Author Topic: Nou 'reverse' jy agteruit Meneer!  (Read 3308 times)

0 Members and 1 Guest are viewing this topic.

Offline Joe Daai Ou

  • Suigeling
  • Posts: 95
Nou 'reverse' jy agteruit Meneer!
« on: July 14, 2013, 08:07:03 AM »
Soos julle algar al seker teen die tyd weet is ek gemoeid met die vervoer van Abnormale vragte deesdae. Dit is 'n ander tipe ry dié! Jy word gelaai met 'n item, dis nie snaaks nie, alle trokke dra vrag, maar die verskil is die vrag wat jy laai is nie tien en twintig ton nie, dis sommer moerse groot, dis 80 of 70 ton vragte! Die Maatskappy vir wie ek werk is ALE en hulle verskeep en vervoer daai groot goed. Suid Afrika het in sy Elektrisiteit honger fase ingegaan en skielik het Windturbines die inding geword. Windturbineplase is aan die opspring soos paddastoele. So het dit dan gebeur dat ek deel was van die span wat op Saldanhahawe waar die windturbine dele ingeskeep word die eerste windplaas in Suid Afrika moet begin uitry. Ons het eers die eerste twee bote afgelaai met duisende komponente en siedaar, verlede Vrydag was die amptelike dag dat die eerste deel uitgery gaan word na Hopefield waar die eerste windplaas sy staan gaan kry. Vir maande lank al word daar beplan en fondasies gegiet by Hopefield vir die afskop van die windplaas gier wat oor Suid Afrika trek soos Voëlgriep!

Ek word toe gekies om die heel eerste komponent van die Kolom waarop die toring gebou gaan word te vervoer na Hopefield. Die vorige dag is die toringkolom gelaai en vasgeketting. Dit is 'n 33 meter stuk staalpyp, 4 meter breed en bitter swaar, want op hom sal al die gewig rus wat nog bo-op hom gepak gaan word. Permitte is verkry en met die owerhede se toestemming en die verskeersmense se samewerking staan ek toe Vrydagoggend om 9 vm by die hek van die hawe met my tamaaie vrag van 72 ton vasgeketting, net reg vir die pad vat! Bloubaaidjies dans om my trok en check alles tot die laaste besonderehede soos wat die permit dit uitspel. Die permit vertel jou presies hoe en watter pad jy moet ry, waar jy links moet draai en waar jy regs moet draai. Die cops maak die pad skoon voor jou en jy hoef nerens te stop nie. Dis net blouligte en sirenes en dit is soos 'n sirkus om die minste te sê. Vanaf die hek is daar 'n oorbrug so kilometer verder padaf en dan op dieselfde pad is daar nog 'n oorbrug so 5 kilometer verder. Dit is die enigste twee brue waaronder ek moet deurry. Die aanwysings verder is reguit na Hopefield waar almal in gereedheid staan vir die eerste komponent van toring een van 40 torings.

Ek klim uit en maak kennis met my destydse vyande, die bloubaadjies, want hulle het my altyd gepla met 'loveletters' en ons gesels heerlik nou op 'n heel ander vlak, meen te seg, hulle is nou in my diens en moet maak soos my permit seg. Niks 'loveletters' meer van hulle kant af nie! Ek deel my bekommernis van die tweede brug dat my oog seg hy is dalkies net te laag om onderdeur te gaan, maar die hoofman bloubaadjie seg , "Nog nooit as te nimmer nie meneer, die mense wat die roetes uitwerk is 'professionals' en hulle ken elke brug se hoogte en dravermoë al sit hulle in kantore!" Nee dan is dit reg, wie is ek dan nou ook om met die 'professionals' te verskil! So geseg so gedaan en met loeiende sirenes en flitsende ligte verlaat ek die hawe gebied. Na so kilometer is dit die eerste brug en ek kom net net onder hom deur met so 300mm spasie aan die bokant. Toe sit ons die stuk in na brug nommer twee. Ek ry al te heerlik my aanbevole spoed van 40 kilometer per uur en daar in die verte doem brug nommer twee voor ons op. Ek verminder poed en stop net voor die brug. Ry stadig vorentoe en stop net voor die brug. Ek is te hoog en is 'n goeie twaalf duim te hoog vir die oorbrug. Koppe word gekrap en daar word heftig op die radios gesels en die uiteinde is die volgende! "Meneer jy is te hoog vir die brug en sal nou maar agteruit moet 'reverse' tot by brug een waar 'n afrit is, dat ons jou op 'n ander roete kan vat!"

Ek kyk in my spieëls en sien net die rondings van my toring kolom en geen pad nie. Ek radio my voorste eskort en seg, draai nou jou bakkie om en ry aan die anner kant van die pad en vertel my wanneer ek moet links of regs en so begin ek op radio bevele die agteruit 'reversetog!' 5 Kilometer is nie ver nie , maar as jy moet agteruit 'reverse' op 'n pad waar die allerdaagse verkeer ook nog ry is dit 'n nagmerrie! Die outoppie laat hom nie afsit nie en reverse so die 5 kilometer terug sonner dat ek ooit in die ander baan ry , so reguit soos 'n julle weet wat! Kom by die eerste brug aan en die Bloubaadjie stap nader en seg, "meneer ek sal nooit in jou bestuursvermoë twyfel nie, jy mag maar en jy kan! Ek druk daai Wolf van my in eerste rat en glip by die afrit uit en siedaar daar is die vrag vir die eerste keer oppad!

Op Hopefield is dit 'n konsternasie, want die vrag is laat, maar hy is nou hier en dis net kameras en flitsende ligte en fotos worre gevat, want dis mos die aankoms van stuk nommer 1 van bitter baie stukke. Ek word begelei nadat ek deur al die sekuriteits punte deur is na die landing site. Daar word die vragmotor so geplaas tussen twee hyskrane en binne 'n oogwink bespring die tegniese ouens die vrag en maak los en maak die hyskraan kabels vas en toe ek weer sien hang my vrag hoog in die kug. Hulle het tegnieke om sulke dinge wat swaar is te draai en te manuvreer en voor jy kon seg Jack Johnson toe staan basis stuk op sy fondasie met al die boute deur die gate en die stuk word vasgebout met die spoed van witlig! Wat 'n begin, en diep hier binne my weet ek dat die outop se oog was bitter selde verkeerd en hulle sal maar moet ag slaan op my opmerkings en skattings vermoë!
Sela.
O Moedertaal,O Mooiste taal, jou lief ek bo alles!

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10692
  • Gender: Female
Re: Nou 'reverse' jy agteruit Meneer!
« Reply #1 on: July 14, 2013, 09:14:30 AM »
Hartlik geluk Joe, jy mag maar, want jy kan!   :icon_salut: 
Dankie dat jy weer iets kom deel het, ek het jou gemis. 
Om te weet is om te verstaan.

Offline Angelica

  • Regular Members
  • Hardebaard
  • Posts: 1674
  • Gender: Female
Re: Nou 'reverse' jy agteruit Meneer!
« Reply #2 on: July 14, 2013, 07:07:41 PM »
Woww...  nie omdat jy 'n oog het vir hoogtes en laagtes,
maar omdat ek mal is oor groot strukture en stale en dinge wat gebeur!!
Asseblief, hou ons op hoogte.  En as jy fouties neem, plaas asseblief dat ons kan saampraat met Media24.
elle

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10692
  • Gender: Female
Re: Nou 'reverse' jy agteruit Meneer!
« Reply #3 on: July 15, 2013, 04:15:08 PM »
Dit sal baie gaaf wees om foudies te sien!
Om te weet is om te verstaan.