Author Topic: Gewilde kinderversies en liedjies  (Read 105780 times)

0 Members and 1 Guest are viewing this topic.

Meraai vannie Baai

  • Guest
Gewilde kinderversies en liedjies
« on: January 19, 2013, 11:49:50 PM »
Vingerling
Duimpie het in die water geval,
Lekkepot het hom uitgehaal,
Langeraad het hom huis toe gedra,
Fielafooi het hom neergelê,
en Pinkie het vir Ma gaan sê.

******

Nog 'n vingerling:
Duimpie
Duimpie se maat
Langeraat
Filafooi
Piepie in die kooi

******

Trippe trappe trone
Trippe trappe trone,
die varkies in die bone,
gansies op die groene gras,
eendjies in die waterplas,
ek wens dat kindjie
groter was
om Ouma se eendjie
op te pas.

******

Apie
Daar is ’n apie
op ’n stokkie
voor my ma
se agterdeur,
daar’s ’n gaatjie
in sy broekie
en sy stertjie
loer daardeur

******

Klap, klap, klap!
Klippertjie kappertjie
kap, kap, kap.
Mondjie
happertjie
hap, hap, hap.
Voetjie skoppertjie
handjie klappertjie.
Happertjie
skoppertjie
klap, klap, klap.

******

Handjies klap (1)
Handjies klap, koekies bak,
bring die meel,
nie te veel,
klits die eiers gou-gou-gou,
lekker eet ons nou-nou-nou

******

Handjies klap (2)
Handjies klap, koekies bak,
Oupa kom in die langpad aan.
Mientjie speel met die kind
in die bos,
Daniel maak sy skoenrieme los,
en Katjies skree:
Mieu, mieu, mieu, mieu, mieu!

******

Kennewippie
Kenne-kennewippie mondjie fluit,
traantjie in die ogie, neusie snuit,
tikkie op die kop; my storie is uit!

******

Hoendertjie speel
Vyf fraai vingertjies,
poffertjies dik;
hier kom die hoendertjie
pik, pik, pik!

Maak gou ’n vuisie,
vingertjies vyf;
vat vas die vingertjies
styf, styf styf.

Vyf fraai vingertjies,
vuisie so sterk;
weg vlug die pikkertjie,
weg, weg, weg!

******

Treinrympie
Sakke, pakke
sout en peper;
gee my stoom
dan loop ek beter.

******

Wielie-Walie
Wielie-wielie-walie,
die aap sit op die balie.
Tjoef-tjaf val jy af.
Wielie-wielie-walie

******

Hoedjies van papier
Een, twee, drie, vier,
hoedjies van, hoedjies van,
een, twee, drie, vier,
hoedjies van papier.
Het jy dan g’n hoedjie meer?
Maak dan een van koerantpapier!
Een, twee, drie, vier,
hoedjies van papier

******

Tortelduifie
Tortelduifie sit in die eikeboom,
sing die lied van sy lewensdroom.
Koer, tortelduifie, koer,
tortelduifie by die waterstroom!

******

Perdjie
Hop, hop, hop!
Hop my perdjie, hop!
Oor die klippe, oor die slote,
trap versigtig met jou pote!
Altyd op galop!
Hop my perdjie, hop!
Draf, draf, draf!
Draf my perdjie, draf!
As jy my wil afgooi, perdjie,
gryp ek gou-gou aan jou stertjie,
dan val ek nie af!
Draf my perdjie, draf!
Ho, ho, ho!
Ho my perdjie, ho!
Kom ons eet eers gou ’n stukkie
en dan rus ons net ’n rukkie.
Hokaai, hokaai, ho!
Ho my perdjie, ho!

******

Slaap, my kindjie, slaap sag
Slaap, my kindjie, slaap sag, onder rose vannag.
Eers die armpies om my nek en dan warmpies toegedek.
Môre vroeg, as God wil, word my kindjie gewek;
môre vroeg, as God wil, word my kindjie gewek

Slaap, my kindjie, slaap sag, onder eng’le se wag;
hulle toon jou in ’n droom kindjie Jesus se boom.
Slaap nou soet, hulle wys jou ’n droomparadys,
Slaap nou soet, hulle wys jou ’n droomparadys.

******

Met ’n mandjie rose
Liefste Tannie, ons bring rosies, rosies blink met môredou;
mooie kleurtjies, soete geurtjies, en dis alles net vir jou!
Rosies fluister: "Liefde, soentjies", in verbloemde blommetaal;
rosies fluister: "Liefde, soentjies", in verbloemde blommetaal.

Rosies wat ons uit ons tuintjie, liefde uit ons hartjies haal.
Rosies wat ons uit ons tuintjie, liefde uit ons hartjies haal.
Maar die soentjies ... in geen mandjie; nêrens in wil dit geluk.
Liefste Tannie, ons is raadop: soentjies moet jy self maar pluk!
Liefste Tannie, ons is raadop: soentjies moet jy self maar pluk
« Last Edit: January 19, 2013, 11:52:53 PM by Meraai vannie Baai »

Meraai vannie Baai

  • Guest
Re: Gewilde kinderversies en liedjies
« Reply #1 on: January 19, 2013, 11:54:11 PM »
Naas:

HANDJIES KLAP (3)

Handjies klap
koekies bak
Lewer en long
vir die siek ou jong
daar kom die krappie
Kielie, kielie, kielie


Meraai vannie Baai

  • Guest
Re: Gewilde kinderversies en liedjies
« Reply #2 on: January 19, 2013, 11:56:32 PM »
Hier is 'n paar wat 007 in die kabouters se woordmuseum bewaar het:

ESELTJIE RY
Woorde: SAAR ENGELA
Musiek: J. KROMHOUT

Ka-poe-te, ka-poe-te, ka-pat,
die eseltjie ry ná die stad.
Hy pluk aan sy toompie
en sukkel met oompie
en trek sy twee lang ore plat.

Ka-poe-te, ka-poe-te, ka-pout,
maar kyk so 'n esel is stout!
Toe, roer jou, Jan-dooi,
loop vinnig, loop mooi,
en klaps! kom 'n raps op die bout!

Ka-poe-te, ka-poe-te, ka-pat,
maar nou laat so 'n eseltjie spat.
Dit spring en dit skop,
en dit wip agter op,
en oompie lê plat in die pad!

**********

FEËLIED
Woorde: MAXIE DE VILLIERS
Musiek: MAXIE DE VILLIERS; verwerk: PIERRE MALAN

Daar is feetjies, kleine feetjies in my tuintjie.
En ek wonder wie kan raai waar hulle woon.
Hulle huppel heen en weer op die blaartjies sag en teer;
hulle huisies is die blommekelkies skoon.

Daar is feetjies, kleine feetjies in my tuintjie.
Hulle vlerkies skitter fraai in sonneskyn.
Hulle fladder hier en daar, speel so lieflik met mekaar;
hulle rokkies is gemaak van blou satyn.

Daar is feetjies, kleine feetjies in my tuintjie.
Op hul hofies dra hul elk 'n blommekroon.
Elke keer as hulle lag klink dit helder, lief en sag.
O, ek wens dat hul vir altyd hier wil woon.

***********

DIE KABOUTERTJIES
Woorde: ADELE JOOSTE; gewysig: P. MCLACHLAN
Musiek: Volkswysie; verwerk: H. PIETER VAN DER WESTHUIZEN

"Kyk Mammie, ek wil gou eers groet voor ek gaan ry.
My houtperd staan daar buitekant en wag vir my."
"Ai, houtperd, jy kan skop! Kom, laat ons weggalop!"

Klop, klop, klop, klop ry ons nou aan tot by die dam.
Ek maak my perdjie vas daar aan 'n boom se stam.
Hier woon my vriendjie Klaas, Kabouterland se baas.

Sy matertjies is almal besig om te naai.
Gebukkend sit hul daar en stik aan skoentjies fraai.
Daar's rye kant en klaar; dalk gee hul my 'n paar.

Ou Klasie, die kaboutertjie, stap na die kas.
Hy haal daaruit 'n paartjie wat vir my net pas.
"O, baie dankie tog! Nou sal ek lekker spog."

"Kaboutertjies, dit is al laat, ek moet nou gaan.
As ek nog langer bly sal Mammie nooit verstaan.
Totsiens Kabouterspan! Bly lekker by die dam!"

Volkswysie uit "Loelie se liedjies" van Adele Jooste.

************

KABOUTERMAN
Woorde: P. MCLACHLAN
Musiek: Duitse Volkswysie; verwerk: WALTER SPIETHOFF

Daar onder in die bos woon kabouterman.
Hy het 'n tuitpunt hoed en 'n jassie aan;
In sy mond g'n enkel tand,
towerfluitjie in sy hand.
Wie kan hy tog wees, daardie ou kalant?

Kabouter, stouter, maak jy die kinders bang?
Is jy die tokkelos wat die kinders vang?
Arrie, ek is bang vir jou;
kyk hoe beef my broekie nou!
Wag, ek moet laat spat, net-nou kom die ou.

***********

DAAR DANS 'N BIBA-BOETSIMAN
Woorde: WALTER SPIETHOFF
Musiek: Volkswysie; verwerk: WALTER SPIETHOFF

Daar dans 'n Biba-Boetsiman in ons ou huis alom-di-dom,
daar dans 'n Biba-Boetsiman in ons ou huis alom.
Hy maak 'n vreeslike boehaai, hy laat die stowwe aaklig waai.
Daar dans 'n Biba-Boetsiman, hy dans net wat hy kan.

**********

DIE MEUL
Woorde: A.D.E. GUTSCHE; gewysig: P. MCLACHLAN
Musiek: Duitse Volkswysie; verwerk: DIRKIE DE VILLIERS

Ek hoor die ou meul by die waterval raas: klip-klap!
Die heerlikste speelplek op vader se plaas: klip-klap!
Ons swem in die water en spat mekaar nat,
ons klim in die boom en gooi klei met die lat.
Klip-klap, klip-klap, klip-klap.

Die waterwiel draai en die wieletjies klein: klip-klap!
Die meulstene maal en die meel is so fyn: klip-klap!
En moeder bak koekies, beskuitjies en brood--
dit bly vir ons lekker, al word ons ook groot.
Klip-klap, klip-klap, klip-klap.

Kom somer en son word die koring gou ryp: klip-klap!
Die oes ingesamel, die meulsteen geslyp: klip-klap!
Die hemelse Vader gee daaglikse brood;
so ly ons nooit honger en ken ons geen nood.
Klip-klap, klip-klap, klip-klap.

**********

HASIE IN DIE BOSSIE
Woorde: Tradisioneel
Musiek: S.A. Volkswysie; verwerk: CHRIS LAMPRECHT

Hasie in die bossie, sit en slaap.
"Arme hasie, is jy siek?
Waarom lyk jy so komiek?"
Hasie spring! Hasie spring!
Hasie spring, spring, spring!

S.A. Volkswysie, soos opgeteken deur Chris Lamprecht by mev. Hettie Cillié van Stellenbosch.

**********

DIE GEVEERDES
Woorde: PIERRE MALAN
Musiek: PIERRE MALAN

Ou Kalkoentjie, maak vas jou skoentjie,
jou vere sleep rond op die grond.
Ou Makoutjie, gaan soek tog 'n vroutjie,
of anders loop jy heeldag deur vir kwaadgeld hier rond.
Ou Eendjie, jou kleertjies is spierwitte veertjies,
die waters is nooit baie ver.
En ou meneer Kraan, wat eenbeen staan,
jy dink seker jy's miljoenêr!

********

Meraai vannie Baai

  • Guest
Re: Gewilde kinderversies en liedjies
« Reply #3 on: January 19, 2013, 11:59:13 PM »
Doedoe my baba
doedoe my skat
hier kom klaasvakie om jou saam te vat
sy perd is 'n vlermuis
sy lampie 'n ster
hy gaan jou saamneem
na droomland so ver
doedoe baba van my
doedoe saggies en teer.

