Author Topic: Gesegdes in versvorm  (Read 5545 times)

0 Members and 1 Guest are viewing this topic.

Meraai vannie Baai

  • Guest
Gesegdes in versvorm
« on: December 02, 2012, 06:06:42 AM »
Hier en daar het ek minder bekende uitdrukkings (vir my), gebruik in die gedig wat uit drie gekombineerde strukture bestaan: Oorbruggende-/herhaalde titel en gesegdes in versvorm.

Die man van sesse klaar

met sy mantel na die wind gedraai,
had hy heelwat in sy mars gehad.
Sommiges sê die meetsnoere het vir hom
op lieflike plekke geval, en hy was met
'n silwer lepel in die mond gebore.
So het hulle voet by stuk gehou.

Maar hy - die man van sesse klaar,
moes self die mas opkom en toe hy
met die noorderson verdwyn, was
daar van heinde en vêr bespiegel:
dit was laaste sien van die blikkantien.

Almal was dit eens en het tromp-op stories
loop verkoop: Die tweegatjakkals het hul
donkiejare laas gesien. Hy het soos mis
voor die son verdwyn...

Hy het sweerlik die emmer geskop;
hulle vryf die kneukels blink, en
kiewe trek styf van die suurdruiwe
uit Nabot se wingerd ...

Nog voor hy 'n enkel ysterklou,
aan die grond kon slaan -
is die vlag halfmas laat hang
en daarmee saam, was die
man van sesse klaar -
se naam in eer herstel.

© Meraai vannie baai

*bron van navorsing: Oorsprong van gesegdes - Afrikaans in Europa

1. ’n Man van sesse klaar ('n bekwame man)
Wanneer die Hollanders van 'n volmaakte perd praat, is die uitdrukking dat hy van sesse klaar is. Dit beteken daar's geen fout met sy ses belangrikste dele nie, dus die vier pote en die twee oë.

2. Jou mantel na die wind draai/hang
'n Persoon wat sy mantel na die wind draai, is altyd beskut teen die wind. In figuurlike sin beteken dit dus om so op te tree dat jy altyd aan die wenkant is, al verander omstandighede ook teen jou beginsels.

3. Heelwat in jou mars hê (kennis van sake hê)
Die mars was die rugmandjie van 'n smous en as hy baie in sy mandjie gehad het, het hy figuurlik baie kennis gehad.

4. Die meetsnoere het vir iemand op lieflike plekke geval (wat iemand gekry of bereik het, is goed of mooi)
Die uitdrukking is ontleen aan Ps. 16:6 in die vroeëre Afrikaanse Bybelvertaling. Die meetsnoer is 'n maatlyn wat deur landmeters gebruik is om die grootte (en ligging) van 'n stuk grond te bepaal wat aan iemand toekom. As hulle op lieflike plekke geval het, was jou stuk grond pragtig.

5. Met ’n silwerlepel in die mond gebore wees
Eens op 'n tyd was dit die gewoonte vir ryk peetouers om 'n silwer lepel aan hulle peetkind te gee wanneer hy gedoop is. Hoewel sulke kinders gewoonlik in welaf gesinne was en dus nie regtig die waardevolle silwer lepel nodig gehad het nie, was die tradisie sterk gewortel.

6. Voet by stuk
Die eeue-oue Nederlandse vorm was voet bij stek zetten. Stec in Middelnederlands was 'n bepaalde ruimte of grens. Een verklaring is dan dat jy jou voet op 'n lyn sit wat dien as grens tussen jou en die opponent, met die implikasie dat hy moeilikheid sal kry as hy oor die streep trap – iets wat baie bekend was by skoolseuns.


7. Die mas opkom
'n Erfstuk uit die Nederlandse seevaartterme: die matroos moes self sonder hulp teen die mas opklouter.

8. Met die noorderson verdwyn
In sekere lande in die verre noorde van die aarde is daar tye wanneer die son nie ondergaan nie en uit die noorde skyn. In ander, meer suidelike Europese lande is dit dan middernag (vandaar die woord middernagson). Om met die noorderson te vertrek is dus om stilletjies in die nag te verdwyn.

9. Heinde en vêr
Mense beklemtoon die heinde altyd asof dit 'n groot afstand aandui, terwyl die woord van hand afgelei is met die betekenis "naby". Dit beteken al in Middelnederlands "wat by die hand", dus "byderhand", dus "naby" is.

10. Laaste sien van die blikkantien
'n Blikkantien is 'n houer (kannetjie, emmertjie) waarin byvoorbeeld water of olie gedra kan word. Dit is nie duidelik waarom dit juis sal verdwyn nie. Miskien het rym hier, soos in baie ander spreekwoorde, 'n rol gespeel.

11. Iemand tromp-op loop
Die tromp is die loop van 'n geweer; om iemand dus tromp-op te loop, beteken om figuurlik tot by die punt van sy geweer te loop, dit wil sê vreesloos.

12. Tweegatjakkals
Die twee gate waarna verwys word, het niks met die agterkant van die jakkals te make nie, maar met twee gate in die grond. Die jakkals kan altyd ontsnap by die een waar daar nie moeilikheid of gevaar (soos honde) wag nie.

13. Donkiejare laas
Hierdie donkiejare is 'n vertaling van 'n flater wat reeds in die Engelse weergawe sit. Die uitdrukking lyk nou onlogies aangesien die jare van 'n donkie nie noodwendig so lank is as wat mens sou dink nie. In Engels is dit beslis donkey’s years, maar dit was oorspronklik as long as donkey’s ears, dus so lank as die ore van die donkie. Dit het reeds daar verbrou geraak tot donkey’s years, en ons het blindelings in Afrikaans vertaal.

14. Die emmer geskop
'n Foutiewe leenvertaling van die Engelse "kick the bucket" – die "bucket" was 'n balk waaraan pas geslagte diere gehang is en hulle laaste stuiptrekkings het gemaak dat hulle teen hierdie balk skop.

15. Nabot se wingerd:
Nabot se wingerd (iets wat iemand begeer waarop hy nie reg het nie en op onwettige wyse of met geweld ontneem)
Na aanleiding van I Kon. 21 waar Nabot op 'n onderduimse manier deur Agab se vrou om die lewe laat bring is om sy wingerd vir haar man te bekom

16. Ysterklou in die grond slaan (wegvlug; vastrap)
Ontleen aan die stories van Jakkals en Wolf. Dié twee loop eendag 'n slapende perd naby die boer se plaas raak. Jakkals oorreed Wolf toe om die perd weg te sleep sodat hulle buite sig van die boer die dier kan vreet. Jakkals maak Wolf toe aan die stert van die dier vas, en hyself stap na die kop toe. Hy skop die perd op die blad, die dier word wakker en vlieg weg. In die hardloop skop hy Wolf natuurlik genadeloos. Jakkals lag hom dood en skree toe: "Slaan maar ysterklou in die grond, oom Wolf!" Die betekenis daarvan is dat Wolf sy naels hard (soos ysterpenne) in die grond moet slaan om te kan stop. Die uitdrukking het 'n betekenisuitbreiding ondergaan sodat dit ook die weghardloop (van die perd) insluit.

17. Die vlag halfstok (halfmas) laat hang
Die gewoonte om vlae halfstok te laat hang as 'n belangrike persoon dood is, het tydens die seeoorloë van weleer ontstaan. Wanneer een skip deur 'n ander oorwin is, moes die verslane skip sy vlag laat sak as teken van onderhorigheid aan die oorwinnaar. In Afrikaans het dit oorgebly in die uitdrukking die vlag stryk. Die vlag van die wenner is dan bo die vlag van die verloorder gehys. Daar was dus twee vlae aan die mas. Vandag is die simbool dan dat die onsigbare vlag van die Dood bo die een wapper wat halfstok hang - omdat die dood geseëvier het.
 

 
 
 
 
« Last Edit: December 02, 2012, 06:08:24 AM by Meraai vannie Baai »

Meraai vannie Baai

  • Guest
Re: Gesegdes in versvorm
« Reply #1 on: December 03, 2012, 01:15:35 AM »
Piet Magriet: Ek is die hoenders in.

Het die hoenders jou kos afgevat?
Jy lyk so bek-af,
jou ore hang,
ek sal ‘n ogie oor jou hou
en gou vir jou ‘n rympie bou.

Eers al my eie werk ingewin,
m.a.w. ek het in Jerusalem begin,
toe gryp ek die abc
en kry alle idiome voor stok,
tot by Daantjie in die kalwerhok.

Nou lê ek my eiertjie neer en
gooi ‘n stuiwer in die armbeurs,
ek hoop nie daar is ‘n geurtjie aan nie
of dit gee jou hoendervleis nie,
maar hier is pitkos vir jou om aan te kou.

