Author Topic: Van toeka tot nou...hoeka die rede vir al my dinge...  (Read 10425 times)

0 Members and 1 Guest are viewing this topic.

Offline Suidwes

  • Regular Members
  • Suigeling
  • Posts: 6
  • Gender: Female
Van toeka tot nou...hoeka die rede vir al my dinge...
« on: April 04, 2012, 09:59:18 PM »

Vlnr:  Karolien (my baba en amper klaar met skool) Leandi (my oudste en gelukkig getroud) Veronica (die ma van die 3) en Walt (my enigste seun) in 2009 op
!Uris Safari Lodge net buite Tsumeb


My nuwe seun Corne.....al is ek die skoonma met al daardie verwysings na die spesie, is ek ongelooflik lief vir hom.


En my meisiekind kry nog 'n ma by.....en wil jy meer, die Vader is baie genadig, hy gee vir haar ene wat haar kan leer kook en bak en alles doen wat die Salomo-vrouens doen!!!!  Die lewe balanseer hom altyd uit!!!


Al die vrouens in die familie, die enigste ene wat bygekom het is my liewe moeder heel links, sy bly ligjare ver van my, in die verre Pretoria saam met haar tweede liefdes-asem, na my pa se dood het sy sowaar weer verlief geraak.  Sy is 'n jonge 70, die gene is baie genadig in ons familie, al bly sy al in 'n aftree-oord.....ltl...


Op 'n dag bel 'n goeie vriend van Uis my en vra of ek die Brandberg saam met hom sal klim.....impulsief soos ek is, is my ja uit lank voor ek dit bedink het.  4 dae lank klim ek saam met 'n ribbok die berg, onfiks en so 'n aksie of 2 oorgewig.....ek het regtig net die eerste dag nie gehuil nie.  Hier staan ek saam met 'n bomerige plant wat net in die laaste derde van die kruin van die berg voorkom...ek weet nounog nie watse plant is dit nie.....


Nog van die Brandbergtrippie....hier was ek doodmoeg en der dagen sat....die son brand my dood, my rugsak word swaarder by die minuut....en om alles te kroon het ons vuurhoutjies vergeet.....geen koffie of warm kos vir 4 dae.....weet jy hoe proe "TwoMinuteNoodles" droog????.....ek weet....


Op 'n dolfyn-toer in die Walvisbaai hawe, die vrou daar langs my het my die heel meeste geleer van toerisme wat ek ooit tot op hierdie dag weet.....


Ek sal nooit die skipper van hierdie boot se gesig vergeet toe ek terugklim in die boot nie.  Ek het, soos gewoonlik met die water gespeel, op die rand van die boot gesit met my een voet geanker op die boot en die ander in die water.....hy het so grapperig vir my gevra of ek graag in die water wil wees.....ek het vir hom gesê: "Mag ek?" en hy het my bluf gespeel en gesê: "doen dit!".........jinne dis een groot foutjie aan sy kant want ek het.....die res van die toer was hy doodstil.....maar ek het 'n heerlike tyd gehad en uiteindelik gevoel hoe dit is om in die middel van die lagoon te mag swem!!!


Hierdie dag het ek en my oudste broer se seun saam gaan swem met die dolfyne......dit was heerlik....hulle het omtrent met ons gespeel, onderdeur ons geswem en liggies aan ons gestamp.....ek sweer daardie diere is net so slim soos perde...


Hier het ek en ouma 'n pap wiel gekry oppad terug van die Brandberg, ek sit nie daar omdat ek weet hoe om die wiel om te ruil nie, ek het geen idee hoe om enige wiel om te ruil nie....ek sit en bid vir hulp en ek dood van die hitte....ouma het soveel geloof in my gehad....en op daardie pad kom daar elke 3jaar 'n kar verby....uiteindelik het 'n microlight by ons geland en dit was een van die Vader se slim Adams, en hy het sommer 1,2,3 die hele bedryf afgeskroef....en hy was my en ouma se held vir die dag.


Later het ek sommer baie saam met hom gevlieg by Uis en die allermooiste plekke gesien....en soms het hy tot vir my ook laat vlieg.....hy was baie dapper sonder dat hy dit eens geweet het.....


By die Popa-valle in die Caprivi, ek hou 'n vriendin se seuntjie vas.....daardie dag het ons foto's geneem en ek het heen en weer gehuppel oor die vlak valle tot by die eiland in die middel....al die ander mense het geslaap, ek kan net nie in die middag slaap nie, so ek loop altyd rond om te kyk wat ek kan doen....agterna het die gids vir ons op die "sundowner-toer" hierdie einste eiland uitgewys as die broeiplek van die krokkedille....of my engele het soos gewoonlik oortyd gewerk, of die krokkedillie siesta ook....


