Die kuierstoep > Die Foltergrot

Om te weet: Seëning of vloek?

(1/5) > >>

Meraai vannie Baai:
Die dag toe ons gebore is, het ons elkeen reeds die eerste tree gegee op die pad na die einde. Wanneer en hoe - wis maar min van ons. PM vra my vandag hoe ek daaroor voel om te weet daar hang 'n swaard oor die lewenslyn gespan vir my.

29 Julie 2012: Met vrees en onkunde toegeklamp in my vuiste, stap ek by die spreekkamer uit. In my sak die inkskets wat dok geteken het. (Ek liefffff prentjies - maar nie die soort nie.) 'n Nuwe vloekwoord 'Pulmonêre Hipertensie' het ongenooid homself tuisgemaak in ons lewens. PH word 'n pynlike afkorting en skielik wens ek die twee letters was nie in die alfabet nie.
 
Dat 'dit' terminaal kan wees vind ons 'n paar weke later uit en begin verward soek na 'n ligstrepie in die donker dae en nagte.

Altyd bang gewees vir oudword, gaan dit my nou (sic) gespaar bly, vertel ek wrang vir Outoppie. En ons grimlag saam oor die ironie; huil stil na binne.

En so dra hy en ek - vir eers, in swye saam aan hierdie nuwe kruis en soms teen skemer, kom sit ons dit vir rukkies neer. Langsmekaar. Woordloos. Verblind deur ongestorte trane en 'n duisend onbeantwoorde vrae. Tot een aand...

Die eerste, van seker nog baie vasklou en saamhuil het dit deur my gedagtes geflits en word dan ook oorgevoude driehoekies van die eerste paar blaaie in die verhaal van ongeskrewe paragrawe waar niks regtig sin maak nie.

***************

Na die diagnose bevestig is deur die kardioloog in sy ondersoek met 'n fensie naam, het dit tyd geword om kinders, familie en vriende in te lig oor die prognose. 'n Tyd in ons lewe waar ek myself gehaat het weens die pyn (wat 'dit' in my), aan geliefdes veroorsaak. Ons jongste seun se rousnikke oor die foon het my my ore laat toedruk en die gang af vlug. Outop het die foon geneem terwyl Kind net aanhou huil het...

Ek wou net wegkom van alles af. Ongelukkig neem 'n mens jouself saam waar jy ookal gaan. So ook die skete en kwale.

Na ons almal ingelig het word dit stil om ons. Doodstil. Droog oases op. Die foon is stil. Die poskoets draf leeg verby. Niemand weet wat om te se vir ons nie. Soos 'n banneling in 'n mallemeule beleef ek die sekondes van goeie en slegte ure/dae.

***************

Verwurg deur alleenwees, kry ek myself aan die kraag beet en neem ooraktief weer deel aan die lewe. Die glimlag in my siel en op my lippe vasgeplak met vals bravade. So glip die weke een-een verby in die martelende wagproses om te sien of die drukking in regterhartkamer gaan verminder of vermeerder, of soos gister se mis, vir altyd weg sal wees.

Stap ons gedwonge voort op die onbekende PH-pad ... bereik van die mylpale: Skok en ongeloof. Twyfel oor die diagnose. Dokters en spesialiste maak wel foute het ondervinding ons reeds geleer. Die drie verkeerd-gediagnoseerde 'gaatjie in die hart oorsaak van alles' laat die onsekerheid vreet aan jou binneste oor die werklike oorsprong van die toestand.  Ek besef dit gaan 'n laaaaang onsekere pad wees tot by die cul de sac.

******************

My, en so ook jou eie toekoms, mag baie kort of lank wees. Nie een van ons kan daarop reken nie. Dit plaas ons op dieselfde roete in verskillende bootjies. Ek wag op uitslae wat dalk vir my 'n aanduiding kan wees van die lengte van my vaart op die lewensseë.

 :icon_salut: 22 November is D-Dag vir ons.

Dan gaan hulle nog drie toetse doen om vas te stel wat gaan aan en hoe  nou verder? Onsekerheid vreet soos die groot K en senuwese is garingdun.

Denneys van PHSA het gevra dat pasiente/familielede, versorgers en dies meer, 'n briefie aan God stuur vir die bekendmakingsveldtog van November. Ek kon nog nie my briefie skryf nie maar het vandag die onsekerheid probeer verwoord en sal dit in my 'kerskous' plaas.

22 November 2012: Wat sal dit wees?

Is dit meer...
is dit minder...
of was dit net gene, oorgeërf
of is die oorsprong onbekend
en kan/sal dit die einde wees?
 
Liewe Vader,
Dalk was die diagnoses weer verkeerd
en het daardie twee gevreesde letters
uit die alfabet, nou vir altyd verdwyn.
 
PS: Dankie vir die voorreg om te weet hoe kosbaar tyd kan wees.
Here, stuur ons asb. die kersfees 'n wonderwerk - 'n kuur, vir PH.
 
*****************
 
22nd November 2012: What will it be?

Is it more...
is it less...
or was it just a gene - inherited
or will the cause be unknown for ever
and it could spell 'the end'?
 
Dear God,
Maybe they got it all just wrong again
and somehow, that two dreaded letters
from the alphabet are now, forever gone.

PS: Thank you for the privilege to know how precious time can be.
Please Dear God, send us a miracle for this christmas - a cure for PH.





PM:
Ai Raaitjie, ek is stom.  Soos Outop, het ek die pad gestap met Hannes se kolonkanker.  Verstaan ek nie die ontkenning, wroeging en die vrese, die onsekerheid, die hoop, die spanning en al die spinnekopdrade wat 'n mens taai vasbind nie?
DIE swaard sal altyd oor 'n mens se kop bly hang!
Ek wens vir jou, 'n tweede kans, soos wat ek gekry het.  Al wat ek intussen kan doen is om julle styf in my gedagtes en my hart toe te vou. 

Is dit 'n seëning of is dit 'n vloek?
Soos ek altyd sê, uit elke sleg word daar iets goeds gebore. 
Wat is die "goed"?
Ons besef dat tyd kosbaar is.
Nou besef ons wat die ander persoon vir ons beteken.  (Ons besef dit mos nie voordat die persoon nie meer daar is nie en nou skielik dink jy daaraan!  Wat op dees aarde sal ek doen as hy/sy nie meer in my lewe is nie.) 
Ek kry die geleentheid om vir jou te sê wat jy vir my beteken en hoe lief ek vir jou is.  (Ons is mos maar geneig om dit nie elke dag te sê nie.)
Die persoon kry 'n geleentheid om dinge reg te maak wat dalk verkeerd mag wees en om sy/haar sake in orde te kry.  Dit is bitter, maar dit is die realiteit. 

 

Meraai vannie Baai:
PM, ekke sluk trane weg terwyl ek lees en onthou, hoe jy, wanneer tyd toegelaat het ons nog op die Woesforum kom inlig het oor Hannes. Julle seer en vrese. Die terugslae en bekommernisse was deel van ons lewens. Die vreugde toe daar omkeer kom. Ek onthou dit so goed, bewus van omgee vir mensies wat jy nog nooit eers teen jou bors kon druk in die werklike lewe maar meer drukkies uitgedeel het in die gees op die groot K-pad, as vir hulle wat daagliks jou pad kruis in die regte lewe. Mater ek weet jy weet en verstaan hierdie pad. DANKIE!!!  :love7: :notworthy: Ons stuur liefde en omgee vir jou en Hannes. Wens ons kan eendag om dieselfde tafel sit  :icon_cheers:

PM:
Om te weet is om te verstaan, maar as jy die ervaring het, besef jy die werklikheid daarvan.
As ek nie daardie pad gestap het nie, sou ek nooit kon verstaan wat die mense van die pasient deurmaak nie. 

Wat 'n groot voorreg sal dit nie wees om saam met julle om dieselfde tafel te kan sit nie.   :hello2:

Dink ek nou aan die komiese. 
Met 'n groot "te doe" het ons suurstofbottels vir my mammie gereël sodat ons haar vir die laaste Kersfees by die huis kon hê.  Daar was 'n "waterbotteltjie" aan die silinder waardeur die suurstof moes bruis.  Ons het haar in 'n uitskopstoel tuis gemaak, want sy kon mos nie heeltemal plat lê nie.  Toe besluit die kinders dit is fototyd en almal neem plaas langs, voor en agter haar.  Met die "oortrapslag" trap ek die pype raak en die water vind 'n pad na haar neus. 
"Ag my liewe moedertjie, amper versuip ek jou!"
Die sesde Januarie is sy "huistoe".  'n Bitter tyd, maar tog ook die verligting om te weet dat haar lyding iets van die verlede was en dat ons nog die laaste paar dae saam met haar kon deel. 

Meraai vannie Baai:
Wat sal die lewe wees sonder die kruk van humor  :toothy4: Hierdie prentjie wat jy geskets het van julle gesin en jou misstap, KEN ek so goed matertjie. Daai skielike ligte vloed van waters in die neusgaaie! Vlieg gereeld verskrik op met 'n 'amper versuie ek man!'

Ons het ons eie groot vermaak diekant want Outop trap gereeld 'per ongeluk' op my pypie waaraan ek so suig. Opgestapel met al wat kussing is teen die katel. Heheeheh ... daai afgetrapte lug maak mos so snaakse "SJOES" geluid en skielik is dit of daar 'n turbo help blaas in daai masjien se luidrugtige stroom asem.

Die gedoente word keer op keer gevolg met my enigste swetswoord. "Doooos (*gesensor askies) oom Lockie jy sal my hart laat loop staan man!" Maar hy kan maar aanhou met dit want die glimlaggie en vryf oor my hare agterna maak alllllles die moeite werd. 'Lief jou my vroutjie' is die laaste woorde voor hy die lig afsit ... en my pypies mistrap.

Navigation

[0] Message Index

[#] Next page

Go to full version