Author Topic: In die psigiater se spreekkamer  (Read 6272 times)

0 Members and 1 Guest are viewing this topic.

Offline adele

  • Hardebaard
  • Posts: 1932
  • Gender: Female
  • gryp na môre in klein-klein stukkies
In die psigiater se spreekkamer
« on: July 07, 2013, 08:57:22 PM »
“Hy is ’n psigopaat, dokter. Ek vra hulp.”

“Hoe weet jy? Wat gee jou die idee?”

“Dokter, ek leef saam met hom, baie jare al en het al oral hulp gesoek. Hierdie is my nog-’n-laaste-keer-hulpsoek. As jy bereid is om te luister en met hom te gesels, sal ek dit waardeer. Indien nie, dan is ek jammer ek het jou tyd gemors.”

Irritasie slaan deur Elzbeth se stem maar haar oë vul klaar met trane. Dis nou al soveel jaar wat sy haar man liefhet en by hom staan. Elke keer wanneer hy droogmaak en sy werk verloor, pak sy op en trek saam. Maar nou raak dit een te veel. Haar kind is op skool en sy gaan haar waaragtig nie meer ontwrig nie.

Dr. Wellterman sit sy elmboë op die lessenaarblad en druk sy vingerpunte teenmekaar.

“Mevrou, hoe gereeld slaan jou man jou?”

Sy skud haar kop.

“Dokter, hy slaan my nie. Dis ’n vraag wat die kliniekhoof my ook ’n paar jaar gelede gevra het, maar hy wou my nie glo nie. Luister asseblief na my. My man slaan ons nie, mishandel ons nie fisies nie, maar emosioneel en verbaal kan hy soos ’n nagmerrie op ons afkom. Hy lieg en bedrieg die hele wêreld met ’n sjarme wat hy elke dag blink opvryf.”

“Nou wat wil jy hê moet ek doen?” vra dr Wellterman.

“As jy hom kan oorreed om te erken hy het ’n yslike persoonlikheidsprobleem, sal dit al baie help. Maar eintlik wil ek weet of daar behandeling is vir so iemand indien hy daartoe sal instem.”

Die dokter glimlag simpatiek en vra haar of sy al een is wat dink haar man het ’n probleem. Elzbeth skep moed.

“Dokter, ek sal in ’n hof getuies kan roep van oraloor waar ons al gebly het. Vriende, familie, kollegas … kan vertel hoe hy stories kan opmaak, vrae omseil, alle skuld vir sy probleme altyd op iemand anders pak.”

Die man staan op en sê:

“Ek sal doen wat jy vra. Wag jy in die wagkamer dan gesels ek met hom. Ek sien die prentjie wat jy skets.”

Sy probeer ontspan maar sukkel maar. Haar hele toekoms hang af van die gesprek agter daardie toe deur. Soveel jare al smag sy na ’n normale lewe saam met ’n betroubare man; na ’n standvastige blyplek waar haar man ’n goeie pos kan beklee. Hy het al ’n paar keer ’n baie goeie werk met ’n uitstekende salaris gehad, maar …

Die spreekkamerdeur gaan oop. Hoopvol kyk sy op. Haar man stap net by haar verby tot buite sig in die gang. Sy staan op en dokter Wellterman praat sag.

“Mevrou, kom asseblief weer binne. Ek wil vir jou ’n voorskrif gee want ek besef nou jy is uiters depressief en op die randjie van ’n ineenstorting. Indien jy nie gou beter voel nie, sal ek reël vir opname in my kliniek vir slaapterapie en behandeling.”

Elzbeth kan haar ore nie glo nie. Praat die man regtig met haar? Sy sak in ’n dam slik in en spartel met haar laaste krag om haarself te beheer. Dan draai sy om en stap vinnig uit. Hierdie was haar laaste hoop om haar huwelik te red, om haar kind te red, om ’n sinvolle lewe met respek te lei.

Maar weer het haar man, die sjarmante aantreklike jongman met wie sy tien jaar gelede teen haar ouers se sin getroud is, iemand bedrieg. Met die grootste gemak ’n psigiater – iemand wat tog deur enige mens kan sien – om sy pinkie gedraai.

 :grommit:
adéle  :grommit:

Meraai vannie Baai

  • Guest
Re: In die psigiater se spreekkamer
« Reply #1 on: July 08, 2013, 06:17:43 AM »
Adele, ek ken 'n baie geliefde persoon wat in hierdie selfde situasie sit. Dit is so goed jy het haar verhaal hier verwoord  :crybaby2:

Offline Fransi

  • Regular Members
  • Melkbaard
  • Posts: 1274
Re: In die psigiater se spreekkamer
« Reply #2 on: July 08, 2013, 07:52:43 AM »
Baie goed geskryf.

Offline Jeannedarc

  • Regular Members
  • Snuiter
  • Posts: 314
Re: In die psigiater se spreekkamer
« Reply #3 on: July 08, 2013, 09:22:58 AM »
ek ken 'n baie goeie psigiater - en hy is 'n skrywer/digter/beeldhouer ook. ek is seker hy sal vir Elsbeth kan help  :icon_study:  :book1:

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10692
  • Gender: Female
Re: In die psigiater se spreekkamer
« Reply #4 on: July 08, 2013, 10:12:20 AM »
Baie mooi geskryf Adéle.  Dit is boektoe gehalte, soos altyd. 
Om te weet is om te verstaan.