Michelize:
Ek het al 4 van my kindertjies so aan die slaap gesing. My oudste, nou 17, het altyd die 'doedoe-refrein' so agter my aan gesing. Ai, hoe krimp my hartjie nou van verlang na daardie tye...

Slaap pikanini, die vee's in die kraal,
al die ou skapies en bokkies.
Môre-vroeg kry jy van soetpap 'n maal,
en 'n paar spierwitte sokkies.

Doedoe...
Doedoe...
Doedoe...
Doedoe...

Of die woorde heeltemal korrek is, weet ek nie. My pa het dit altyd vir ons gesing en dit is hoe ek dit onthou!

Meraai vannie Baai

  • Guest
Re: Gewilde kinderversies en liedjies
« Reply #4 on: January 20, 2013, 12:00:45 AM »
Piet Magriet:

Slaap, Kindjie, slaap
Slaap, Kindjie, slaap,
daar buite loop 'n skaap,
'n skaap met witte voetjies,
hy drink sy melk so soetjies,
skapie met sy witte wol,
Kindjie drink sy magie vol.
Slaap, Kindjie, slaap.

Slaap, Kindjie, slaap,
Papa gaan na die Kaap,
Papa het gaan koekies koop,
En more maak jy jou ogies oop,
Dan sit jy in die hoekie
En kry ‘n klein soetkoekie;
Jy vat dit met jou handjie
En byt dit met jou tandjie,
Slaap, Kindjie, slaap

Slaap, Kindjie, slaap,
jou pa is na die Kaap,
jou mamma skud
die boom se top,
dan val 'n droompie
op jou kop,
slaap, Kindjie, slaap.
Slaap kleine babatjie

Slaap, kleine babatjie
bo in die boom;
slaap, kleine babatjie
sonder 'n droom.
As die wind waai,
sal die babatjie swaai,
maar as die tak breek,
lê hy onder die boom.

Wiegeliedjie
Slaap, my kindjie, slaap sag,
onder rose vannag.
Eers die armpies om my nek
en dan warmpies toegedek.
More vroeg, as God wil,
word my kindjie gewek.
More vroeg, as God wil,
word my kindjie gewek.

'n Wiegeliedjie CJ Langenhoven

Lamtietie, damtietie, doedoe my liefstetjie,
moederhartrowertjie, dierbaarste diefstetjie!
Luister hoe fluister die wind deur die boompietjie,
heen en weer wieg hy hom al oor die stroompietjie.
"Doedoedoe bladertjie,
slapenstyd nadertjies;
doedoedoe blommetjies,
nag is aan't kommetjies."
So sing die windjie vir blaartjies en blommetjies.

Bo in die bloue lug flikker die sterretjies -
hemelse brandwaggies, lampies van verretjies,
wakend oor windjies en wolkies en stroompietjies,
wakend oor mensies en diertjies en boompietjies.
"Wees maar gerustetjies,
slaap maar met lustetjies!"
So sing die sterretjies -
stilletjies, verretjies:
Vuurvliegies, lugliggies, ewige sterretjies!

Onskuldige ogies en voetjies en handetjies!
Wie weet hoe ver moet my kleintjie nog ganetjies,
ver deur die wereld se kronkels en gangetjies!
Bly tog maar kleintjies en bly dit maar langetjies.
Bly maar by moedertjie,
kindlief se hoedertjie -
slaap in haar arrempies,
saggies en warrempies,
Doekies, dan, doekies in moeder se arrempies

PIKANINIE-WIEGELIED
Slaap Pikaninie, ons vee's in die kraal--
almal ons skapies en bokkies.
Môre vroeg kry jy van soetpap 'n maal,
en 'n paar spierwitte sokkies.
Doe-doe, doe-doe!
Doe-doe, doe-doe!

Slaap Pikaninie, die ou bobbejaan
ken mos vir jou vantevore.
As jy nie slaap, kan jy seker wees, man,
byt hy jou neus af en ore.
Doe-doe, doe-doe!
Doe-doe, doe-doe!

Pappie kom môre terug van die dam;
ry op sy vet ou kapater.
As hy dan hoor hoe jy soet was, my lam,
hoe sal jou Pappie dan skater!
Doe-doe, doe-doe!
Doe-doe, doe-doe!

Kruip nou maar diep in jou velkombers in;
Mammie bak lekker vars tertjies.
As jy nie slaap kry ou Mombak sy sin,
slaat Pikanien op sy stertjies.
Doe-doe, doe-doe!
Doe-doe, doe-doe, doe!






« Last Edit: January 20, 2013, 12:07:38 AM by Meraai vannie Baai »

Meraai vannie Baai

  • Guest
Re: Gewilde kinderversies en liedjies
« Reply #5 on: January 20, 2013, 12:02:59 AM »
Fransi:

My pa het blykbaar ook vir ons: "Strome van seën van bowe" gesing- veral as ons nie wou ophuil huil nie. 

Ek onthou my ma het die volgende woorde vir my sussie gesing op die wysie van Nils Holgersson:

Nicolien,
klein kleine Nicolien
Mamma Nonna-nooientjie
Pappa klein Patroontjie
klein, kleine Nicolien.

Die robotliedjie soos wat ons dit geleer het:

Ek ry in my mooi motorkar
en saam ry ook my pop
en as ek by die rooi lig kom
dan weet ek ek moet stop

(Koor)
Stop sê die rooi lig
ry sê die groen lig
oppas sê die geel lig.
Oppas wat jy doen
(Pampoen!)

Meraai vannie Baai

  • Guest
Re: Gewilde kinderversies en liedjies
« Reply #6 on: January 20, 2013, 12:05:24 AM »
Naas:

Oom Olifant
Jou reuse dier
die mense lag van pure plesier
want waar het jy al ooit gehoor
van 'n stertjie van agter
en 'n stêêêrt van voor.

Haai volstruis
met jou lang nek
en jou plat bek
na wie vry jy?
Na Jan Kolêlê

PM:


Ai,  julle kielie so lekker!   

Volstruis volstruis met jou lang nek,
kan jy hom nog langer rek,
kan jy hom nog langer maak,
tot jy aan die dak kan raak.
Kyk dan 'n bietjie daar
of jy nie my bal gewaar
kyk 'n bietjie mooi volstruisie hoor!

of so iets!   


Meraai vannie Baai

  • Guest
Re: Gewilde kinderversies en liedjies
« Reply #7 on: January 20, 2013, 12:10:43 AM »
Meraai: Nog 'n variasie van Apie se bruilof  

Ek sit eendag so druk en skryf,
daar onder op my plek,
toe kom neef Kesie aangery,
’n briefie in sy bek.

Dit was geskryf op varkensblaar,
dit was ’n bietjie dof;
dit was mooi ’n uitnodiging
na Apie se bruilof.

KOOR
Ons dans dat dit so gons
die lekker kotteljons;
die orkessie vals die speel ’n wals,
die aap was musikant.

Toe begin ons met die etery,
die tafel staan gedek;
elk gryp maar wat hy kon kry,
elk het ietsie in sy bek.

Die bruid ry op ’n olieblik,
die skilpad het getrek,
die leisels was gesmeer met pik,
die toompie in sy bek.

Oom Jakkals het die koets gery,
die voorman was ’n mier;
strooijonker was oom Ystervark,
strooimeisie was nig Tier.

Oom Springhaas, met sy groot groen bril,
hy was die bruidskoetsier;
toe kom ou Bobbejaan daar aan
op ’n bloue Arabier.

Die fluitjies, tromp en die ramkie,
dit was ’n bietjie dof;
maar ’n mooi ding was dit om te sien
die apie se bruilof.

