Author Topic: oor onnodige goed in die huis  (Read 5104 times)

0 Members and 1 Guest are viewing this topic.

Offline AB

  • Regular Members
  • Hardebaard
  • Posts: 1930
oor onnodige goed in die huis
« on: December 12, 2012, 07:23:05 AM »
op die rapport koerant se webblad raakgelees

Klipsop: Kontrepsies
2012-12-10 20:29
Artikelopsies
Deel
Kry Rapport op

Cathy Kotzé

Die meeste van ons sit met kaste vol  van die goed; kontrepsies wat  veronderstel is om in ‘n ommesientjie klaar te speel met die alledaagse schlepp in en om die huis. Dis veral hierdie tyd van die jaar wanneer interessante kontrepsieshoog op die inkopielys is.

Almal koop Kersgeskenke, en talle advertensies op TV en in koerante besing die goed se lof. “Dis onontbeerlik!” word daar verkondig en natuurlik glo ons die reklame.

Na Kersfees word alles teen afslagpryse verkoop, want  die winkels wil ontslae raak van onverkoopte voorraad. Mense ontdek dat daar nog ‘n klein bietjie krediet oor is op hulle kredietkaarte en hulle is doodseker  dat daardie spesifieke kontrepsies nooit weer só goedkoop sal wees nie.  Daar word vir oulaas ge koop!

Die meeste van die goed word nooit gebruik nie en dit word baie keer nie eers uit die boks gehaal nie. Wanneer die geldnood in die middel van Januarie begin druk, beland heelwat daarvan skielik op die rakke van winkels soos Cash Converters en Cash Crusaders, veral wanneer dit  as Kersgeskenke ontvang is.  Partykeer word dit,  so half in die gees van  Kersfees wat verby is,  by die hospice winkels afgelaai.

Toe ek nou die dag die koskaste regpak, sien ek die espresso-maker is steeds agter in die een hoek. Dit was nou ‘n geldmors kontrepsie! Niemand in die huis drink eers espresso’s nie!  Die Tassimo is ‘n baie beter nuwe aankoop, want daarmee kan almal se smaak bevredig word. Dit maak lekkerder koffie as Starbucks.

Die elektriese quesadilla-pan is eenkeer gebruik. Ek kan nie meer so  mooi onthou waar ons die appelskiller gekry het nie, maar dit gaan op ons volgende garage sale verkoop word. Of, nee wag, nou onthou ek. Ek het dit by ‘n ander garage sale gekoop.

Dis ook waar ek die drie broodmasjiene raakgeloop het; een vir gebruik, twee vir "spaar". Een vrou het verontwaardig gesê: “My eks-skoonma het dit so wragtig vir my een Kersfees gegee! Dê, vat! Dis splinternuut. Gee vir my $5 vir die dekselse ding!”

Die springmielie-maker, roomysmaker, donut-maker, George Foreman rooster, elektriese braaipanne, elektriese braairoosters  en ‘n hele paar ander kontrepsies word amper nooit gebruik nie. Nogtans bly dit maar in die kombuis, net vir ingeval.

Daar is wel sommige items waarsonder ek nooit weer sal kan klaarkom nie. My grootste hartseer is die feit dat  my Kenwood voedselverwerker in Suid-Afrika moes agterbly. Kanada se elektriese ware werk met 110 volt; in  Suid-Afrika is dit  220 volt. Ek het  my eerste Kenwood skoon opgebruik en die  tweede een was vir jare my lankmoedige handlanger in die kombuis. Daarmee kon ek elke lid van die gesin se fiemies bevredig.

Die Noord-Amerikaanse KitchenAid kan nie kers vashou by die Kenwood nie. Toe ek die eerste keer probeer knie het, het die deeg oombliklik aan die eenkant van die bak uitgepeul. Volume het nie saakgemaak nie, die deeg het  net aanmekaar boontoe gefoeter.

Partykeer begin die hele kontrepsie ‘n riel dans en dan moet ek keer dat dit nie heeltemal van die toonbank af wikkel nie.

So af en toe werk ‘n kontrepsie  darem soos wat daarvan verwag word. Die nuwe diepbraairooster kan enige iets laat proe asof dit in liters olie gebraai is, maar dit gebruik net een eetlepel olie op ‘n slag.

Die ronde, plat Roomba beweeg rustig van vertrek tot vertrek, suig die matte uit en vee die houtvloere. As dit klaar is gaan parkeer dit vanself weer op die kontrepsie waar die batterye herlaai word. Die hond hol gewoonlik weg en gaan kruip iewerste onder ‘n bed in wanneer die Roomba die gang aftjommel. Katte is min gepla en  geniet dit soms om bo-op ‘n Roomba te klim en saam te ry terwyl dit vloere skoonmaak. Partykeer beland videos van hulle en hulle Roomba voertuig selfs op You-Tube.

Kat op Roomba

My jaffel-makers het in Suid-Afrika agtergebly, en hiersô word dit net as braai-toebehore verkoop. Dit het sulke lang handvatsels.

Cadac stofies is onbekend, maar gasbraaiers is op baie plekke die enigste vleisbraai toestel wat toegelaat word. Ons moes met leedwese afskeid neem van hout-braaivleis vure. Dis seker te verstane, want feitlik al die huise is houthuise.

Gelukkig is die vroumense van die huis nie die enigste sondaars wanneer dit by allerhande kontrepsies kom nie. My man se motorhuis het amper nie meer plek vir die motor nie! Daar’s lugkompressors, draaibanke, ‘n elektriese saag,  drukboor; om nie te praat van die kleiner goed nie. Waarom hy soveel elektriese bore het, weet nugter. Ons het genoeg industriële grootte kramtoestelle om  ‘n stofferingbesigheid mee te begin. By my man speel nostalgie ‘n groot rol en ou goed word versigtig in plastiekhouers weggebêre – om nooit weer gesien te word nie.

Ai, die versoekings! Die winkels is vol wonderlike goed. Elke stokperdjie het hulpmiddels; net jammer dit word dikwels aangekoop net omdat mens van voorneme is om nog eendag daardie stokperdjie te beoefen.

Dis egter met rekenaars en ander elektroniese kontrepsies waar daar heeltemal oorboord gegaan word. Die nuwe credo: “There’s an app for that!” keer darem dat dit oop en bloot rondlê. Dit oorlaai net ons slimfone, tiek-en-kliek tablette, ens. (Ek is veral beïndruk met die app wat plante eien deur net ‘n foto van ‘n blaar met jou selfoon te neem.)

Dan is daar Siri. http://www.apple.com/ios/siri/siri-faq/.  Nie net gesels dit terug nie, mens kan dit enige vraag onder die son vra, en dit antwoord jou. Dis ook die eerste kontrepsie met ‘n humorsin, al sug die  mooi vrouestem wanneer jy byvoorbeeld vra hoe  sy nou regtig lyk. Siri help veral om perspektief te gee  wanneer mens hartlik siek raak vir al die kontrepsies wat besig is om jou lewe oor te neem. En sy’s darem goeie, belese geselskap!

Soms dink ek terug aan die dae  toe ons nog self geknie het. Toe ons nie geweet het van mikrogolfoonde nie. Toe mens jou eie innovasies moes prakseer om iets gedoen te kry. Dit was interessante dae, maar om eerlik te wees, ek mis dit nie regtig nie.

Nuwerwetse kontrepsies is eintlik nie so sleg nie.

http://www.rapport.co.za/Opinie/Blogs/Klipsop-Kontrepsies-20121211

Meraai vannie Baai

  • Guest
Re: oor onnodige goed in die huis
« Reply #1 on: December 13, 2012, 02:57:51 AM »
Dankie Stoffel. Lekker gelees. Ek is nie kontrepsiemens nie. Neem my te lank om die knoppies baas te raak. Nou nog bloedrooi gebloos toe SA vriend kom kuier en ek Outop moes gaan pla waffer knoppie is aan op ons koffiemasjien in kombuis. Groen - (drrrrrrukkie groen knoppie), was nog altyd vir my aan en rooi af.  :dontknow: Maar die ding werk gatkantvorentoe soos alles wat knoppies en nommers het vir my.

Offline Fransi

  • Regular Members
  • Melkbaard
  • Posts: 1274
Re: oor onnodige goed in die huis
« Reply #2 on: December 13, 2012, 09:16:14 AM »
 :icon_biggrin: Meraai, dieselfde met my. Nommers en knoppies, ai.  :icon_biggrin:

Dankie AB, dit was interessant om te lees.

Offline AB

  • Regular Members
  • Hardebaard
  • Posts: 1930
Re: oor onnodige goed in die huis
« Reply #3 on: December 13, 2012, 10:40:23 AM »
na die huisbrand het ons agtergekom sonder hoe baie goed kan jy klaarkom. daars goed wat gebrand het wat ek nei eers mis nie, en daars goed wat in die kaap gestoor word wat ons ook nie mis nie en ek dink wat ek nou gaan vertel gaan min mense my glo.

sedert die huisbrand op 7 feb het ons nog nie 'n TV gekoop of geleen nie, hier is nie een in die huis nie en ons mis dit glad nie.

ongelukkig het ek niks positief te seg vir TV in ons of ander huishoudings nie want die TV reël mens se lewe. Dit reël selfs mens se lewe vanuit iemand anders se huis: Sommige mense is kwaad vir jou as jy in die aand net gou wil kom hallo seg so teen half 7 wanneer dit die beste tyd is om by mense 'n vinnige koppie tee of glasie wyn te gaan drink en paar woorde wissel en half 8 weer huis toe gaan......waaaaant ons kyk 7 de laan ( stro..........) wag laat ek my bek hou voor ek my hart uitpraat ivm met die TV wat gemaak het dat mense vreemdelinge vir mekaar geraak het en nie meer oor en weer kuier nie.

ons woon nou 100 treë ( 91 meter) van Toit en Susan af en hulle het 3 TV's of is dit 4 in die huis en genadiglik is hulle nie verslaaf aan die ding nie. so een tot 2 keer 'n week stap ek en vrou oor en gaan drink 'n iets daar en kuier lekker en stap so 10 uur weer huis toe. Waneer ons daar kom sit hulle die TV af ( sal dlak 'n program opneem vir later kyk, maar hulle wil ook kuier en gesels. dit is hoe ek dit in die ou dae voor TV geken het hoe mens maak.




Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10692
  • Gender: Female
Re: oor onnodige goed in die huis
« Reply #4 on: December 13, 2012, 03:49:40 PM »
Ek stem heelhartig saam.  TV het baie mense se vriende geword. 
Om te weet is om te verstaan.

Meraai vannie Baai

  • Guest
Re: oor onnodige goed in die huis
« Reply #5 on: December 14, 2012, 12:00:34 AM »
Ons tv staan onder in die grot en word op die meeste, net een keer 'n week aangesit wanneer ons weet daar was een of ander nuusgebeure wat ons graag in beeld wil sien. Ek stem saam met jou Stoffel, dit is heerlik om by iemand te kuier en almal staar nie na die kassie maar na mekaar! As daar nou nog so ou rooietjie saam kuier is dit perfek afgerond.

Offline Meraai vannie Baai

  • Wysgeer
  • Posts: 3662
  • Elke dag aan ons Geskenk, is 'n kosbare voorreg.
Re: oor onnodige goed in die huis
« Reply #6 on: September 15, 2015, 04:14:51 AM »
Sien ek het al paar keer hier ingeloer - darem elke keer oor iemand ander se skouer.  Probeer ek nou dink wat is op die oomblik 'n wit olifant in ons pandok .... nog steeds die TV. Daar so baie ander lekker dinge om te doen dat die kassie 'n laaste opsie vir die verveelde ou sal wees. Ek het natuurlik twee koffiemasjiene geerf by skoondoggies en dit sal lyk of ons verslaaf is aan koffiemaak want ons het self ook tweetjies (een is darem die wieletjieshuis sin hoor!)  

Offline AB

  • Regular Members
  • Hardebaard
  • Posts: 1930
Re: oor onnodige goed in die huis
« Reply #7 on: September 15, 2015, 09:33:51 AM »
Ons het intussen weer TV ( teen my sin) gekry.
Toe koop ek groot Samsung en die ding kan ook 3 D wys en fotos ook verander na 3D op die skerm. Ek kyk so af en toe na my fotos daarop en verder kyk ek nie TV nie. Die vrou kyk so af en toe seker 3 of 4 keer in die week.
Ek voel steeds dieselfde oor TV, is tydmors veral as mens in ag neem van hoeveel tyd word gemors deur advertensies en dan kan sommige programme ook erg kangdradig en uitgerek wees. Iets wat in 3 minute gebeur het word dramaties uitgerek na 30 minute met seker 20 minute advertensie tussen in.

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10692
  • Gender: Female
Re: oor onnodige goed in die huis
« Reply #8 on: September 15, 2015, 12:15:55 PM »
Ons is ook nie groot TV-kykers nie.  Ons het die familiepakket en Hannes kyk graag die "Ruiter in Swart Reekse" Mc Gywer en Walker!  Ek lees graag en snuffel op Oom Google rond as ek opvangs het. 

Wat my telkens verbaas en meer en meer frustreer, is die selfone!  Saterdagaand weer het ons by vriende gaan kuier en sowaar, op 'n kol het al drie van hulle hul neuse in die selfoon geploeg.  Ek het hulle maar net so gekyk en 'n draai gaan stap in die tuin.  Wat is dit met mense?  Ek kan verstaan as jy 'n ernsige besigheid het waar jou oproepe noodsaaklik is, maar Saterdagaand met gaste?  Wat het van mense se maniere geword, of is dit maar vandag se maniere?
Om te weet is om te verstaan.

Offline AB

  • Regular Members
  • Hardebaard
  • Posts: 1930
Re: oor onnodige goed in die huis
« Reply #9 on: September 15, 2015, 01:40:39 PM »
Liewer 'n glas wyn as selfoon in die hand op 'n saterdagaand.

Ek het 2 stories gehoor van by mense kuier en selfone

Die een man hier naby het vertel dat met sommige vriende maak hulle so, as die vriende daar kom kuier dan sit almal, groot en klein sy/haar selfoon in 'n groot bak wat by die voordeur staan en jy haal dit eers daar uit wanneer die gaste huistoe gaan.

Die ander maak weer so, kuier bymekaar en die een wat die eerste op selfoon kyk was die skottelgoed.

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10692
  • Gender: Female
Re: oor onnodige goed in die huis
« Reply #10 on: September 15, 2015, 01:44:11 PM »
Dit klink mos nou vir my na 'n uitstekende oplossing!  Was skottelgoed. Ons kan by die volgende kwaaddoener se huis bymekaar kom vir ontbyt.  :icon_biggrin:
Om te weet is om te verstaan.

Offline Meraai vannie Baai

  • Wysgeer
  • Posts: 3662
  • Elke dag aan ons Geskenk, is 'n kosbare voorreg.
Re: oor onnodige goed in die huis
« Reply #11 on: September 15, 2015, 10:40:30 PM »
As ek daardie reel hier in die pandok toepas AB, hoef ek nie hand in water te steek as die tienermanne kom kuier nie - die selfone gaan nog vasgroei aan julle hande waarsku ek gereeld! Hahahah en ek sal ook nie ontbyt hoef te maak nie PM  :icon_biggrin:

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10692
  • Gender: Female
Re: oor onnodige goed in die huis
« Reply #12 on: September 18, 2015, 01:53:46 PM »
Ek kon lekker vloek.  Vloekwoorde is ook onnodige goed in die huis. 
Nou het ek 'n slim plan bedink om die probleem te omseil.  Elke vloekwoord het 'n boetebedrag.  Almal word daaraan onderwerp. 
Gewone vloekwoorde is R20.00 per woord.  (Ja, dit kom nie goedkoop nie.)
Die p-woorde is R50.00
As jy die Here se naam ydel gebruik is dit R100.00 
Om te weet is om te verstaan.

Offline Meraai vannie Baai

  • Wysgeer
  • Posts: 3662
  • Elke dag aan ons Geskenk, is 'n kosbare voorreg.
Re: oor onnodige goed in die huis
« Reply #13 on: September 18, 2015, 09:20:35 PM »
Dit is 'n wonderlike manier om die bekkies in toom te hou en die gatsakkies voller  :hello2: :notworthy:

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10692
  • Gender: Female
Re: oor onnodige goed in die huis
« Reply #14 on: October 01, 2015, 09:27:14 AM »
MY gatsakkie!   :read2:
Om te weet is om te verstaan.