Author Topic: Woordspeletjie vir boek 2.  (Read 15016 times)

0 Members and 1 Guest are viewing this topic.

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 9498
  • Gender: Female
Woordspeletjie vir boek 2.
« on: April 27, 2012, 04:46:51 PM »
Hierdie onderwerp sal in boek 2 geplaas word.  Ek vra dat almal sal deelneem deur voorbeelde te gee en ook gediggies te skryf wat die verskillende stylfigure kan omskryf.  Dit kan net groot pret wees.  
Kies die onderwerp waaroor jy wil skryf en plaas dit as bv. "Anatonomasia". Ek of Raaitjie sal dit onderskep en hierby kom voeg met jou naam by.   :notworthy:

Stylfigure
Uitdrukking wat ʼn styleffek teweegbring deur ʼn besonder formulering of deur ʼn gebruik van ʼn woord, wat afwyk van die gewone, of deur afwyking van die gebruiklike sinsbou; nie letterlike, besondere gebruik van woorde met die doel om ʼn effek te bereik.  

Akroniem – ’n Uitspreekbare woord gevorm van die eerste letter(s) in ’n frase of naam byvoorbeeld AVBOB.


Antiklimaks – an-ti-kli’maks – Skielike omswaai van iets belangriks na iets nietigs, gewoonlik met ʼn komiese effek.
Hier word ook na “batos” verwys: Plotselinge oorgang van die verhewene na die alledaagse, platte; antiklimaks.

Antitese – an-ti-te’se – Teenstelling; gebruik van twee teenoorgestelde begrippe naas mekaar.
In Die Stem van Suid-Afrika kry ons ʼn aantal sake wat in sterk teenstelling met mekaar genoem word om die geheel in groter perspektief te sien:
In die lente van ons liefde
in die lanfer van ons rou...
In die songloed van ons somer,
in die winternag se kou...

Antonomasia – an-to-no-ma’sia - Naamgewing deur 'n tekenende besonderheid, dikwels die gebruik van 'n eienaam as soortnaam om 'n algemene begrip uit te druk.
Bv.  blink klippies vir diamante.
'n Mens moet 'n Salomo wees...
Die moderne Napoleon.


Asindeton – a-sin’de-ton – Weglating van voegwoorde tussen woorde of sinne terwille van kernagtigheid, lewendigheid.
Oumense, manne, vroue, kinders, almal, staan in rye.
Totius gee ʼn mooi voorbeeld: Die Trekker met sy roer, sy os, sy wa, sy Boek...

Cliché – uitspraak klie-sjee’ – Afgesaagde, holruggeryde uitdrukking; verslete beeldspraak.

Diafora – di-a’fora – Herhaling van ʼn woord in ʼn sin, maar met ʼn ander betekenis.
Nie alle here is here nie.  

Ellips – el-lips – Weglaat van woorde wat veronderstel kan word.
Die skrywer gebruik die drie punte om ʼn sin, onvoltooid, aan die verbeelding van die leser oor te laat.

Eufemisme- eu-fe-mis’me- is ʼn versagtende woord of uitdrukking wat die felheid daarvan verbloem.
In stede van te sê dat iemand ʼn dief is, sê ons hy/sy het lang vingers,
of iemand het sag heen gegaan.  

Hipallagee – hipal-la-gee- ʼn stylfiguur wat daarin bestaan dat die sintaktiese verhouding tussen twee terme in ʼn sin omgekeer, verwissel, of omgeruil word soos in - die belangrike gevolge van hierdie ontdekking-  i.pv. - die gevolge van hierdie belangrike ontdekking-

Hiperbool – hi-per-bool-  ʼn stylfiguur wat van buitensporige oordrywing gebruik maak as uiting van hewige gevoel of om ʼn sterk indruk te maak.
Ek het jou al ʼn duisend maal gewaarsku...
Hy het hom al morsdood gesukkel...

Ironie -  i-ro-nie – ʼn Stylfiguur; woordgebruik waardeur ʼn mens die teenoorgestelde sê as wat jy bedoel.
Die beste speler sit natuurlik op die rusbank.

Iterasie – i-te-ra’sie – Herhaling van dieselfde woord.
Doem, doem klop my hart.

 Klimaks – kli’maks – ʼn Stylfiguur waar ʼn reeks gebeure die spanning opbou tot ʼn hoogtepunt.

Li’totes - li-to’tes is ʼn stylfiguur waardeur iets beklemtoon word deur die ontkenning van die teenoorgestelde, of deur verkleining of versagting.
- so iets lyk nie mooi nie - eintlik lyk dit baie sleg.
- dit gaan nie sleg nie - eintlik gaan dit baie goed.
- dit is net ʼn klein geskenkie om dankie te sê - dit is ʼn groot geskenk.

Metafoor – me-ta-foor - Oordragtelike, figuurlike uitdrukking wat op 'n vergelyking of ʼn ooreenkoms berus. Waar ons die beeld in die plek van die eintlike voorstelling plaas, of die ooreenkoms tussen twee vergeleke voorwerpe suggereer; gebruik van 'n woord in 'n ongewone betekenis op grond van 'n vergelyking.
Bv. 'n Hart van klip.
Die oseaan van die lewe.
'n Wil van staal.
Die skip van die woestyn. (kameel)

Metonimia- me-to-ni’mi-a, metonimie – me-to-ni-mie -
'n Stylfiguur waarby 'n eienskap wat by iemand of iets hoort, in plaas van, vir die benoemde gebruik word.
Bv. Hy lees Langenhoven.
Die soldaat het lood geëet.
Ek het 'n lekker bord geëet.
Die kroon is in die moeilikheid.
Jy is ʼn vlieg – baie lastig.  


Onnosele slimkop
Arme ryke
Dit is ou nuus.
Siende blind.
ʼn Oop geheim.

Oxus-Moros: Die woord is van Griekse oorsprong - en is saamgestel uit twee woorde: oxus, wat skerp beteken, en moros wat verspot beteken.
Oksimoron – ok-si-mo’ron - Stylfiguur waarby twee teengestelde begrippe met mekaar verbind word.

Voorbeeld in gedigvorm:

Siende-blind
Die eerbare skurk
met sy ernstige spel
en wrede vriendelikheid

laat ons in stille uitbarstings
geluidloos uitroep en
vanuit die koue vuur

loop lewende lyke
met langsame haas
die doodloopstraat van 'n sirkel

met oneindige beperkings
want die oorspronklike kopie
van lewe en dood - is half voltooid
en vermis bevind.

© Meraai vannie baai

Onomatopee – o-no-ma-to-pee -  (klanknabootsing) Meervoud – onomatopeë.
Die stuk hout woer-woer by my kop verby.
Die voëltjies tjir-tjir in die bome.
Die duiwe koer.  
Die skêr girts deur die hare.

Paradoks – pa-ra-doks – Uitspraak wat ʼn teenstrydigheid bevat, wat klaarblyklik absurd is: ʼn spreuk soos “veg vir vrede” bevat ʼn paradoks.  Veg en vrede se betekenisse staan lynreg teenoor mekaar.  
Pas bedroef, maar altyd opgeruimd.
Dit is mense wat niks het nie, maar tog alles besit.

Paronomasia- pa-ro-no-ma’si-a – gebruik van homonieme as woordspeling.
Die verskillende betekenisse van woorde word op ʼn verrassende wyse gekontrasteer.
Dit toringwagter beklee ʼn hoë pos.

Personifikasie – per-so-ni-fi-ka’sie – Voorstelling van ʼn ding of begrip as  persoon.
Personifiseer - Lewelose dinge as lewendig voorstel. Langenhoven het “Vader Tyd” gepersonifieer.
Die Lente trek haar bruidskleed aan.  
Voorbeelde:
Die winter windjie fluister koud al om my ysige oor - Ah,Willa!

Polisindeton – po-li-sin’de-ton – is die herhaling van voegwoorde wat gewoonlik weggelaat word.
Moenie vloek nie, of kwaad word nie, of skel nie.
Sê groete vir jou ma en jou pa en jou boetie en jou sussie.

Repetisie – re-pe-ti’sie -  (herhaling) Sekere woorde word herhaal om, soos in hierdie voorbeeld, klem te lê op die emosie wat die skrywer ervaar.
O dis bitter... bitter hierdie ervaring
van alleen wees... stoksiel alleen wees...
o ja, stoksielalleenwees... is bitter.


Retoriese styl – re-to’ries -  ʼn Stelling word gemaak in die vorm van ʼn vraag, waarop geen antwoord verwag word nie.  
Moet ons dan almal selfmoord pleeg?
Jy het mos jou eie belange, hoekom sal jy jou met myne bemoei?
Hier word ook “inversie” gebruik – omkering van die gewone of natuurlike woordorde.  
Lank was die dag.  

Sarkasme – sar-kas-me – Bytende, bittere spot; versmading, minagting, hoon. Iemand met sarkasme doelbewus seermaak.
Jy is tog só slim, dalk kan ons almal by jou kom leer.  

Sinekdogee- si-nek’do-gee- is ʼn stylfiguur waarby ʼn geheel deur ʼn deel aangedui word.
-die ouerlike dak vir die ouerlike huis-  
« Last Edit: April 30, 2012, 02:47:46 PM by PM »
Om te weet is om te verstaan.

Meraai vannie Baai

  • Guest
Re: Woordspeletjie vir boek 2.
« Reply #1 on: April 30, 2012, 01:56:32 AM »
In hierdie voorbeeld het ek mildelik, amper oordadig  :toothy4: van die skrywer se woordgereedskap (sien onderstaande uiteensettings) gebruik en ingespan:

Wroemmmm grom die bromponie en swenk skerp na regs vir die lendelam fiets wat sjoeps deur die plasse water voortkarring en beur teen die wind wat protesterend kerm om die hoeke van sement- en steenstrukture.

Langs die spoor aan die verkeerde kant van die beton-oerwoud, kom die trein met sy sakke-pakke-steun-en-kreune langsaam tot stilstand. Passasiers dra kromswaar aan bagasie en vee haarslierte moeg weg van twintig-oor-ag-gesigte net so skuins na ses volgens die stasie-horlosie se lang en kort staalwysers.
 
Die reën toor met 'n drup-drup-drup die stof in donker modderplasse. Van oorkant die blinkspoor vibreer 'n foon en tiengelieng-dieng met sy nuwerwetse toon.

"Hallo halloooo ... " Hard weerklink die klik van die haan in sy oor en vanuit bewerige hande val die selfoon met 'n sawwe plaps en waterspat, in die modderplas.

Lang vingers gryp en verdwyn.

"Sjoet! Jou moer!"
 
Skellende bespring 'n bedremmelde figuur die bakwielfiets en met 'n swiep en wilde esdraai skuur hy deur die toetende verkeer. Van oorkant weergalm sy skril gil wat met ego's uitklim teen die tronende strukture: Haai jy! Bring t'rug my telefooooooon!

'n Kaapse klong klik vererg met sy tong: "Tssssssk! Vandag se jongetjies het ook geeeeeeen respekkie! Hoor net bietjie hoe gillie mannetjie op my - en dit als oor 'n dooie foun."
 
Sy blik berekend oor die digte melkwit-wol(k)kombers wat nader rol vanoor die horison. En die koue staal in sy hand voel of dit brand toe hy die haan speels weer oorhaal. In sy sak weerklink 'n deuntjie dof.
 
"Pssssst ... Gammat ... het djy die song al gehoor?"

"Sjoes Gatiep! En somma biek siesa vir djou! Stiel isse liederlike ding!"
 
"Ghmmmf! Optelgoed is hougoed. Hey! He' djy die ene gahoo' vannie gyno wattie meer so lekka ko' hoor, paddakoor se gekwaak so naby sy oor, lossie arme man toe half doof."
 
Die derde figuur in die kring kry skielik lewe en reageer blitsvinnig.
 
Doef!

Die onverwagse hou tref sekuur tussen die blaaie en met 'n dowwe 'huh' struikel 'n gehawende bondel-mens in die rigting van die aankomende slakke-pas-verkeer.

Dieng dong slaan die ghong!  Grtttttts protesteer die swart AVBOB ritsluiter toe die twee manne in wit 'n bultende sak optel en in die verte loei nog 'n sirene waarskuwend.