*In NZ was hierdie gediggie in 'n maandblad gebruik vir kompetisie vir ons kleingoed. Hulle moes 'n prentjie teken daarby dink ek. Kan nie meer so mooi onthou! Sal bietjie weer gaan loer 



Offline Meraai vannie Baai

  • Wysgeer
  • Posts: 3662
  • Elke dag aan ons Geskenk, is 'n kosbare voorreg.
Re: Gewilde kinderversies en liedjies
« Reply #8 on: June 03, 2018, 10:53:15 AM »
Ek dwaal vanaand weer deur hierdie kosbare erfenis van ons kultuur en is so dankbaar dat ons dit ook hier bewaar het. Die skakel hierheen het ek ook gaan deel by 'n blad vir Afrikaners in Australia waarby ek aangesluit het, en soveel vreugde alreeds ervaar het.  :book1: :love7: :notworthy:
« Last Edit: June 03, 2018, 10:44:08 PM by Meraai vannie Baai »

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10692
  • Gender: Female
Re: Gewilde kinderversies en liedjies
« Reply #9 on: July 23, 2018, 11:28:11 AM »
Hier neem jy my terug op spore van goeie jare beskore.  Van onthou van mense wat ons met liefde oorlaai het.  Van onthou van kindersgrootmaak en hul weer met liefde oorlaai het.   :read2:   (Ek lief hierdie karaktertjie wat so lank ernstig sit en dan skaterlag!)
Om te weet is om te verstaan.

Offline Meraai vannie Baai

  • Wysgeer
  • Posts: 3662
  • Elke dag aan ons Geskenk, is 'n kosbare voorreg.
Re: Gewilde kinderversies en liedjies
« Reply #10 on: October 16, 2018, 12:05:54 AM »
Ek wil graag die skakel deel van 'n kosbare woordskat vir die immigrante mammas wat opsoek is na nog versies/liedjies in ons mooiste taal.

http://karooeisteddfod.com/files/Afrikaans/Afrgedigtefinaal.pdf

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10692
  • Gender: Female
Re: Gewilde kinderversies en liedjies
« Reply #11 on: October 16, 2018, 01:49:02 PM »
Hierdie is my gunsteling Raaitjie.  Dankie vir die skakel mater.   :love7:


Moenie 'n mielie kielie nie


Moenie 'n mielie kielie nie, want mielies kan nie lag nie en dít is ook nie iets wat mens van mielies sou verwag nie.
Tóg moet ek jou verwittig: soms raak mielies vreeslik pittig, maar hul grappies het al baard en hul sit daar doodbedaard,
want 'n mielie kan nie lag nie en die waarheid is hul mag nie.
Dit is ook beslis veel beter vir 'n honger mielie-eter, want hóé sou ek kon smul aan 'n stronk wat lag en gil?
En dit help vir eet en kou dat my kos sy bek sal hou ~ Philip de Vos
Om te weet is om te verstaan.

Offline Meraai vannie Baai

  • Wysgeer
  • Posts: 3662
  • Elke dag aan ons Geskenk, is 'n kosbare voorreg.
Re: Gewilde kinderversies en liedjies
« Reply #12 on: October 16, 2018, 10:50:55 PM »
O my wereld! Ek gaan die ene gaps PM. Het alweer 'n sinkplaatgiggel aan my  :toothy4:

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10692
  • Gender: Female
Re: Gewilde kinderversies en liedjies
« Reply #13 on: October 17, 2018, 10:23:38 AM »
Die metrum van die gedig kielie my!  Ek lief dit.  Dan skep dit oopbeklag se beelde en my tone krul van lekkerkry.   :bootyshake:
Om te weet is om te verstaan.

Offline Meraai vannie Baai

  • Wysgeer
  • Posts: 3662
  • Elke dag aan ons Geskenk, is 'n kosbare voorreg.
Re: Gewilde kinderversies en liedjies
« Reply #14 on: October 18, 2018, 12:37:27 AM »
Ek stem saam! Op die manier wat ek dit by FB gedeel het, het die reels 'n interne rympatroon gevorm wat my opgeval het.  Gawie het toe kommentaar gelewer: Een van my kabouters het die gedig by ons kultuurdag voorgedra.