Author Topic: Om te weet: Seëning of vloek?  (Read 11020 times)

0 Members and 1 Guest are viewing this topic.

Meraai vannie Baai

  • Guest
Om te weet: Seëning of vloek?
« on: November 11, 2012, 06:05:11 AM »
Die dag toe ons gebore is, het ons elkeen reeds die eerste tree gegee op die pad na die einde. Wanneer en hoe - wis maar min van ons. PM vra my vandag hoe ek daaroor voel om te weet daar hang 'n swaard oor die lewenslyn gespan vir my.

29 Julie 2012: Met vrees en onkunde toegeklamp in my vuiste, stap ek by die spreekkamer uit. In my sak die inkskets wat dok geteken het. (Ek liefffff prentjies - maar nie die soort nie.) 'n Nuwe vloekwoord 'Pulmonêre Hipertensie' het ongenooid homself tuisgemaak in ons lewens. PH word 'n pynlike afkorting en skielik wens ek die twee letters was nie in die alfabet nie.
 
Dat 'dit' terminaal kan wees vind ons 'n paar weke later uit en begin verward soek na 'n ligstrepie in die donker dae en nagte.

Altyd bang gewees vir oudword, gaan dit my nou (sic) gespaar bly, vertel ek wrang vir Outoppie. En ons grimlag saam oor die ironie; huil stil na binne.

En so dra hy en ek - vir eers, in swye saam aan hierdie nuwe kruis en soms teen skemer, kom sit ons dit vir rukkies neer. Langsmekaar. Woordloos. Verblind deur ongestorte trane en 'n duisend onbeantwoorde vrae. Tot een aand...

Die eerste, van seker nog baie vasklou en saamhuil het dit deur my gedagtes geflits en word dan ook oorgevoude driehoekies van die eerste paar blaaie in die verhaal van ongeskrewe paragrawe waar niks regtig sin maak nie.

***************

Na die diagnose bevestig is deur die kardioloog in sy ondersoek met 'n fensie naam, het dit tyd geword om kinders, familie en vriende in te lig oor die prognose. 'n Tyd in ons lewe waar ek myself gehaat het weens die pyn (wat 'dit' in my), aan geliefdes veroorsaak. Ons jongste seun se rousnikke oor die foon het my my ore laat toedruk en die gang af vlug. Outop het die foon geneem terwyl Kind net aanhou huil het...

Ek wou net wegkom van alles af. Ongelukkig neem 'n mens jouself saam waar jy ookal gaan. So ook die skete en kwale.

Na ons almal ingelig het word dit stil om ons. Doodstil. Droog oases op. Die foon is stil. Die poskoets draf leeg verby. Niemand weet wat om te se vir ons nie. Soos 'n banneling in 'n mallemeule beleef ek die sekondes van goeie en slegte ure/dae.

***************

Verwurg deur alleenwees, kry ek myself aan die kraag beet en neem ooraktief weer deel aan die lewe. Die glimlag in my siel en op my lippe vasgeplak met vals bravade. So glip die weke een-een verby in die martelende wagproses om te sien of die drukking in regterhartkamer gaan verminder of vermeerder, of soos gister se mis, vir altyd weg sal wees.

Stap ons gedwonge voort op die onbekende PH-pad ... bereik van die mylpale: Skok en ongeloof. Twyfel oor die diagnose. Dokters en spesialiste maak wel foute het ondervinding ons reeds geleer. Die drie verkeerd-gediagnoseerde 'gaatjie in die hart oorsaak van alles' laat die onsekerheid vreet aan jou binneste oor die werklike oorsprong van die toestand.  Ek besef dit gaan 'n laaaaang onsekere pad wees tot by die cul de sac.

******************

My, en so ook jou eie toekoms, mag baie kort of lank wees. Nie een van ons kan daarop reken nie. Dit plaas ons op dieselfde roete in verskillende bootjies. Ek wag op uitslae wat dalk vir my 'n aanduiding kan wees van die lengte van my vaart op die lewensseë.

