Author Topic: Breekpunt en Sonneskyn  (Read 2627 times)

0 Members and 1 Guest are viewing this topic.

Offline adele

  • Hardebaard
  • Posts: 1932
  • Gender: Female
  • gryp na môre in klein-klein stukkies
Breekpunt en Sonneskyn
« on: March 06, 2013, 09:49:45 PM »
Ansa is na aan breekpunt. ’n Kankersleepsel het haar onverwags bekruip. Asof sy nie reeds al haar kragte saamgevleg het om die seer, verbreekte verhouding te verwerk nie. Daardie kragte wat vrot in ’n stink waterpoel rondsliert … sy vleg dit nou in stringe van driee om dit soos katoentou te versterk.

Haar geliefde steunpilaar, haar held! Sy voete verbrokkel. Uiteindelik besef sy die fyn krakies wat sy as karakter in ’n waardevolle antieke vaas gesien het, was die vasgeplakte skeure in sy persoonlikheid. En toe die eerste hoek afbreek, het die res van die verdroogde gom gedisintegreer.

Sy wil nie ingee nie. Die paar jaar saam met hom was wonderlik. Koestervol plak sy dit teen haar hartsmure en sluit die deur. Dis verby … die mooi wil sy behou. Maar eers moet sy sy laaste woorde verwerk en die krummels by die venster uitstrooi. Wat die wind nie oor die see gaan waai nie, moet die meeue maar oppik. Oppik. Sy herleef die oppik in haar liggaam, die seer van sweepslae en woedende woordhoue wat haar keel opgedroog het en snik deur die hortende asemteue deur.

Sondagoggend sit sy in die agterste hoekie van die kerk, op die wegsteekbankie skuins agter die pilaar. Die sang koggel haar uit, lag vir haar onbeholpe poging om deur haar verroeste, toegegroeide hekkie die songenade daar buite aan te raak. Dan kom die prediker se sagte woorde en val op die omgeploegde teelaarde van haar smart. Trane biggel koersloos wangaf en drup op haar hande. Sy voel ’n warm sonstraal wat om haar skouers tjalie en kyk op. Ds Henk se oe’ rus sag op haar as sy woorde tot almal spreek:

“Laat alles aan Hom oor. Op sy tyd gee Hy die regte uitkoms en gewoonlik is dit net betyds …”

Ansa skud haar kop effens. Vir haar sal dit nie betyds kom nie. Sy het dringend bekostigbare blyplek nodig en waar sal sy dit binne ’n dag of twee kry. Oor drie dae sit sy op straat.

“Ansa!”

Sy steek langs haar kar vas en draai om. Vraend kyk sy na Henk. Hy glimlag

“Hoe gou kan jy inpak?”

“Meeste goed is ingepak en die res is ’n uur se werk. Ek sal more stoorplek gaan soek en dan sommer wegloop.”

Seer, bitter klink haar woorde. Sy het regtig nie meer krag vir gesels nie en van ‘hou moed, uitkoms kom altyd wanneer die nag op sy donkerste is’, wil sy niks meer weet nie.

“Kom, ry agter my aan. My sus, Katrien, se huurder in hulle erf-woonstel het gister onverwags kennis gegee. Sy kontrak is sonder rede bee’indig en hy gaan terug Vrystaat toe. Sy soek dringend ’n huurder en jy kan die deposito afbetaal.”

Haar bene swik onder haar en sy leun terug teen die kar. Ongeloof spoel deur haar lyf. Sy wil praat, maar kry nie ’n geluid uit nie. Henk vat haar sleutel en sluit die deur oop.

“Ek jok nie, Ansa. Kom, laat ons ry. Katrien hou tee gereed. En daar gaan ons saam in gebed tree en God dank vir alles wat Hy van nou af in jou lewe gaan doen.”

Sy knik en weet dat haar geloof klaar gewankel het. Nooit weer wil sy twyfel nie. En al haar negatiwiteit uit haar verlede bly nou agter. Sy gaan die positiewe mens word wat almal so graag wil he’ sy moet wees. Die sonstrale boesem warmte in haar koue lyf in wanneer hulle by Katrien se huis stilhou.

 :grommit: 
adéle  :grommit:

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10692
  • Gender: Female
Re: Breekpunt en Sonneskyn
« Reply #1 on: March 07, 2013, 09:26:03 AM »
Ek dink dit is baie goed geskryf.  Sal weer 'n draai hier kom maak as ek terug is by die huis.  Ons gaan via Kimberly terug.  Lief jou matertjie.
Om te weet is om te verstaan.

Offline Fransi

  • Regular Members
  • Melkbaard
  • Posts: 1274
Re: Breekpunt en Sonneskyn
« Reply #2 on: March 08, 2013, 01:07:30 PM »
 :hello:

Baie goed geskryf.

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10692
  • Gender: Female
Re: Breekpunt en Sonneskyn
« Reply #3 on: March 10, 2013, 04:19:28 PM »
Hier het ek weer my draaitjie kom maak en dit is rillingmooi Adéle. 
Om te weet is om te verstaan.