Author Topic: Sagie en Sabie gaan kuier  (Read 2431 times)

0 Members and 1 Guest are viewing this topic.

Offline adele

  • Hardebaard
  • Posts: 1932
  • Gender: Female
  • gryp na môre in klein-klein stukkies
Sagie en Sabie gaan kuier
« on: November 29, 2012, 07:44:34 PM »

Sagie en Sabie gaan kuier

Hulle sit aan die kant van die kroeg. Die vliegtuigkaartjies brand in Sagie Skilpad se dopsak, maar sy gesig is sedig geplooi, soos altyd maar.

“Sabie, sê nou jy sal saamgaan, toe man,” probeer Sagie nog ’n laaste keer. Sabie sug en draai so skeef op sy stoel. Amper gly hy af, maar Sagie steek ’n beplooide poot uit en keer betyds.

“Goed dan, maar …”

“Ja ja,” val Sagie in sy rede en draai met sy poot op Sabie se rug, hom so ’n slag in die rondte. “Als reg, stop nou worrie. Ek is sooo bly … ons gaan tog vliegtuig ry … tot by die Noo-o-oordpool verby …” sing Sagie als op twee note.

Dit is twee weke later. Sarel Seemonster wag agter ’n groot palm vir sy twee maters. Hy is so bang dat kinders vir hom gaan skrik. Dan kom Sagie Skilpad en Sabie Slak by die aankomssaal in. Sabie sit bo-op Sagie se rug, suig vir die vale was aan ’n duikie in sy dop.

Sarel vergeet om skaam te wees en storm op die twee af.

“Sagie! Sabie! Julle is hier!”

Oral om hulle glimlag tande en tandelose monde. Die uitbundigheid van die drie vriende is aansteeklik.

“Sarel,” diepstem Sagie. “Ek kr-rry koud. Hoekom het j-jy nie gese dis so vree-eslik k-koud nie?” klappertand hy.

“Maar Sagie, hoe kon ek nou weet? Ek kry mos nie koud nie. Ek bly lewenslank al hier en dink maar dis hoe dit moet wees.”

“Brrssshshhhhhh,” bewe Sabie wanneer hy afgly.

Die volgende oggend jaag Sarel hulle net na sonop uit die bed. Sonop hier, beteken dit is al amper tienuur in hulle eie sonnige Bosveldnatuur.

“Wat gaan ons doen, Sarel? Jy het belowe ons gaan elke minuut geniet en nou kan ons nie eers uitgaan nie, want jou wêreld hierso is spierwit en toegeys.”

Sarel lag so ’n gromlaggie diep uit sy monstermaag.

“Julle gaan vandag ski.”

“Wat?! Ssski!” Sabie draai so vinnig om dat hy teenaan Sarel se poot vasgly.

“Nee-nee, Sarel,” praat Sagie en kruip diep in sy dop in. Hol kom sy stemmetjie weer:

“Ek kan nie ski nie en die koue sneeu gaan hierdie horrelpote van my laat opkurk.” Sy stemmetjie raak al hoe sagter.

“Aag, nonsens. Julle kan nou regtig nie al die pad luglangs hiernatoe gekom het en dan nie eers wil probeer nie.” Sarel klink sommer vies.

“Goe-ed,” se Sagie en steek sy neus uit. “Maar julle weet wat gebeur wanneer ek koud kry.” Sagie wil nie die bobbejaan agter die bult gaan haal nie, maar hy sien hier kom vandag pêre.

Laatmiddag roep Sarel na Sagie. Hulle is moeg. Sabie sit op Sarel se skouer en kort-kort gly hy heen en weer.

“Sagie! Sagie! Kom nou, dis nie meer snaaks nie.”

“Sjjagie!”

Hulle loop nog ’n paar minute rond en dan draai Sarel vasberade om.

“Wa-ee-wa gaan onsjj nou?”

“Huistoe. As Sabie kom, kan hy maar sy tassie pak. Ek het genoeg van sy wegkruipertjie gehad.”

Sabie wil nog iets sê maar begin dan stotterend rondspring en val so amper van Sarel se skouer af.

“Da .. da .. e .. daa-a-aar!” roep hy met sy stemmetjie hees.

“Waar?”

Dan sien Sarel dit ook. Onder die denneboom naby sy huis langs die meer, steek ’n stukkie skilpaddop in die sneeu uit. Sarel hardloop nader en klop aan.

“Sagie? Sagie, wat is fout, jong?” Geen reaksie nie. Sarel grou van die sneeu om hom weg en klop weer en weer op sy dop. Dan, uiteindelik, roer iets onder die sneeu. Sarel grou hom heeltemal uit. Dan dra hy hom huistoe en sit hom naby die kaggel neer. Hy steek die hout aan en gou-gou knetter die vlamme heerlik. Na ’n rukkie steek Sagie sy kop uit.

“Wat gaan aan? Waar kom die somer nou vandaan?”

“Jippieeeeeee! Hy is weer wakker.” Sarel gryp sommer sy poot en trek hom op ’n danspassie in die rondte. Sagie grom net.

“Ek het jou gesê ons soek moeilikheid in hierdie wit ysland van jou,” grinnik Sagie net.

 :grommit:
adéle  :grommit:

Meraai vannie Baai

  • Guest
Re: Sagie en Sabie gaan kuier
« Reply #1 on: November 29, 2012, 11:38:40 PM »
Dis te dierbaar!! Ek sal graag nog hoofstukke in die karaktertjies se lewe wil meemaak Adele  :love7: :hello2:

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10692
  • Gender: Female
Re: Sagie en Sabie gaan kuier
« Reply #2 on: November 30, 2012, 08:20:43 AM »
Dis te oulik Adêle.  Ons het nog kinderstories nodig.  Bring 'n opvolg. 
Om te weet is om te verstaan.

Offline adele

  • Hardebaard
  • Posts: 1932
  • Gender: Female
  • gryp na môre in klein-klein stukkies
Re: Sagie en Sabie gaan kuier
« Reply #3 on: November 30, 2012, 09:16:08 AM »
griet, hierdie was nou sommer nav 'n opmerking by die kortstorie-werf op FB. ek het nie gedink aan opvolg nie ... want ek sal raad moet vra. ek is dom met kinderstories.

vir watter ouderdom-kinders is hierdie storie geskik?

 :grommit: 
adéle  :grommit:

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10692
  • Gender: Female
Re: Sagie en Sabie gaan kuier
« Reply #4 on: November 30, 2012, 10:35:51 AM »
Juffrou Gawie sal die regte antwoord hê oor die ouderdomme Adéle. 
My ervaring met kinderstories is ook dat kleiner kinders makliker identifiseer met name wat by die diere pas, bv. Skillie en Slakkie of so iets.  Vandag se kleingoed is so ougat.

Om te weet is om te verstaan.