Tik-tak, tik-tak ... vader tyd wag vir niemand. Subtiel verf moeder natuur die skadu's in donkergroupalet teen die mure van die stegies waar die dwergie met 'n glug-glug sy elmboog hoog lig. Met skuurpapier-hand trek hy die Star oor homself in 'n instinktiewe gebaar.

In die huise van glas verroer daar nie eens 'n ooglid toe die weerberig nog vriesende temperature voorspel vir die na-nag.
 
'n Paar uur later flap-flap 'n haan sy vlerke en kraai die derde maal in die verwaarloosde erf waar die skugterrooi blomme met koppies in eerbied, witgevries na onder hang.
 
Die wind se vingers streel sag oor die hoofopskrif van die koerant: 'n Bekende ginekoloog en vooraanstaande inwoner van Kaapstad wat jare gelede spoorloos verdwyn het, is vanoggend in hegtenis geneem.
 
"Hy was 'n goeie pel" lees die skrif teen 'n vuilwit muur en in die hoenderhok verkondig die pik-pik-pik nog 'n nuwe dag se vroeë geboorte aan.
 
©

PM, ek het hierdie gaan haal uit 'n plasing wat ek in ons ou woordeboek bewaar het. Die skrywers kan dit ook as 'n samevatting/aanvulling gebruik saam met jou pragtige voorbeelde.

Akroniem – ’n Uitspreekbare woord gevorm van die eerste letter(s) in ’n frase of naam byvoorbeeld AVBOB.
 
Alliterasie – Die herhaling van soortgelyke konsonantklanke, gewoonlik aan die begin van woorde.

Analogie – Eendersheid te vind in dinge wat gewoonlik as verskillend gesien word.

Anekdotes – Vertellings of klein insidente of gebeure wat vertel word om in te lig/ te vermaak/humor of kwaadwilligheid of om karakter bloot te lê.

Antitese – Uitdrukking van twee opponerende of verskillende idees in gebalanseerde kontras (bv. ‘hoe meer haas hoe minder spoed’)

Assonansie – Herhaling (meestal) van klinkers in twee of meer woorde

Beeldspraak – Woorde, frases en sinne wat beelde by ons oproep soos vergelykings, metafore of personifikasie.

Breedsprakigheid – Taal wat meer woorde gebruik as wat nodig is.

Cliché – ’n uitdrukking of ’n idee wat al so dikwels gebruik is dat dit sy seggingskrag verloor het.

Denotatiewe betekenis – Die letterlike of primêre betekenis van ’n woord.

Dialek – ’n Vorm van taal wat deur ‘n bepaalde gemeenskap aangepas is. Dit is beduidend verskillend van ander vorme van dieselfde taal wat betref woorde, strukture en/of uitspraak.

Dramatiese ironie – Kom voor wanneer die gehoor/leser/kyker meer weet van die situasie en sy implikasies as die betrokke karakters. Dit verhoog die spanning, genot en gehoordeelname.

Dubbelsinnigheid – Dubbele betekenis wat geskep word deur die manier waarop woorde gebruik word. Wanneer dit onopsetlik gebruik word, verduister dubbelsinnigheid die betekenis (bv. ‘Die man wat die seun gesien het’).

Eksplisiet – Betekenis wat duidelik of direk gestel word.

Emotiewe taal – Taal wat sterk gevoelens ontlok.

Esteties – Sensitief vir die mooie van taal en sensitief / waarderend.
 
Eufemisme – ’n Gematigde of vae uitdrukking wat gebruik word as plaasvervanger vir ’n gedagte wat as te grof of reguit beskou word.

Figuurlik (in teenstelling met letterlik) – Woorde/frases wat op ’n nie-letterlike manier gebruik word om ’n gewenste effek te skep. Literêre tekste maak dikwels gekonsentreerd gebruik van figuurlike taal (bv. vergelyking, personifikasie, metafoor).

Foneme – Afsonderlike klanke van ’n taal.

Geïmpliseerd– Betekenis wat deur ’n teks gesuggereer word, maar nie direk gestel word nie.

Genre – Tipes of kategorieë waarin tekste gegroepeer is.

Gevatheid – Onverwagte, vinnige en humoristiese kombinering van kontrasterende idees of uitdrukkings

Hiperbool – ’n Opsetlike oordrywing byvoorbeeld: Ek het my dood gelag.
 
Homofoon – Woorde wat dieselfde klink maar verskillend gespel word en ’n verskillende betekenis het bv. ly en lei.

Homoniem – Woorde wat dieselfde klank en spelling maar met verskillende betekenis (bv. graaf om mee te spit en hy is 'n edelman (graaf)

Implisiet - Wat in teks geïmpliseer of gesuggereer word, en dus nie direk gestel word nie.

Inisieer – Om bv 'n projek/gesprek te begin

Inklusiwiteit – Die beginsel dat onderwys toeganklik behoort te wees vir alle studente ongeag hul leerstyle, agtergonde en vermoëns.

Innuendo – Iets onaangenaams waarop eerder gesinspeel word as dat dit duidelik gestel word.

Intonasie – Patroon van die toonhoogte of die melodie van ’n uiting wat ‘n aanduiding is van grammatikale strukture soos sinne of bysinne.

Intrige – Die verweefdheid van die hoofgebeure in ’n teks. Intrige behels meer as ’n blote opeenvolging van gebeure, want dit suggereer ’n patroon van verhoudings en ’n oorsaaklike verband tussen gebeure.

Ironie – ’n stelling of situasie wat ‘n onderliggend betekenis het wat verskillend is van sy letterlike of oppervlakkige betekenis.

Jargon – spesiale terme of uitdrukkings wat in ’n bedryf of professie of deur enige spesifieke groep gebruik word (bv. rekenaargebruikers sal verwys na ’n ‘CPU’, ‘RAM’ ensovoorts). Wanneer jargon gebruik word om luisteraars/lesers van ’n interaksie uit te sluit, is dit potensieel kwetsend of selfs skadelik.

Karikatuur – Die oordrewe uitbeelding (geskrewe of visueel) van ’n karakter wat bereik word deur die spot te dryf met persoonlikheidseienskappe of voorkoms.

Klimaks – die opwindendste, effektiefste of belangrikste deel van die storie. Hierdie belangrike deel kom nie noodwendig aan die einde voor nie.

Koherensie/samehangendheid – Die onderliggende logiese verhouding wat idees koppel en ’n passasie of paragraaf tot ’n eenheid saambind.

Kohesie – die koppeling van sinne of paragrawe deur middel van logiese bindmiddele soos voegwoorde, voornaamwoorde of herhaling

Konflik – Die stryd wat ontstaan tussen karakters / individue en hul lot / omstandighede. Konflik in die letterkunde kan ook ontstaan deur teenoorgestelde begeertes of waardes in die karakter.

Konnotatiewe betekenis – Die positiewe sowel as die negatiewe assosiasies wat ’n woord verkry deur gebruik verby die letterlike (primêre) betekenis.

Konteks – ’n Teks word altyd in ’n konteks gebruik en geskep. Die konteks sluit in die breë en onmiddellike situasie insluitend aspekte soos die sosiale, kulturele en politieke agtergrond; die term kan ook verwys na dit wat ’n woord of teks voorafgaan of volg en noodsaaklik is vir sy betekenis.

Konvensies – Aanvaarde praktyke of reëls vir die gebruik van taal. Sekere konvensies help om betekenis oor te dra (bv. grammatikareëls, interpunksie, lettersoorte, hoofletters); sommige help met die aanbieding van inhoud (bv. inhoudsopgawe, algemene uitleg, opskrifte, voetnote, kaarte, onderskrifte, lyste, prente, indeks); en andere reflekteer ’n taalpatroon wat resepmatig is (bv. groet, gemeenplasighede).

Kreatiewe denke – Proses van dink oor idees of situasies op innoverende en ongewone wyses ten einde hulle beter te verstaan en op ’n nuwe en konstruktiewe manier op hulle te reageer. Studente dink kreatief in alle vakgebiede wanneer hulle ’n konsep of produk verbeel, uitvind, wysig of verbeter.

Kritiese bewussyn – Die ontleding van hoe betekenis geskep word saam met ’n begrip van magsverhoudinge in en tussen tale. Dit bemagtig die skrywer om manipulasie te weerstaan en om taal met sensitiwiteit te gebruik.

Letterlike (in teenstelling met figuurlike) – die eenvoudigste, mees regstreekse betekenis wat aan woorde geheg kan word.

Litotes – Opsetlike onderbeklemtoning, ’n stylfiguur waarin die bevestigende deur sy teenoorgestelde weergegee word en vergesel gaan van ’n negatief (bv. die gebruik van ‘nie sleg nie’ om te sê dat iets ‘goed’ is)

Malapropisme – die verkeerde en deurmekaar gebruik van lang woorde om te beïndruk. Alhoewel hierdie woorde byna reg klink, is hulle verkeerd genoeg om humoristies te wees.

Manipulerende taal – taal wat gemik is op die verkryging van onregverdige voordeel of invloed oor andere.

Metafoor – Die gebruik van een ding om ’n ander ding te beskryf wat soortgelyke eienskappe het (bv. ‘Opvoeding is die sleutel tot sukses.’)

Metataal – die taal wat gebruik word om oor ’n taal te praat. Dit sluit in terminologie soos ‘konteks’, ‘styl’, ‘intrige’ en ‘dialoog’.

Oksimoron – ’n kombinasie van woorde met teenstellende betekenisse wat die skrywer gebruik vir effek. Word normaalweg gevorm deur ’n byvoeglike naamwoord te gebruik om ‘n naamwoord met ‘n teenstellende betekenis te kwalifiseer 'n lewende lyk.
 
Omgangstaal – Taal wat in gewone of vriendskaplike gesprekke tuishoort, maar nie in formele taal gebruik word nie.

Onderbeklemtoning – druk iets in beheerste terme uit eerder as om die ware of volledige feite te gee, gewoonlik vir beklemtoning.

Onomatopee – die gebruik van woorde om die klanke wat hulle beskryf na te boots.

Paradoks – ’n Self-kontradiktoriese stelling of een wat in teenstelling met logika blyk te wees.

Parafrase – die weergee van ’n idee of teks in jou eie woorde.

Paroniem – stamverwante woorde

Personifikasie – Die toedig van menslike eienskappe aan nie-menslike dinge - Die wind huil.

Polisemie – Die vermoë van woorde om verskillende betekenisse te hê (bv. ‘bank’ het ‘n aantal verskillende betekenisse – finansiele instelling, die bank van ‘n rivier, ‘n bank waarop jy sit)

Retoriese middel – Soos pouse en herhaling, wat deur ’n spreker of skrywer gebruik word om iemand doeltreffend te oorreed of oortuig

Ritme – ’n Gereelde en herhaalde klankpatroon.

Rym – Woorde of reëls van ‘n gedig wat op dieselfde klank, insluitend ’n vokaal, eindig.
 
Sarkasme – ’n ironiese uitdrukking wat gebruik word om onvriendelik of beledigend te wees of met iemand gek te skeer.

Satire – Die gebruik van spot, sarkasme/ironie om kritiese kommentaar te lewer op die samelewing.

Simbool – Iets wat vir instaan om 'n ander voor te stel. Slang vir duiwel/onheil.

Sintaksis – Die wyse waarop woorde gerangskik is om samehangende grammatikale strukture te vorm.

Sintese – Die byeenbring van idees uit ’n verskeidenheid bronne, ’n duidelike opsomming van hierdie gekombineerde idees.

Stemming – Atmosfeer of emosie in geskrewe tekste; dit toon die gevoel of die gemoedstoestand van die karakters.
 
Stereotipe – ’n Vaste (en dikwels bevooroordeelde) standpunt oor watter rol van ‘n persoon verwag word om te speel.

Taalvariëteite – Taalvariëteite wat voorkom wanneer kleiner veranderinge ten opsigte van woordeskat, strukture en/of uitspraak gemaak is; kan wissel van streek tot streek of land tot land.

Toon – Kwaliteit en toonkleur van die stem wat die emosionele boodskap van ‘n teks oordra. In ‘n geskrewe teks word dit deur woorde bereik. In ’n film kan toon deur musiek of die milieu geskep word.

Verduistering – Die gebruik van taal om doelbewus feite vir die leser of luisteraar te verberg.

