Author Topic: hulle toekoms  (Read 1997 times)

0 Members and 1 Guest are viewing this topic.

Offline adele

  • Hardebaard
  • Posts: 1932
  • Gender: Female
  • gryp na môre in klein-klein stukkies
hulle toekoms
« on: August 17, 2012, 08:25:27 PM »
“Jy wil wat?!” Haar stem is skielik skril, ’n amper onbeheersde histerie dreig daarin.

“Ek gaan verkoop.” As Jurgens enigsins nog getwyfel het, dan het hy nou sekerheid.

“Die myn het nog ’n leeftyd van twintig, of dalk dertig jaar, en jy wil verkoop?”

Dina gaan sit. Duisend dwarrels tol deur haar kop. ‘Wat gaan Hans dan sê?’ Sy weet mos lankal hy is meer agter haar geld en diamante aan, as haarself, maar sy kan nie sonder hom lewe nie. En nou wil haar man die myn verkoop. Dis ’n klein myn, in finansiële terme, maar dít is die rykdom wat haar in ’n Jaguer laat rondry en haar in hierdie paleis teen die koppie net buite die dorpie laat woon. Sy noem dit hulle ‘mansion’ … met sy uitgestrekte tuine wat deur drie tuiniers versorg word en hier onthaal sy gereeld, want so laat sy almal onthou dat sy, wat uit die agterstrate van Kaapstad kom, iets geword het.

Dat sy nie haar skril stem en onopgevoede maniere daar agtergelaat het nie, besef sy nie. Alles aan haar is kunsmatig aangeleer: haar loop, haar styl, haar stemtoon wanneer sy so graag in hogere engels haar mening wil lug. Maar die ergste van alles is dat sy haar ma se hoerery oorgeêrf het. Jurgens neem sy vergulde pen met ’n seker hand vas en teken die vorms wat voor hom lê.

“So ja. Nou kan ons, ons toekoms begin bespreek.” Sy stem is skielik doods en tam.

“Wat bedoel jy?”, vra Dina. ’n Koue hand vou haar hart styf vas. ‘Weet hy?’ wonder sy.

“Eintlik jóú toekoms.” Sy staan op. Haar wange is yskoud en wit.

“Ek verstaan nie,” fluister sy amper. “Hoekom net myne? Wat van ‘ons’?”

“Daar is nie meer ’n ‘ons’ nie. Jy weet dit tog. Wanneer laas was daar ’n ‘ons’ in jou woordeskat?” Hy skud sy kop liggies om die skielike duiseligheid af te skud. Hy skuif ’n paar papiere oor na haar kant toe.

“Teken hier. Dit is ’n egskeidingsdokument. Ek maak daarin voorsiening vir jou versorging. Dit sal jou in staat stel om ’n eenvoudige, maar gerieflike lewe te leef. Jy sal egter baie moet afskaal.”
Dina se wange vlam nou rooi. Ontsteld snak sy na asem. Sy wil iets sê maar Jurgens spring haar voor.

“Ek het reeds uitgevind dat ons dogter nie my gene dra nie, Dina, maar ek het haar grootgemaak. Sy is al wat ek het en daarom neem ek haar saam met my. Sy gaan waaragtig nie langer onder jou invloed leef nie.”

“Ek weier! Jy kan nie so … so … sommerso van my skei nie. Ons is getroud en as jy wil skei moet jy die helfte van alles vir my gee.”

Jurgens grinnik wrang en hyg effens as die volgende vuurwarm pyn weer deur sy liggaam skeur.

“Het jy nooit die volledige ooreenkoms deurgelees nie, Dina? Onthou jy dat ek als met jou sal deel, maar net as jy getrou aan my sou bly?”

“Nou?”

“Jy het nie die vaagste benul wat ‘getrou’ beteken nie. Ek wonder of jy dit ooit kan spel,” spoeg hy die sarkasme uit. Daarmee haal hy die foto’s uit die laai uit en sprei dit voor haar oop. Sy verbleek weer, witter as ’n rukkie tevore, as dit moontlik is.

“Dus, my liewe vrou, wees bly ek gee nog bietjie om. As jy weier, kan jy ’n egskeiding beveg, maar dan kry jy niks. Minder as niks,” sluit hy moeg af.

Dina vat die pen en teken waar sy moet; parafreer die ander bladsye.

Die volgende oggend gaan laai Jurgens sy sesjarige dogter by sy ma af. Sy weet reeds wat om te doen. Dina het weer nie gelees wat sy teken nie. Tesame met die egskeiding het sy ook alle reg op Anneli afgeteken. Dan druk Jurgens sy ma styf teen sy bors vas. Hulle altwee weet dat sy dae getel is, as ’n wonderwerk nie baie vinnig gaan opvlam nie. Die kanker is reeds ver gevorder … daardie stilsluipende dood wat skielik, agressief sy kloue in iemand se binneste kan inslaan.

 :grommit:
adéle  :grommit:

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10692
  • Gender: Female
Re: hulle toekoms
« Reply #1 on: August 18, 2012, 05:35:06 AM »
Baie goed geskryf Adéle.  'n Pragtige korverhaal, boeiend en vol verrassings.  Boektoe goed. 
Om te weet is om te verstaan.