Author Topic: CJ Langenhoven oor Waardes en Waagmoed  (Read 9662 times)

0 Members and 1 Guest are viewing this topic.

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10692
  • Gender: Female
CJ Langenhoven oor Waardes en Waagmoed
« on: January 08, 2013, 02:45:25 PM »
    Gee my 'n man
    Wat sê wat waar is
    As die duiwel daar is
    Wat doen wat reg is
    As die regter weg is
    Wat trou by sy gewete bly
    As hy straf in plaas van beloning kry.
    ~ C.J. Langenhoven

Maar tussen hakies wil ek net dit opmerk: baie van ons voorouers het stoomharte by die ossewaens gehad; baie van ons het remskoenharte by die stoomwaens.
    ~ C.J. Langenhoven

Dit beteken nie altyd veel om 'n man van belang te wees nie. Die belangrikste persoon op 'n begrafnis is die dooi man.
    ~ C.J. Langenhoven

Skeur jou los van jou eie nasie af en verwonder jou dat die ander nasies nie oormekaar val om jou in te neem nie.
    ~ C.J. Langenhoven

Die verkwisterige man eet die vrugte van sy lewe groen op; die inhalige laat hulle sit tot hulle vrot is.
    ~ C.J. Langenhoven

Daar is honde wat maar net hoef te knor. Dit is die wat reeds tevore gewys het dat hulle kan byt.
    ~ C.J. Langenhoven

Moenie skryf om ongevraagde raad aan te bied nie. Jy weet nie of die man nie miskien te dom is om te weet dat jy slimmer is as hy nie.
    ~ C.J. Langenhoven

Moenie skryf om te preek nie. Jy weet nie of die man nie miskien self meer besorg is oor sy siel as jy oor joue en syne saam nie.
    ~ C.J. Langenhoven

Moenie versuim om jou brief nog 'n slag oor te lees nie. Miskien weet die man nie dat jy beter is as die foutjies wat jou ontglip het nie.
    ~ C.J. Langenhoven

Ek sê nie al die suur mense is fariseërs nie. Maar naastenby al die fariseërs is suur. In alle geval, solank as hulle onthou om fariseërs te wees. Want dis ook 'n inspanning.
    ~ C.J. Langenhoven

Verbeel jou 'n wêreld sonder skaterlag, sonder eens 'n glimlag. 'n Hemel op aarde, sal die fariseër sê. Uit so 'n hemel sou ek wegloop hel toe.
    ~ C.J. Langenhoven

Die toets van 'n man is, hoeveel daar nodig is om hom te laat lieg.
    ~ C.J. Langenhoven

Waar is die waarheid. Ja, waar is hy, dis waar. Maar waar is hy?
    ~ C.J. Langenhoven

Bly spaarsaam opdat jy die vermoë mag behou om vrygewend te bly.
    ~ C.J. Langenhoven

Daar is mense wat hulle oë so knaend daarbo op die Hemel gevestig hou dat hulle nie sien hoe min goed hulle hande hieronder op die aarde doen nie.
    ~ C.J. Langenhoven

Leen jou ore uit aan iedereen wat 'n tong het, maar moenie jou tong uitleen aan iedereen wat ore het nie.
    ~ C.J. Langenhoven

Doen wat reg is en maak die Voorsienigheid aanspreeklik vir die gevolge - in plaas van, soos nou, te maak soos jy lekkerkry en die Here die skuld te gee van die gevolge.
    ~ C.J. Langenhoven

Beny 'n man sy spaarsaamheid en sy volharding en jy hoef hom nie sy onafhanklikheid te beny nie.
    ~ C.J. Langenhoven

Die geveinsde man doen soveel moeite om die deug na te aap dat 'n mens jou verwonder waarom hy nie sommer meteens die egte artikel aanskaf nie.
    ~ C.J. Langenhoven

Om af te breek is geen kuns nie. 'n Klein babetjie kan 'n blommetjie verniel wat dit 'n God gekos het om te maak.
    ~ C.J. Langenhoven

Om te luister na 'n gesprek wat vol vloekwoorde is, is net soos om te kou aan 'n mondvol koring wat vol klippe is.
    ~ C.J. Langenhoven

Frisgewaag is half gewonne: maar dis maar die eerste helfte.
    ~ C.J. Langenhoven

Moenie 'n man help wat homself kan help nie. Jy maak hom hulpeloos vir die toekoms en jy vermors die hulp wat jy vir 'n werklik behoeftige moes gespaar het.
    ~ C.J. Langenhoven

Ons glo aan die vreemde profeet omdat al wat ons van hom weet goed is. Dit moet goed wees, want ons hoor dit van hom self.
    ~ C.J. Langenhoven

Die man wat ál dae lekker kos het, eet nooit lekker nie; en die man wat heeljaar vakansie hou, het geen één rusdag nie.
    ~ C.J. Langenhoven

Voordat jy 'n nuwe koers inslaan, bereken eers of jy weer sal kan omdraai as jy jou altemit vasloop, en onthou geen pad is na weerskante toe afdraand nie.
    ~ C.J. Langenhoven

Die man wat sy saak gewin het, beskuldig nie die regter van partydigheid nie.
    ~ C.J. Langenhoven

'n Man wat sy toevlug tot 'n leuen moet neem, vind dikwels uit dat hy in 'n huis gaan skuil het wat nie 'n agterdeur het nie.
    ~ C.J. Langenhoven

Waar die moeilikheid so groot is as 'n berg, klim die wyse bo-oor, die dwaas graaf 'n tonnel onderdeur en bly binne vassteek; die lafaard draai om.
    ~ C.J. Langenhoven

Die enigste tyd wanneer gespaarde geld niks werk is nie, is wanneer jy 'n goedkoop artikel gekoop het.
    ~ C.J. Langenhoven

Skat jou bekwaamheid te min om mee te spog en jou karakter te hoog om mee te speel. Op die manier sal jy jou selfrespek bewaar en die respek van jou ewemens verseker.
    ~ C.J. Langenhoven

Berou is 'n ewigdurende rente op 'n skuld waarvan die kapitaal nooit vereffen kan word nie.
    ~ C.J. Langenhoven

Ek het baie paaie geloop op die ou wêreld en ek weet van meer wat ander mense probeer het; maar op die ou end weet ek nie van 'n ligter pad as die regte nie.
    ~ C.J. Langenhoven

Hoe min mense sou te veel drink as die hoofpyn in die prop was in plaas van in die boom van die bottel.
    ~ C.J. Langenhoven

Hoe meer waarheid daarby is, des te gevaarliker is 'n leuen. Die oneerlike melkboer sal niemand bedrieg as hy die bottels vol skoon water maak nie.
    ~ C.J. Langenhoven

Aanneemlikheid en waarskynlikheid is die lewensbloed van 'n leuen. 'n Leuen wat uit die staanspoor uit nie geglo word nie is 'n doodgebore duiweltjie.
    ~ C.J. Langenhoven

Die meerderheid is reg, die minderheid opreg.
    ~ C.J. Langenhoven

Behandel jou meerdere met beleefdheid omdat dit jou plig is; jou gelyke omdat dit jou plesier is; jou mindere omdat dit jou voorreg is.
    ~ C.J. Langenhoven

Hoe min opinies sou daar in die wêreld gewees het as ons almal die moeite moes doen om eers 'n saak te verstaan en dan te beoordeel!
    ~ C.J. Langenhoven

As iemand se kritiek oor my werk gunstig is, doen ek nie die moeite om te ondersoek of hy 'n bevoegde beoordelaar is nie.
    ~ C.J. Langenhoven

'n Mens bie in die begin omdat jy die artikel wil hê. Naderhand bie jy omdat die ander hom wil hê.
    ~ C.J. Langenhoven

Gaan die geregshof gewapend met geregtigheid. En met goeie getuie en 'n knap advokaat.
    ~ C.J. Langenhoven

Jy eet aan jou eie tafel lekker omdat jy weet hoe dit in die kombuis toegaan. Aan die vreemde, omdat jy dit nie weet nie.
    ~ C.J. Langenhoven

