Author Topic: Gordon’s Rock  (Read 3798 times)

0 Members and 1 Guest are viewing this topic.

Offline Naas

  • Hardebaard
  • Posts: 2283
  • Gender: Male
  • K.N.A.P. (Kan Naas Afrikaans Praat of wat?)
Gordon’s Rock
« on: August 26, 2012, 12:41:01 PM »
Bo die Paarl aan die westekant troon Paarl Rots vir almal wat wil opkyk, om te aanskou. Wanneer daar mense op die rots rondloop kan jy hulle van onder af sien. Agter hom versteek, aan die Kaap se kant, kruip nog twee massiewe rotse weg. Een is maklik klimbaar en om dit nog makliker te maak het hulle op 'n stadium 'n ketting van onder tot amper bo teen die rots uit gespan. Die klip het as Kettingklip bekend gestaan. As kinders het ons die twee rotse gereeld uitgeklim. Die derde rots was Gordon’s Rock. Vir hom was ons so bang soos 'n vlermuis vir daglig.
 
Oorlewing wil dit hê dat 'n sekere Engelse seun Gordon, saam met sy maats die rots uitgeklim het. Terwyl hulle daar bo rondloop spring hy glo oor 'n klein bossie wat daar op die rots groei en hy val in 'n skeur aan die ander kant. Sy maats probeer vergeefs om hom uit die skeur uit te haal en gaan haal later hulp. Teen die tyd dat daar hulp opdaag het Gordon egter al dieper in die skeur afgesak en sit hy al goed vas. Drie dae en nagte sukkel sy pa saam met ander reddingswerkers om vir Gordon te bevry maar dit lyk asof die rots hom al vaster hou hoe meer hulle probeer om hom uit te trek. Daar word later van 'n helikopter gebruik gemaak maar al wat hulle regkry is om sy arm uit potjie te trek maar die res van hom roer nie. Die storie wil dit voorts hê dat die pa sy seun daar in die skeur doodgeskiet het om hom verdere lyding te spaar. Daar in die skeur is sy lyk met klippe toegegooi. Vandag is die groot rots wat na hom vernoem is sy grafsteen.
 
Ek en my vriende het wel reg rondom die rots geloop om te sien waar die seuns die rots bestyg het maar die storie en die rots se loodregte wande het ons onder gehou. Ek het ook tot nog toe nie gehoor van enigiemand wat ooit weer die moed gehad het om die rots te bestyg nie.
 
Deesdae ry ek gereeld deur die Paarl. Dan kyk ek met heimwee op na Paarl Rots. Elke keer herinner dit my aan ons landsdiensleuse, “Vas soos 'n rots van grou graniet” en aan al die kere wat ek daar bo rondgeloop het. Soms onthou ek hoe ons as kinders gaan bergklim het en Paarl Rots van voor af aangedurf en oorwin het. Ek onthou selfs nou en dan die mooi uitsig vanaf Kettingklip. Op 'n mooi dag kon jy Tafelberg en die hawe daarvandaan sien.
 
Snaaks genoeg onthou ek nooit van Gordon’s Rock nie. Ek wonder of almal van ons 'n Gordon’s Rock in ons lewens het. 'n Uitdaging wat ons nie wil aanvaar nie omdat ander reeds daar was en gefaal het. 'n Massiewe stuk graniet wat ons liewers uit ons geheues verban.
 My gedagtes dwaal na 'n ander berg en na vriende. As jong getroude paartjie het ek en my vrou twee mense ontmoet wat later diep spore deur ons lewens sou trap. Kom ons noem die man maar Petrus. Petrus het ons aan sy suster en haar man voorgestel. Hulle het onder plaasomstandighede op 'n ander berg gewoon, 8 kilometer van hulle naaste bure. Omdat dit lekker is op die berg kuier ons, veral ek gereeld daar. Dit word altyd 'n lekker naweekuitstappie van braai en sommer net saam kuier en saamwees. Gewoonlik is Petrus en sy vrou ook by.
 
Vir sewe jaar duur die vriendskap. Elke jaar word die oujaar afgesluit en die nuwe jaar ingewag op die berg. Wat 'n voorreg om deur die nag te skoffel terwyl Petrus musiek verskaf. Om wakker te bly en die vir die son te wag tot hy die eerste keer die jaar skaam tussen die berg se pieke deurloer.
 
Omdat ons nooit meer as vyf keer per jaar op die berg kuier nie, kom ons nie dadelik agter dat die bottel meer as gereeld verhoog word in die huishouding nie. Ek lees later teen wil en dank die tekens van maatskaplike verval en onthou 'n ander storie.
 
'n Storie van 'n Afrikaanse man wat met die bottel bed toe is. 'n Storie van werkloosheid en inrigtings. 'n Storie van hospitale en 'n storie van lyding en lewerkanker. 'n Storie van stadige selfmoord. 'n storie van die graf, van seerkryliefde en verlange.
 
Ek het intussen weer om die berg gaan ry maar die styl bottels en die storie van die selfmoordman het my gekeer om weer tot bo te gaan. Ek voel oor die leë bottels soos 'n vlermuis oor daglig.
 
Die berg en sy mense het vir my 'n tweede Gordon’s Rock geword. 'n Uitdaging wat ek nie kan aanvaar nie omdat ek reeds daar was en gefaal het. 'n Massiewe stuk skuldgevoel wat ek liewer uit my lewe wil verban eerder as om weer by 'n seerkrygraf te staan.
 
Ek wil eerder die mense onthou soos ek hulle geken het en hoop van harte dat hulle nog in staat is om nuwejaarsoggend die son tussen die pieke deur te sien. Dalk, net dalk, skyn daar 'n reënboog deur die bottels!



 :icon_bigsmurf:
Ek is maar net een, maar ek ís een.

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10692
  • Gender: Female
Re: Gordon’s Rock
« Reply #1 on: August 27, 2012, 06:44:34 AM »
Diep emosies en uitstekende vergelykings Naas.  Daar is mos nog 'n gedig "Waar ruwe rotse" waar die pa ook sy seun geskiet het.  Tragies.

Ons het dalk elkeen ons eie Gorden's Rock, al is dit net sluimerend. 

Dalk, net dalk, skyn daar 'n reënboog deur die bottels!   :icon_salut:
Om te weet is om te verstaan.

Offline Fransi

  • Regular Members
  • Melkbaard
  • Posts: 1274
Re: Gordon’s Rock
« Reply #2 on: August 27, 2012, 08:12:43 AM »
Hierdie aangrypende woorde van jou het my nou aan my eie Gordon's Rock(s) laat dink. Puik geskryf.

Meraai vannie Baai

  • Guest
Re: Gordon’s Rock
« Reply #3 on: August 27, 2012, 11:19:16 PM »
Kosbare onthou en seer verwoord op jou eie unieke styl mater. Wil die erf ook merk  :notworthy: :icon_salut: :book1:

Offline Assie

  • Regular Members
  • Snuiter
  • Posts: 480
  • Gender: Female
Re: Gordon’s Rock
« Reply #4 on: November 25, 2016, 10:59:43 AM »
Tussenjou en my le daar 'n berg
Le daar 'n berg
Oelof Berg!


 :mumum:

Offline adele

  • Hardebaard
  • Posts: 1932
  • Gender: Female
  • gryp na môre in klein-klein stukkies
Re: Gordon’s Rock
« Reply #5 on: November 26, 2016, 05:19:18 AM »
wow! daardie berg wat al menig mense ondergekry het.... jou woordspeling sooo perfek.
adéle  :grommit: