Woordskuur > Praglyne

Kleurvolle Woordkwas

(1/3) > >>

Meraai vannie Baai:
Adele (Annie): Violetgeluk

tussen reënboog en ‘n varingbos

vlei jy my teen jou skouer vas,

koers jou donker oë deur my siel

dan vleg ek ‘n tranekrans om jou hart

-die druppels kaats violetgeluk,

en vlinder jou lippe teen my wang

streel jy veerlig oor my wese

en raak ons vingers aan mekaar,

swaai ons in sonligsirkels rond

tussen reënboogdruppels vol kleur

en trane met parfuum gegeur,

vou die varings ons liefde ewig vas.

©

********************

My emosies perskebloeisel onder die vaandel van jou liefde ...

Soos pomelosap ontsnap my binneste ...

Besoedel deur bitterheid elke pit 'n grief in my hart ...

Elke vesel 'n bedrieg skyfies vol ewige verwyt ...

Winter in my lewe verryp die groei so vol in blom...

Net droë niks bly oor . . . .

Ek weet hoe nietig ek is, 'n skaduwee ...

Effense beweging roer my siel gedwee ...

Oë vind mekaar beloftes word gebore ...

Trilling gly deur elke opgewonde woord ...

Buite stil die sterrenag ...

Die wind hou asem op ...

In oorgawe swyg die maan ...

Slegs die geringste suggestie van 'n fluistering was genoeg om drome soos wolke weg te sweef ...

Die lugruim verander van kleur waar hitte en koue saamsmelt ...

Haar skuheid weggekwyn gly sy in die maanlig tot daar ...

Verlange is soos ‘n donker stormnag, dit maak my roerloos bang ...

Miskien moet ek maar hande wring, na ouma soek om raat te bring...

Vol geur van bloeisels rein en wit soos was ...

Ek is vry, gevul met jou omgee ...

Met snakasemstilte het jy my oorgee geneem, en teer en fyn toegevou ...

Van sonskyn in jou klokkielag en blou lug van 'n helder dag ...

©

Meraai vannie Baai:
SueEe:
Ek laat woorde soos druppels val en die gedagtes wat uitkring sal nie meer my eie wees nie ...

Elk vemorsde morsel stukkie-stukkend-geluk …

En as die niks in niet verdwyn - en wat belangrik is in 'n oomblik net wegkwyn ...

Die rivier van woorde is in vloed - die bogrond van my wese weggespoel ...

Rooi-roos-rivier …

So vèr verwyder die vlees van die gees - bloot uit vrees ...

Vergelding - vergalg die siel ...

Jammer is soos die val van die hammer - die kap van die byl ...

Dat my môre, skielik vandag is, en vandag, te skielik my gister word ...

Daar onder die wilgerboom met sy eie disko sterre liggies wat sagkuns hul flikker-liggies om haar droom wêreld strooi …

Drome word herinneringe uit afgeleefde wêrelde ...

Sonwolke soos mis …

Sy hart met trane uitgespoel…

Die herfs se wind bebloede kind…

My siel, weggesink in skadu-hoeke om nie gevind te kan word…

My hart verswelg die verdoemde tralies…

Gister, is so ondeurdringbaar, skuilend soos ‘n halwe’maan…

Donkermaan, gesukkel gespruit, tot volrond…

Ek snak na my asem en gooi die toekoms in die stof…

Nog voor die dag ‘n son kon baar het haar hart verskiet en stof opgegaar…

Diep in die geheime kronkels van my kreukelkamers is al die geheimenisse reeds gestoor…

In die donkerte van die nag sit die oeruil op wag want êrens het hy die duiwel hoor lag…

Verswart my denke, verkrag my siel ...

Verkorrel my hart en versnipper my wese...

My gedagtes lê êrens tussen 'n pad en 'n geut vannaand ...

En die windkombers is gevul met lugleegtes ...

Jy het my van my blus beroof - en tog hou ek my doof ...

My verblinde sig sal die kyk verlig - tot by die trane op my oog se rand ...

My oë tap onsigbare druppel vir druppel uit my leë lewe ...

Boom sonder blare ...

Blom sonder kleur ...

Diep, onder die weggespoelde land weerklink die vele weënde siele ...

©

Meraai vannie Baai:
Double D:

Mag ek myself verf met die roosrooi kwas van jou liefde ...

mag ek jou reënboog wees, gevul met al die kleure wat my laat dink net aan jou ...

die taal van jou siel ontsyfer soos die kontras tussen warm en koue kleure ...

ek drink uit die poele van jou akwamaryn blou oë ...

jou hart omvou my soos warm geel oker ...

jou passie so diep en eg soos karmyn rooi ...

die taal van jou lyf soos 'n swart en wit koerant gevul met stories oor jou ...

die seer in jou hart soos op 'n koue omberbruin wintersdag ...

mag ek my honger stil met die koring van jou napels geel siel ...

ek brand soos 'n warm oranje om aan jou te raak aldag en heeldag ...

vir altyd en ewig soos 'n lang somersdag gekleur met sapgroen en kobalt-blou ...

**********************

 jy speel 'n spel op die casino tafel van my hart ...

diep binne my siel sneeu dit bloed ...

die môreson het mis in sy oë ....

dou in sy hare ...

asem van die winterwind ...

hartseer vloere gevlek met trane van verlore tyd en bedek deur ʼn sug ...

gedagtes flits deur ou gange sonder deure ...

griffelende pen spoeg ʼn hartseer verhaal ...

nuwe wonde steek ou letsels weg ...

buite glimlag die helder blou en verbloem die einde van lewens ...

kom anker jou gebroke hart in die kalm waters van my siel ...

laat my toe om my liefde op jou te reën ...

laat die druppels jou pyn wegwas ...

terwyl my tong resies hardloop met die sweet druppels op jou spieëlgladde lyf ...

gedagtes oor jou verlei weer my drome en ruk aan die fondamente van wie ek is ...

skop stof op oor dor valleie van my siel ...

ek staan en luister na die stilte wat my siel al vir jare smoor ...

gedagtes dwarrel oor verlate vlaktes ...

op die ashoop van die lewe ...

oor velde van waansin sien ek die siel in jou oë ...

voel die vrees kramp om my hart ...

swart is die dag toe jou brein my verkrag ...

gedagtes wentel, wentel weg, dit maak seer, hou die lewe dan niks meer ...

©

Meraai vannie Baai:
Jan Olivier:
Skryf ek met my hart se punt vir jou ‘n boodskap op die wind:

... Soenkoningin Reënprinses - Pragtige kindvrou van my gedagteland

... towerfeë beeld uit liefde gekerf oorspoel my vuurhart en blus die inferno in my gemoed

... ek wil jou toevou in goudwarm hande van geluk

... glinster onthou van gister

... skitter beloftes van môre

... ruik die veld se wilde geure drink die goue najaars kleure

... bons jou hart soos wilde tromme en dans die dans van kosmosblomme

... sonskynkol en 'n skaduweevlek

... spierwit swaan op 'n spieëlblink dam

... vuilwit Seemeeu op ‘n eensame vlug

... geel affodil wat ‘n spruitwal versier

... takke van die Akkerboom asof in goud gebad

... blare dartel op en af soos vlinders oor die pad

... rooiwang jeug wat in ons bons die polsslag in jou hand

... hare wipstert in die wind sonnig, vlammend, mooi

.. vermeng met geure in die wind, van varsgesnyde hooi

... dreigende wolke wat beloftes inhou van ‘n groen toekoms en reën

... soos die voorwoord van ‘n boek wat iets groots inhou

... seën die eerste druppels die sypaadjie met fyn donker vlekkies

... die Jakarandas hou asem op en wag

... ek het verdwaal in die doolhowe van jou hart

... en soek uitkomplek wild en stampend blind

... uit lewensboom se hout gekerf, met sweet van aanskyn oorgeverf

... die gras verdor, deur wind verwaai, soos rawe teen die blou lug draai

... skeur die wrede werklikheid jou hart, met ysterkloue oop

... word jou sig vertroebel deur die trane in jou oë

... skreeu die pyn ten hemele en eggo, dis finaal

... uit kiekies, oud vergeelde flikker dowwe beelde

... vertel ‘n ou verhaal sonder klank en sonder taal van tye lank gelede

... iewers uit die duister iewers uit die nag

... ‘n Engel wat fluister en ek wat wag

Eenman, alleenman, vanaand is ek verkrummel soos droë beskuit en rimpelkring uit tot by jou.

©

Meraai vannie Baai:
INSIG: Deur Piet Magriet

Met my kierie in die hand
loop ek tot by die strand
en maak my tuis op ‘n rots
nie te ver van die kant.

Ek sien hoe die dynserigheid uit die see opslaan
en oor die berge vou,
hoe die wind ruk en pluk aan my rou
as ek onthou van wolke
met Josef se droomkleed aan.

Ek proe die reuk op my tong
wat uit die mis oor die water kom.
Ek sien die wit seeperdjies wat speels
oor die branders wip
en weer sagkens verdwyn.

As die laatmiddag se snoekgeur
die kamers van my onthou binnesluip
en met alle mag boontoe beur
dan sien ek die vissersbootjie wieg in die water
en die houthuisie se weerkaatsing in die rimpels.

As ek per ongeluk
op die kerriebos trap
en die bitter reuk van onthou klap my teen die hart
dan probeer ek deur die golwe van duisternis gly,
by al die vrae verby,
terug na die dae,
toe ek nog kon sien.

©

Navigation

[0] Message Index

[#] Next page

Go to full version