Voorstelle en klagtes > Baie geluk... Baie welkom
Welkom Suidwes
PM:
Baie welkom Suidwes. Hoe kan ek anders as om jou briefie aan "bestuur" oop te gooi vir almal om te lees. Ek hoop van harte dat jy heerlik saam sal kuier en skryf. Welkom om die kaggelvuur. Ons is besig met die tweede Rooiwyn... Kom skryf saam.
Liewe Bestuur,
Ek is alreeds erg bederf, want ek is reeds die trotse eienaar: Rooiwyn Kaggelvuur & Vers! Wat 'n belewenis om te verdwaal in die skatkis van afrikaans. Daagliks was ek my siel silwerskoon onder die woorde-waterval van skrywers wat die mooi en die seer van die lewe ken en deel. Elke aand lees ek suinig uit my boek, en ooooooo wee my tog!!!!... as ek weer sien is ek passievol verlei...en let wel...sonder enige skaamte slurp ek more en sowaar sommer oormore-aand se stukkie ook!
Ai...hier gaan ek alweer en julle wil mos eintlik weet van my. Ek sit hier in my lieflike suidwes, tussen die geheimsinnige namib woestyn aan die een kant en aan die anderkant die uitlokkende yskoue oseaan...altwee is my liefdes. Die twee verstaan my seer en my blydskap om die beurt. Ons praat met mekaar op verskeie maniere, soms sonder woorde, maar glo my ons verstaan en voel mekaar altyd raak.
Ek is vrolik omtrent 99% van die tyd, want ek het dit al self beleef dat selfs in die grootste smart en ongeluk breek die heel mooiste sontrale deur om jou gesond te koeter! Ja!!!!!...ek glo domastrant om hard te soek vir die positief in enige situasie, al kruip die karnallie soms weg...hy is daar iewers!!!
In my skryfkis onder my bed het ek baie flentertjies papier. Hulle is vol van my deurmekaar woorde as my hart oorloop. Deesdae het ek 'n spesiale plekkie op my rekenaar waar ek my hart uitstort.
Ek wil baie graag deel word van julle, ek pleit skuldig, want my versoek is erg selfsugtig......asseblief, ek wil nog meer leer en drink by julle wat so boeiend skryf......en ek sou wou, as ek mag, saam met julle by die kaggel wil sit, rustig aan my rooiwyn teug en totaal verdwaal in my lieflike taal.
Baie dankie vir die luister.
Suidwesgroete...
adele:
met soveel emosie wat so koesterend na ons toe aansweef, klink dit eerder vir my of ons by jou gaan kan leer, dit is die mooiste briefie oor liefde vir taal en skryf en ek is baie bly jy het jou stoeltjie hier langs ons kaggelvuur kom staanmaak. en hier is jou glasie... :wave:
PM:
Ek myself is pienk gekielie! Nou gaan ek gou 'n eie plekkie skep, dalk is ons gelukkig om voor sononder 'n skryfseltjie te sien. :hello2:
Suidwes:
Baie dankie julle wonderlike begaafde mense!!!!!
.....Glo my.....ek staan totaal verstom en voorwaar diep, diep, diep nederig voor julle!!!!.....maar helaas met my voete alreeds binne-in hierdie lieflike rivier van woorde, emosie en gevoel wat trek aan my rok se soom......
.....Eie aan my natuur gaan ek nie eens wag vir 'n reddingsgordel nie, tsk....tsk....ek wil net swem, sopnat uitklim by elkeen se plekkie, groot teue drink en versadig terug plons na die volgende meester se plek!!!!
Na vandag weet ek PRESIES hoe het Eva gevoel net voor die goeie Vader vir Adam wakker gemaak het na sy rib-operasie....die paradys het presies net so gelyk......
Ek het tuis gekom! Al slaap ek vireers sommer net op die grond hier by my plekkie, dis heerlik knus en warm.
Glo my, met baie tyd, liefde en bitter baie geduld (let wel......die geduld sal van julle kant moet kom terwyl ek leer!) sal ek wel my huisie bou, sommer met baie eenvoud, ag sommer 'n boomhuisie, lekker hoog waar ek kan sit en droom.
Ek floreer daar waar alles onopgesmuk is. Daar waar die natuur met my gesels en sonder sukkel keer op keer my hart se erosie-merke gelyk skaaf.......en sonder waarskuwing en sonder valskerm my soms van die rots afskop om weer te probeer, want ons lewe!!!!
As ek deurmekaar praat en nerens veel sin maak, blameer asseblief die komende volmaan, ek is eintlik al die ander tye van die maand vreeslik normaal!!!!
Angelica:
Oooeeee.... nou gaan ons daai Namib-stories hoor en daai Namib-gedigte kry in oorvloed. So hoop ek.
Ek moet solank myne gaan skaaf dat ons mekaar kan opdreun, of hoe se ek, Suidwes?
Baie welkom hier. Skuif nader na die kaggel en hier is jou glasie rooies. Prost!!
Navigation
[0] Message Index
[#] Next page
Go to full version