Jy mag dalk dink ek is van lotjie getik,
of dalk sommer in die bol gepik,
dalk is jy heeltemal reg,
ek hét ‘n klap van die windmeul weg,
al my varkies is ook nie op hok nie.

Tog wil ek vir jou ‘n bietjie beduie;
kom ons sit vir jou 'n hoender in die bank,
ek wil nie hê die klok moet agter jou lui nie,
anders gaan jy net jou kop stamp,
jou vasloop, dit sal jou suur bekom.

Al jou eiers onder een hen,
of almal in dieselfde mandjie gepak?
Onthou, tussen die hand en die mond
val die pap op die grond.
Jy sal jou rieme styfloop.

Jy is nie onder 'n kalkoen uitgebroei nie,
Jou grysstof het mos nie opgehou vloei nie?
As jy ‘n ou voël met kaf probeer vang
sal jy die horrelpyp- of die eierdans doen.
Jy sal moet katvoet loop.

Ek wil nou nie vir jou kom voorskryf nie,
want elke hond is baas op sy eie werf
en elke haan kraai op sy eie mishoop,
maar hierdie ou Moeder Hen
kloek-kloek om haar kuikens.

Moenie rondloop soos ‘n hen wat nes soek nie
of een wat ‘n eier wil lê nie.
Wat skrop jy so?
Dit lyk of jy op eiers loop,
of probeer jy die lel oor my oë trek?

Moenie vandag se hoender weier vir more se eier nie,
hier neem die saak nog ‘n wending;
die keersy van die penning is dit;
‘n halwe eier is beter as ‘n leë dop
en, een voël in die hand is beter as tien in die lug.

Klein Jan het weer die elmboog gelig
deur die wingerd geloop
tiermelk gedrink, my magtig
sy kop slaan sweep
hy is lekker hoenderkop.

Hy is sommer nog ‘n kuiken
nog nie droog agter die ore nie
die klein snuiter, hy dink hy’s slim
more is hy weer hoenderswak en
moenie dink geen haan sal ooit daarna kraai nie.

In daardie “chicken coop”
is die waarheid so skaars soos hoendertande.
Hulle verkoop knolle vir sitroene
en bak kluitjies so groot soos pampoene,
hulle kan daai stories maar vir die hoenders gaan vertel.

Hulle gaan slaap saam met die geveerdes,
is met hoenderkraai weer op en uit.
Hulle glo mos fluit-fluit
die oggendstond het goud in die mond
en dit is die vroeë voëltjie wat die wurmpies vang.

Nou-ja lekker is net ‘n vinger lank.
Ek het heerlik gepronk met ‘n ander man se vere.
Hier gaan ek nou die lier aan die wilger hang
en julle laat in vrede.
Pik-pik, my rympie is getik en hopenlik is al my boetes betaal.

© PM

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 8369
  • Gender: Female
Re: Gesegdes in versvorm
« Reply #2 on: December 03, 2012, 04:39:05 AM »
Ek het weereens die uitleg van die gesegdes baie geniet Raaitjie.  Dit is een vorm waarmee 'n mens ongelooflik baie pret kan hê.  Dink jy hier lees iemand wat 'n uitdaging ken as hy/sy dit sien?
Om te weet is om te verstaan.

Meraai vannie Baai

  • Guest
Re: Gesegdes in versvorm
« Reply #3 on: December 03, 2012, 11:06:01 PM »
Gesegdes is my kos, ek rol dit van kies tot kies. Ek hoop iemand kom en herkou nog so paar van ons geliefde uitdrukkings van toeka tot nou PM! Weereens duisend dankies vir hierdie pragtige verse van jou. Dit is teksboekgehalte werk!!  :notworthy: :icon_salut:

Offline Meraai vannie Baai

  • Global Moderator
  • Melkbaard
  • Posts: 1350
  • Elke dag aan ons Geskenk, is 'n kosbare voorreg.
Re: Gesegdes in versvorm
« Reply #4 on: November 09, 2016, 12:00:12 PM »
En hier is ek vanaand die  4371ste leser  :toothy4:

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 8369
  • Gender: Female
Re: Gesegdes in versvorm
« Reply #5 on: November 10, 2016, 01:35:50 PM »
Ai Raaitjie, ek het so gehoop iemand sien dit as 'n uitdaging en skryf nog.  Miskien sal hierdie "oproep" deurkom. 
Om te weet is om te verstaan.