Teen 16:30 toe die afleweringstrok se agterligte vir my koebaai knik, was ek vodde. Niks het oorgebly van die groot kantoor se meubels en voorraad, Reps wat in- en uitskarrel en die normale gang van ‘n groot maatskappy se tak in die Kaap.
Wimpie vra of hy my êrens kan gaan aflaai, maar ek wou nog ‘n halfuurtjie bly, om afskeid te neem.
Dan gaan hy maar ry, seg die finansiële bestuurder wat opgekommandeer (-deur?) is om te kom help met die pak van die kantoor se groot trek na die nuwe stoor by Airport Industria hier plaaslik en die store in Johannesburg. Ek kry ‘n groot ‘hug’ en ‘n koebaai-soen op my kop. Dit laat my keel toetrek om te weet ek gaan miskien nooit weer met my kollega’s en vriende praat nie.
En vriende het hulle geword. Daagliks ge-struggle om die kantoor-bedrywighede te laat vlot, ge-gê oor die foon, lief en leed gedeel, maar meestal hard gewerk om die Dollars te laat inrol.
Ek laat die verlatenheid, die hartseer oor my spoel en gee myself oor aan die trane. Ek snik. Dit eggo deur die groot lëe gebou. Daar is geen hout, karton, papier, menselywe wat die klank absorbeer en demp nie. Dit sal my bybly.
Vrydag-aand kan ek nie my oë toemaak nie. Ek lê en wag vir slaap, maar die oormoeg wil nie verdwyn sodat ek myself kan oorgee aan slaap. My kop maal met bokse wat half gepak, vol gepak, weer uitgepak moet word, geplak moet word, eenkant by die hope ander gesit moet word. Dis die klank van die ‘shelving’ se afbreek wat nou nog in my kop eggo.
Dis die laastes van alles wat ek wil onthou: Die laaste oproep tussen my en ‘n vriend, die laaste e-pos om nog vertel hoe dit en dat gedoen moet word vir hierdie spesifieke klient, die laaste keer toe…
Ek het later besef dat ek moet afgee en oorgee. Ek is nie meer verantwoordelik vir die vlot verloop van die Oos- en WesKaap se takke. Ek is klaar hier.
Hulle het tog so besluit.
Woensdag-oggend sal ek vir ‘n laaste keer die deur oopsluit sodat die skoonmakers die laaste stof en vullis en skroefies van die ‘shelving’ en suikerkorreltjies en ‘staples’ en my pons se ronde papiertjies wat altyd soos confetti in my stasie gelê het, kan verwyder. Selfs die kol waar my koffie eenkeer uitgestort het, sal nie meer wys nie. So asof ons nooit bestaan het nie. Dan sal ek die deur vir die heel laaste keer sluit, die sleutels by die Besigheidspark se kantore afgee en by die sekuriteitshek uitry.
Al wat dan oorbly, is die naam van die groot maatskappy op my CV. En die dankbaarheid dat dit eens ‘n veilige hawe was, my ‘home away from home’.