As jy nie wil inhou nie moet jy naderhand uithou; en as jy nie kan aanhou met teëhou nie moet jy maar tevrede wees om op te hou met byhou.
    ~ C.J. Langenhoven

Moenie huil oor die kwaad wat jou vyand jou aangedoen het nie. As jy hom nie kan laat huil nie, moenie hom laat lag ook nie.
    ~ C.J. Langenhoven

Jy mag nie kan kies tussen jou vyand se haat en sy liefde nie, maar jy kan kies tussen sy haat en sy minagting.
    ~ C.J. Langenhoven

Die na-aper is nie eens 'n aap nie, want die aap is sommer self 'n aap.
    ~ C.J. Langenhoven

So wie geleer het om vas te trap, het daarby geleer om nie op sand te staan nie.
    ~ C.J. Langenhoven

Doen wat reg is en jy sal baie stampe kry, maar nie in jou gesig nie.
    ~ C.J. Langenhoven

Nederigheid kan nooit val nie.
    ~ C.J. Langenhoven

Hoe weelderiger woord hoe skraler gedagte.
    ~ C.J. Langenhoven

Om doeltreffend te lieg, moenie die waarheid heeltemal omdraai nie: hou hom skuins.
    ~ C.J. Langenhoven

Rek die waarheid en jy doen aan hom te kort.
    ~ C.J. Langenhoven

Ek neem nie die papier kwalik dat hy geduldig is nie, maar die leser.
    ~ C.J. Langenhoven

Daar mag halwe eiers wees wat beter is as leë doppe: maar die halwe eiers wat na my koers toe gekom het, was nog altyd vrot.
    ~ C.J. Langenhoven

 Dis waar daar is nie rook sonder vuur nie: maar hoe meer rook hoe minder vuur.
    ~ C.J. Langenhoven

 Afguns is ongegunde hulde.
    ~ C.J. Langenhoven

Om van my hoogmoed ontslae te raak het ek nederigheid aangekweek, en daarop hoogmoedig geword.
    ~ C.J. Langenhoven

Met 'n man wat met homself tevrede is, is niemand anders tevrede nie.
    ~ C.J. Langenhoven

Die man wat agter sy eie goed kyk, sal nie sy buurman s'n vat nie.
    ~ C.J. Langenhoven

 Kleinserigheid is die voorkant van seerkleinigheid.
    ~ C.J. Langenhoven

Die kontant betaler is baas van sy sak.
    ~ C.J. Langenhoven

Die waarde van die koelte is in die warm son rondom hom.
    ~ C.J. Langenhoven

Die afdraande van die heenreis is die opdraande van die terugkoms.
    ~ C.J. Langenhoven

Sonder net daardie één soort rusies waar weerskante gelyk het, sou daar vrede op aarde wees.
    ~ C.J. Langenhoven

Maak staat op die raad van die man wat twyfel of dit reg is: die man wat nie twyfel nie het die saak maar van een kant af beskou.
    ~ C.J. Langenhoven

Draai jou verkyker om om jou buurman se foute waar te neem, en hy sal van die ander kant af daardeur kyk en jou deugde vergroot sien.
    ~ C.J. Langenhoven

Die preke wat die meeste indruk op ons maak, is die wat ons die minste nodig het. Hulle maak die indruk omdat hulle ons op die soort kwaad wys waarvoor ons uit ons eie die gevoeligste is.
    ~ C.J. Langenhoven

Die man wat die kosbaarste ware het, loop die minste daarmee te koop. Op hierdie reël is die tong geen uitsondering nie.
    ~ C.J. Langenhoven
Om te weet is om te verstaan.

Meraai vannie Baai

  • Guest
Re: CJ Langenhoven oor Waardes en Waagmoed
« Reply #1 on: January 09, 2013, 12:31:15 AM »
Kosbaar verby en 'n wonderlike toevoeging tot ons woordskuur. Ekke lig die hoed hoog en knak die knieg liefste PM vir die aandra en deel van hierdie  :notworthy: :icon_salut: :hello2: