Na aanleiding van die nuwe-hoop plasing - hierdie inligting kom asof gestuur
Die laaste paar weke was die ouvrou soms gevaarlik na aan opgee. 'n Nuwe simptoom het kop uit gesteek waarmee ek nagte lank gewroeg het. Op aanbeveling van dierbare mater Gawie, het ek besluit om dit as aanvulling op die plasing van hallusinasies te deel. Ek het haar belowe sodra die nuwe vyand vir langer as 'n week verjaag kan word deur my suurstofaanvulling te verhoog en tydsduur te verleng, sal ek kom deel. Touch wood - tot nou het dit gewerk en haar woorde na sy my gedig gelees het was 'n humorkruk inderdaad:
Entertainment met slaaptyd is okey, maar net as jy self die genre kies. (Gawelina)

as sien nie meer glo is nie
en jou oog se kyk nou oënskynlik
net 'n drukgang van onvermoë
tussen illusie en die werklikheid is
in my wêreld van
kronkel slange
in neon gehul
deur vreemde strate
in swart en wit
op ons kamerdeur
en iewers teen die muur
rank 'n plant sonder naam
tussen niks en nêrens
hang 'n gipskruidkrans
van plastiek, so glashelder
langs die spieël
gluur 'n spinnekop
met gestreepte pote in oranje
en swart rugbykousies
na 'n boeppensmandjie
op ons houtvloer
rietdun armpies klou weerskante
aan handvatsels en trippeltrap
melankolies van links na regs
asof deur modderplasse
en vervaag dan in die skyn...
© Meraai vannie baai