Woordoortolligheid – Die gebruik van woorde, frases en sinne wat weggelaat kan word sonder enige betekenisverlies

Woordspeling – ’n Spel met woorde wat identiese of soortgelyke klanke het om humor te skep (bv. ‘Onder sy streng aanvoering het ons baie leiding/lyding gekry!’)

Woordaanvalsvaardighede – Strategieë wat gebruik word by die lees van ‘n onbekende woord (bv. om dit in lettergrepe op te breek of na die betekenis van die voor- of agtervoegsels te kyk)

*Hulpbron: Department van Onderwys Afrikaans Eerste Addisionele Taal

« Last Edit: May 21, 2012, 11:09:58 PM by Meraai vannie Baai »

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 9498
  • Gender: Female
Re: Woordspeletjie vir boek 2.
« Reply #2 on: April 30, 2012, 04:39:05 AM »
Baie dankie Raaitjie.  Ek gaan later vandag "kantoor" toe dan sal ek hieraan werk.
Ek waardeer jou inset.  :love7:
Om te weet is om te verstaan.

Meraai vannie Baai

  • Guest
Re: Woordspeletjie vir boek 2.
« Reply #3 on: May 01, 2012, 05:22:02 AM »
PM, toe ek by die ou forum hierdie stuk geplaas het as woordgereedskap, het jy op aanvraag die volgende raakgelees wat ek toegepas het en dit pragtig uitgelig  :notworthy: :icon_salut: ek het nog 'n paar bygevoeg:

Akroniem – ’n Uitspreekbare woord gevorm van die eerste letter(s) in ’n frase of naam byvoorbeeld AVBOB.
Grtttttts protesteer die swart AVBOB ritsluiter

Alliterasie – Die herhaling van soortgelyke konsonantklanke, gewoonlik aan die begin van woorde.
sement- en steenstrukture
'n Kaapse klong klik...


Analogie – Eendersheid te vind in dinge wat gewoonlik as verskillend gesien word.
Beton-oerwoud  (‘n woord wat gebruik word in die plek van die oorspronklike woord wat stad sou wees)  (hart teenoor pomp)

Anekdotes –  Vertellings of klein insidente of gebeure wat vertel word om in te lig/ te vermaak/humor of kwaadwilligheid of om karakter bloot te lê.
'n Bekende ginekoloog en vooraanstaande inwoner van Kaapstad wat jare gelede spoorloos verdwyn het, is vanoggend in hegtenis geneem ...

Antitese – Uitdrukking van twee opponerende of verskillende idees in gebalanseerde kontras (bv. ‘hoe meer haas hoe minder spoed’)
Optelgoed is hougoed.

Assonansie – Herhaling (meestal) van klinkers in twee of meer woorde.
sakke-pakke-steun-en-kreune
twintig-oor-ag-gesigte
tiengelieng-dieng
sawwe plaps en water-spat, in die modder-plas.


Beeldspraak – Woorde, frases en sinne wat beelde by ons oproep soos vergelykings, metafore of personifikasie.
Sy blik berekend oor die digte melkwit-wol(k)kombers wat nader rol vanoor die horison.
slakke-pas-verkeer
Grtttttts protesteer die swart AVBOB ritsluiter...
en subtiel verf moeder natuur die skadu's...
Vader tyd wag vir niemand nie ...
Met skuurpapier-hand ...
In die huise van glas ...
skugterrooi blomme met koppies in eerbied, witgevries na onder hang.
Die wind se vingers streel sag ...
en in die hoenderhok verkondig die pik-pik-pik nog 'n nuwe dag se vroeë geboorte aan.


Breedsprakigheid – Taal wat meer woorde gebruik as wat nodig is.
...net so skuins na ses - volgens die stasie-horlosie se lang en kort staalwysers -  kan as oortollige woordgebruik gesien word.

Denotatiewe betekenis  – Die letterlike of primêre betekenis van ’n woord.
Jou moer!

Dialek – ’n Vorm van taal wat deur ‘n bepaalde gemeenskap aangepas is. Dit is beduidend verskillend van ander vorme van dieselfde taal wat betref woorde, strukture en/of uitspraak.
"Sjoes Gatiep! En somma biek siesa vir djou! Stiel isse liederlike ding!"

*Die volgende kan ook uitgelig word:

Ellips – el-lips – Weglaat van woorde wat veronderstel kan word.
Die skrywer gebruik die drie punte om ʼn sin, onvoltooid, aan die verbeelding van die leser oor te laat.
Dieng dong slaan die ghong ...

Eufemisme- eu-fe-mis’me- is ʼn versagtende woord of uitdrukking wat die felheid daarvan verbloem.
Lang vingers gryp en verdwyn

Cliché – ’n uitdrukking of ’n idee wat al so dikwels gebruik is dat dit sy seggingskrag verloor het.
In die huise van glas

Satire – Die gebruik van spot, sarkasme/ironie om kritiese kommentaar te lewer op die samelewing.
He' djy die ene gahoo' vannie gyno wattie meer so lekka ko' hoor, padda-koor se gekwaak so naby sy oor - lossie arme man toe half doof ..."

Dubbelsinnigheid – Dubbele betekenis wat geskep word deur die manier waarop woorde gebruik word. Wanneer dit onopsetlik gebruik word, verduister dubbelsinnigheid die betekenis
die haan kraai die derde maal in die verwaarloosde erf

Implisiet/Geïmpliseerd - Wat in teks geïmpliseer of gesuggereer word, en dus nie direk gestel word nie.
Langs die spoor aan die verkeerde kant van die beton-oerwoud
vee haarslierte moeg weg van twintig-oor-ag-gesigte
waar die dwergie met 'n glug-glug sy elmboog hoog lig.

Onomatopee – o-no-ma-to-pee -  (klanknabootsing) Meervoud – onomatopeë
Wroemmmm grom die bromponie
Dieng dong slaan die ghong
Doef!
Tik-tak, tik-tak ... vader tyd wag vir niemand
'n Paar uur later flap-flap 'n haan sy vlerke
en in die hoenderhok verkondig die pik-pik-pik nog 'n nuwe dag se vroeë geboorte aan.


Ironie ’n stelling of situasie wat ‘n onderliggend betekenis het wat verskillend is van sy letterlike of oppervlakkige betekenis.
"Hy was 'n goeie pel" lees die skrif teen 'n vuilwit muur

Innuendo – Iets onaangenaams waarop eerder gesinspeel word as dat dit duidelik gestel word
Hard weerklink die klik van die haan in sy oor

Konnotatiewe betekenis – Die positiewe sowel as die negatiewe assosiasies wat ’n woord verkry deur gebruik verby die letterlike (primêre) betekenis
En die koue staal in sy hand voel of dit brand toe hy die haan speels weer oorhaal

Karikatuur – Die oordrewe uitbeelding (geskrewe of visueel) van ’n karakter wat bereik word deur die spot te dryf met persoonlikheidseienskappe of voorkoms.
...waar die dwergie met 'n glug-glug sy elmboog hoog lig. Met skuurpapier-hand trek hy die Star oor homself in 'n instinktiewe gebaar.  

Onderbeklemtoning – druk iets in beheerste terme uit eerder as om die ware of volledige feite te gee, gewoonlik vir beklemtoning.
Grtttttts protesteer die swart AVBOB ritsluiter toe die twee manne in wit 'n bultende sak optel
« Last Edit: May 02, 2012, 02:56:45 AM by Meraai vannie Baai »

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 9498
  • Gender: Female
Re: Woordspeletjie vir boek 3.
« Reply #4 on: May 02, 2012, 10:23:25 AM »
Jy het dit pragtig toegepas en uitgelig.  Ek sal dit so gebruik, jou dierbare ding.  Nou is my krag klaar, ek het nog baie energie, maar sonder elektriek is ek kragteloos en magteloos.  Hierdie is gewoonlik 'n heeldagstorie.  Fot feersiens!
« Last Edit: October 12, 2013, 07:34:51 AM by PM »
Om te weet is om te verstaan.

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 9498
  • Gender: Female
Re: Woordspeletjie vir boek 2.
« Reply #5 on: June 20, 2018, 06:56:03 AM »
Sommer 'n hele bek vol.  Niemand kan seg dat daar nie vele leersame inligting op die forum is nie.  Wel gedaan!
Om te weet is om te verstaan.