n sagte leunstoel. Sy maak die boek oop en is getref deur die pragtige prentjies in die boek. Sy begin lees en soos sy lees, verander die letters in goud en voer die storie haar na 'n wêreld waar net lesers heen kan gaan. Sodra sy opkyk om asem te skep, kom sy met 'n slag terug werklikheid toe. Sy besef sy kan nie die boek neersit voor sy nie klaar gelees het nie. Kara neem weer die boek op en sy verdwyn in die wonderwêreld van lees.

Kara reis in 'n lugballon en oral is dit soos 'n lappiekombers soos landerye en grasperke mekaar opvolg. Bont varkies vlieg verby Kara en glimlag blinktand en kreukel ogies. Groot skoenlappers wapper hul vlerke en tower helder kleure op wat haar oë ampertjies verblind. Die insekte wat nou en dan op die lugballon kom sit, is duidelik uit hierdie wêreld, want nog nooit het sy hierdie tipe insekte gesien nie. Die ballon begin sak en bring Kara saggies op die grond tot stilstand. Hoogtes was nog nooit vir haar 'n plesier nie, maar hierdie ballonrit was die beste ooit!

Kara klim versigtig oor die kant van die mandjie en huiwer vir 'n oomblik. Dis so hoog grond toe en sy is bang sy val af, maar 'n goue leertjie verskyn en strek van bo tot onder. Veilig terug op moederaarde, besluit sy om die nuwe omgewing te verken. 'n Klein stemmetjie sê vir haar sy moenie weggaan van die ballon nie, maar wat is die punt om 'n nuwe wêreld te besoek en sy moet net daar bly. In die verte sien Kara 'n snaakse vorm. Dit lyk van hierdie afstand soos 'n groot dier met vyf lang nekke en vyf ronde koppe. Amper te skrikkerig van wat dit kan wees, stap sy tog in daardie rigting. Om haar bly iets zoem en sy klap na die 'iets'. 'Moenie my klap nie!', roep die 'iets' en Kara skrik so groot dat sy byne val. 'Wat op aarde is jy?', vra Kara. Die 'iets' is toe al die tyd 'n piepklein feetjie wat graag vir Kara wil geselskap hou terwyl die dogtertjie oppad is na die voorwerp. Die feetjie se naam is Blinker en Kara verkyk haar aan die piepklein Blinker wat haar vertel dat sy boeke vol blinkers laat skitter. Die twee stap al geselsend nader tot hul by die snaakse huis kom wat vir haar van ver af soos 'n dier gelyk het.

Die huis het vyf ronde kamers wat sy met vyf koppe verwar het en is gebou in verskillende rigtings. Die nekke is lang pype wat die kamers verbind aan die hoof gedeelte van die huis. Dit lyk baie vreemd. Sy klop aan die deur en 'n vriendelike vroutjie maak die deur oop. Sy nooi hulle binne sonder om vrae te vra. Dit is asof sy weet dat Kara net 'n reisiger is. Haar naam is Lizzie. Sy bied Kara heerlike soet koekies om te eet en vars melk waaraan sy gulsig smul. Sy het nie besef hoe honger sy is nie. Terwyl die vroutjie toekyk hoe Kara haarself geniet, vertel sy vir Kara haar storie. Sy woon saam met Blinker in die huis van lankal af. Nooit gaan sy weg nie, te bang op wat daar buite wag. Kara wil weet waarmee sy haar besig hou en Lizzie beloof om haar te gaan wys. Blinker sit op haar piepklein stoeltjie en bekyk die meisie met haar blink bruin ogies en donker haartjies. Sy hou sommer klaar baie van Kara.

Kara is klaar geëet en stap saam met Lizzie en Blinker deur 'n pyp na die eerste kamer. Hier is 'n klomp kort mannetjies met pers regop haartjies, besig om woorde te tik op bladsye. Op hul ore is blommetjies waaruit stories vir hulle voorgesê word om te tik. Hulle het lang vingertjies wat op die toetse kan bykom op die outydse tikmasjiene. Oral op die grond lê opgefrommelde papiere. Stapels papiere lê opmekaar en kort-kort vlieg 'n papier vanself en kom netjies in die tikmasjiene te lande en tik die mannetjies voort. Kara het nogal gewonder hoe die mannetjies die papiere kan bykom met die dat hulle so kort is. Mensig! Hulle kom dan net tot by haar knieë en sy self is nog baie kort.

Lizzie verduidelik aan haar dat die mannetjies dae en nagte sit en tik aan stories spesiaal vir kinders. Ongelukkig is die mannetjies besig om te verdwyn, want kinders wil nie meer boeke lees nie. Sy ken nie die rede nie, maar iewers is groot fout. Binnekort gaan die mannetjies almal verdwyn as daar nie vinnig 'n oplossing kom nie. Dit is al wat hulle weet om te doen en hoe minder daar gelees word, hoe minder werk is daar vir hulle. Om te kan stories tik, hou hulle aan die lewe en soveel meer as die stories gelees word.
Alles is verbind, sien. Kara voel sommer baie skuldig, sy self het tot nou toe nie gehou van lees nie. Nou sien sy met haar eie oë met hoeveel ywer die mannetjies tik. Blinker pluk aan Kara se arm en sy sien met verstomming hoe nog 'n mannetjie verdwyn. Lizzie word sommer hartseer en weet sy kan niks aan die saak verander nie. Sy bied hul plek om te skryf, maar dis tot daar wat haar vermoeë strek.

