Author Topic: Sebastiaan die elfie  (Read 5465 times)

0 Members and 1 Guest are viewing this topic.

Offline Anicia

  • Suigeling
  • Posts: 95
Sebastiaan die elfie
« on: October 02, 2013, 11:11:20 AM »
Sebastiaan die elfie

Met sy blonde haartjies, spits gesiggie en oortjies, lyk Sebastiaan na die tipiese elfie wat hy is. Sy oulike groen hoedjie en kleertjies laat hom uitstekend inpas by sy omgewing. Dis belangrik vir veiligheid, want oral is gevaar soos roofvoëls en slange net om 'n bietjie te noem. Hulle sien alles raak met hul gretige oë. Sebastiaan bly saam met sy familie in 'n elfie dorpie wat omring is van 'n groot bos met reuse diere, baie soorte bome en spatseltjies van helder kleurige blomme wat die bos omtower in 'n sprokies paradys. Nie te praat van koel waterstroompies waaruit die son blinkertjies omtower nie.
Die water is helder en spoel oor die klippie wat driedimensioneel vertoon en vissies wat water toertjies uithaal.

Sebastiaan het vroeg vroeg al uit die huis gegaan om lekker in die bos te gaan ontspan. Sy familie was nog in droomland 'wie weet wat hulle daar maak'. Sebastiaan word dors en drink mondjiesvol uit 'n bakhandjie van die heerlike koel water en lê behaaglik agteroor op die lowergroen gras. Hy is so rustig dat hy kort voor lank vas aan die slaap raak. Net mooi niks kan hom nou pla nie. Die ure stap verby, want selfs in elfie land staan tyd nie stil nie. Hy is salig onbewis van sy familie wat hom begin soek, want hy het daaglikse takies wat hy moet verrig. Elkeen het sy werkies en dit maak dat alles in die dorpie glad verloop. Van hout kap vir vuur, jag in die bos, skoonmaak ensovoorts. Sebastiaan skitter egter in sy afwesigheid en kommer begin na vore tree. Oral word rondgevra en gesoek. Hulle begin al vrees dat iets lelik met Sebastiaan verkeerd kon loop soos 'n roofvoël wat hom kon vang, maar daaraan wil hulle liewer nie dink nie.

Sebastiaan se boetie, Alfonso, begin vermoed dat Sebastiaan dalk wegkruip om van sy werkies te ontsnap. Daar kon net een plek wees om goed weg te kruip en dit is in die bos. Hulle gaan nie so gereeld bos toe nie, reeds omdat daar soveel gevaar kan skuil. Sy grootste vrees natuurlik is die trolle. . . Hulle is nou vir jou 'n koddige spulletjie, ongelukkig ook baie wreed. Sulke onnosele kreature het hy wraggies nog nooit ontmoet nie, maar helaas hy wil ook nie. Hy lig sy vrese teenoor sy moeder en dadelik begin sy ook die ergste te dink. . .

Intussen word Sebastiaan net so rustig wakker soos hy aan die slaap geraak het. 'n Salige uitdrukking verskyn op sy gesiggie en hy vryf sy ogies en kom tot verhaal. Die eerste wat hy van bewus word is die verskillende voël geluide, te veel om uit te maak, bytjies wat zoem van blom tot blom en die windjie wat saggies fluister tussen die bome en kielie Sebastiaan se spitsneusie en woel sy kuifie wat onder sy hoedjie uitsteek deurmekaar.

Skielik spring hy regop. O gonna!, roep hy verskrik. Verantwoordelikheid skop in en hy onthou van sy takies tuis. Hier lê hy en slaap en almal dra hul deel by, net nie hy nie. Hy stof sy kleertjies af, skuif sy hoed reg en spoel sy gesiggie af. Dalk help die koue hom vinniger weer soos 'n elfie te voel. Hy voel sommer skuldig dat hy so lyf weggesteek het. Hy weet sommer hy gaan die bespotting van die dorpie wees. Terwyl hy nog so aanstap, val 'n reuse skaduwee oor hom. Hy is te bang om op te kyk. Dalk as hy maak of hy dit nie sien nie, sal dit weggaan. "Nee!", dink hy, dit sal 'n reuse fout wees. Wat as die ding wat se skaduwee dit is, hom opraap en insluk. Hy loer baie versigtig boontoe en wraggies! Dis 'n baie groot arend, eintlik reusagtig. Hy swiep verby Sebastiaan en maak 'n draai en kom teruggevlieg. Sebastiaan laat hom nie nooi nie en laat vat vir die naaste bossie. Hy voel sommer hoe sy ruggie vanself hol trek. Hy is dodelik benoud en sy hartjie klop teen 'n geweldige spoed van vrees. "Hoe nou gemaak?!" wonder hy. Dis sommer asof hy daardie skerp kloue van die arend kan voel hoe dit in sy skouertjies boor. Rilling op rilling gaan deur sy piepklein lyfie. Sy hoedjie skuif van sy haartjies af en hy gryp woes daarna. Onder die bossie voel hy nie baie veilig nie. Hy is seker daarvan die arend se skerp ogies kan elke beweging van hom sien. In sy geestesoog sien hy hoe die wrede, honger voël sy snawel aflek. Hy sien net 'n paar tree verder 'n ou omgevalle boomstomp lê en besluit om tot drie te tel en vinnig daarheen te kruip. Kruip ja, want dit gaan hom hopenlik nog kleiner laat lyk. Dalk dink die voël hy is 'n mier. Een..twee...drie en daar kruip Sebastiaan na die stomp. Vir 'n wyle is hy veilig, of so hoop hy. Sy hartjie klop wild en sy asem kom met horte deur sy keel. Hy is nie eers meer seker of hy sy familie ooit weer veilig sal sien nie. Dit raak later en later en nog steeds hoor hy die gefluit van die arend en die swiep wat sy vlerke maak. Hy knyp sy ogies styf toe en wag. Sebastiaan het al so baie stories om die kampvuurtjie gehoor van ongediertes wat mede elfies gevang het. Dit maak hom ekstra op sy hoede.

Sy magie begin grom van die honger en hy maak sy ogies versigtig oop. Dis so donker dat hy nie sy handjie voor sy ogies kan sien nie. Hy voel sommer blind. Haastig kruip hy na die opening van die stomp en sien hoe skitter die sterretjies in die lug. Hier en daar hoor hy die pragtige naggeluide en voel amper verlig, want sover hy weet, slaap meeste voëls in die nag. Hy kry nuwe moed en waag dit om versigtig uit die stomp te sluip. Net hier by hom skree 'n kriek dat hy sommer so hoog soos hy is, hop. "Hiert!" skree hy. Dadelik vlieg sy handjie na sy mond. Jou stommerik!, dink hy. So sal jy gevang word, jy wat Sebastiaan is. Hy sal moet wikkel om huiswaarts te keer. Hier bly hy nie 'n oomblik langer nie, dis verseker. Oral begin hy liggies gewaar en wonder of dit vuurvliegies is wat so skyn. Dis te pragtig en hy verkyk hom aan die skitter prag. Hy dink hy word mal, maar daar hoor hy dan stemme. Nuwe hoop flikker in hom op. Dalk is dit iemand wat hom kom soek. Hy luister fyn en ja wraggies! Daar hoor hy dit weer, die keer net nader. Hy hoor dan Alfonso se stemmetjie. "Boetie!" al nader. "Sebastiaan! , waar is jy?" roep Alfonso. Een na die ander verskyn die elfies. Sebastiaan kan sommer huil van verligting en vreugde. Hy storm op hulle af en omhels sy gesinnetjie een na die ander. "Ek is darm so bly en dankbaar om julle te sien!", roep hy. 

Min weet hulle die gevaar is nog nie heeltemal verby nie. Ongelukkig vir die elfies het nog 'n paar belangstellende oë hulle dopgehou vanuit die skadu's. Die jakkels kan nie glo watter gelukskoot hy gekry het om juis vanaand in die rigting te draf nie. Hy lek sy lippe af en proe eintlik hoe dit sal wees om hulle te happie. In sy verbeelding het hy sy servet om sy nek, mes en vurk in die pote. Al fluitend en laggend loop die elfies oppad terug huistoe. Nie een bewus van die dreigende gevaar nie. Sebastiaan is so honger dat hy nie meer so paraat is soos 'n paar minute gelede nie. Hy soek nou net sy huisie, kossies en warm bedjie.

Skielik hoor Sebastiaan se moeder 'n takkie agter hulle kraak. Sy swaai om en skrik toe sy die blink oë agter hulle sien. Jakkals grom en die hele groep elfies tree agteruit, gereed om op die vlug te slaan. Hulle meet mekaar met die oë. Sebastiaan fluister uit die hoek van sy mondjie dat niemand moet beweeg nie. Begin hul hardloop, sal jakkals nie huiwer om hulle te byt nie. Hy dink vinnig en onthou dat jakkalse vreeslik bang is vir vuur. Dalk moet hul soos een hom oor die kop slaan met hul fakkels, maar nee. . van hulle is oud en loop met kieries ( die van hulle wat braaf genoeg was om saam te kom). Die wagwoord is om saam te staan, ja dis wat hulle moet doen. Hy verduidelik baie saggies en met so min as moontlik handgebare om nie die jakkals tot aksie uit te lok nie, dat hul soos een man na die jakkals moet loop met die fakkals omhoog. So gesê, so gedaan. Op telling drie, begin die elfies in die rigting van jakkals te loop. Die dier begin op sy senuwees raak, want voetjie vir voetjie kom die gloeiende vlamme na hom toe aangestap.

Jakkals en vuur is natuurlik nie maats nie, nie wat met hom gebeur het toe hy nog baie klein was en boer se seuntjie hom gevang en amper sy stert gebruik het vir 'n fakkal nie. Sy klein tandjies wat hy vir die seuntjie ontbloot het, was sy enigste redding en kon hy laat spaander. Jakkals het dus genoeg gehad van fakkels en vuur om hom 'n leeftyd te hou. Hy draai oorhaastig om, ploeg in die grond neer, spring weer op en hardloop vir al wat hy werd is. Oor hom hoef die elfies ten minste hierdie aand, nie oor bekommerd te wees nie.

Die elfies was baie verlig oor die eskepade met die jakkals vir eers agter die rug is en hulle het die pad huistoe met nuwe ywer aangepak. Hulle kan nie uitgepraat raak oor Sebastiaan se goeie plan en brawe optrede nie. Saamstaan is die beste wapen, so is daar eenmalig besluit. Hulle het sonder enige verdere probleme en gevare by die dorpie aangekom en na hulle verskeie huisies teruggegaan. Nadat Sebastiaan se magie trommeldik geëet is, het hy in sy bedjie gekruip en kort voor lank was hy saam sy familie vas in droomland.

Fluit fluit, die storie is uit  :notworthy:
« Last Edit: October 23, 2013, 01:07:33 PM by Anicia »

Meraai vannie Baai

  • Guest
Re: Sebastiaan die elfie
« Reply #1 on: October 02, 2013, 11:13:25 AM »
Ek het my plek geboek en styf styf duime vasgehou dat ek die eerste leser van jou heeeeel eerste kinderverhaal sal wees Anicia. Groot is my vreugde. Nou gaan ek myself geniet en weer 'n kinners word  :hello2: :notworthy: :icon_salut:

Offline Anicia

  • Suigeling
  • Posts: 95
Re: Sebastiaan die elfie
« Reply #2 on: October 02, 2013, 11:28:10 AM »
Baie dankie Raai! Ek waardeer jou vertroue in my opreg en ja jy was die heel eerste spesiale mens wat dit kon lees. Lief jou baie! :love7:

Meraai vannie Baai

  • Guest
Re: Sebastiaan die elfie
« Reply #3 on: October 02, 2013, 11:44:54 AM »
Anicia, jy is op die regte plek as jy graag wil leer en skryf, skryf, skryf. Ek het ure se genot vir die afgelope ses jaar saam met meeste van die skrywersmaters hier ervaar. 'n Mens word werklik soos familie en die ouens kuier oor en weer. Ek glo dat jy en Deon dalk nog die voorreg gaan he om die ouens te laat luister en sien hoe wei die olifante en leeus om julle swemgat  :toothy4:

Offline Angelica

  • Regular Members
  • Hardebaard
  • Posts: 1674
  • Gender: Female
Re: Sebastiaan die elfie
« Reply #4 on: October 02, 2013, 08:10:01 PM »
Ons sal moet 'n kinderverhale-boek uitgee.  Lyk dit my.
 :angel8:
Hopelik is ek eendag Ouma en kan ek al die verhaaltjies vir my liefste bondeltjie lees.
elle

Offline Anicia

  • Suigeling
  • Posts: 95
Re: Sebastiaan die elfie
« Reply #5 on: October 02, 2013, 08:53:53 PM »
Ek sal so trots voel as ek weet my stories word vir kleinkinders gelees.  :icon_study:

Offline Fransi

  • Regular Members
  • Melkbaard
  • Posts: 1274
Re: Sebastiaan die elfie
« Reply #6 on: October 03, 2013, 08:29:42 AM »
Pragtig geskryf. :-)

Offline Anicia

  • Suigeling
  • Posts: 95
Re: Sebastiaan die elfie
« Reply #7 on: October 03, 2013, 10:11:53 AM »
Baie dankie Fransi  :toothy4:

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10692
  • Gender: Female
Re: Sebastiaan die elfie
« Reply #8 on: October 06, 2013, 09:50:39 AM »
Dit is 'n mooi storie en ek hou van die kort sinne wat jy gebruik. 
Hier en daar is 'n paar "vingerfoutjies" maar ek is seker jy sal dit gou optel en regmaak. 

Gewoonlik sê ons:  saam met sy ouers.  Wanneer jy dit klaar reg gemaak het sal ek weer daardeur gaan en help proeflees. 

Baie dankie dat jy dit met ons deel.  Ek sien uit na die volgende storie.   :wave:
Om te weet is om te verstaan.

Offline Anicia

  • Suigeling
  • Posts: 95
Re: Sebastiaan die elfie
« Reply #9 on: October 06, 2013, 12:17:52 PM »
Dis heerlik om sulke positiewe terugvoer te kry. Dit spoor mens net aan om meer kreatief te raak.  :icon_salut:

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10692
  • Gender: Female
Re: Sebastiaan die elfie
« Reply #10 on: October 08, 2013, 03:45:13 PM »
Weet jy dat jy heel onder aan jou werk op die blou koevertjie kan klik om foute reg te maak?
Dit sal weer die venstertjie oopmaak waarin jy kan skryf. 

 :bootyshake:
Om te weet is om te verstaan.

Offline Anicia

  • Suigeling
  • Posts: 95
Re: Sebastiaan die elfie
« Reply #11 on: October 08, 2013, 05:14:26 PM »
Ek het van die foute reggemaak, maar sien nie nog raak nie. :dontknow:

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10692
  • Gender: Female
Re: Sebastiaan die elfie
« Reply #12 on: October 09, 2013, 09:29:58 AM »
Ek glimlag altyd vir hierdie gesiggie.   :dontknow: 

Jy moet nog die aanhalingstekens regmaak.  In Afrikaans is dit "  " die dubbel-aanhalingstekens.  Ons gebruik slegs die enkel-aanhalingstekens wanneer ons aanhalings binne in 'n sin met aanhalingstekens gebruik. 
In Afrikaans praat ons ook van:  "Die man wat daar loop."  en nie wie nie.   "Wat as die ding wat se skaduwee dit is. . .

Jou werk is werklik baie netjies.  Dit is 'n fees om dit te lees. 

 :bootyshake:
Om te weet is om te verstaan.

Offline Anicia

  • Suigeling
  • Posts: 95
Re: Sebastiaan die elfie
« Reply #13 on: October 09, 2013, 12:38:43 PM »
Ek geniet die mannetjies en gesiggies vreeslik baie. Laat mens lekker glimlag. Baie dankie vir jou hulp PM. Die skrywery is vir my soooo lekker. Dit sal wonderlik wees om my eie bundel te kan publiseer. 'n Groot droom sal bewaarheid word. :icon_biggrin:
« Last Edit: November 12, 2013, 12:10:41 PM by Anicia »

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10692
  • Gender: Female
Re: Sebastiaan die elfie
« Reply #14 on: October 10, 2013, 07:39:40 AM »
Ek is seker dat daardie droom bewaarheid sal word.  Ons skrywers hier op die forum het al twee bundels die lig laat sien en 'n derde is besig om te gebeur. 
Om te weet is om te verstaan.

Offline Anicia

  • Suigeling
  • Posts: 95
Re: Sebastiaan die elfie
« Reply #15 on: December 12, 2013, 09:07:14 PM »
 :wav: :wav: :wav: :wav:
« Last Edit: December 21, 2013, 11:46:31 PM by PM »