 :icon_salut: 22 November is D-Dag vir ons.

Dan gaan hulle nog drie toetse doen om vas te stel wat gaan aan en hoe  nou verder? Onsekerheid vreet soos die groot K en senuwese is garingdun.

Denneys van PHSA het gevra dat pasiente/familielede, versorgers en dies meer, 'n briefie aan God stuur vir die bekendmakingsveldtog van November. Ek kon nog nie my briefie skryf nie maar het vandag die onsekerheid probeer verwoord en sal dit in my 'kerskous' plaas.

22 November 2012: Wat sal dit wees?

Is dit meer...
is dit minder...
of was dit net gene, oorgeërf
of is die oorsprong onbekend
en kan/sal dit die einde wees?
 
Liewe Vader,
Dalk was die diagnoses weer verkeerd
en het daardie twee gevreesde letters
uit die alfabet, nou vir altyd verdwyn.
 
PS: Dankie vir die voorreg om te weet hoe kosbaar tyd kan wees.
Here, stuur ons asb. die kersfees 'n wonderwerk - 'n kuur, vir PH.
 
*****************
 
22nd November 2012: What will it be?

Is it more...
is it less...
or was it just a gene - inherited
or will the cause be unknown for ever
and it could spell 'the end'?
 
Dear God,
Maybe they got it all just wrong again
and somehow, that two dreaded letters
from the alphabet are now, forever gone.

PS: Thank you for the privilege to know how precious time can be.
Please Dear God, send us a miracle for this christmas - a cure for PH.





« Last Edit: June 11, 2020, 07:18:53 AM by Meraai vannie Baai »

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10692
  • Gender: Female
Re: Om te weet: Seëning of vloek?
« Reply #1 on: November 11, 2012, 09:31:52 AM »
Ai Raaitjie, ek is stom.  Soos Outop, het ek die pad gestap met Hannes se kolonkanker.  Verstaan ek nie die ontkenning, wroeging en die vrese, die onsekerheid, die hoop, die spanning en al die spinnekopdrade wat 'n mens taai vasbind nie?
DIE swaard sal altyd oor 'n mens se kop bly hang!
Ek wens vir jou, 'n tweede kans, soos wat ek gekry het.  Al wat ek intussen kan doen is om julle styf in my gedagtes en my hart toe te vou. 

Is dit 'n seëning of is dit 'n vloek?
Soos ek altyd sê, uit elke sleg word daar iets goeds gebore. 
Wat is die "goed"?
Ons besef dat tyd kosbaar is.
Nou besef ons wat die ander persoon vir ons beteken.  (Ons besef dit mos nie voordat die persoon nie meer daar is nie en nou skielik dink jy daaraan!  Wat op dees aarde sal ek doen as hy/sy nie meer in my lewe is nie.) 
Ek kry die geleentheid om vir jou te sê wat jy vir my beteken en hoe lief ek vir jou is.  (Ons is mos maar geneig om dit nie elke dag te sê nie.)
Die persoon kry 'n geleentheid om dinge reg te maak wat dalk verkeerd mag wees en om sy/haar sake in orde te kry.  Dit is bitter, maar dit is die realiteit. 

 
Om te weet is om te verstaan.

Meraai vannie Baai

  • Guest
Re: Om te weet: Seëning of vloek?
« Reply #2 on: November 11, 2012, 10:03:53 AM »
PM, ekke sluk trane weg terwyl ek lees en onthou, hoe jy, wanneer tyd toegelaat het ons nog op die Woesforum kom inlig het oor Hannes. Julle seer en vrese. Die terugslae en bekommernisse was deel van ons lewens. Die vreugde toe daar omkeer kom. Ek onthou dit so goed, bewus van omgee vir mensies wat jy nog nooit eers teen jou bors kon druk in die werklike lewe maar meer drukkies uitgedeel het in die gees op die groot K-pad, as vir hulle wat daagliks jou pad kruis in die regte lewe. Mater ek weet jy weet en verstaan hierdie pad. DANKIE!!!  :love7: :notworthy: Ons stuur liefde en omgee vir jou en Hannes. Wens ons kan eendag om dieselfde tafel sit  :icon_cheers:

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10692
  • Gender: Female
Re: Om te weet: Seëning of vloek?
« Reply #3 on: November 11, 2012, 10:24:13 AM »
Om te weet is om te verstaan, maar as jy die ervaring het, besef jy die werklikheid daarvan.
As ek nie daardie pad gestap het nie, sou ek nooit kon verstaan wat die mense van die pasient deurmaak nie. 

Wat 'n groot voorreg sal dit nie wees om saam met julle om dieselfde tafel te kan sit nie.   :hello2:

Dink ek nou aan die komiese. 
Met 'n groot "te doe" het ons suurstofbottels vir my mammie gereël sodat ons haar vir die laaste Kersfees by die huis kon hê.  Daar was 'n "waterbotteltjie" aan die silinder waardeur die suurstof moes bruis.  Ons het haar in 'n uitskopstoel tuis gemaak, want sy kon mos nie heeltemal plat lê nie.  Toe besluit die kinders dit is fototyd en almal neem plaas langs, voor en agter haar.  Met die "oortrapslag" trap ek die pype raak en die water vind 'n pad na haar neus. 
"Ag my liewe moedertjie, amper versuip ek jou!"
Die sesde Januarie is sy "huistoe".  'n Bitter tyd, maar tog ook die verligting om te weet dat haar lyding iets van die verlede was en dat ons nog die laaste paar dae saam met haar kon deel. 

Om te weet is om te verstaan.

Meraai vannie Baai

  • Guest
Re: Om te weet: Seëning of vloek?
« Reply #4 on: November 11, 2012, 10:55:20 AM »
Wat sal die lewe wees sonder die kruk van humor  :toothy4: Hierdie prentjie wat jy geskets het van julle gesin en jou misstap, KEN ek so goed matertjie. Daai skielike ligte vloed van waters in die neusgaaie! Vlieg gereeld verskrik op met 'n 'amper versuie ek man!'

Ons het ons eie groot vermaak diekant want Outop trap gereeld 'per ongeluk' op my pypie waaraan ek so suig. Opgestapel met al wat kussing is teen die katel. Heheeheh ... daai afgetrapte lug maak mos so snaakse "SJOES" geluid en skielik is dit of daar 'n turbo help blaas in daai masjien se luidrugtige stroom asem.

Die gedoente word keer op keer gevolg met my enigste swetswoord. "Doooos (*gesensor askies) oom Lockie jy sal my hart laat loop staan man!" Maar hy kan maar aanhou met dit want die glimlaggie en vryf oor my hare agterna maak alllllles die moeite werd. 'Lief jou my vroutjie' is die laaste woorde voor hy die lig afsit ... en my pypies mistrap.
« Last Edit: August 11, 2018, 12:13:13 AM by Meraai vannie Baai »

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10692
  • Gender: Female
Re: Om te weet: Seëning of vloek?
« Reply #5 on: November 11, 2012, 12:00:22 PM »
Ja, die kruk van humor of die hande en arms van geliefdes. 

Ek het so aan jou gedink toe ek en Francouis praat oor al sy werk.  Geeloud papiere, van dit nog in kinderhand geskryf, verbleik deur vader tyd.  As hy maar die opleiding gehad het om so met ons programme op die rekenaar te kon speel.  Al sy werk te kon tik. 
Ek het aangebied om hom te help om sy werk in boekvorm te kry    WANT seg ek vir hom, dit is die beste nagedagtenis wat jy vir jou nageslag kan gee. 
Dit was die eerste ding waaraan ek gedink het, daardie dag toe jy die skokkende nuus kom meedeel het:  Raaitjie, jou menswees is in woorde wat sing opgesluit.  As dit so moet wees, dan het jy vir ons die mooiste, waardevolste, kosbaarste deel van jou lewe gegee.  Wat 'n wonderlike voorreg om daarin te kan deel!  :notworthy:  Ek glo vas dat ons nog baie daarvan gaan sien.   :love7:
Om te weet is om te verstaan.

