Author Topic: Outop se 'Eenpot-Squisita-Seekos-Braairys'  (Read 10396 times)

0 Members and 1 Guest are viewing this topic.

Meraai vannie Baai

  • Guest
Outop se 'Eenpot-Squisita-Seekos-Braairys'
« on: March 03, 2013, 11:17:24 AM »
*Outop se 'Eenpot-Squisita-Seekos-Braairys'

5 Gewildste bestanddele:

Marinara Seekosmengsel (of *gemengde seekos wat beskikbaar is in SA)
Basmati rys
Eiers
Rooi en groen pepers
Knoffel

Alle Bestanddele:

1 Koppie basmati rys
1 Teelepel sout
2 Koppies kouewater
1 Pak gemengde seekos
5 Gekapte knoffelhuisies
1 Gekapte ui
4 Eiers (6 indien jy meer roereier vir jou gereg verlang)
Gesnyde, ontpitte rooi en groen pepers. Outop gebruik helfte van elk as dit redelike groot pepers is.
Olyfolie vir braai doeleindes, en 'n skeppie margarien vir die maak van roereiers.
Geur alles na eie smaak. (Outop gebruik grofgemaalde seesout en 'Moreton Bay' seekoskruie)

*Die seekos kan vervang word met bees- of varkvleis wat in repies/blokkies gesny is.
Braai dan 'n verskeidenheid sampioene saam.


Metode vir die gaarmaak van rys:

Braai 1 koppie rys en 1 teelepel sout, met 'n eetlepel olyfolie oor medium hitte in 'n wok, tot rys bleek lyk (nie bruin nie) gooi dan DADELIK die 2 koppies koue water daarop en sit die deksel op.

Laat stadig op medium hitte prut tot rys drooggekook is, ongeveer 20 min. Ons wokverstelling is op 5.

Toets deur 'n vurk tot teen die bodem te steek - as dit voel asof al die vog geabsorbeer is, skakel hitte af en los bedek vir 10 minute. MOENIE ROER NIE! Na tien minute kan jy die rys liggies deurroer met 'n vurk -  tot al die korrels los is.

Skep die rys nou uit tot dit benodig word saam met die roereiermengsel. Gewoonlik is die rys so los dat jy die wok net so kan gebruik vir die seekosmengsel.

Gaarmaakmetode vir res van bestanddele:

Braai jou gesnyde knoffel, ontpitte pepers en uie (so fyn soos verkies) in dieselfde wok waarin jy die rys gemaak het.

Gooi nou jou seekosmengsel liggies in die gebraaide mengsel en braai saam verder tot so gaar as wat jy die seekos verkies. Geur na smaak. Skep uit en hou eenkant vir eers.

Maak die wok skoon sodat jy die roereiers kan maak met 'n klein bietjie margarien deur die eiers in die wok te breek en liggies te bly roer. Moenie dit te fyn maak nie.

Gooi nou die gaar rys by die roereiers.

Roerbraai baie liggies saam tot alles deurgewerk is. Versprei hierdie mengsel mooi deur die wok.

Stel wok op laagste hitte en skep gaar seekosmengsel bo op die eier-braai-rys.

Plaas deksel op. Laat rus vir 'n paar minute vir geur om deur te trek.

Dien porsies gewys op en garneer na smaak.



 
« Last Edit: March 05, 2013, 09:05:36 AM by Meraai vannie Baai »

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10692
  • Gender: Female
Re: Outop se 'Eenpot-Squisita-Seekos-Braairys'
« Reply #1 on: March 03, 2013, 11:29:22 AM »
Oeeee dit lyk na 'n wenresep en ek wil sommer aan die foto knibbel!  Dankie Raaitjie. 
Om te weet is om te verstaan.

Meraai vannie Baai

  • Guest
Re: Outop se 'Eenpot-Squisita-Seekos-Braairys'
« Reply #2 on: March 04, 2013, 12:23:12 AM »
Die ene spesiaal vir jou om aan te knibbel PM.
 :love7:
Ek het so lekker met die kamera gespeel terwyl Outop eksperimenteer en kan getuig die eindproduk was altwee kere heerlik! Yep, die ou het die dis twee keer gemaak, eerste probeerslag het hy die seekos sterker gegeur met een hoogvol lepel "Moreton Bay Seafood Seasoning" wat toe te veel brand in gehad het, maar 'n lieflike vol kleur LOL (fototjie regs bo). Tweede keer was sy hand (en die dis) ligter en ewe smaaklik. Vir die ouens wat niks van seekos hou nie - vervang dan met bees- of varkvleis wat in blokkies/repies gesny is.

Hierdie metode van 'braairys' gaarmaak werk elke keer perfek! Outoppie kan die rys uit die wok skep en daar bly nie 'n krieseltjie oor wat vasgebrand is nie. Die geheim vertel manlief is blykbaar verskuil in die nie roer nie nadat dit gebraai en die water oorgegooi is - die steekproef met vurk na 20 minute EN natuurlik daardie '10 minute rus' voordat jy dit dan liggies losmaak met die vurk. :notworthy:

*ons lief ons rooiwyntjie saam met alles en plaas so drie skyfies haarlose perskes in die bolglasie saam met dit wat die wyn in die geurigste paradyssap verander! Druiwekorrels doen ook die ding  :`ip2:
 
« Last Edit: March 04, 2013, 01:20:21 AM by Meraai vannie Baai »

Offline Terry

  • Regular Members
  • Suigeling
  • Posts: 248
  • Gender: Female
    • Squisita Jewellery
Re: Outop se 'Eenpot-Squisita-Seekos-Braairys'
« Reply #3 on: March 04, 2013, 12:18:33 PM »
Duisend dankies vir die resep Meraai vannie Baai!  Dit lyk ongelooflik heerlik en ek het die fotos netso geniet, (amper tot op 'n punt waar ek die smake kon proe.)  Ons kan nie wag om hierdie een te beproef nie! 

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10692
  • Gender: Female
Re: Outop se 'Eenpot-Squisita-Seekos-Braairys'
« Reply #4 on: March 04, 2013, 06:03:05 PM »
Ons wil ook hoor hoe dit uitgekom het.  Toeeee!!!!!
Om te weet is om te verstaan.

Meraai vannie Baai

  • Guest
Re: Outop se 'Eenpot-Squisita-Seekos-Braairys'
« Reply #5 on: March 06, 2013, 01:08:54 AM »
Outop het gisteraand dieselfde metodes gebruik maar toe die gemengde seekos
met repies 'heart-smart-beef' vervang. Ek glimlag wyd en eet tog te lekker saam.
Dankie Terry vir die heerlike uitdaging, die Locke van Gatkantland geniet hulle self!

Daar is danksy jou, nou twee eenpotgeregte waarmee ons die kuiergaste kan bederf.
Ongelukkig kon ons nie sampioene te koop kry in ons winkeltjie; volgende keer gaan
Outoppie 'n verskeidenheid van sampioene saam met die uie braai. Net eers wag dat
cowboy-dorpie weer nuwe voorraad kry! So het die gereg toe gelyk  :icon_biggrin:



Speel toe so lekker dat ek sommer die seekosfototjies ook so 'opdis'  

« Last Edit: March 06, 2013, 01:32:14 AM by Meraai vannie Baai »

Offline Fransi

  • Regular Members
  • Melkbaard
  • Posts: 1274
Re: Outop se 'Eenpot-Squisita-Seekos-Braairys'
« Reply #6 on: March 06, 2013, 06:20:38 AM »
Dit lyk heerlik.

Offline Terry

  • Regular Members
  • Suigeling
  • Posts: 248
  • Gender: Female
    • Squisita Jewellery
Re: Outop se 'Eenpot-Squisita-Seekos-Braairys'
« Reply #7 on: March 06, 2013, 09:03:14 AM »
Ai Meraai vannie Baai, jy mag maar baie trots wees op jouself en Outop, hierdie lyk ongelooflik!  Selfs die fotos is so pragtig gedoen, dit is mos nou hoe 'n inskrywing vir 'n kompetisie lyk.   :toothy4:  Baie dankie aan julle.

Wat vir my persoonlik lekker is van hierdie resepte op die forum, is dat as jy elke aand kopkrap oor wat jy gaan maak vir aandete, dit so maklik is om gou gou op die forum te kom loer en so maklik as 1, 2, 3, het jy 'n lekker maklike resep.  

Dit maak my baie bly om te sien almal geniet die uitdaging.  Ons het nou al 'n paar resepte, maar hoop vir nog baie meer!  Onthou almal, die kompetisie sluit die 20ste Maart 2013.  Dis so maklik, kom se net vir ons wat jou gunsteling 5 bestanddele is en sit 'n foto op van jou dis!  

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10692
  • Gender: Female
Re: Outop se 'Eenpot-Squisita-Seekos-Braairys'
« Reply #8 on: March 06, 2013, 09:45:37 AM »
Heerlik heerlik Raaitjie.  Julle twiekies is werklik 'n goeie voorbeeld vir ons.  Geen moeite is ooit te veel nie. 
 :bootyshake:    :love7:   :book1: 
Om te weet is om te verstaan.

Meraai vannie Baai

  • Guest
Re: Outop se 'Eenpot-Squisita-Seekos-Braairys'
« Reply #9 on: March 12, 2013, 04:50:17 AM »
Ek is regtig bevoorreg dat my ou liefste hou van eksperimenteer. Die naweek het hy vir ons 'n hoenderborsie repies gesny en op dieselfde manier gaar gemaak. Dit was net so heerlik saam met die braairys. So opgewonde om die ander resepte ook te probeer!

Offline Joe Daai Ou

  • Suigeling
  • Posts: 95
Re: Outop se 'Eenpot-Squisita-Seekos-Braairys'
« Reply #10 on: March 20, 2013, 03:25:15 AM »
Gaat hom try mens, myse bek kwyl nou so, ek gaat versuip in die kwyl!
O Moedertaal,O Mooiste taal, jou lief ek bo alles!

Meraai vannie Baai

  • Guest
Re: Outop se 'Eenpot-Squisita-Seekos-Braairys'
« Reply #11 on: March 20, 2013, 03:31:18 AM »
Jy moet asb sneppie neem en kom wys Joe. Die seekos kan jy vervang met bees/skaap/vark/hoender.

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10692
  • Gender: Female
Re: Outop se 'Eenpot-Squisita-Seekos-Braairys'
« Reply #12 on: July 25, 2013, 05:10:32 AM »
Speel ek toe met Die Afrikaanse Forum op die internet en ek druk "images" en ek sien ons foto's en ek dink. . .  wat 'n wenner!

Dankie vir almal se foto's en saambou aan die forum. 
Om te weet is om te verstaan.