Lizzie draai om en verlaat die vertrek. Kara en Blinker volg haar en Lizzie gesels so ver sy gaan. Sy het lanklaas besoek ontvang en het baie woorde om uit te deel. Hulle gaan deur nog 'n pyp en stap die volgende vertrek binne. Hier is ander mannetjies, bietjie groter as die voriges, besig om buiteblaaie vir boeke te maak. Dit lyk soos 'n miernes, want oral is mannetjies op hul pos besig met hierdie aktiwiteit. Dit is 'n groot klomp verskillende buiteblaaie. Party word van leer gemaak en ander van fluweel vir verskillende stories. Sommiges is groot en ander weer klein. Daar is ook 'n paar wat van blare of dikker karton gemaak word. Elke storieboek het sy eie unieke buiteblad en is daar 'n spesifieke mannetjie wat dit maak. Daar is 'n klomp inkpotte met verskillende kleure wat gebruik word om prentjies op die buiteblaaie te teken. Kara sien voor haar oë hoe nog mannetjies verdwyn en sy weet die skrywer wie se buiteblad hierdie mannetjie besig was om te maak, het ook verdwyn wat in die vorige kamer is. Dit raak nou te erg.

Hulle gaan na die derde vertrek en hier is mannetjies met rooi haartjies, plat gekam teen die kop. Hulle sit elkeen met 'n hopie papiere voor hulle en dit is die proeflees kamer, verduidelik Lizzie. Die stilte hier is amper oorverdowend. Kara is amper te bang om 'n geluid te maak. Sy wil hulle nie pla nie, netnou verloor hulle hul konsentrasie. Blinker nies, maar dit maak nie eers dat die mannetjies van hul leeswerk opkyk nie. Elke paar minute blaas 'n fluitjie en begin die mannetjies gesels, eet 'n happie kossies en drink hul tee. Lizzie vertel vir Kara dat dit vir hulle belangrik is om ook te kan ontspan. Lees kan mens ook nie die heeltyd doen nie. Daar MOET 'n balans ook wees.

Die vierde kamer het groter mannetjies met blou haartjies. Hulle is groter as Kara en hulle kyk soos een man op toe Lizzie-hulle die vertrek instap. Hier word die storieboeke gebind en oral is groot blikke gom waarmee die boeke gebind word. Ook hier gaan dit woes. Daar is reeds stapels en stapels boeke wat gebind is en eenkant staan. Kare vra vir Lizzie hoekom al die kamers rond is en Lizzie vertel haar dat die mannetjies vreeslik bang is vir vertrekke met hoeke. Waar hul vandaan kom, was hulle deur wrede molle onder in tonnels vasgekeer en om een of ander rede het molle van hoekige tonnels gehou. 'n Mol wat besluit het om nie meer wreed te wees nie, het die mannetjies help ontsnap en hulle het by hul hordes na Lizzie ontsnap. Lizzie moes inderhaas nog vertrekke laat aanbou en daarmee het die dwergies wat Kara netnou sal ontmoet, haar mee gehelp. Van toe af het die mannetjies haar met die stories wat sy met soveel ywer en liefde vir die kinders uitdink, gehelp. Dit is hoe hulle haar vergoed.

In die vyfde kamer is hier geen mannetjies nie, maar dwergies. Van kamers met mannetjies tot kamers met dwergies. Nou het sy alles gesien! Hulle groet Kara vriendelik en sy is so bly om uiteindelik dwergies in lewende lywe te sien dat sy amper vergeet om terug te groet. Sy wou so graag altyd dwergies gesien het en sowaar! Die boeke wat klaar gebind is, word na hierdie kamer gebring. Vir die takies om boeke rond te karwei, word muise gebruik. Dis nie sommer gewone muise nie, maar hierdie muise het die vermoeë om swaar boeke te kan vervoer. Die dwergies doen 'n laaste inspeksie om te kyk of al die boeke in tip-top kondisie is en dan gaan die boeke tot by die venstertjie. Daar is 'n spesiale plankie aan die venster gekoppel wat dien as 'n glyplank. Die boeke word op die plankie geplaas en die boeke gly met gemak af in lugballonne wat om die beurt voor die venstertjie hang. Sodra die lugballon gevul is met boeke, sweef die ballonne tot in die wolke waar dit deur 'n geheime opening na ander wêrelde verdwyn. Nou staan die dwergies met hul arms in hul sye en skud hul koppe. Hulle lyk bekommerd, want daar is nie soveel boeke wat uitgaan soos die vorige kere nie. Kara voel net meer skuldig, maar besef ook deur net skuldig te voel, nie die probleem gaan help oplos nie. Sy moet iets daaraan doen en vertel vir Lizzie dat sy een van die kinders is wat nie graag wou lees nie. Sy besluit om heeltemal eerlik te wees en vertel ook dat sy die boeke uiters vervelig vind. Sy wat self 'n kind is, vertel vir Lizzie wat haar omtrent 'n storie opgewonde maak. Lizzie neem alles gretig op net soos Kara vroeër met die koekies en melk. Dit vuur Lizzie aan om sommer dadelik met die nuwe avonture na vore te kom wat kinders na boeke sal laat gryp soos na 'n bak vol lekkers.

Kara voel uitgeput en besluit om haar ogies net vir 'n oomblik te sluit. 'Woeps. Waps!' en sy raak aan die slaap. So vind haar ma haar, uitgestrek met 'n boek op haar skoot, rustig en slaap. Sy skrik wakker net toe haar ma die deur op knip trek. Die boek lê nog oop op haar skoot. Op die laaste bladsy is 'n dogtertjie met bruin ogies en donker haartjies wat vir 'n vriendelike vroutjie en 'n feetjie totsiens waai. Die dogtertjie vertrek in dieselfde lugballon waarmee sy wat Kara is, daar aangekom het.

Die leesgogga in Kara was geprikkel en sy het 'n lesershoekie by die skool begin. Haar ma en juffrou was verstom om te sien hoe sy die een boek na die ander begin lees het. Nog te meer toe Kara met soveel geesdrif haar klasmaats ook oortuig het om te begin boeke lees. Kara het later toe sy groot word, haar eie boekwinkel gekoop en self bedryf. Ja, sy was 'n regte boekwurm en haar kennis het ook baie verbreed. Sy kon net nie genoeg kry nie. Die boek wat sy in die biblioteek ontdek het, het sy gekoop en dit uitgestal op 'n spesiale plekkie. Dit was haar gunsteling en baie keer het sy gewonder en gehoop dat die mannetjies nog aan die skryf was en nie verdwyn het nie.

                                                                                              ----------------------------
« Last Edit: October 08, 2013, 09:51:58 PM by Anicia »

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10692
  • Gender: Female
Re: Die boekwurm
« Reply #1 on: October 08, 2013, 03:59:24 PM »
Is ek te haastig vir die res van die storie?   :icon_biggrin:
Om te weet is om te verstaan.

Offline Anicia

  • Suigeling
  • Posts: 95
Re: Die boekwurm
« Reply #2 on: October 08, 2013, 04:21:38 PM »
hahaha nee, ek was onderbreek, gaan nou weer aan.. :toothy4:

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10692
  • Gender: Female
Re: Die boekwurm
« Reply #3 on: October 09, 2013, 09:16:32 AM »
Pragtig geskryf Anicia.   :icon_salut:  Jou werk is beslis goed genoeg vir 'n bundel en jy kan gerus vir RSG nader om dit uit te saai.

Let daarop dat ons in Afrikaans verwys na 'n "toestand" as ons van iets praat wat nie lewe het nie. 
Om te weet is om te verstaan.

Offline Anicia

  • Suigeling
  • Posts: 95
Re: Die boekwurm
« Reply #4 on: October 09, 2013, 12:41:56 PM »
Sjoe, ek  bloos sommer! So bly die stories word geniet. :wave:

Offline Rainier

  • Regular Members
  • Suigeling
  • Posts: 47
Re: Die boekwurm
« Reply #5 on: October 23, 2013, 04:33:37 PM »
Ek het die storie vreeslik baie geniet , sussie.

Offline Anicia

  • Suigeling
  • Posts: 95
Re: Die boekwurm
« Reply #6 on: October 23, 2013, 09:05:01 PM »
dankie Ouboet! Baie bly  :hello:

Offline Anicia

  • Suigeling
  • Posts: 95
Re: Die boekwurm
« Reply #7 on: November 05, 2013, 03:41:41 PM »
Die boekwurm word die 15de November om 15:00 oor Radio Panorama 107.6 Fm, voorgelees. :hello:

Offline Fransi

  • Regular Members
  • Melkbaard
  • Posts: 1274
Re: Die boekwurm
« Reply #8 on: November 06, 2013, 09:32:41 AM »
Baie geluk!

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10692
  • Gender: Female
Re: Die boekwurm
« Reply #9 on: November 07, 2013, 08:50:28 AM »
Hartlik geluk Anicia.  Onthou asseblief om ons te onthou die 14de.   :hello2: Ek sien jou storie is al oor die 120 keer gelees.   :headbang:

Om te weet is om te verstaan.

Offline Anicia

  • Suigeling
  • Posts: 95
Re: Die boekwurm
« Reply #10 on: November 11, 2013, 11:17:46 AM »
Ek maak so  :icon_salut:  :book1: