1965. Ek is nog nie vyf jaar oud nie. Ek onthou nog die dae van ponde, sjielings en pennies. Ons bly in ‘n bywonershuisie op ‘n plaas in Daljosaphat, naby die Paarl.
Net anderkant die grondpad waar die pad vurk, is ‘n kafeetjie. Regte plaaskafee. As ek reg onthou, was die eienaar destyds ‘n Jood genaamd Isaacs.
Ou Isaacs het sulke gelukspakkies verkoop vir ‘n pennie. Binne in die pakkies was daar plastiekkarretjies. Ek het die karretjies met ‘n passie bymekaar gemaak.
Dit was ook die tyd wat borrelgom uitgevind is. Daardie groot pienkes met die naam van Wicks en toegedraai in die Amerikaanse vlag se kleure. My se pa het borrelgom gehaat met dieselfde passie.
Wat my besiel het, weet ek vandag nog nie, maar toe my pa my weer kafee toe stuur vir ‘n brood kry ek ‘n pennie vir my moeite. Maar instede van die gelukspakkie vra ek vir ‘n pennie se Wicks borrelgom. (4 borrelgomme)
“Is jy seker?” vra ou Isaacs. “Jy koop dan altyd die gelukspakkie met die karretjie.”
“Ek is seker, Oom.”
Skaars by die kafee uit is die eerste Wicks uit sy plastiekvlagkombersie en binne-in my mond. Die sappe dans liggies soos feetjies oor my smaakkliere. Ek kou en kou en kou myself in ekstase in. Vergeet skoon waar ek is. By die huis gekom, wil my pa weet wat ek kou.
Ek skrik.
“Borrelgom, Pa.”
Jy lieg nie vir my pa nie.
Net daar sien ek my eerste kulkuns toertjie.
Waar dit so skielik vandaan kom, weet ek nie maar daai plank met die leer vooraan verskyn soos uit die niet in my pa se hand. Die eerste hou val en my gat vat vlam.
“Jy gaan dit nou dadelik teruggee.”
Die volgende hou val en my kruis vat vlam. As my pa eers jou gat begin mis slaan, is jy in die moeilikheid. Ek hol, of is dit brandhol, terug kafee toe met my pa en die seermaakding kort agter my.
En ek hol en dit brand. En ek brand en dit hol...
As ek spoed verloor, brand my rug, of my gat, of wat ook al in die pad kom en dan brandrughol ek weer met ‘n nuwe erns.
By die kafee gekom, keer die toonbank my en die volgende hou val.
Ek gooi daai Jood met die orige drie onwettige borrelgomme en gil dat hy dit asseblief moet terugvat want dis nie goed vir my gesondheid nie. Die goed laat my hol brand.
My pa het daai Jood die dood met ‘n begrafnis in ‘n varkhok belowe as hy dit ooit weer durf waag om een van daai onheilsgoed aan een van sy kinders af te smeer.
Ek is van borrel- en kougom genees tot vandag toe en weet ook nie wat van my karretjies geword het nie, want ek het my passie daarvoor ook verloor.
Ek vermoed my pa het ‘n probleem met ‘n kouery gehad, want as jy oopmond gekou het is dit rustig reggestel met ‘n rughand.
2008. So sit ek vanoggend in die kerk. Rustig. Daar gaan ‘n jongman van ‘n paar maande ou gedoop word. Geen probleem. Ek is lief vir kinners.
Sal dopeling se ouers asseblief na vore kom.
Die ma staan op. Netjies aangetrek. Redelike aantreklike vrou. Al herkouend soos ‘n koei in melktyd. So het sy oopmond haar kakebeen geoefen tot die foto’s klaar geneem is en die familie weer sit. Sy het verkies om nie op die doopvrae te antwoord nie. Wou seker nie haar kakebeengimnastiek onderbreek nie.
Worstel ek nou die dag met ‘n onskuldige vraag. “Het my geboorte enige invloed op my lewe gehad?” Natuurlik ‘n bietjie, maar nie naastenby so groot soos borrelgom nie.