Offline Gawelina

  • Regular Members
  • Snuiter
  • Posts: 360
  • Gender: Female
    • Gawelina
Re: Om te weet: Seëning of vloek?
« Reply #6 on: November 11, 2012, 03:02:53 PM »
Lees ek so deur julle twee se gesprek, voel dit of ons drie weer 'n vroeë koppie koffie in ons stomkletstuintjie geniet. So deur die lees spoel herinneringe bittersoet deur die onthou. Die krismispakkie na meraai wat ek met soveel opgewondenheid gepak het en wat haar amper eers die volgende krismis bereik het, PM se opgewondenheid toe ek haar 'n potloodskets gee wat sy so graag wou hê en elke oggend se liefe jou koebaai sê. Ek is nog nie deur hierdie meule van julle nie, maar ek drukkie julle altwee. Dankie vir die kosbaarste vriendskap en julle aandeel in my menswees. Hierdie nuwe fase sal ek hier van ver af saam met jou aanpak Raai en my klein deeltjie doen soos jy my nodig kry. Saam sal ons lag en huil soos van ouds, met 'n nuwe verstaan daaragter.

Liefe julle

Offline Fransi

  • Regular Members
  • Melkbaard
  • Posts: 1274
Re: Om te weet: Seëning of vloek?
« Reply #7 on: November 11, 2012, 03:11:15 PM »
 :love7:  :love7:  :love7:

Offline Ah Willa

  • Administrator
  • Melkbaard
  • Posts: 1312
  • Gender: Female
  • Jou glimlag kan 'n lewe red - smile!
    • Ah,Willa!
Re: Om te weet: Seëning of vloek?
« Reply #8 on: November 11, 2012, 05:23:31 PM »
Party mense weet dalk net wat die swaard is wat oor hulle lewenspad span en hoe kosbaar tyd vir hulle is
waar ander dink die lewenspad strek nog lank uit en intussen wag 'n swak plek in 'n aartjie in die brein om mee te gee - die dood nog nader
as wat hulle ooit kan weet ....

om te weet : 'n vloek of seen

dit hang af van watter brille mens aanhet sou ek se ...

ons almal se padjies is uitgele en iewers - vroeg of laat - hou ons pad op aarde op.

Siektes verstaan mens nie ... hoekom mense moet ly.
Al wat ek weet ons leef in 'n onvolmaakte wereld gevul met sonde en dis die gevolge daarvan.
Maar ons Vader in die Hemel sien en Hy gee om en Hy is met ons elke treetjie van die pad - of ons nou glo of nie.

Raaitjie ek salute jou vriendin - ek dink jy is 'n innerlike sterk mens!
Die lewe bring storms, maar God gee krag!
http://w

Meraai vannie Baai

  • Guest
Re: Om te weet: Seëning of vloek?
« Reply #9 on: November 12, 2012, 01:42:13 AM »
Dankie liewe maters vir elkeen se woordspore en omgee hier gelaat. Dankie ou Gawes vir die wonderlike gawe van jou teenwoordigheid op my skerm. Die kere wat PM ons stomkletstydjies kan deel is die room op ons koffietjies soggens.

Toe ek PM se vraag probeer beantwoord het, het ek die veiligheidsklep op my emosies vrye teuels gegee en nie werklik die vraag beantwoord nie.

Is dit beter om te weet of nie? Voordele/nadele? As ek vandag kon kies, sou ek nog steeds nie kan se ja of nee nie. Eintlik behoort ons almal mos te weet 'lewe' is net geleen aan ons. Beplan of jy 'n honderd jaar kan leef, maar leef of more dalk nie gaan kom nie (Outoppie se lewensuitkyk)
 
Wat ons wel agterna agtergekom het is die verandering in mensies na aan ons wat skielik weer bewus geword het van hulle eie lewenspaadjie se duur. Skielik het hulle die nodigheid ingesien om mekaar te waardeer en waardering uit te spreek. Kleinlikhede op die agtergrond te skuif. Nietige verskille oor te sien en mekaar se teenwoordigheid net te geniet.

Dankbaarheid vir die kleinste voorreg, selfs die voorreg van normaal asemhaal en jou daaglikse take met gemak en sonder pyn te kan uitvoer. Dit wat onnodig uitgestel word, nou te doen - klein dingetjies maar as jy dit nagelaat het, en tyd jou ingehaal het, is dit vir altyd ongedaan.

« Last Edit: September 25, 2019, 03:12:54 AM by Meraai vannie Baai »

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10692
  • Gender: Female
Re: Om te weet: Seëning of vloek?
« Reply #10 on: November 12, 2012, 05:38:21 AM »
Dit is so Wils, niemand weet nie.  Al weet jy, weet jy nog nie wanneer nie en plaas dit ons nie maar almal weer in dieselfde bootjie nie?

Daardie antwoord: As ek vandag kon kies, sou ek nog steeds nie kan se ja of nee nie. spreek boekdele Raaitjie.  Dit laat my diep dink en my gedagtes maak 'n draai deur ons gesin se lewe daardie tyd toe ek die nuus van Hannes se groot K ontvang het.  As hy nie gediagnoseer is nie, was hy nie meer hier nie.  Dit was ook makliker om dit aan almal oor te dra, want ek het eers verduidelik dat hy moet gaan vir die operasie omdat...,  maar daar is uitkoms. 
Almal wat op Woesforum was daardie tyd weet hoe dit gegaan het.  Ek het elke geleentheid gebruik om te kom verslag doen.  Elke keer was daar hande wat die net gedspan het om te keer dat ek nie my bek stukkend val nie en
my varkies op hok te hou. :icon_biggrin:  Julle het my gedra deur 'n moeilike tyd.  Mag ons asseblief ook help om 'n net te span om jou te help dra? 

Die verandering in die mense om jou: Dikwels wil ons mos weet hoekom?  Is dit nie een groot "eye opener" nie?  Een van die redes.  Sodat ons mekaar meer kan waardeer en nader aan mekaar kan leef?
Gister toe ek met Ouma Naas praat, vertel sy vir my hoe goed almal vir haar is en wat hulle alles vir haar doen.  (Hier moet ek ook sê dat sy altyd met lof en liefde van almal gepraat het oor hulle optrede teenoor haar.) 
Dit laat mens ook werklik besef hoeveel "kleinlikhede" daar is.  Plaas ek die woord in aanhalingstekens omdat dit 'n hele boel goeters insluit.  Dingetjies wat eers in hoofletters gespel is, wat nou kleinlettertjies word omdat 'n mens besef,  DIT  maak nie saak nie.
'n Mens vind ook uit dat daar mense is wat werklik vir jou omgee, al het jy altyd gedink hulle voel 'n veer vir jou. 

Dit wat onnodig uitgestel word, nou te doen - klein dingetjies maar as jy dit nagelaat het, en tyd jou ingehaal het, is dit vir altyd ongedaan.   Hierdie woorde van jou is treffend Raaitjie.
Hoeveel mense kry die kans?  Dit is soveel stof tot nadenke.  Hierdie laaste tyd het ek so dikwels gewonder wanneer is my strepie getrek?  Wat het ek nagelaat om te doen?  Wat wil ek nog doen?  Is my sake in orde?

Dit het 'n rimpel effek sowaar. 

Raaitjie jy moet nou ligloop met die room storie.  Netnou kry ek vreeslik grootkop.   :notworthy:

Liefe jou.    :icon_biggrin:  Ai Gawie, hoe laat jy my nou lag.  Ek het eers by die eerste liefe vas gesteek, maar die tweede een het die kloutjie by die oor gekry. 
Dit is nog 'n seën.  Daardie wonderlike "onthou jy" wat ons altyd met mekaar kan deel.  Iets wat niemand kan wegneem nie. 
Om te weet is om te verstaan.

Offline Fransi

  • Regular Members
  • Melkbaard
  • Posts: 1274
Re: Om te weet: Seëning of vloek?
« Reply #11 on: November 12, 2012, 08:15:03 AM »
Elke keer wat ek hier lees, ontbreek woorde my.

Dit breek my hart en bring eie einas so skerp na vore dat ek nie weet wat om te sê nie.

Behalwe  :love7: en drukkies vir julle almal en julle families.

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10692
  • Gender: Female
Re: Om te weet: Seëning of vloek?
« Reply #12 on: November 12, 2012, 08:47:20 AM »
Kom deel in jou eienas Fransi.  Dit is goeie medisyne en salfies vir die seer. 
Ek was al 'n paar keer in die situasie waarin ek geliefdes plotseling verloor het.  My oudste broer is dood in 'n motorongeluk en daar was soveel dinge wat ek nog met hom wou deel die oomblik as hy weer tuis sou kom.  Soveel dinge wat ek vir hom sou gesê het voordat hy gery het, as ek maar geweet het. 

Ek het my pa se boedel beredder.  Hy wou die testament met my bespreek, maar ek was te halstarrig om te luister.  Het net geweier om te glo dat hy kan gaan.  Het so ewe parmantig vir hom gesê dat ek nie sy geld wil hê nie, net vir hom.  As ek maar geluister het. 

Dit laat my dink dat dit beter is om te weet.  Mens weet nie wanneer nie, maar jy het daardie tyd wat jy NIE sou gehad het nie, want ons is almal te "besig" om te doen wat gedoen moet word.  Ons wil ook nie oor die dood praat nie, dit is te "ongemaklik", te seer, te alles waaraan ons kan dink. 

Gelukkig het ons 'n forum waar ons vrae kan vra en ander so opinies kan hoor.  Dit is sekerlik nie die regte antwoord vir die ou wat vra nie, maar dit kan help om ons gedagtes positief te hou. 
Om te weet is om te verstaan.

Meraai vannie Baai

  • Guest
Re: Om te weet: Seëning of vloek?
« Reply #13 on: November 12, 2012, 11:45:50 AM »
Hier word werklik nette gespan. Ek kan getuig! Fransi ons is hier matertjie. Toe ek eers begin oopmaak was daar geen keer nie. Eers agterna gesien wat ek alles geskryf het. Laaaaaank gesels vandag met PM oor die einas in haar lewe en ek weet, dit help om 'oop te maak'. Opkrop is nie goed nie.

Ons moes ons testament ook weer laat opstel, besluit wat moet gebeur ... indien .... as .....

En die groot gesels rondom dit was nog 'n mylpaal wat met groot hartseer bereik was. Gewis nie maklik nie maar so nodig! Wat is ons elkeen se laaste wense. Dinge soos orgaanskenking, begrafnis of verassing. Dinge wat mens nie aldag oor gesels nie.

PM my hart gaan uit vir jou. Die lewe is hard my maat. Kliphard. En tog bly ons staande. Ek dink nou spesifiek aan alles wat julle deurgegaan het met Hannes. En hoe dit jou geraak het. Die een wat staande moet bly vir die hele gesin en pasient. Bitter min mense dink aan hoe dit vir die versorger(s) voel!

My hart so stukkend vir almal wat nou worstel met hierdie deel van die lewe. Krimp ineen vir die seer wat Naas hulle nou beleef. Mag julle toegevou word met omgee en liefde matertjie. Drukkie vir elkeen  :love7:
« Last Edit: November 13, 2012, 02:21:55 AM by Meraai vannie Baai »

Offline Fransi

  • Regular Members
  • Melkbaard
  • Posts: 1274
Re: Om te weet: Seëning of vloek?
« Reply #14 on: November 12, 2012, 12:26:49 PM »
 :love7:  :love7:  :love7: