Author Topic: C. Louis Leipoldt se "Oom Gert vertel"  (Read 9330 times)

0 Members and 1 Guest are viewing this topic.

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10692
  • Gender: Female
C. Louis Leipoldt se "Oom Gert vertel"
« on: January 11, 2013, 10:11:20 AM »
C. Louis Leipoldt se "Oom Gert vertel" is deur die jare al verskeie kere geredigeer.  Hierdie is een van die eerste uitgawes.  Ek sal my bes doen om dit so getrou moontlik weer te gee.
Oom Gert praat van Martjie Louw.  Dit is " Martial Law " wat die lewe vir die boere baie moeilik gemaak het.   (PM)

Ja, neef, wat kan ek oumens, jou vertel?
Jy wil die storie van ons sterfte hoor?
Nou goed!
               Dis nooit te laat nie om daarvan
Te leer en van gebruik te maak, veral
Vir julle, jongling-mense. Hou maar vas
Aan wat ons het, en staan orent, en neem
Jul aandeel aan ons nasie!
                                      Maar jy kom
Verkeerd by my; daar 's menige beter man,
Wat jou die storie goed agtermekaar,
En met 'n les daarby, en meer begrip
Van al die politiek ook, kan vertel
As ek: ek weet maar uit my eie siel,
En kan maar grawe uit my eie hart,
En dit is baie oud en amper dood—
My hart, meen ek—en waarlik, as jyself
Soveel het deurgemaak, soveel gely,
Soveel geworstel, en soveel gesien,
Van wat jy liewers nooit nie het gesien,
Dan was jou hart ook nie meer sonder kraak.
Maar kom—wat kan ek nou vir jou vertel?
'n Lang geskiednis is dit! Treurig ook,
Want daar gaan snikke en trane deur, ou neef!
Wil jy dit aanhoor? Goed!
                                      Maar sit, man, sit!
Ek kan jou nie vertel nie, as jy staan.
Sit daar. (En, Gerrie, gee hom wat te drink,
En pa kan ook 'n slukkie koffie sluk.)
Nou ja, jy weet, neef, toe ons mense hier
Almal beteuterd deur die oorlog was,
Het kakies op kommando hier ons dorp
Beset, en Martjie Louw geproklameer.
Ou Smith, die magistraat—hy was 'n man
Vir wie ek eerbied voel, al is hy Engels:
Hy was tog altyd nog 'n jentelman,
En het met onse mense akkordeer;
Maar hulle het hom soetjies afgesit
En na Oos-Londen toe gestuur, omdat
Hy nie na hulle pype vlot wou dans,
En in sy plaas 'n kolnel aangestel;
Sy naam—nou Gerrie, wat was ook sy naam?
Jones? Nee, kind, dit was maar sy offisier—
Jy weet, die aap met strepies op sy mou—
Ek het dit! Wilson was die vent se naam:
'n Dik, vet kêrel, met 'n grysgeel snor,
En lang slagtande, en rooi in die gesig;
Die mense sê, hy suip; maar ek het nooit
Hom dronk gesien; en wil ook nou nie meer
Agter sy rug die man beskinder nie,
Al was hy ook 'n deugniet—dit maak niks!
Hy het ons onderdruk; sy hand was hard:
Geen lig mag in die kamers brand; geen mens
Mag buite op die straat gaan na agtuur;
Orals het hy op ons spioen, en selfs
Ons huise deurgesnuffel om te sien,
Of ons miskien nie wapens het of kruit,
Patrone, doppies of so iets; hy dag,
Ons het 'n heelboel kos byeengegaar
Om vir die Boerkommando's af te gee.
Ja, neef, sy hand was hard! (Hartlam, gee weer
Die suikerpot; twee klontjies is te min;
Jy weet, pa drink sy koffie soet.)
                                                     En ons
Was deur die war daarmee, half uit ons vel;
En niemand van ons mense het geweet,
Wat môre of oormôre vir ons wag.
Die dorp was vol gebrom, net soos 'n deeg,
Waardeur jy goed die suurdeeg het geknee—
Jy weet, hoe rys die ding: nou net so ook
Met onse mense! Maar wat kon ons maak?
Die jongmense veral was baie steeks—
Ons kon hul byna nie in toom meer hou—
En twee van hul het sieto omgespring.
(Hartlam, neef Klaas se koppie is weer leeg.)

Een aand kom Bennie Bêrends na my toe,
En met hom Johnnie Hendriks, Saarl se seun.
Hul het die straat so stiltjies oorgespring:
Die skildwag het hul nooit nie eers bespeur—
Anders het ek en Saarl daarvan moet hoor,
En op die koop 'n boete nog betaal!
Ou Saarl was altyd maats met my gewees,
Maar hy het in dieselfde maand gesterwe
Van kanker in die maag—die Heer se hand!
So het hy nie die dag oorleef. Maar kom,
Ek gaan te vinnig met die saak vooruit.
Hier op my stoel het ek gesit, en daar
Waar jy nou sit, het Bennie ook gesit.
En Johnnie vlak naas hom. Ek sien hom nog,
'n Opgeskote kêreltjie, nog nie
Heel droog agter die ore was hy toe,
Nogal astrant en sniprig met sy mond,
Dié jaar nog aangeneem. (Gerrie, my kind,
Haal tog die album.)—Hier is sy portret,
En hier is Bennie syne; daar is die reël,
Wat sy oorlede ma geskrywe het,
Die dag na—na—sy dood. Jy kan dit lees;
My bril die pas nie mooi, en in die rook
Kan ek so goed nie sien nie. Lees maar voor.
"Barend Gerhardus Barends,"—Reg! en nou?
"Geboren op den zesden Mei,"—Ja reg!
"Ge...."—Maak die boek maar toe: ek weet dit al!
(Hartlam, kom neem dit weg. Wat staan jy daar
Beteuterd as 'n kat? Kom, skink weer in:
Ons het mos melk genoeg en suiker ook,
En Martjie Louw is nou nie in die dorp!)
Ja, Bennie was 'n egte witmenskind!
My peetseun—en, ofskoon ekself dit sê,
'n Regte mooi soort vroumens-kêreltjie,
So paal-orent en met 'n kaal gesig:
'n Skeermes het hy glo nog nie gebruik.
(Hartlam, gaan kyk, of Leentjie al die hout
In die kombuis gebring het.)
                                             Ja, ou neef,
Hy het vir Gerrie hier gevry; en ek
Was ook nie teen die saak, want Bennie was
'n Uitgesnyde jongetjie vir haar.
Jy sien, sy is nog nie goed oor die bult;
Maar ons moet almal oor die drimpel klim,
Al is dit ook so swaar, ons hart moet breek!
En hartlam sal ook met ons Liewen-Heer
Se seën daaroor stap, en haar smart vergeet,
Al gaan dit moeilik—maar dit moet tog gaan!
Maar as ons oor hom praat, dan pas dit tog,
Dat ons haar eers die kamer uit sal stuur.

Nou goed! waar was ek?
                                     Ja, die aand, toe hul
By my kom raad vra. Bennie had 'n plan:
Hy wou met Johnnie weg na Witkransspruit—
Dáár, so het hul verneem, was Smuts gelaer
Met sy kommando.
                              Ek was amper flou
Om dit te hoor. Ek het vir hul vermaan—
Maar nee!
                Ag, neef, 'n jongmens is tog steeks!
En Ben was altyd koppig: selfs as kind
Het hy daar baie keer om sla gekry!
En hul was vas beslote om te gaan.
Ek het twee perde toe by my gehad—
Die kakies het dit nog nie afgeneem—
Ek weet nie waarom nie, maar ek kan sweer,
My skuld was dit nie, dat die diere nog
Daar in die tuin gestaan het, maar hul het!
Nonnie—my vrou en Gerrie haar ma: sy het
Dieselfde jaar gesterwe in Goudini,
Van hartkwaal, want die oorlog het haar ook
Gebreek in siel en liggaam—Nonnie ook
Het meegewaarsku, maar dit was vergeefs!
"Ons kan dit nie hier uithou nie, Oom Gert,
'n Mens moet tog iets vir sy nasie doen."
"Doen! doen! iets doen! ag, wat kan julle doen?
Wat kan ons algar doen?"
                                      Maar tevergeefs.
Nonnie het toe my knapsak volgeprop
Met biltong en beskuit; en ek het self
Die saalsakkies met hardgekookte eiers
En ander padkos volgelaai, want hy
Was tog my peetseun, en dan Johnnie ook
Neef Saarl se seun—en Saarl en ek was maats!
So kan geen mens my dit tog kwalik neem,
Al was ek ook 'n Britse onderdaan:
Kan ek my eie vlees en been sien ly,
As ek nog kos het? Nee, neef, ek hou vas:
En my gewete het my nooit gekwel!
So, kort en goed, die twee is weg en hoor,
Die môre was die heel gespuis om my!
Die kolnel, as 'n brommer, gons en gons
En vloek en maak lawaai—maar ek staan pal.
Ek kon mos nie gehelp het, dat die perde
Nog in die tuin gestaan het, en ek sê,
Dat dit sy skuld was, en nie myne nie;
Maar van die biltong en beskuit en eiers
Het ek hom toe maar liewers niks gesê.

Hoe ons die maande deurgelewe het?
Neef, vra my nie! Die tyd is as 'n wolk,
Wat oor ons hang, en nie maar oor ons dorp,
Maar oor ons land, die hele nasie oor!

Op een dag kom die nuus.... (Wag, hier 's sy weer.—
Ag, hartlam, ja die hoenders van die stoep.
Kyk daardie haan; hy krap die blomme uit!)
Nou, eendag kom die nuus—ja, wat 'n skrik!
Johnnie en Ben was albei vas gevang
En in die tronk gestop. 'n Krygsgerig—
Jy weet die res! En daarop weer 'n slag:
Die vonnis was—hul al twee word gehang!
Ons Liewen-Heertjie weet, dit was 'n slag!
Ons het ons bes gedoen, maar tevergeefs;
Die vuilgoed skreeu om wraak—en hul moet hang!

Dié môre kom die hoofkonstabel sê:
"Die kolnel stuur sy komplimente!"—God!
Sy komplimente,—hoor! het jy verstaan?
Verstaan jy, neef?—sy komplimente!
                                                     Nee!
Bedaar, bedaar, my hart al kraak jy ook:
Ons moet die drimpel oor, al breek ons dood!

En "Asseblief, wil ek op môre kom
En sien, hoe 'n rebel word getrakteer,
Anders...." Die hoofkonstabel was 'n man;
Hy het hom nie op sy gemak gevoel,
Toe hy die boodskap aan my het kom bring;
En ook die kakies, moet ek sê, was goed,—
Maar hul moes tog hul plig doen. Ek was bly,
Dat hul dit nie astrant gedoen het nie.
Die hoofkonstabel—Nichols was sy naam:
Hy 't later in die Vrystaat lood geëet
En dit nie goed verteer nie—sê vir my,
Die anders het ook so 'n bevel gekry,
En daar sou meer van ons die—nou jy weet!—
Daar in die tronk aanskou. Hy waarsku my,
Ek moet maar kom, al gaan dit bo my keel.

Dié nag het ek en Nonnie nie geslaap.

Ja, ek onthou nog goed! Die dag was koel—
'n Mens vergeet mos so 'n dag nie gou!—
Met net 'n bietjie oostewind, half koud,
Want Nonnie het daar sinkings van gekry:
Sy het aan sinkings veel gely, en kon
Nooit koue goed verdra nie. Soos ek sê,
Die dag was koel, en daarom was my jas
Dig toegeknoop—jy weet, ek hou daarvan
My onderbaadjie te laat spog: vir wat
Dra 'n mens 'n onderbaadjie, as geen mens
Dit sien nie?—Maar die weer was regtig fris.
En daarom was my baadjie toegeknoop.
En by die draai, daar onder by die meul,
Het ek die anders almal vroeg ontmoet,
Want, soos ek sê, ons algar was geroep.
Die predikant was daar, en Albert Louw—
Jy ken tog Skeeloog-Louw, neef Klaas? Nou ja!
En Michiel Nel, en Gys van Zyl, en Piet—
Maar Piet sal jy jou nie herinner nie,
Want hy was voor jou tyd; hy was 'n vent
So sterk as Simson: arrie, hy was sterk!
En net so steeks as 'n skerpioen was hy!
Maar koddig, neef, en ook 'n grappiesmaker,
Selfs as die wolke donker was, en dof
Die donder deur die wolke dreun. Nou ja,
Ons algar het ons foute, en ek wil
Dit nie vir Piet Spanspek so kwalik neem,
Dat hy nog altyd grappies het gemaak,
Toe al ons anders mislik was en naar.
"Die wind skeef glad, neef Gert," het hy gesê,
"Jy moet vir Ben jou oorjas leen: miskien
Kry hy swaar weer daar boontoe!" En hy lag!
Maar ek was bly, die predikant was daar:
Eerwaarde het hom op die plek berispe
En mooi die kop gewas.
                                      "Is dit 'n tyd
Vir pret, meneer Van Ryn?" het hy gevra.
"Foei, foei! hoe kan u so iets waag vandag,
As onse harte vol is, en ons oë
Nog donkerdof met trane vir ons land?"
(Hartlam, jaag tog die hoenders uit: hul maak
Die werf so vuil; ons kan ons selwers help.)
Maar Piet Spanspek was nooit nie op sy mond
Geval nie, en hy het ook voortgegaan
Met grappies maak, ofskoon ons niks van hom
Gehoor het en ook nie geluister het.
Ek dink, hy was so mislik as ekself,
Maar wou nie, dat dit opgemerk sou worde.

Ons het die voorplein van die tronk betree,
En dit was vol met kakies. By die poort
Het hul ons twee by twee laat binnekom.
Daar in die agterplaas, daar staan die galg,
En naas hom Ben en Johnnie, hand aan hand,
Want hul was nie geketting; en ons het
Verlof gekry om met hul te gaan praat,
Maar net vir vyf minute.
                                      Ek was stom,
Geheel verbouereerd en sonder tong;
Maar Bennie het my by die hand gevat.
"Oom Gert, dis kant en klaar! Goeiendag, Oom Gert!
Sê vir Tant Nonnie en vir Gerrie—nee,
Sê liewers niks, want hulle sal verstaan."
En Johnnie, met 'n glimlag om sy mond,
Het ook my hand geskud. "Dag, Oom." sê hy.
"Nee, Oompie, moenie grens nie!"—Soos ek sê,
Was Johnnie altyd half astrant gewees,
En sniprig ook.—"Nee, Oompie, moenie grens!
Ons het ons plig gedoen, en nou 's dit uit."

Toe het hul met die predikant gepraat;
En ek, as naaste bloedverwant van Ben,
Het met hom na die galg gegaan en daar....
Nee neef, dis maar die rook! Ek word al oud,
En jou tabak is al te sterk vir my.
Ekself rook swak tabak: jy weet, dit maak
My oë nie so seer.
                                Nou waar was ek?
Ja, toe het ons hul almal handgegee.
Geeneen van ons kon praat nie; Piet was stom
En net so naar as ek, en een van ons—
Ek weet nie, wie dit was—het hard gesnik.

Die kakies het oor Bennie se gesig
'n Sakdoek, of 'n kopdoekie of iets
Net soos 'n mus wil trek, maar Bennie vra—
En nog op Engels ook: hy kon dit praat—,
Of hulle hom nie sonder dit kon hang.
Die kolnel knik; en toe....
                                      Nee, neef, laat staan!
Wat vat jy weer my hand? Laat bly my hand!
Vervlaks, hoe kan ek nou vir jou vertel,
As jy my somaar afbring van my rym?
Blaas net jou rook uit na die ander kant:
My oë is te oud vir jou tabak!
(En, hartlam, haal vir pa 'n sakdoek.)
                                                       Nou,
Daar is nie meer. Ons het weer tuisgekom,
En in die kamer hier het ons gekniel;
'n Korte bidstond het die predikant
Gehou vir ons—en daarna was dit uit.

Dié aand nog het neef Piet en Skeeloog-Louw
Die dorp uit na die naaste plaas getrek
En hulle by ons mense aangesluit.
(Hartlam, gee weer vir pa die suikerpot,
En skink dan nog 'n koppie vir neef Klaas.)

Om te weet is om te verstaan.

Offline Fransi

  • Regular Members
  • Melkbaard
  • Posts: 1274
Re: C. Louis Leipoldt se "Oom Gert vertel"
« Reply #1 on: January 11, 2013, 11:51:00 AM »
Sjoe, nou moet ek net trane sluk. Dit is hartverskeurend geskryf.

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10692
  • Gender: Female
Re: C. Louis Leipoldt se "Oom Gert vertel"
« Reply #2 on: January 11, 2013, 11:57:54 AM »
Ek het 'n behoefte om hierdie gedig te vat en uit te pluis.  Tussen die lyne lees ek 'n geweldige skuldgevoel by Oom Gert en ek wonder of julle dit ook "optel". 

Dan hang daar 'n paar vrae in die lug.  Nadat "Martjie Louw" geproklameer is, is al die boere se diere en hul kos gekonfiskeer. Hoekom het Oom Gert nog perde op sy perseel gehad, en soveel kos? 
Om te weet is om te verstaan.

Offline Fransi

  • Regular Members
  • Melkbaard
  • Posts: 1274
Re: C. Louis Leipoldt se "Oom Gert vertel"
« Reply #3 on: January 11, 2013, 11:10:16 PM »
Ek het dit ook "opgetel" en by myself gedink dat hy seker een van die hensoppers of joiners was?

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10692
  • Gender: Female
Re: C. Louis Leipoldt se "Oom Gert vertel"
« Reply #4 on: January 12, 2013, 11:31:16 AM »
Ek wonder of die "onderbaadjie" 'n aanduiding van sy status is? 
Dit lyk asof Oom Gert homself wil veronskuldig deur die  Engelse daarvoor te blameer dat hy  nog perde op sy eiendom gehad het.  Hulle moes dit kom wegneem het, volgens hom. 

 
Om te weet is om te verstaan.

Offline Fransi

  • Regular Members
  • Melkbaard
  • Posts: 1274
Re: C. Louis Leipoldt se "Oom Gert vertel"
« Reply #5 on: January 12, 2013, 11:54:25 PM »
Ek het nie so daaraan gedink nie. Jy is reg die onderbaadjie moet sekerlik meer beteken as bloot sy "kerkklere". Dit sal baie interessant wees om meer hieroor te kan uitvind.
Ek het iewers op die Internet gelees dat die joiners dikwels hulle eiendom kon behou en met posisies van mag beklee is.
Ja, dit is juis a.g.v. sy verontskuldigende pleidooi en die feit dat hulle dit nie weggeneem het van hom af soos by die ander nie, dat ek gedink het dat hy 'n joiner of 'n hensopper was.

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10692
  • Gender: Female
Re: C. Louis Leipoldt se "Oom Gert vertel"
« Reply #6 on: January 13, 2013, 09:37:25 AM »
Louis Leipoldt was 'n oorlogsrespondent en hy het die hofsake van die rebelle bygewoon om verslag te doen.  Gedurende hierdie tydsvak is drie Kaapse rebelle ter dood veroordeel te Dortrecht op die 24ste Junie 1901: F.A. Marais, J.P. Coetzee en Cornelius Claassen. Hulle is tereggestel in hul verskeie tuisdorpe, Cradock en Middelburg op die 10de en die 15de Julie 1901.  Ek neem aan dat Marais en Coetzee saam tereggestel is en Claassen daarna.  Daar is natuurlik geen bewyse dat Oom Gert van hierdie twee persone praat nie, want daar was nog baie ander sulke gevalle, maar daar is baie ooreenkomste in die verhaal.
Die boeremense in die omgewing was verplig om die teregstellings by te woon. 

Die gevolgtrekking is dat Neef Klaas (Louis Leipoldt) die joernalis is wat die onderhoud met Oom Gert het. 

Nêrens word melding gemaak van Oom Gert se posisie nie.  Net daardie een lyntjie wat sê dat hy 'n Britse onderdaan is.
Ek het ook gedink dat hy dalk die seuns verraai het, maar as ek die volgende versreëls lees dan is dit baie onwaarskynlik. 
Ja, Bennie was 'n egte witmenskind!
My peetseun—

Hy het vir Gerrie hier gevry; en ek
Was ook nie teen die saak, want Bennie was
'n Uitgesnyde jongetjie vir haar.

Ek het twee perde toe by my gehad—
Die kakies het dit nog nie afgeneem—
Ek weet nie waarom nie, maar ek kan sweer,
My skuld was dit nie, dat die diere nog
Daar in die tuin gestaan het, maar hul het!

So kan geen mens my dit tog kwalik neem,
Al was ek ook 'n Britse onderdaan:
Kan ek my eie vlees en been sien ly,
As ek nog kos het? Nee, neef, ek hou vas:
En my gewete het my nooit gekwel!


Ek lees in hierdie laaste versreël dat hy wel baie skuldig voel. 
Om te weet is om te verstaan.

Meraai vannie Baai

  • Guest
Re: C. Louis Leipoldt se "Oom Gert vertel"
« Reply #7 on: January 14, 2013, 12:19:00 AM »
 Skandalig al twee of drie keer kom inloer hier, maar nog nie self 'n woordspoor getrap nie. Wou graag eers meer agtergrond ook oor die ontstaan van die gedig kry. Hierdie skakel het nogals heelwat inligting rondom hierdie vertelling van Oom Gert: http://www.oulitnet.co.za/akademies_geestes/pdf/LA_7_3_viljoen.pdf

Dit was vir my 'n wonderlike ervaring om die gedig in Engels te lees. Beslis die moeite werd om ook hierdie skakel onder oge te kry: http://streamsandforests.wordpress.com/2009/12/08/oom-gerts-story/

Ek lief die gemaklike vertelstyl van die gedig en ons sal vir lank rondom hierdie literatuurskat kan kuier. Duisend dankies vir die aandra en deel PM!


Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10692
  • Gender: Female
Re: C. Louis Leipoldt se "Oom Gert vertel"
« Reply #8 on: January 14, 2013, 10:09:28 AM »
Dankie vir die skakels Raaitjie.  Na hierdie inligting is ek van mening dat die storie van Oom Gert Vertel, 'n samevloeiing van gebeurtenisse is en nie noodwendig die storie van een gebeurtenis nie.  As 'n mens in ag neem dat die "verhaal" eers tien jaar later gepubliseer is en later aangepas is, maak dit ook sin. 
Dit bly 'n hartroerende verhaal. 
Om te weet is om te verstaan.

Offline Fransi

  • Regular Members
  • Melkbaard
  • Posts: 1274
Re: C. Louis Leipoldt se "Oom Gert vertel"
« Reply #9 on: January 14, 2013, 05:05:15 PM »
Dankie Meraai, PM.

Ja, dit bly 'n knop in die keel bring.