Hierdie is 'n grot voor die Rossingberg oppad na Swakopmund....ek sit en skraap die moed bymekaar om daar af te gaan....daar word vertel dat daar 'n gang is waarmee jy kruip, 'n hele end en op die ou einde maak dit oop in 'n groot onderaardse meer.....kyk, ek het nie 'n enkele bang haar op my kop nie en ek doen soms dinge wat ander mense laat sidder.....jy kan my so hoog in die lug opvat as wat jy wil sommer in 'n oop tuig ook, ek sal maan toe ook so gaan as jy kan......maar af in die maag van die aarde????????????......nee hel, ek word so benoud dat ek kan dood......ek het as jong dogter saam met my pa in die Kango grotte ingegaan en amper by die Duiwel se Skoorsteen of soiets vir hulle 'n nuwe grot oopgebreek so benoud het ek geword....jaaaaaaa ok, ek het met die leer afgeklim in die Rossing-grot, en jaaaa ek het die laaste meter gespring tot op die grond, maar toe ek die 2 gate sien, en die kerse en vuurhoutjies.....toe was ek alreeds benoud, en ek het soos 'n rubberballetjie binne sekondes teruggespring tot op die leer en uit in die oopte....


Ons swem in die middel van die woestyn by Sossusvlei, verlede jaar het dit vreeslik gereen hier by ons.....ons was soos wilde bokke oor die water, kind en kraai kon dit nie weerstaan nie...


Ek dink ek was 'n meermin of iets as daardie vorige lewe goed ooit uitdraai om waar te wees.....as ek water sien kan ek dit nie uitlos nie, ek moet dit voel, al word my klere sopnat.....ek gee geen jota of tittel om nie.....ek geniet net die oomblik.....so gemaak en gelaat staan....


Swakoppoort dam.....ek is op my tjoep in rustige water....die dam is daar baie vlak, maar dis 'n lieflike plek daardie, publiek word nie regtig daar toegelaat nie, maar soos die gesegde lui: "dis nie wie jy is nie, dis wie jy ken" hehehe.....dis nie ek wat sulke goeie vriende het nie, maar ek het vriende met goeie vriende!!!!

 
Ook by Swakkoppoort dam....ek het daardie dag besef ek sal seker nooit eendag by die tropiese eilande uitkom nie......ek is nie ene wat 'n droom sommer prys gee nie....en dit was 'n tower-dag.....ek het my droom gepluk en hom semi-waar gemaak....2 tuinstoele in die water gesit en ek het 'n laaaaaaaang glas wyn in my hand gehad met 'n pynappel in die ander.....en daar word my droom waar....ek sit skielik in Hawaii.....dit was naby genoeg vir daardie droom   :toothy4:


Hierdie dag het ons gaan duinbord ry op my rooiwyn-duin......maar die sand was nog te nat na die reen en die bord het nie beweeg nie.....hier kyk Walt en Karolien hoe ver hulle van die kruin af kan spring en ek (die fotograaf) is binne tref-aksie......maar vir 'n mooi foto offer jy baie op!!!!


Sommer net 'n dag by die see....die lekkerste swemstrand in die hele wye wereld wat ek ken:  Boerestrand!!!!


Die woestyn.....my wegbreekplek as ek sommer net myself weer wil vind.....dan gryp ek my rugsak en stap tot ek moeg is, dan slaap ek in my tent sonder penne (dis te swaar om alles saam te dra en ek verstaan tog ook nie die opslaanproses nie) maar ek slaap nie in die woestyn sonder 'n tent nie, in die nag kom allerhande dinge met meer bene as ek vir jou kuier....so ek zip my toe in my penlose tent en slaap met my gesig by een van die gaasruitjies...


Sommer net om dit mooi is en die plek vir my iets beteken.



Die uitsig van my rooiwyn duin.....dis ongelooflik mooi, jy sien amper tot in Amerika op 'n helder dag....


Ons eie dooie see....net buitekant Hentiesbaai....en dis nie 'n grappie nie.....jy kan maar daar inklim, en probeer afgaan, jy pop uit asof jy 'n veertjie is!


.....en om mee af te sluit.....my ou drie kindertjies wat ek uitgebroei het en verskriklik lief voor is, hulle is soms baie stout en lewendig, maar saam tel ons maar weer die onderrokkies op, skud die sand af, plak 'n groot glimlag op die gesig en bou verder aan die legkaart wat ons nog moet klaarmaak.  Vir hulle, en vir enige ander kind wat ek ken of my pad al gekruis het sal ek deur die vuur loop as ek hulle kan help.....ag ja, en vir oumensies ook, kinders en oumensies is my hart se sagte puntjie, moenie met hulle mors nie.


....WAG!!!!....ek moet eers hierdie ene ook met julle deel....hy het 'n baie teer geskiedenis vir my....my pa, het altyd gesê: "Prinses hierdie foto was jou laaste soet foto, hierna het jou beskerm-engele oorgegaan op oortyd"......onthou ek was my pa se enigste meisiekind, en al het hy gedink die son het gesak as ek gaan sit het, het daardie man my vreeslik goed verstaan.....ek mis hom geweldig!!!!

Nouja, hierdie is my mensies, my omgewing en ek in 'n neutedop.....aangename kennis en ek hoop dit is 'n bly te kenne!!!!  :angel12:
....ek lewe vir liefde want om te lewe is liefde....!!!!

Offline Angelica

  • Regular Members
  • Hardebaard
  • Posts: 1674
  • Gender: Female
Re: Van toeka tot nou...hoeka die rede vir al my dinge...
« Reply #1 on: April 05, 2012, 12:03:26 AM »
Heeerlike gekyk, Dankie Suidwes.
En daardie Sossus dam is 'n rariteit wat jy nie kan laat verbygaan - jy moet inspring. (My heel beste tyd in Suid-W... ag, Nam, was by Sossus.
elle

Offline Suidwes

  • Regular Members
  • Suigeling
  • Posts: 6
  • Gender: Female
Re: Van toeka tot nou...hoeka die rede vir al my dinge...
« Reply #2 on: April 05, 2012, 10:36:07 AM »
More!!!...uit 'n lieflike Swakopmund, knus toegemaak in 'n digte miskombers....elke oggend stap ek langs die see, sommer maar net om die liggaam gewoond te hou aan beweging en om al die spinnerakke weg te blaas.....

....daardie "hulle" van wie almal praat en net mooi niemand ken nie, HULLE sê "die kusgebied is soos 'n vrou met pms, jy beleef al 4 seisoene op een dag" gewoonlik stem ek glad nie saam met "hulle" nie, maar hier is sowaar 'n klein stukkie waarheid....

Ek is bly jy het die trippie deur my geliefde land geniet, ek sal later nog foto's opsit van my kuierplekkies in die natuur.....ek word net mismoedig, want 'n foto kan net nooit wys wat mens regtig sien nie.....ek dink in so-by-so 'n beter plan is om eendag vir my te kom kuier, dan verf ons die hele land met reenboogkleure!!!!
....ek lewe vir liefde want om te lewe is liefde....!!!!

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10692
  • Gender: Female
Re: Van toeka tot nou...hoeka die rede vir al my dinge...
« Reply #3 on: April 05, 2012, 01:09:15 PM »
O genade! Daar toer ek toe so lekker deur jou liefdesland dat ek skoon vergeet van alles om my.
Baie dankie vir die deel daarvan.  Jou sin vir humor is verfrissend en die verteltrant hou mens geboei.
Ek moet nou gaan, kom weer later saam gesels.
 :love7:
 :bootyshake:
Om te weet is om te verstaan.

Offline Ah Willa

  • Administrator
  • Melkbaard
  • Posts: 1312
  • Gender: Female
  • Jou glimlag kan 'n lewe red - smile!
    • Ah,Willa!
Re: Van toeka tot nou...hoeka die rede vir al my dinge...
« Reply #4 on: April 05, 2012, 04:35:19 PM »
pragtig
Die lewe bring storms, maar God gee krag!
http://w

Offline Naas

  • Hardebaard
  • Posts: 2283
  • Gender: Male
  • K.N.A.P. (Kan Naas Afrikaans Praat of wat?)
Re: Van toeka tot nou...hoeka die rede vir al my dinge...
« Reply #5 on: April 05, 2012, 05:34:09 PM »
Kuier! Nou praat jy. Trappies gaan Desember daar verby. Miskien moet ek saamry... Net miskien.




 :icon_bigsmurf:
Ek is maar net een, maar ek ís een.

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10692
  • Gender: Female
Re: Van toeka tot nou...hoeka die rede vir al my dinge...
« Reply #6 on: April 06, 2012, 07:02:14 AM »
Wat het nou van die foto's geword?  O dankie, daar kom hulle nou! 
 :icon_biggrin: Julle wil nie weet hoe stadig is hierdie internet nie!  :icon_biggrin:

Naas, dit klink vir my na 'n weste fees.   :icon_biggrin: Ek kom saam!  :icon_biggrin:

Suidwes, as jou se moedertjie in Pretoria woon, hoeveel keer 'n jaar kom jy kuier?
Om te weet is om te verstaan.

Offline Fransi

  • Regular Members
  • Melkbaard
  • Posts: 1274
Re: Van toeka tot nou...hoeka die rede vir al my dinge...
« Reply #7 on: April 06, 2012, 08:38:21 AM »
 :hello:

Lieflike foto's en dit was heerlik om te kon lees en hierdeur jou bietjie beter te leer ken. Regtig pragtig.

Offline AB

  • Regular Members
  • Hardebaard
  • Posts: 1930
Re: Van toeka tot nou...hoeka die rede vir al my dinge...
« Reply #8 on: May 12, 2012, 02:41:35 PM »
Waneer mag ons nog van jou kiekies sien suidwes waternimf?